Sleepdood: Saak uitgestel

Die borgtogaansoek van nege polisiebeamptes van die moord op die taxibestuurder Mido Macia beskuldig word, is Dinsdag in die Benoni-landdroshof uitgestel.

Die hof het gehoor dat alternatiewe adresse vir die beskuldigdes nog geverifieer moet word.

Die saak is tot 30 Julie uitgestel.

Macia is op 26 Februarie aan ‘n polisievoertuig vasgebind en in ‘n straat in Daveyton aan die Oos-Rand gesleep. Hy het ure later in polisieaanhouding gesterf.

Die beskuldigdes is Meshack Malele (46), Thamsanqa Ncema (35), Percy Mnisi (26), Bongumusa Mdluli (25), Sipho Ngobeni (30), Lungisa Ewababa (31), Bongani Kolisi (27), Linda Sololo (56) en Motome Walter Ramatlou (37).

SAIRR roep DA se bluf oor NDP

Die land se twee voorste sogenaamde liberale organisasies – die SA Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRR) en die Demokratiese Alliansie (DA), die land se grootste opposisieparty – het mekaar openlik in die hare gevlieg

Die onenigheid gaan oor die DA se skerp swaai na links om swart stemme te trek. Die party het daarmee sy eertydse opposisie teen rasseklassifikasie en rassediskriminasie, die enkele belangrikste komponent van DA-beleid, laat vaar ten gunste van die NDP, die Nasionale Ontwikkelingsplan.

Dit blyk uit die DA se houding teenoor dié sentrale beleidsdokument van die ANC-regering, asook die DA se positiewe gesindheid teenoor Breedgebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging (BBSEB).

Met die bekendstelling van die NDP in November 2011 het die DA-leier, Helen Zille die plan verwelkom as ‘n “ontluikende konsensus in die nie-rassige, vooruitstrewende sentrum van die Suid-Afrikaanse politiek. Die NDP is gewortel in dieselfde analitiese raamwerk wat die grondslag van die DA se eie politieke filosofie verteenwoordig: die ‘oop geleentheidsamelewing vir almal'”.

By nadere ondersoek is Zille se optimisme vreemd, aangesien die NDP juis nie die aspekte wat Zille raaksien, bevat nie.

Die SAIRR het ook hierdie lastige gebrek in die plan opgemerk. “Dit [NDP] is fundamenteel gebrekkig – deurspek met ideologiese disleksie, ekonomiese verwarring en teenstrydige idees – en sal nie sy maatskaplike en ekonomiese doelwitte bereik nie. Die NDP versuim om die deregulering van die arbeidsmark aan te spreek, rasse-beleid te laat vaar, doeltreffende stappe te neem om die gehalte van onderwys te verbeter, en sy beleggings-, groei- en indiensnemingsdoelwitte is onbereikbaar “.

Die SAIRR deur sy ontleding, verwerp die NDP se padkaart as in stryd met gesonde ekonomiese beginsels. Die breë gedagte daarin vervat, volgens vele ontleders, is om beheer oor alle sentrums van mag in Suid-Afrika te bekom, en ‘n onbereikbare gelykheidsideaal na te streef met die herverdeling van rykdom en inkomste.

Erger nog is dat rassetransformasie ‘n sleutelelement van die NDP verteenwoordig. Die ANC het die NDP op sy 53ste Nasionale Konferensie in Mangaung in Desember 2012, geloof as rigtingbepalend in dié opsig.

Blykbaar steun die voormalige uitvoerende hoof van AngloGold, Bobby Godsell – wat terloops deur die DA benoem is om te dien op die Nasionale Beplanningskommissie – die Afrikanisering van Suid-Afrika in weerwil van die problematiese ekonomiese uitkomste wat voorsien word indien die plan ten uitvoere gebring word.

Zille glo soos Godsell die DA is op koers deur die NDP en BBSEB te aanvaar en die land onherroeplik in ‘n rigting van totale swart beheer te stuur.

Dat Cosatu-geaffilieerde vakbonde en die SA Kommunistiese Party ook die NDP verwerp, is rede tot kommer aangesien dit beteken dat ‘n groot deel van Suid-Afrika se bevolking meen daar moet nog meer inmenging deur die staat wees en dat die NDP nie sosialisme genoeg uitdra nie.

Sommige kommentators, soos Stanley Uys egter, meen dat die “debat oor die liberalisme momentum gekry het”. Uys, verblind deur die gewone hubris waaraan Engelssprekende ontleders hulself al soveel keer skuldig gemaak het in Suid-Afrika, het duidelik nie begryp dat die debat nie handel oor gesonde liberale ekonomiese beginsels nie, maar oor transformasie, rasse-voorkeur, sosialisme en naakte magspolitiek.

Die SAIRR se siening dat belangrike dele van die beleidsposisies van die DA en ANC “feitlik ononderskeibaar” is, beaam dit net verder en skep rede tot kommer dat die Instituut ‘n stem in die woestyn verteenwoordig teen die rasse-aanslag van die DA/ANC.

Beeld dam Egipte met die Hitler-stoflap by

Beeld se hoofartikel vandag het weer al die kenmerke van die Naspers-gedienstigheid wat ons so goed ken. Dan het die dagblad ook seker gemaak dat hulle Afrikaanse lesers se intelligensie grondig onderskat.

Weliswaar verklaar hulle president Morsi en sy Moslem-broederskap se bewindseinde op 4 Julie deur ‘n staatsgreep, wat min of meer korrek is. Maar hulle span die onderwerp sommer ook in om Suid-Afrika se veelbeprese Grondwet nog ‘n bietjie te poets… met die ou verfomfaaide Hitler-stoflap.

Is daar nog iemand behalwe die Amerikaanse regering en strydende partye in die streek wat die waarneming oor ‘n staatsgreep ernstig sou bevraagteken?

Dit blyk dat die meeste regerings in die omtrek ook die staatsgreep sien vir wat dit is. Turkye en Tunisië was die uitsonderings wat teen die oorname deur die weermag gekant was. In Ankara het dit tot ‘n gesamentlike verklaring deur al vier partye in die parlement gelei, ‘n seldsame harmonie ná die onlangse opstande in die land. Die Afrika-Unie het egter vinnig gereageer deur Egipte se lidmaatskap op te skort.

Staatsgrepe is sleg vir demokrasie, en internasionale reaksies op staatsgrepe maak saak. Baie lande sal waarskynlik nou nog meer onder die indruk daarvan raak dat sekere politieke keuses sterk van internasionale druk afhang. Sonder daardie druk verkeer die VSA se hegemonie in gevaar.

Turkse finansiële hulp aan mnr Morsi se regering verlede jaar het hom gehelp om pynlike ekonomiese hervormings wat deur die Internasionale Monetêre Fonds aangemoedig is, te omseil. Die Verenigde State was toe van mening dat sekere veranderinge – insluitend ‘n vermindering van voedsel- en elektrisiteitsubsidies – nodig was om te help om Egipte uit sy ekonomiese wanorde te help. Maw, deur energiepolitiek het die VSA Morsi onder kwaai druk geplaas om aan die IMF se raad gehoor te gee.

Intussen het twee van die rykste monargieë in die Golfstate verlede Dinsdag $8miljard in kontant en lenings aan Egipte belowe, ‘n besluit wat ander rolspelers se invloed sal ondermyn.

Dié aansienlike finansiële hulppakket, wat deur Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate aangekondig is, is slegs ‘n dag ná die Egiptiese weermag lede van die Moslem-broederskap doogeskiet het, aangekondig. Die hulppakket beklemtoon ‘n voortdurende stryd om invloed tussen Saoedi-Arabië en Katar, in Egipte, asook die res van die streek.

Katar – wat in alliansie met Turkye verkeer – se finansiële, wapen- en diplomatieke steun aan die Moslem-broederskap, asook aan groepe in Sirië en Libië, is nie ‘n onbenullige kwessie nie. Saoedi-Arabië en die Emirate is doodbang dat Islamitiese bewegings en oproepe om demokrasie hul eie lande kan destabiliseer.

Die belofte van soveel hulp beklemtoon die perke van Amerikaanse invloed: die Verenigde State van Amerika bied aan Egipte slegs $1,5 miljard jaarlikse hulp, ‘n geringe breukdeel van wat die Golfstate belowe het.

Wat duidelik blyk, is die Obama-administrasie se onsekerheid oor hoe om te op die militêre oorname te reageer, asook hoe om invloed oor ‘n toenemend chaotiese en gefragmenteerde Arabiese wêreld uit te oefen. Amerikaanse belange raak al hoe moeiliker om te definieer.

Dié hele verhaal en sy implikasies het heeltemal by die arme Beeld verbygegaan. Vir Beeld was die Arabiese Lente se einddoel ‘n “demokratiese bestel waarin individuele vryhede en leefruimte vir minderhede gewaarborg word en alledaagse werklikheid word”. Dus die uitkoms wat nié in Suid-Afrika verwesenlik is nie, ten spyte van ons Grondwet!

Die spanning tussen Katar en Saoedi-Arabië is ouer en meer kompleks as net die Arabiese opstande wat in 2011 begin het. Saoedi-Arabië verkies om sy tjekboekdiplomasie stil en agter die skerms te voer, en sien homself as die plaaslike leier. Maar Katar se buitelandse beleid, wat met behulp van sy rykdom en Al Jazeera – die TV-netwerk – gevoer word, speel al geruime tyd ‘n deurslaggewende rol in sommige van die streek se belangrikste gebeure.

Katar is gasheer vir die grootste Amerikaanse militêre basis in die Midde-Ooste, dog finansier Moslemgroepe in Tunisië, Libië, Sirië en Egipte, dikwels die kant van die Moslem-broederskap of sy affiliasies, soos Hamas.

Saoedi- en Emirati-hulp kan dieselfde doel dien om die invloed van politieke Islam te bestendig, ongewilde besluite (in Amerikaanse oë) aan te help en Amerikaanse invloed oor Egipte se volgende regering te beperk.

Dit het weinig met enige grondwet en Hitler te make, maar Beeld se lesers sal dit seker nie agterkom nie.

Blogger ‘Baba Jukwa’ ontsenu Mugabe

Robert Mugabe het glo ‘n  beloning van $300,000 aangebied aan enigiemand met inligting oor ‘n anonieme blogger wat ‘n rits lekkasies oor beweerde Zimbabwiese moordkomplotte, korrupsie en planne met hierdie maand se verkiesing op die internet beskikbaar gestel het.

Die goed-ingeligte mol, wat homself “Baba Jukwa” noem, is binne in die binnekamers van die regime, en plaas reeds vier maande lank onthullings op Facebook.

Die bladsy is al meer as ‘n miljoen keer besoek en hy het meer as 239,000 volgelinge.

Pogings om die mol op te spoor het tot dusver misluk. Kenners meen hy/sy/hulle kan nie in Zimababwe wees nie, aangesien dit te gevaarlik is.

Die plasings beskuldig ministers van korrupsie en polisiehoofde van wreedheid, en hul private selfoonnommers word beskikbaar gestel.

Pogings deur senior Zanu-PF-party-amptenare om Facebook te oorreed om die bladsy te sluit, het misluk en Mugabe het na bewering ‘n beroep op China gedoen vir tegniese ondersteuning om die blogger en gebruikers te identifiseer.

Verlede maand het die mol gewaarsku dat ‘n sluipmoordkomplot teen ‘n voormalige minister beplan word wat van die lek van inligting verdink word.

Edward Chindori-Chininga is toe skielik in ‘n motorongeluk dood kort nadat hy in die openbaar Zimbabwe se omstrede diamantbedryf gekritiseer het.

“Ek het vir julle gesê sal daar lyke wees hierdie jaar. Die oorlog het begin,” het Baba Jukwa op sy muur geskryf na die politikus se dood.

Volgens berigte het die minister gesterf toe sy motor ‘n boom getref het. Geen ander voertuig was betrokke nie.

Teenstanders van Mugabe in die verlede het in soortgelyke onverklaarbare padongelukke omgekom.

Vakbonde by myne, Eskom eis verhogings

Goudprodusente het ‘n verhoging van 4% vir arbeiders voorgestel. Werkgewers sê die verhogings is gegrond op die dalende goudprys sowel as produktiwiteit, en kostes wat die hoogte inskiet.

Arbeidskoste maak tans meer as die helfte van die algehele produksiekoste uit. AMCU eis verhogings van selfs 100%, na gelang van die senioriteit van die werknemers. NUM eis verhogings van 60% en Solidariteit eis 10%.

Ontleders meen die onderhandelinge, wat volgende week voortgesit word, is die moeilikste in die mynbedryf sedert 1994.

NUM het tyd tot Dinsdag om nog lede te werf en sy meerderheidstatus teen sy opposisie, AMCU by Lonmin se Marikanamyn te behou.

Vier-en-veertig mense is in Augustus verlede jaar tydens ‘n loonverwante staking op Marikana dood. In ander verwikkelinge is die NUM se aansoek om Lonmin te keer om die vakbond se erkenning terug te trek, in die Arbeidshof van die rol geskrap omdat dit nie dringend is nie.

NUM het aangevoer dat hy op onreëlmatighede in die oorgang van sy lede na AMCU afgekom het.

Intussen is loononderhandelinge by Eskom is na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie verwys nadat die kragverskaffer en vakbonde ‘n dooiepunt bereik het.

‘n Woordvoerder, Hilary Joffe, sê die maatskappy het ‘n dispuut verklaar omdat daar geen beweging van die vakbonde se kant af was nie. Die loononderhandelinge het in Mei begin.

Joffe sê Eskomwerknemers word verteenwoordig deur Solidariteit, die NUM en NUMSA. Sy het die vakbonde gewaarsku dat Eskom as ‘n noodsaaklike diens beskou word wat beteken dat werkers nie mag staak nie.

Die maatskappy bied ‘n verhoging van 5,6% aan sy werkers, maar hulle eis tot 20 persent meer.

TLU wil nie Zuma se neef help verryk nie

TLU SA is nie bereid om betrokke te raak by enige projek om geld te kanaliseer na familie van pres. Jacob Zuma nie.

Dit is die reaksie van mnr. Louis Meintjes, TLU SA se president, nadat dit aan die lig gekom het dat pres. Zuma se neef waarskynlik die grootste voordeel kan trek uit die Masimbambisane Rural Development Initiative.

“TLU SA was teenwoordig toe pres. Zuma die nuwe jaar se projekte aangekondig het en waar hy gevra het dat georganiseerde landbou daarby betrokke moet raak. Daar is toe inderdaad aangekondig dat ongeveer R900 miljoen staatsgeld daarin gepomp gaan word,” sê mnr. