Beeld berig dat die ANC in die sogenaamde Tshwane-metro “in die kruisvuur verkeer oor tenders van miljoene rande wat glo op verdagte wyse aan die party se streeksekretaris toegeken word.
Die Tshwane-metro het in April ’n tender teen meer as R3,3 miljoen aan die maatskappy Paul & Partners Engineers & Quantity Surveyors toegeken vir werk oor drie jaar aan die New Parkmore-reservoir in die ooste van Pretoria.
Die maatskappy behoort aan Paul Mojapelo, ANC-streeksekretaris in Tshwane.
Daar is aanvanklik aanbeveel dat die tender toegeken word aan EVN Africa Consulting Services, wat die werk vir R1,1 miljoen sou doen.
EVN Africa het 95 bodbeoordelingspunte gekry en Paul & Partners 86 punte, weens dié maatskappy se hoë tenderprys.
Afgesien van EVN Africa het agt ander maatskappye beter punte as Mojapelo se maatskappy behaal.
Daar was volgens inligting ‘ingryping van bo’ wat meegebring het dat Paul & Partners die tender gekry het.”
’n Senior amptenaar in die aankope-afdeling het gesê die tegniese evaluering is ’n “groot grap”.
“EVN Africa doen groot projekte oor Suider-Afrika heen en Paul & Partners het nie eens ’n webwerf nie. Maak jy die som.”
Daar was in November 2011 soortgelyke vrae oor ’n tender vir werk in talle van Tshwane se munisipale streke, wat aan Mojapelo toegeken is.
Mojapelo het gesê hy het ’n wettige maatskappy en betaal belasting.
“Daar is geen rede waarom ek nie vir Tshwane werk kan doen nie.”
Die Tshwane-metro het nie op navrae gereageer nie.
Volledige berig hier.
