Angie bevraagteken wit organisasie se skielike belangstelling in swart skoolkinders

Die Minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga het aangekondig dat ‘n hersieningsdokument van die norme en standaarde vir skoolinfrastruktuur nie voor Desember gereed sal wees nie.

Die nie-regeringsorganisasie, Equal Education, wil haar hof toe neem omdat sy na bewering ‘n ooreenkoms om die finale dokument teen 15 Mei te publiseer, nie nagekom het nie.

Die saak teen die minister sal op 11 Julie in die Bisho Hooggeregshof aangehoor word. Motshekga sê sy is in gesprek met Equal Education om hulle op hoogte van die vordering te hou.

Sy het intussen Equal Education se skielike belangstelling in die onderrig van swart kinders bevraagteken en dit as opportunisties bestempel.

Equal Education het die afgelope ruk skoolkinders in Kaapstad, Durban, Johannesburg, Pretoria en Bisho gemobiliseer om aan protesoptredes deel te neem.

Predikant kort voor preek doodgeskiet

‘n Predikant van KwaZulu-Natal is die afgelope naweek minute voor sy preek doodgeskiet.

Willies Mchunu, LUR vir gemeenskapveiligheid, het Dinsdag sy “skok en afgryse” oor die voorval uitgespreek.

Ds. Agrippa Cibane van die African Gospel Church in eLovu, suid van Durban, is Sondag kort voor sy preek doodgeskiet, het Mchunu in ‘n verklaring gesê.

Die LUR het gesê hy is vol vertroue dat die polisie die skuldiges sal vastrek.

Die polisie was nie onmiddellik beskikbaar vir kommentaar nie.

ELovu is ook bekend as Illovo.

Versigtig met 1913-wet herdenking!

Met die herdenking van die Wet op Naturelle Grondbesit, wat op 19 Junie 1913 in werking gestel is, is dit nodig om sekere sake net in perspektief te plaas.

Ter wille van ‘n politieke beleid is gepoog om grondbesit te orden in volks- of stamverband. Of daardie beleid reg of verkeerd was, is ‘n ander debat. Daardie wet het grondbesit gereguleer ingevolge ‘n koloniale beleid om grondbesit te orden in volks- of stamverband.. Die geskiedenis kan nie met vandag se feitestel beoordeel word nie.

Trouens, die wet het in die eerste plek van die uitgangspunt uitgegaan dat sekere gebiede nie aan blankes mag behoort nie.

Die Wet het niemand die reg gegee om ‘n ander se grond eenvoudig te neem sonder vergoeding nie. Ook die destydse regering kon nie net grond van enige persoon of groep afneem nie, sonder om daarvoor te vergoed of ander grond in ruil aan te bied nie. Hierdie feite is onlangs weer eens aan die hand van bewyse en dokumente volledig gedokumenteer deur o.a. prof. Louis Changuion in sy boek, Omstrede Land.

Die huidige beplande wetgewing staan in skrille kontras teenoor die 1913-wet.

Daar word vandag openlik geëis dat blankes hulle grond moet prysgee. Daar word vanuit die regeringsparty al meer geëis dat daardie grond sonder vergoeding prysgegee moet word deur blankes. Ingevolge die Groenskrif op Grondhervorming word daar metodes in plek gestel om in wese aan hierdie eise gehoor te gee.

Om iemand grond te gee in ruil vir ander grond, of om iemand te vergoed vir grond, is geen diefstal nie. Om grond te onteien, sonder vergoeding, of selfs net teen die helfte van markwaarde, kom neer op flagrante diefstal.

TLU SA wil dit ter wille van die rekord net weer duidelik stel: geen grond is deur enige huidige kommersiële boer gesteel nie. Die geskiedenis kan nie eenvoudig ongedaan gemaak word nie. As daar ‘n werklike behoefte is aan grond, moet die Staat die voortou neem en van sy miljoene hektare onbenutte grond beskikbaar stel.

TLU SA doen ‘n beroep op die regering om nie die 1913-wet se herdenking te gebruik om ‘n nog meer plofbare situasie te skep nie. Daar is reeds 26 mense op plase vermoor sedert die begin van vanjaar. Uitsprake of selfs slegs insinuasies dat blankes grond gesteel het, kan lei tot verdere plaasmoorde. Daar moet ten alle koste gewaak word dat ‘n Zimbabwe-situasie ontstaan waar grond eenvoudig beset gaan word.

