SAMRK ondersoek skool waar Malema-foto langs een van aap hang

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) gaan bewerings van rassisme by ‘n Vrystaatse skool ondersoek.

“Daar was klagtes dat sommige leerders kaffers genoem is,” het Isaac Mangena, woordvoerder, Maandag gesê.

Die ou Suid-Afrikaanse vlag en ‘n foto van Julius Malema, voormalige leier van die ANC-jeugliga, hang glo langs dié van ‘n aap op ‘n klaskamermuur.

Die SAMRK het gesê hy het ‘n ondersoek ter plaatse by die Wilgehof-laerskool in Bloemfontein gedoen nadat ‘n wit leerder se ouer ‘n klag ingedien het.

Mangena het gesê klagtes van rassisme en ongelykheid word ondersoek.

Hy het verder gesê die SAMRK sal saam met die departement van basiese onderwys werk.

Pretorianer dagvaar staat na tronkverkragting

‘n Man van Pretoria wat onregmatig in hegtenis geneem is, dagvaar die minister van polisie vir meer as R1 miljoen nadat hy ‘n nag lank deur mede-aangehoudenes verkrag en aangerand is, berig Beeld.

Volgens dokumente wat by die Pretoriase hooggeregshof ingedien is, is die slagoffer onvoorwaardelik vrygelaat, maar weer in dieselfde saak gearresteer en wéér in die selle aangerand. Hy is later weer vrygelaat.

Robert van Wyk, die slagoffer se regsverteenwoordiger, het gesê sy kliënt wat na verwagting Maandag gaan getuig, is erg skaam en getraumatiseerd deur die aanvalle.

Die man van Brooklyn moes drie kursusse antiretrovirale middels gebruik om te keer dat hy MIV/vigs opdoen.

“Gelukkig is hy MIV-negatief,” het Van Wyk gesê.

Hy het twee eise teen die minister van polisie ingestel, vir onderskeidelik R940 000 (weens die arrestasie en aanhouding waartydens hy verkrag is) en R150 000 weens die tweede arrestasie en aanhouding.

Die eiser is op 16 September 2011 by die Rustenburg Mall op ’n klag van mensehandel gearresteer en na die Rustenburg-polisieselle geneem.

Hy is saam met sowat 20 ander mans aangehou. Hulle het sy klere uitgetrek, hom seksueel aangerand, verkrag en ernstig aangerand tot die volgende oggend 06:00, lui die hofstukke.

Die man het die polisie die volgende dag talle kere versoek om na sy behoeftes om te sien en het gesê hy is aangerand en verkrag. Die polisie het egter niks aan sy beserings gedoen nie en geweier dat hy sy familie bel.

Die polisie het al die bewerings ontken.

Turkye kook oor weens islamisering

Die betogers het Sondag by Taksimplein in Turkye se hoofstad byeengekom teen hulle regering se kruipende islamisering.

Die meeste van diegene wat dit bygewoon het was sekulêre, jonger Turke uit die sakewêreld, bestuurders, akademici en prokureurs.

Hul boodskap aan Erdogan, Turkye se Islamitiesgesinde eerste minister vir die laaste dekade, was een van wanhoop gemeng met hoop.

“Ons dink nie hy gaan net bedank omdat ons dit wil hê nie,” het ‘n PhD-student gesê. “Ons weet dat ons die minderheid in hierdie land is, maar ons wil hê die minderheid moet gerespekteer word.”

Turkye is tans aktief betrokke by NAVO en die VSA se destabilisering van Sirië, eers ‘n vriendelike buurland, ten behoewe van radikale terreurgroepe onder die vaandel van Al Kaida aldaar.

Sedert sy magsoorname in 2002 is Erdogan versigtig deur Turkye se sekulêre klasse benader oor wat hulle sien as ‘n kruipende islamisering.

Maar die afgelope naweek het dié frustrasies oorgekook op die strate. Die eerste minister en sy party staar tans ‘n breë uitdaging in die gesig.

Die traangas wat deur die polisie by ‘n oorweldigende vreedsame protes Vrydag gebruik is, het die ontevredenes nog meer ontstig as bykomende getuienis van Erdogan se vermeende outoritarisme.

In ‘n reeks klopjagte in die hoofstad van Istanbul en in die suidelike provinsies van Mersin, Adana en Hatay naby die Siriese grens, het Turkse polisie 12 Siriese rebelle van die Al Nusra-front met chemiese wapenmateriaal aangekeer.

