‘n Man van Pretoria wat onregmatig in hegtenis geneem is, dagvaar die minister van polisie vir meer as R1 miljoen nadat hy ‘n nag lank deur mede-aangehoudenes verkrag en aangerand is, berig Beeld.
Volgens dokumente wat by die Pretoriase hooggeregshof ingedien is, is die slagoffer onvoorwaardelik vrygelaat, maar weer in dieselfde saak gearresteer en wéér in die selle aangerand. Hy is later weer vrygelaat.
Robert van Wyk, die slagoffer se regsverteenwoordiger, het gesê sy kliënt wat na verwagting Maandag gaan getuig, is erg skaam en getraumatiseerd deur die aanvalle.
Die man van Brooklyn moes drie kursusse antiretrovirale middels gebruik om te keer dat hy MIV/vigs opdoen.
“Gelukkig is hy MIV-negatief,” het Van Wyk gesê.
Hy het twee eise teen die minister van polisie ingestel, vir onderskeidelik R940 000 (weens die arrestasie en aanhouding waartydens hy verkrag is) en R150 000 weens die tweede arrestasie en aanhouding.
Die eiser is op 16 September 2011 by die Rustenburg Mall op ’n klag van mensehandel gearresteer en na die Rustenburg-polisieselle geneem.
Hy is saam met sowat 20 ander mans aangehou. Hulle het sy klere uitgetrek, hom seksueel aangerand, verkrag en ernstig aangerand tot die volgende oggend 06:00, lui die hofstukke.
Die man het die polisie die volgende dag talle kere versoek om na sy behoeftes om te sien en het gesê hy is aangerand en verkrag. Die polisie het egter niks aan sy beserings gedoen nie en geweier dat hy sy familie bel.
Die polisie het al die bewerings ontken.
