Die Joodse kunsversamelaar Charles Saatchi het Maandag ‘n voorval waarin hy sy Joodse vrou, die glanssjef Nigella Lawson, glo gewurg het, as ‘n “grap-voorval” beskryf.
Die Sunday People het foto’s gepubliseer waar Saatchi sy hande rondom Lawson se nek sit terwyl die twee by ‘n restaurant in Londen eet.
Lawson was glo in trane tydens die voorval, wat volgens berigte op 9 Junie plaasgevind het.
Die 70-jarige multimiljoenêr is ook afgeneem waar hy die 53-jarige Lawson se neus knyp.
Saatchi, wat ‘n rubriek vir The Evening Standard skryf, het aan die koerant gesê hy verstaan die bohaai, maar dat die foto’s die verkeerde boodskap oordra.
“Sowat ‘n week gelede het ons by ‘n restaurant gesit terwyl ons ‘n intense debat oor ons kinders gehad het. Ek het Nigella se nek herhaaldelik vasgehou terwyl ek probeer het om my punt te beklemtoon,” het Saatchi gesê.
“Ek het haar nie vasgehou nie. Dit was ‘n speelse onderonsie. Die foto’s is verskriklik, maar dit gee ‘n meer dramatiese en gewelddadige indruk van wat werklik gebeur het. Nigella se trane was omdat ons altwee dit haat om rusie te maak, nie omdat ek haar seergemaak het nie.”
Hy het gesê hulle het weer vrede gemaak teen die tyd wat hulle by die huis aangekom het.
“Fotograwe het buite ons huis saamgetrek na die storie gepubliseer is, toe sê ek vir Nigella om die kinders te vat totdat die stof gaan lê het.”
Lawson, bekend vir haar kookprogramme en kookboeke, het nog nie self kommentaar gelewer nie.
Die polisie het gesê hulle ondersoek die foto’s, maar geen klagtes is al ontvang nie.