Die Turkse media het aanvanklik berig dat die polisie Sarin, die dodelike senugas wat vroeër aan chemiese wapensaanvalle in Sirië gekoppel is, gevind het.

Terwyl dit wyd berig is in die Turkse pers, is die arrestasies Woensdag feitlik uitgedoof deur die korporatiewe media in die VSA. Koerante soos die New York Times, wat openlik ‘n Amerikaanse ingryping in Sirië bevorder, met verwysing na beweerde chemiese wapens deur die regime van Bashar al-Assad as ‘n verskoning, het nie ‘n woord oor die klopjagte in Turkye berig nie.

Die dagblad Zaman het berig dat “die al-Nusralede ‘n bomaanval Donderdag beplan het in [die Turkse stad] Adana, maar dat die aanval afgeweer is toe die polisie die verdagtes aangekeer het. Saam met die Saringas, het die polisie beslag gelê op ‘n aantal van handwapens, handgranate, ammunisie en dokumente tydens hul soektog.”

Die stad van Adana, ongeveer 60 kilometer van die Siriese grens, het ‘n aansienlike Alawiete-bevolking wat simpatiek is teenoor die Siriese regering en vyandig teenoor die Soenniemagte wat deur die VSA vir regimeverandering op die grond in Sirië gebruik word.

Die Al Nusra-front, wat formeel sy getrouheid aan Al-Kaida verklaar het, is ‘n buitelandse terroriste-organisasie, deur die Amerikaanse State Department in Desember verlede jaar as sulks verklaar. Die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad het Vrydag die terreurgroep tot die sanksieswartlys gevoeg.

Die Siriese regering het verlede maand gevra dat die groep blootgestel word aan sanksies as ‘n terroriste-organisasie, maar die aksie is aanvanklik geblokkeer deur Brittanje en Frankryk.

Nie een van die verdagtes is nog geïdentifiseer nie. Turkse media berig dat vyf van hulle vrygelaat is laat Donderdag, en sewe is nog steeds in aanhouding vir ondervraging.

Die regering van die Turkse premier Erdogan, wat uitgebreide materiële ondersteuning vir die Siriese opposisie bied, het geen openbare verduideliking van die polisie-optrede gegee nie.

Adana-provinsiale se goewerneur Huseyin Avni Cos het gister ontken dat Sarin gevind is, maar het erken dat onbekende chemikalieë gevind is en tans ontleed word.

DA wil Libiese gesant laat arresteer

Die voormalige Libiese politieke swaargewig, Bashir Saleh, moet in hegtenis geneem word as hy in Suid-Afrika is, het die DA Sondag gesê.

Die DA-LP Dianne Kohler-Barnard beweer Saleh – die voormalige hoof van personeel van die vermoorde Libiese leier Gaddafi, is ‘n paar keer in Suid-Afrika opgemerk, soos onlangs by die Brics-beraad (Brasilië, Rusland, Indië, China, Suid-Afrika) in Durban vroeër vanjaar.

“As dit die geval is, en sy identiteit is ten volle bekend, dan huisves Suid-Afrika doelbewus ‘n vlugteling,” sê Kohler-Barnard.

Kohler-Barnard het dié waarskuwing gerig nadat dit bekend geraak het dat eisers agter Gaddafi se geld in Suid-Afrika aan is en druk op banke wil plaas om die fondse vry te stel.

Sy het gesê die DA sal die portefeuljekomitee oor polisie vra duidelikheid oor hoekom Saleh, wat op Interpol se mees gesoekte lys verskyn, nog nie in hegtenis geneem is nie.

Die nasionale woordvoerder van die polisie. brig Phuti Setati het gesê hy het nie inligting oor die kwessie nie.

“Ek is nie bewus van die bewerings nie, daarom kan ek nie kommentaar lewer nie,” het hy gesê.

Internasionale regskenners in Genève, Switserland, sê egter die militêre koalisie in Libië het die internasionale reg oortree in die gebruik van geweld teen Libië.

Op 19 Maart 2011 het ‘n Anglo-Amerikaanse koalisie die derde internasionale gewapende stryd teen ‘n soewereine land in die laaste dekade van stapel gestuur.

Hulle het baie moeite gedoen om te beweer dat die gebruik van geweld in Libië geregverdig is, maar ‘n ondersoek dui daarop dat die gebruik van geweld onwettig was, meen regslui.

