Die polisie het ‘n beampte wat naby Hammanskraal noord van Pretoria dood gevind is, as een van die 20 mees senior beamptes in Gauteng geïdentifiseer.
Mj.genl. Tirhani Maswanganyise se lyk is vroeg Dinsdagoggend in ‘n oop stuk veld naby die R101-pad sowat 30 km noord van Pretoria gevind.
Hy is Sondagmiddag laas gesien toe hy op pad was werk toe.
‘n Woordvoerder vir die polisie, Neville Malila, het gesê Maswanganyise is gevind met sy hande en voete vasgebind. Hy is in sy kop geskiet.
Die motief vir die moord is steeds nie duidelik nie aangesien geen van sy persoonlike besittings, wat op die toneel gevind is, geneem is nie.
Daar is vroeër berig dat hy geen skiet of snywonde aan sy lyf gehad het nie en ‘n ondersoek na sy dood is aan die gang.
Die Gautengse polisiekommissaris Mzwandile Petros het met skok en woede op die moord gereageer.
