“Bykans twintig jaar na 1994 se regeringsverandering is die gronddebat steeds een van die mees emosionele debatte in Suid-Afrika,” sê dr. Pieter Mulder, adjunkminister van landbou, bosbou en visserye en leier van die Vryheidsfront Plus.
Dr. Mulder het vanoggend op Mudersdrift die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte se konferensie oor die Groot Leuen oor Grondbesit toegespreek en het gepraat oor grondgebruik vir kommersiële landbou.
Hy sê grond is daagliks die onderwerp van hewige debatte in Suid-Afrika. Sy ondervinding is egter dat die meeste daarvan gebaseer is op verdraaide feite en mites oor grond.
“In die proses het elke deelnemer ‘n paar waarhede beet wat verdraai en aangepas word om by elkeen se eie perspektief te pas. Die enigste manier om in hierdie debatte by werklike antwoorde uit te kom, is om die gronddebat met feite en nie met emosie en propaganda te voer nie,” sê dr. Mulder.
Die volgende feite moet daarom in ag geneem word indien daar sinvol oor die aangeleentheid gedebatteer wil word:
· Groter regeringsbeskerming van die Suid-Afrikaanse kommersiële landbou en die meer produktiewe gebruik van grond is nodig om toekomstige hongersnood in Suid-Afrika te voorkom. Dit maak van voedselsekerheid ‘n belangrike bedingingsmiddel teenoor die regering in die hande van kommersiële landbouers;
· Om volhoubaar in Suid-Afrika te kan boer moet verskeie persepsies oor grond verander word. Een van die belangrikstes is dat grond outomaties rykdom bring;
· Die eise vir die nasionalisering van grond en/of die eensydige onteiening van grond, moet op georganiseerde wyse en met feite oor die ekonomiese en hongersnood-implikasies daarvan beveg word;
· Die onsekerheid oor die belangrike rol wat landbou in Suid-Afrika speel moet so gou as moontlik uit die weg geruim word. Ondubbelsinnige regeringsuitsprake en -besluite is hiervoor nodig. Dit kan verhinder dat landbou in duie stort en te veel kundigheid die land verlaat;
· Suid-Afrika bestaan uit 122 miljoen hektaar grond. Die grond wat vir werklike intensiewe landbougewasverbouing gebruik kan word, is egter uiters beperk. Slegs ongeveer 13% van Suid-Afrika se totale grond word as hoë waarde landbougrond gereken;
· Mynbou speel ‘n belangrike rol in die ekonomie van Suid-Afrika. Maar dit het reeds tot gevolg gehad dat mynboubedrywighede en verstedeliking ‘n gebied so groot soos die Krugerwildtuin permanent vir die produksie van voedsel en voer verlore laat gaan het. Omdat grond ‘n nie-hernubare hulpbron is, is dit uiters belangrik dat hoë kwaliteit landbougrond teen mynbou en ander aktiwiteite beskerm moet word. Daarvoor is nuwe maatreëls en beter koördinering tussen verskillende staatsdepartemente nodig;
· Met ‘n geprojekteerde 70% van alle Suid-Afrikaners binne dekades verstedelik, gaan dit uitermate groot druk op die krimpende aantal kommersiële landbouers en op die ontvolkte platteland plaas om genoeg voedsel vir die groeiende bevolking te produseer;
· Soos die bevolking in die wêreld en in Suid-Afrika toeneem, sal meer voedsel op al hoe minder grond geproduseer moet word. Met nuwe tegnologie en navorsing en die deel van kennis deur opleiding is dit moontlik en kan die huidige plafonne wat op die produksie van kos bestaan, gebreek word. Die voorvereiste is dat dit gedoen word sonder om die omgewing verder te besoedel met koolsuurgas of die aarde se waterbronne uit te put;
· ‘n Beduidende gedeelte van die Suid-Afrikaanse bevolking het nog nie voedselsekerheid nie. Hierdie honger en ondervoeding in Suid-Afrika word nie soseer deur ‘n tekort aan voedsel soos in ander lande veroorsaak nie. Dit word veroorsaak deur die armoede van sekere lede van die gemeenskap wat nie kos teen huidige kospryse kan bekostig nie;
“Dit gaan nog baie goed met baie Suid-Afrikaanse landbouers. Tog wys die stygende skuldsyfers, kleiner winste en die dalende getalle landbouers dat die rooi ligte begin flikker,” sê dr. Mulder.