Japan sal miljarde se hulp in Afrika stort

Japan het R325 miljard in hulp oor die volgende vyf jaar aan Afrika belowe, het die Afrika-unie (AU) Sondag gesê.

“Japan se eerste minister, Shinzo Abe, het die belofte tydens die openingseremonie van die vyfde internasionale Tokio-beraad oor Afrika-ontwikkeling gemaak,” het die AU in ‘n verklaring gesê.

Duisende gaste, insluitend meer as 30 staatshoofde van Afrika, het positief op dié uitnodiging reageer.

Die beraad word onder andere deur die voorsitter van die AU, Hailemariam Deslegn, kommissievoorsitter, Nkosazana Dlamini-Zuma, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, Ban Ki-moon, en die president van die Wêreldbankgroep, Jim Yong Kim, bygewoon.

Abe het aangekondig dat die bedrag veral teenoor die ondersteuning van infrastruktuur en menslike hulpbron-ontwikkeling, gesondheid, landbou, vrede en stabiliteit aangewend sal word.

Die stap word bestempel as ‘n poging om met China te kompeteer in die wedloop om invloed in Afrika.

President Jacob Zuma het ook die beraad bygewoon.

Pasgebore baba verbrand

Die verkoolde lyk van ‘n pasgebore baba is Saterdag in Honeydew, Johannesburg, gekry, het paramedici gesê.

Volgens Vanessa Jackson, woordvoerder van ER24, is die babadogtertjie waarskynlik Vrydagaand daar weggegooi.

“‘n Pasgebore baba wat in materiaal en plastieksakke toegedraai was, is op die hoek van Christiaan de Wet en Beyers Naude in Honeydew afgelaai waar sy aan die brand gesteek is,” het sy gesê.

Die polisie is na die toneel ontbied en sal die saak ondersoek.

Eisers agter Libië se bates in SA aan

Bates ter waarde van miljarde rande wat aan die vermoorde Libiese leier Moeammar Gaddafi behoort het, word glo in Suid-Afrikaanse banke gehou, het die Sunday Times Sondag berig.

“Die nasionale tesourie is genader deur ‘n groep wat beweer hulle verteenwoordig die Libiese regering,” het Jabulani Sikhakhane, woordvoerder van die minister van finansies, aan die koerant gesê.

Ondersoekbeamptes van Libië het glo bewyse opgespoor dat meer as R10 miljard in kontant, goud en diamante deur vier Suid-Afrikaanse banke en twee sekuriteitsmaatskappye gehou word.

“Ons is tans besig om die groep se eis te verifieer,” het Sikhakhane gesê.

Salah Marghani, beampte van die Libiese ambassade, het aan die Sunday Times gesê ondersoekbeamptes is “aangestel om, namens die mense van Libië, bates in Afrika te ondersoek en te verseker”.

Die Sunday Times het uittreksels van briewe van Libië se ministers van justisie en finansies aan hul Suid-Afrikaanse eweknieë publiseer, en hulp gevra om Gaddafi se bates op te spoor wat moontlik “onwettig in besit geneem, bekom, geplunder, gedeponeer of weggesteek is in Suid-Afrika”.

Gaddafi is in 2011 tereggestel ná ‘n politieke opstand in Libië.

Suid-Afrikaner wen Comrades

Claude Moshiywa het buitelanders se greep op die Comrades gebreek toe hy die eerste Suid-Afrikaner in 21 jaar geword het om die ‘opdraand-roete’ te wen.

Moshiywa, wat derde was in 2011 en verlede jaar negende geëindig het, het sy landgenoot Johannes Kekana ná vier ure op die pad verbygesteek om Sondag in Durban te seëvier.

Die laaste Suid-Afrikaner wat die mans se “opdraand-roete” vanaf Pietermaritzburg tot Durban kon wen was Jetman Msutu in 1992.

Jonas Buud van Swede het Sondag tweede geëindig en Mpesela Ntlosoeu van Lesotho was derde.

Die verdedigende kampioen, Ludwick Mamabolo, het vierde klaargemaak.

In die vroue-wedloop het die Rus Elena Nurgalieva die eerste plek behaal, met haar tweelingsusuter, Olesya in die tweede plek.

Die weg na onafhanklikheid

Nou die dag verduidelik iemand dat die Limpopoprovinsie nou geheel en al verval het. Daar word geen herstelwerk meer aan paaie of ander infrastruktuur gedoen nie. Soos die man verduidelik het, “verteenwoordig Limpopo 85% van die ou Transvaal”!