As die regering ‘n probleem het met die 1913-wet, moet hy dit opneem met Brittanje, wat die destydse koloniale moondheid was. Hy moet geen vergelding van welke aard ook al pleeg of toelaat teen die huidige kommersiële landbouer, wat in vrede en met bekwaamheid die land van voedsel voorsien nie. Te midde van swak ekonomiese omstandighede, onrustige arbeidsverhoudinge in veral die mynbedryf en die geleidelike afwaartse aanpassings van die land se krediet- en beleggersvertroue, moet die regering nie ‘n eeu-oue stok probeer gebruik om die land se ekonomie nog verder te skaad nie.

Pangas, byle en handbyle ‘uitverkoop’ in Marikana

‘n Winkeleienaar by Marikana se voorraad pangas en byle het tydens die onluste in die gebied van Marikana weens die verhoogde aanvraag daarna opgeraak.

“Daar was ‘n skielike en geweldige aanvraag na pangas, byle en handbyle vanaf 11 Augustus,” het die algemene handelaar, Mohammed Cassim, in ‘n verklaring vermeld.

Adv. Vuyani Ngalwana, namens die polisie, het gister voor die Farlam-kommissie uit die winkeleienaar se verklaring voorgelees.

“Ek het gewoonlik minstens 30 pangas op ‘n gegewe tyd in die winkel aagenhou, maar hulle is baie gou uitverkoop en ek moes nuwe voorraad gaan aankoop.”

Die kommissie, met as voorsittende beampte die afgetrede regter Ian Farlam, ondersoek die omstandighede wat tot die dood van 44 mense verlede Augustus gedurende ‘n onbeskermde staking by die Lonmin-platinamyn te Marikana gelei het.

Cassim se verklaring, tesame met dié van ‘n “mnr. Y”, is Dinsdag aan die kommissie voorgelê. Volgens Cassim was dit die eerste keer dat hy soveel wapens verkoop het.

“In al die tyd wat ek dié onderneming bedryf, was dit die eerste keer dat ek soveel pangas, byle en handbyle binne ‘n week verkoop het.”

Hy het gesê klante het gewoonlik pangas in koerantpapier toegedraai voordat hulle by die winkel verlaat het. Daardie week het hulle die wapens eerder in hul broeke en baadjies versteek.

Volgens “mnr. Y” se verklaring is hy op 13 Augustus op pad werk toe aangeval. Hy is verskeie kere gesteek en vir dood agtergelaat. Hy het oorleef en kon twee van sy aanvallers identifiseer.

Ngalwana het gesê dat dié verklarings bedoel is om dié van generaal William Mpembe, die adjunkpolisiehoof van Noordwes, aan die kommissie te ondersteun oor hoe mense in die gebied gedurende die onluste aanhoudend aangeval en beroof is.

Farlam het gesê dat die kommissie sou besluit of Cassim gevra sal word om te getuig.

Die ondersoek duur voort.

Polisiemoord: Seniorbeampte geïdentifiseer

Die polisie het ‘n beampte wat naby Hammanskraal noord van Pretoria dood gevind is, as een van die 20 mees senior beamptes in Gauteng geïdentifiseer.

Mj.genl. Tirhani Maswanganyise se lyk is vroeg Dinsdagoggend in ‘n oop stuk veld naby die R101-pad sowat 30 km noord van Pretoria gevind.

Hy is Sondagmiddag laas gesien toe hy op pad was werk toe.

‘n Woordvoerder vir die polisie, Neville Malila, het gesê Maswanganyise is gevind met sy hande en voete vasgebind. Hy is in sy kop geskiet.

Die motief vir die moord is steeds nie duidelik nie aangesien geen van sy persoonlike besittings, wat op die toneel gevind is, geneem is nie.

Daar is vroeër berig dat hy geen skiet of snywonde aan sy lyf gehad het nie en ‘n ondersoek na sy dood is aan die gang.

Die Gautengse polisiekommissaris Mzwandile Petros het met skok en woede op die moord gereageer.

Glanssjef deur eggenoot gewurg

Die Joodse kunsversamelaar Charles Saatchi het Maandag ‘n voorval waarin hy sy Joodse vrou, die glanssjef Nigella Lawson, glo gewurg het, as ‘n “grap-voorval” beskryf.

