Xenofobiese geweld vlam op ná buitelandse inmenging

Orange Farm en Sebokeng gaan kwaai gebuk onder xenofobiese geweld, en die aanvalle is onlosmaaklik deel van ander kwessies in hierdie gemeenskappe wat deur buitelandse inmenging vererger word.

Orange Farm, suid van Johannesburg, en die naburige Sebokeng-plakkerskampe, is uiters gespanne nadat xenofobiese aanvalle op buitelandse winkeleienaars Vrydag weer opgevlam het.

Die mededinging om skaars hulpbronne, soos HOP-huise en kliënte vir informele handelaars wat moet staatmaak op ‘n grootliks werklose gemeenskap vir inkomste, het Vrydag tot hernude geweld gelei.

Die plundering wat gevolg het teen buitelandse winkeleienaars in die gebied, was byna identies aan dié van Februarie 2010 toe swart skoolkinders buitelanders se winkels in Orange Farm onder die dekmantel van diensleweringprotes aangeval het.

Hierdie keer is die protes georganiseer deur Wasp, wat tans egter alle betrokkenheid in die plundering ontken. Dié nuwe party word deur buitelandse geld en wit kundigheid van oorsee bedryf en hits swartes aan teen ‘kapitaliste’.

Llt.kol Lungelo Dlamini het gesê die gebeure het Maandag met ‘n diensleweringprotes buite Sebokeng begin. Paaie is versper en die protes het vinnig versprei na die naburige Evaton en Orange Farm, binne sowat 20 minute.

Die polisie vermoed die paaie is versper in ‘n poging om beamptes te verhoed om  toegang tot die gebiede waar die plundering plaasgevind het, te verkry.

Teen Donderdag het die polisie buitelanders aangeraai om die gebied te verlaat en selfs gehelp om sommige van hulle se winkels en huise te pak.

Die polisie het ook inligting ontvang dat skole gesluit sou word Vrydag sodat kinders kan deelneem aan die protes.

Daardie middag, is winkels in Sebokeng geplunder en hul buitelandse eienaars moes vlug. Die plundering het gou oor die grens van Gauteng na Orange Farm gespoel waar meer as 100 mense in hegtenis geneem is. Hulle sal in die hof verskyn hierdie week.

Die voorval herinner aan die 2008-xenofobiese geweld waarin meer as 60 mense dood en duisende ontwortel is.

Maak 'n opvolg-bydrae