Kortom, die “Afrika-effek” hou nie by die Zimbabwe-grens op nie. Dit is reeds besig om ons land vanuit die noorde te koloniseer en te verteer. Ons liberale media wat so lief is daarvoor om buitelandse mites oor Suid-Afrika klakkeloos na te praat, kan die ware toedrag van sake nie meer vir mense wegsteek nie. Hulle probeer nog net voorgee dat dit nie so erg is as wat dit lyk nie.

Dit verklaar waarom ‘n swetterjoel Afrikaanse organisasie tans besig is om een of ander ander pleidooi vir selfbeskikking te lewer. Meermale gaan dit om die eindelose teoretisering waarvoor Afrikaners as afstammelinge van Europeërs so lief is. Daar is al meer artikels oor selfbeskikking deur Afrikaners op die internet geskryf as wat Die Huisgenoot skinderstories oor Hollywood-sterre gepubliseer het.

‘n Politieke party soos die Vryheidsfront is al byna 20 jaar lank besig om hom vir selfbeskikking te beywer, met min tasbare resultate. In Europa het verskeie kleiner volkere binne ‘n jaar of twee daarin geslaag om veral in die vroeë negentigerjare onafhanklik van onderskeidelik die ou Sowjetunie en Joego-Slawië te word.

Waarom sukkel ons so? Laat my kortliks die struikelblokke ontleed wat ons tot dusver van vryheid weerhou het, alvorens ek voorspel hoe Afrikanervryheid waarskynlik verwesenlik gaan word.

Huidige struikelblokke onderweg na Afrikanervryheid

1. Afrikaners bewoon nie almal een, homogene gebied nie. Dis natuurlik bekend, maar soos ons onder sal sien, is daar wel ‘n groot meerderheidsgebied beskikbaar.

2. Ons beskik nie oor ‘n buitelandse moondheid of supermoondheid wat ons steun nie. Die meeste Europese volkere wat in die vroeë negentigerjare onafhanklikheid verkry het, is op een of ander wyse deur die VSA ondersteun, veral op diplomatieke gebied. Nogtans het byvoorbeeld Slowenië daarin geslaag om onafhanklik te word, ondanks teenkanting deur beide die VSA en die EU.

3. Afrikaners hou nie van risiko nie. Hierdie is vir my die belangrikste rede waarom Afrikaners tot dusver nie hond haaraf kon maak nie. Die meeste mense wil die proses van onafhanklikwording volmaak beplan en bestuur, of dan deur middel van ‘n internasionale hofsaak die ANC-regering dwing om tot die prysgawe van grondgebied in te stem. Hoe gouer ons besef dat enige proses van afstigting noodwendig met risiko gepaardgaan, sal hulle insien dat die proses slegs ten dele beheer kan word. Ons sal op ons voete moet dink, byna soos in ‘n rugbywedstryd! Dit sal ‘n dinamiese proses wees wat deur visioenêre leiers gevoer sal moet word.

4. As ek van “risiko” praat, verwys ek na berekende risiko’s en nie na desperate pogings om mense tot opstand of ‘n staatsgreep aan te spoor nie. Sover moontlik moet enige onafhanklikwording van Afrikaners vreedsaam geskied, hoewel daar op ‘n bepaalde tydstip wel konflik mag intree, soos wat die sentrale regering self dalk desperaat mag raak om Afrikanervryheid te verhoed. Ewe min as wat ons kan voorspel of plase in Suid-Afrika soos in Zimbabwe beset gaan word, kan ons met sekerheid sê of die ANC-regering op ‘n stadium tenks in Afrikanerwoongebiede gaan instuur om enige stappe na onafhanklikheid te fnuik. Sowel die ou Sowjetunie as Joego-Slawië het dit wel meermale gedoen, dus is dié moontlikheid nie uitgesluit nie. Nietemin kan ons ons nie deur vrese vir die toekoms laat intimideer en op die duur niks doen om aan die huidige onhoudbare situasie te verander nie. Te alle tye moet ons egter redelik bly en nie as die aggressor optree of selfs aggressie uitlok nie.