Die Sunday People het foto’s gepubliseer waar Saatchi sy hande rondom Lawson se nek sit terwyl die twee by ‘n restaurant in Londen eet.

Lawson was glo in trane tydens die voorval, wat volgens berigte op 9 Junie plaasgevind het.

Die 70-jarige multimiljoenêr is ook afgeneem waar hy die 53-jarige Lawson se neus knyp.

Saatchi, wat ‘n rubriek vir The Evening Standard skryf, het aan die koerant gesê hy verstaan die bohaai, maar dat die foto’s die verkeerde boodskap oordra.

“Sowat ‘n week gelede het ons by ‘n restaurant gesit terwyl ons ‘n intense debat oor ons kinders gehad het. Ek het Nigella se nek herhaaldelik vasgehou terwyl ek probeer het om my punt te beklemtoon,” het Saatchi gesê.

“Ek het haar nie vasgehou nie. Dit was ‘n speelse onderonsie. Die foto’s is verskriklik, maar dit gee ‘n meer dramatiese en gewelddadige indruk van wat werklik gebeur het. Nigella se trane was omdat ons altwee dit haat om rusie te maak, nie omdat ek haar seergemaak het nie.”

Hy het gesê hulle het weer vrede gemaak teen die tyd wat hulle by die huis aangekom het.

“Fotograwe het buite ons huis saamgetrek na die storie gepubliseer is, toe sê ek vir Nigella om die kinders te vat totdat die stof gaan lê het.”

Lawson, bekend vir haar kookprogramme en kookboeke, het nog nie self kommentaar gelewer nie.

Die polisie het gesê hulle ondersoek die foto’s, maar geen klagtes is al ontvang nie.

Gebruik Sirië dié gifgas?

Die propaganda-oorlog tussen Washington en Moskou oor die aanwending van sarin-gifgas in Sirië, het ‘n wenner en ‘n verloorder.

Gebruik Sirië dié gifgas teen sy gewapende opposisie? Ná honderde koerantberigte, het Parys, Londen en Washington besluit dat dit wel die geval is. Die “rooi lyn” wat pres. Obama vir die VSA se betrokkenheid gestel het, is oorgesteek. Die oorlog is op hande.

In werklikheid, kom hierdie Westerse mediaspel te laat. Luidens die internasionale reg, is Sirië nie ‘n ondertekenaar van die Konvensie oor chemiese wapens nie en kan hy dit vryelik gebruik. Vir Damaskus om chemiese wapens van massavernietiging nou te gebruik, is egter oorbodig, aangesien die oorlog waarskynlik aan sy einde gekom het met die Siriese regering wat rebelle uit sleutelposisies verdryf.

‘n Woordvoerder van die Siriese ministerie van buitelandse sake, Jihad Makdisi, het op 23 Julie 2012 gesê sy land sal chemiese wapens net teen eksterne vyande gebruik. Hierdie verklaring is deur die NAVO-lande as ‘n dreigement jeens die “rebelle” vertolk.

Eintlik, en sonder enige twyfel, het die woordvoerder NAVO en Israel bedoel. Die woordvoerder was baie duidelik oor die feit dat daar geen sulke wapens teen die Siriese “rebelle” gebruik sou word nie.

NAVO het in 2003 nie gehuiwer om “wapens van massavernietiging” in Irak te vind nie. Twee keer, op 20 Augustus en 3 Desember 2012, het president Barack Obama Sirië teen die gebruik van chemiese wapens gewaarsku.

Die neokonserwatiewes het hulself daarna druk beywer vir Westerse militêre ingryping. Volgens hulle smag Sirië na ‘n “Arabiese Lente” wat wreed deur ‘n “diktator” onderdruk word. Die internasionale gemeenskap moet ter wille van die mooiklinkende ideale van vryheid en demokrasie ingryp.

Professor Anne-Marie Slaughter, voormalige direkteur van beplanning vir Hillary Clinton (2009-2011), het Obama se laissez-faire in Sirië selfs met die Rwandese geval vergelyk! Haar Washington-Post-artikel in ‘n histeriese trant was bedoel om die Amerikaanse bevolking tot ingryping te oorreed. Meer as 60% was egter daarteen gekant.

In 2003 is bewyse van “wapens van massavernietiging” in Irak deur ‘n verrassende getuie na vore gebring. Terwyl die hoof van die inspeksiemissie van die Verenigde Nasies, Hans Blix, voor die Veiligheidsraad bevestig dat sulke wapens nie in Irak nie meer sedert 1991 bestaan nie, het Hussain al-Shahristani, ‘n wetenskaplike in ballingskap, Colin Powel egter daarvan oortuig: Saddam Hussein hét chemiese, bakteriologiese en kernwapens.

Sy woorde is deur die Internasionale Instituut vir Strategiese Studies (IISS) in Londen bevestig. Nie een van sy uitsprake was waar nie. Ná die inval het Washington erken dat hy verkeerd was.

Dié valse getuie het nietemin die Adjunkpremier van die “bevryde” Irak geword en die IISS gaan steeds ongestoord voort met sy naakte propagandabedrywighede asof daar nie ‘n miljoen onskuldige mense gesterf het nie.

Die twee koloniale magte, Frankryk en die Verenigde Koninkryk, wat die Midde-Ooste in 1916 verdeel het, is baie gretig dat Westerse militêre ingryping – ten spyte van die drie Russiese en Chinese veto’s – moet voortgaan. Op 27 Mei, die vooraand van ‘n belangrike vergadering van EU-ministers oor die moontlike lewering van wapens aan die “rebelle”, het die invloedryke Franse koerant Le Monde skielik ‘n ondersoek van Jean-Philippe Rémy op die voorblad geplaas wat van die gebruik van saringas in Damaskus getuig.

Die verslaggewer het bloed- en urinemonsters wat deur ‘n Franse militêre laboratorium getoets is, teruggebring. Die Franse minister van buitelandse sake, Laurent Fabius, reageer soos verwag kan word, en die Britse regering skree “oorlogsmisdaad”. Uiteindelik, volg die Withuis met: “Ons intelligensiegemeenskap bevestig dat die Assad-regime baie keer gedurende die afgelope jaar chemiese wapens teen die opposisie aangewend het, waaronder saringas op ‘n klein skaal.”

Die probleem is ten eerste dat daar nie ‘n probleem is nie: Die gebruik van saringas is in 2007 deur die Konvensie op chemiese wapens verbied maar is nóg deur Israel nóg Sirië bekragtig.

Dit beteken dat hierdie twee lande wettig sonder die pleeg van “oorlogsmisdade” die gas mag aanhou en aanwend.

Tweedens, die gebruik van saringas deur gereelde troepe, selfs al word dit nou deur Parys, Londen en Washington “bevestig”, bly hoogs onwaarskynlik. Die saak soos dit deur Le Monde aangekondig is, kan net die onwaarskynlikheid verder verhoog.

Die Siriese weermag het na bewering in Damaskus, in die distrik van Jobar, die gas gebruik sonder dat die gas die straat na die burgerlike bevolking en die res van die hoofstad versprei het. Rebelle se reaksies dui daarbenewens op ‘n baie lae dosis. Hulle is dadelik met atropien behandel, maar ook met plaaslike behandelings waaronder oogdruppels, wat blyk onnodig te wees vir ‘n gas wat deur die vel dring. Kortom, die getuienis sal nie die feitetoets eers naastenby slaag nie. Net so min as wat George W. Bush en Tony Blair se “feite” en “bewyse” in Irak van WMV (Wapens van Massavernietiging) geslaag het.

Joeri Oesjakof, die buitelandsebeleidsadviseur vir die Kremlin, het begin lag toe hy die “bewyse” sien. Hy sê hy kon nie verhelp om aan die proefbuisie vol antraks te dink wat deur Colin Powell aan die Veiligheidsraad voorgehou is nie.

‘n Mens wonder waarom die bewerings van Carla del Ponte, ‘n lid van die Kommissie van Ondersoek vir die Hoë Kommissaris vir Menseregte, nie dieselfde reaksies ontlok het nie. Sy het op 5 Mei 2013 op die Switserse televisie gesê: “Tydens ons ondersoek […]  is konkrete bewyse van die gebruik van saringas gevind. En dit is gebruik deur teenstanders, maw deur die rebelle, en nie deur die regering nie.”

Turkye word tans deur ‘n politieke opstand teen die Moslem-broederskap verlam, wat deur Erdogan in plek gehou word, terwyl Washington in Katar die troon aan die diktator se seun Tamim moet oorhandig. Die tydsberekening in die Midde-Ooste vir hierdie omwentelinge beteken dat die Russe en Amerikaners sal moet gaan sit om uiteindelik vrede te bespreek.

Ses soldate in Renamo-aanval dood

Ses Mosambiekse soldate het Maandag gesterf in ‘n aanval op ‘n wapendepot, het die nasionale radiostasie berig.

Volgens die berig is Mosambiek se Renamo-rebelle glo verantwoordelik vir die aanval wat vroegoggend in die sentrale provinsie van Sofala plaasgevind het.

Rosa Luis, ‘n plaaslike beampte, het gesê openbare instellings, insluitend skole, is weens die aanval gesluit.

Minstens een vermeende Renamo-vegter is gewond en in hegtenis geneem.

Renamo is in Maart blameer vir twee aanvalle in Sofala, maar het die aantygings ontken.

Steve gooi klip in Mandela-hoenderhok

Mandela se oproep om wedersydse vergifnis, “beteken f*kol” vir sy mense en hul kinders se toekoms, het Steve Hofmeyr op Twitter gesê.

Hofmeyr was die naweek in ‘n hewige Twitter-debat met Mandela se voormalige persoonlike assistent Zelda la Grange betrokke.

Die debat het begin toe Hofmeyr ‘n skakel na ‘n artikel getwiet het deur ‘n swart Amerikaanse skrywer, Emanuel McLittle, wat in 2002 verskyn het.

McLittle beskryf Mandela as van gemiddelde intelligensie wat Suid-Afrika in ‘n toestand van chaos gelos het ná sy termyn as president.

Hofmeyr het die skakel, saam met die woorde “Must read. Hel. Wat ‘n stuk”, getwiet.

La Grange het gereageer deur te sê Hofmeyr moet sê hoe hy regtig voel.

“Werklikwaar! Dis nie wat jy Madiba gewys het die dag toe jy daar was nie!

“Jy moet sê hoe jy voel dat mens vrede maak daarmee!” het La Grange getwiet.

Hofmeyr het teruggekap deur te sê daar het “baie water (onreg en teleurstellings) in die see geloop in die agt jaar vandat Madiba my (soos ‘n heer) ontvang het”.

La Grange het geantwoord: “Ek is ook ongelukkig oor baie goed in die land en hoe dinge verloop. Maar dis nie Madiba se legacy nie! En om te sê syne is ‘lyke’?”

Dit is toe wat Hofmeyr sê Mandela se model vir wedersydse vergifnis beteken vir sy mense en hul families “f*okol”.

La Grange het nie ‘n antwoord daarop gehad nie, en die debat in ‘n ander rigting probeer stuur om nie oor die ooglopende mislukkings van swart regering te hoef te reageer nie.

Woede oor Britte se spioenasie neem toe

Rusland, Turkye en Suid-Afrika het uiterste verontwaardiging uitgespreek Maandag oor onthullings dat Brittanje en die Verenigde State van Amerika op buitelandse afgevaardigdes by G20-vergaderings in Londen in 2009 gespioeneer het.

Die Turkse regering het Brittanje se charge d’affaires ingeroep om ‘n koerantberig wat beweer dat Londen gespioeneer het, te verduidelik, het die Minister van Finansies Mehmet Simsek verklaar.

Moskou het intussen sy kommer uitgespreek oor die Amerikaanse spioene wat die destydse president Dmitri Medwedef se kommunikasie onderskep het terwyl hy in Brittanje was, en ‘n paar Russiese wetgewers het gewaarsku dat dit Amerikaans-Russiese bande kan benadeel.

Britse Eerste Minister David Cameron het gesê hy gaan nie kommentaar lewer op intelligensie aangeleenthede nie, maar die onthulllings is duidelik ‘n enorme verleentheid omdat hy tans as die gasheer vir G8-leiers by ‘n spitsberaad in Noord-Ierland optree.

Die onthullings is gegrond op die dokumente wat uitgelek is deur die voormalige Amerikaanse spioen Edward Snowden, wat reeds die woede van Washington ontketen het verlede week omdat hy die sluier gelig het op ‘n massiewe Amerikaanse internetspioenasiestelsel.

Volgens The Guardian koerant, het Brittanje se GCHQ elektroniese meeluistering gebruik met “grondverskuiwende intelligensie-vermoëns” om kommunikasie te monitor by twee G20-vergaderings in April en September 2009.

Afgevaardigdes is na bewering om die bos gelei in die gebruik van spesiaal voorbereide Internetkafees wat Britse spioene in staat gestel het te om e-pos en telefoonoproepe deur BlackBerry toestelle te onderskep en te monitor .

GCHQ het ook geweet wanneer afgevaardigdes in kontak met mekaar is en die agentskap het sekere amptenare, insluitend die minister van finansies van die NAVO-bondgenoot Turkye, geteiken.

Ankara het met woede gereageer, en die Britse ambassadeur asook die adjunk-hoof van die sending ingeroep om ‘n verduideliking te eis, het ‘n diplomaat van buitelandse aangeleenthede gesê.

Vroeër het die ministerie gesê dat indien die verslag waar is, “so ‘n optrede deur ‘n bondgenootland onaanvaarbaar is.”

“Dit sal ‘n skande in terme van die verhouding tussen die twee lande wees indien enige waarheid in die bewerings steek,” het hy gesê.

Die Britse minister van die Foreign Office het bevestig dat die adjunk-hoof van hulle missie Turkye se direkteur-generaal ontmoet het vir intelligensie en sekuriteit by die ministerie van buitelandse sake in Ankara, maar het geen besonderhede gegee nie.

Amptenare na Noord-Ierland wat saam met die Russiese president Vladimir Poetin reis, het intussen hulle kommer uitgespreek oor bewerings dat Amerikaanse agente op sy voorganger gespioeneer het, terwyl hy in Londen was.

“As ‘n land wat stappe doen om sy eie inligting te beskerm, is ons bekommerd,” sê Rusland se G8-onderhandelaar Alexei Kvasov.

Die reaksie in Moskou was minder diplomaties.

“Dit is ‘n skande!” het Alexei Pushkov, die hoof van die laerhuis van die parlement se buitelandse sake komitee op Twitter uitgevaar.

Senator Igor Morozov, ‘n lid van die internasionale sakekomitee van die boonste huis van die parlement, het gesê dit sal bande met Washington bemoeilik.

“In hierdie situasie hoe kan ons die huidige aankondiging van die Amerikaanse president Barack Obama vertrou, wat ‘n gesprek oor ‘n nuwe ‘herstel’ [van verhoudinge] vra?” het hy aan die RIA Novosti-nuusagentskap gesê.

Cameron het vroeër aan Sky News gesê: “Ons het nog nooit kommentaar gelewer oor veiligheid- of intelligensiekwessies nie, en ek sal nie nou begin nie.”

Die Guardian het gesê dat Suid-Afrikaanse rekenaars is ook uitgesonder vir spesiale aandag, waarna die regering gewaarsku het teen die misbruik van privaatheid en “basiese menseregte”.

“Ons het vaste, sterk en hartlike verhoudings met die Verenigde Koninkryk en wil ‘n beroep op hul regering doen om hierdie saak deeglik te ondersoek met die oog op ‘n sterk en sigbare optrede teen enige oortreders,” het die departement van internasionale betrekkinge en samewerking gesê.

Die uitgelek dokumente dui daarop dat die spioenasie op G20-afgevaardigdes van ‘n senior vlak binne die regering van Brittanje se destydse eerste minister, Gordon Brown gekom het.

‘n Inligtingsessiedokument voorberei vir GCHQ se direkteur Iain Lobban, van 9 Januarie 2009, lui dat die agentskap se opdrag was “om te verseker dat intelligensie van Haar Majesteit se regering die gewenste uitkomste vir die presidentskap van die G20 het en kliënte op die regte tyd bereik asook in ‘n vorm wat dit moontlik maak vir hulle om ten volle daarvan gebruik te maak “.

Snowden, wat tans in wegkruip in Hong Kong, het belowe om enige poging deur die Verenigde State van Amerika hom uit te lewer, te beveg.

In ‘n lewendige vraag-en-antwoord-sessie op The Guardian se webtuiste Maandag, het hy gesê daar is meer onthullings om te kom oor die Amerikaanse National Security Agency se toegang tot die internetdata.