Die voormalige Libiese politieke swaargewig, Bashir Saleh, moet in hegtenis geneem word as hy in Suid-Afrika is, het die DA Sondag gesê.
Die DA-LP Dianne Kohler-Barnard beweer Saleh – die voormalige hoof van personeel van die vermoorde Libiese leier Gaddafi, is ‘n paar keer in Suid-Afrika opgemerk, soos onlangs by die Brics-beraad (Brasilië, Rusland, Indië, China, Suid-Afrika) in Durban vroeër vanjaar.
“As dit die geval is, en sy identiteit is ten volle bekend, dan huisves Suid-Afrika doelbewus ‘n vlugteling,” sê Kohler-Barnard.
Kohler-Barnard het dié waarskuwing gerig nadat dit bekend geraak het dat eisers agter Gaddafi se geld in Suid-Afrika aan is en druk op banke wil plaas om die fondse vry te stel.
Sy het gesê die DA sal die portefeuljekomitee oor polisie vra duidelikheid oor hoekom Saleh, wat op Interpol se mees gesoekte lys verskyn, nog nie in hegtenis geneem is nie.
Die nasionale woordvoerder van die polisie. brig Phuti Setati het gesê hy het nie inligting oor die kwessie nie.
“Ek is nie bewus van die bewerings nie, daarom kan ek nie kommentaar lewer nie,” het hy gesê.
Internasionale regskenners in Genève, Switserland, sê egter die militêre koalisie in Libië het die internasionale reg oortree in die gebruik van geweld teen Libië.
Op 19 Maart 2011 het ‘n Anglo-Amerikaanse koalisie die derde internasionale gewapende stryd teen ‘n soewereine land in die laaste dekade van stapel gestuur.
Hulle het baie moeite gedoen om te beweer dat die gebruik van geweld in Libië geregverdig is, maar ‘n ondersoek dui daarop dat die gebruik van geweld onwettig was, meen regslui.