5. Orania en Kleinfontein, hoewel in vele opsigte bewonderenswaardig en modelgemeenskappe vir die toekoms, verteenwoordig insgelyks ‘n lae-risikostrategie vir selfbeskikking. Soos prof. Carel Boshoff dit eens beskryf dit, gaan dit om “opofferende selfbeskikking” en daardeur word 99% van die huidige infrastruktuur en openbare bates permanenent aan die ANC oorgedra.

6. Die model van “trek na jou volkstaat” is nie vir mense aantreklik nie. Of liewer: dit mag aantreklik wees, maar ekonomiese en praktiese werklikhede verhoed almal behalwe ‘n klein groepie idealiste om tot die groot stap oor te gaan.

7. Afrika-traagheid vertraag die onderhandelings- en regsproses. Uiteraard is dit in die sentrale regering se belang om so min moontlik te reageer op versoeke om gesprek of onderhandeling. Daarom word diegene wat selfbeskikking nastreef na mindere liggame soos die SA Menseregtekommissie verwys of daar word botweg geweier om Afrikanerverteenwoordigers te woord te staan.

8. Afrikaner-traagheid om finansieel tot die vryheidsbeweging by te dra of selfs om betrokke te raak. Die meeste Afrikaners sien die poltieke stryd wat tans woed soos ‘n rugbywedstryd waar hulle as toeskouers aanmoediging of kritiek vanaf die kantlyn slinger, eerder as iets wat hul aktiewe deelname vereis.

8. Ons beskik nie oor massamedia wat hoegenaamd die begrip van ‘n volkstaat of Afrikanervryheid goedgesind is nie. Die Naspersgroep is volledig bekeer tot die klassieke Sap-ideologie van ondergeskiktheid aan die Angel-Saksiese wêreld, asook die eenheidstaat van die Nuwe Suid-Afrika. Daarom neem dit oneindig lank om enige steun by die stembus vir selfbeskikking te bekom.

9. Bowenal word die vrywordingsdinamika as ‘n ingewikkelde regs- en politieke proses gesien wat maar op die langebaan geskuif kan word, totdat “die tyd eendag ryp is”. Hierdie is ‘n fatale mistasting, want hoe meer tyd verbygaan, hoe skraler raak die kanse dat ons hoegenaamd grondgebied gaan verkry, gegewe die verslegtende demografie, Afrikaner-emigrasie na Australië en dergelike meer.

Keer hindernisse in ons guns om

Gedagtig aan al die struikelblokke wat hier bo genoem is, moet ons poog om elkeen van dié hindernisse eintlik in ons guns om te keer.

Aan punt 1 hierbo, kan ons feitlik niks doen nie. Nogtans kan ons uit die voorbeelde van Orania en Kleinfontein leer dat eie arbeid en die gebruik van Afrikaans as openbare taal ‘n goeie manier is om bepaalde gebiede vir onsself toe te eien en te beset. Of ‘n mens dit gaan regkry om besige stedelinge en werkende egpare te oortuig om in ‘n vroeë fase heeltemal van tuiniers en bediendes ontslae te raak, is egter ‘n ope vraag.

Die ou grappie dat ‘n Afrikaner eerder in sy bed vermoor sal word as om hom self op te maak, is hier ter sake. Daarom moet die beweging van die begin af twee opsies voorhou: eie arbeid of, indien dit regtig nie anders kan nie, slegs allochtone wat nie in Suid-Afrika stemgeregtig is nie, soos byvoorbeeld Zimbabwiërs, Malawiërs, ens.

Die onbetrokkenheid van grootmoondhede by Suid-Afrika, hoewel dit geensins ons saak bevorder nie, skep egter ook die geleentheid om – anders as in die aanloop tot 1994 byvoorbeeld – ‘n volkome plaaslike skikking tussen ons en die ANC te bereik en om ons meerderheidsgebied sonder buitelandse inmenging af te baken.

Anders as by die trek-na-jou-volkstaatmodel, moet ons die nuwe republiek daar vestig waar die meeste van ons reeds bly. Ons moet eenvoudig daardie gebied toeëien waar ons grense so kan trek dat ons oor ‘n meerderheid beskik wat in ‘n referendum ten gunste van onafhanklikheid kan stem. Die trae of apatiese Afrikaners rondom ons sal maar net na vryheid voortgesleep word op soortgelyke wyse as wat mnr. FW de Klerk hulle met die fait accompli van ‘n oorgawe aan die ANC in 1994 gekonfronteer het.

Selfbeskikking is nou onstuitbaar

Soos ek reeds hier bo gesê het, is selfbeskikking nou ontstuitbaar, want dit het ‘n noodsaaklikheid vir oorlewing geword en is nie meer ‘n abstrakte ideologie nie.

Nog nooit sedert 1994 was daar soveel steun vir selfbeskikking soos tans nie. Die meeste Afrikaners is deur die huidige werklikheid ontnugter en selfs die massamedia doen nie meer moeite om die probleme te verdoesel nie. Dit help nie ons wag vir die klimaat om nog gunstiger te raak nie, want enige suksesse van die DA by die stembus of minder radikale grondhervorming as wat reeds vewag word, sal weereens die wind uit die seile van die Afrikanerbeweging haal.

Meeste mense verlang egter voorspellings of riglyne. Hoe sal die proses waarskynlik geskied?

Fase 1: Bewuswording en ideologiese stryd

Hierdie fase is reeds in volle swang. Danksy die internet, asook sosiale media, het die massamedia hul greep op Afrikaners se denke verloor en spreek mense nou vrylik hul menings uit. Aktiviste hoef ook nie meer hul taal en sienings aan te pas om in vae eufemismes in die gedrukte koerante te skryf nie.

Fase 2: Onttrekking van finansiële steun aan die staat

Op ‘n manier doen Orania en Kleinfontein dit reeds, want hulle bedryf hul eie de-facto-munisipaliteite. Ook die belastingbetalersunies onder leiding van mnr. Jaap Kelder is besig om fondse van plaaslike owerhede te weerhou, dispute met munisipaliteite te verklaar en hofsake te maak.

Die huidige ekonomiese krisis gaan insgelyks die belastinginkomste van die staat onder druk plaas. Afrikaners moet binne hul woonbuurte hul eie strukture onderstaan, tesame met die organisasies soos PRAAG wat nasionaal en internasionaal die stryd om selfbeskikking voer. Mettertyd sal al hoe meer fondse in Afrikanergeledere bly en al hoe minder deur belastings aan die sentrale regering en sy munisipaliteite verlore gaan.

Fase 3

Op ‘n gegewe tydstip moet die leierskap onafhanklikheid oor bepaalde gebiede of die hele gebied kragtens artikel 235 van die SA grondwet verklaar. Die onlangse volkrereg sal ons ook hierin ondersteun.

Fase 4

Onderhandeling met die ANC, met of sonder internasionale bemiddeling, oor die grense van die republikeinse gebied.

Fase 5

‘n Leierskapsverkiesing en referendum word in die republikeinse gebied gehou. Omdat daar intussen na eie arbeid oorgeskakel is of slegs buitelanders as ongeskoolde werkers in diens is, sal die versterkte Afrikanermeerderheid die referendum ten gunste van onafhanklikheid wen.

Fase 6

Hierna moet die meeste Afrikaners vanuit die buiteland terugkeer en meewerk aan die heropbou van die nuwe Afrikaanse Republiek, terwyl streng grensbeheer ingestel word om te sorg dat die Afrikanermeerderheid verder versterk en uitgebou word.

Ná onafhanklikheid sal die Afrikanerstaat ook jaloers waak oor die regte van Afrikaners wat in Azanië of hoe die land ook al teen daardie tyd bekend sal staan, agterbly. Dit is dus in almal se belang dat die beweging moet slaag. Nie net sal daar weer vir die eerste keer in meer as ‘n eeu ‘n volwaardige Afrikanerrepubliek wees nie, maar Azanië sal geweldig baat by die gesonde mededinging om beleggings, asook die kundigheid en goeie Afrikaanse onderwys wat in die nuwe staat teenwoordig sal wees. Soos lande in die Europese Unie wat ekonomies van mekaar interafhanklik is, sal ons deel wees van ‘n geïntegreerde Suider-Afrikaanse en wêreldekonomie waaraan ons tot ons eie voordeel sal kan deelneem.

Waarskynlik sal dit nie eens meer nodig wees om persoonlike belastings te hef nie en kan slegs BTW en maatskappybelasting gehef word, iets wat verbruik en ekonomiese groei in die hele streek sal stimuleer. Die volkstaatbeweging moet wegkom van sosialistiese modelle; eerder moet lae belastings, die winsmotief en innovering beklemtoon word. Investering en werkskepping moet nou al in die geïdentifiseerde meerderheidsgebied begin.

Wie nie waag nie, sal nie wen nie!

Gronddebat woed voort

“Bykans twintig jaar na 1994 se regeringsverandering is die gronddebat steeds een van die mees emosionele debatte in Suid-Afrika,” sê dr. Pieter Mulder, adjunkminister van landbou, bosbou en visserye en leier van die Vryheidsfront Plus.

Dr. Mulder het vanoggend op Mudersdrift die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte se konferensie oor die Groot Leuen oor Grondbesit toegespreek en het gepraat oor grondgebruik vir kommersiële landbou.

Hy sê grond is daagliks die onderwerp van hewige debatte in Suid-Afrika. Sy ondervinding is egter dat die meeste daarvan gebaseer is op verdraaide feite en mites oor grond.

“In die proses het elke deelnemer ‘n paar waarhede beet wat verdraai en aangepas word om by elkeen se eie perspektief te pas. Die enigste manier om in hierdie debatte by werklike antwoorde uit te kom, is om die gronddebat met feite en nie met emosie en propaganda te voer nie,” sê dr. Mulder.

Die volgende feite moet daarom in ag geneem word indien daar sinvol oor die aangeleentheid gedebatteer wil word:

· Groter regeringsbeskerming van die Suid-Afrikaanse kommersiële landbou en die meer produktiewe gebruik van grond is nodig om toekomstige hongersnood in Suid-Afrika te voorkom. Dit maak van voedselsekerheid ‘n belangrike bedingingsmiddel teenoor die regering in die hande van kommersiële landbouers;

· Om volhoubaar in Suid-Afrika te kan boer moet verskeie persepsies oor grond verander word. Een van die belangrikstes is dat grond outomaties rykdom bring;

· Die eise vir die nasionalisering van grond en/of die eensydige onteiening van grond, moet op georganiseerde wyse en met feite oor die ekonomiese en hongersnood-implikasies daarvan beveg word;

· Die onsekerheid oor die belangrike rol wat landbou in Suid-Afrika speel moet so gou as moontlik uit die weg geruim word. Ondubbelsinnige regeringsuitsprake en -besluite is hiervoor nodig. Dit kan verhinder dat landbou in duie stort en te veel kundigheid die land verlaat;

· Suid-Afrika bestaan uit 122 miljoen hektaar grond. Die grond wat vir werklike intensiewe landbougewasverbouing gebruik kan word, is egter uiters beperk. Slegs ongeveer 13% van Suid-Afrika se totale grond word as hoë waarde landbougrond gereken;

· Mynbou speel ‘n belangrike rol in die ekonomie van Suid-Afrika. Maar dit het reeds tot gevolg gehad dat mynboubedrywighede en verstedeliking ‘n gebied so groot soos die Krugerwildtuin permanent vir die produksie van voedsel en voer verlore laat gaan het. Omdat grond ‘n nie-hernubare hulpbron is, is dit uiters belangrik dat hoë kwaliteit landbougrond teen mynbou en ander aktiwiteite beskerm moet word. Daarvoor is nuwe maatreëls en beter koördinering tussen verskillende staatsdepartemente nodig;

· Met ‘n geprojekteerde 70% van alle Suid-Afrikaners binne dekades verstedelik, gaan dit uitermate groot druk op die krimpende aantal kommersiële landbouers en op die ontvolkte platteland plaas om genoeg voedsel vir die groeiende bevolking te produseer;

· Soos die bevolking in die wêreld en in Suid-Afrika toeneem, sal meer voedsel op al hoe minder grond geproduseer moet word. Met nuwe tegnologie en navorsing en die deel van kennis deur opleiding is dit moontlik en kan die huidige plafonne wat op die produksie van kos bestaan, gebreek word. Die voorvereiste is dat dit gedoen word sonder om die omgewing verder te besoedel met koolsuurgas of die aarde se waterbronne uit te put;

· ‘n Beduidende gedeelte van die Suid-Afrikaanse bevolking het nog nie voedselsekerheid nie. Hierdie honger en ondervoeding in Suid-Afrika word nie soseer deur ‘n tekort aan voedsel soos in ander lande veroorsaak nie. Dit word veroorsaak deur die armoede van sekere lede van die gemeenskap wat nie kos teen huidige kospryse kan bekostig nie;

“Dit gaan nog baie goed met baie Suid-Afrikaanse landbouers. Tog wys die stygende skuldsyfers, kleiner winste en die dalende getalle landbouers dat die rooi ligte begin flikker,” sê dr. Mulder.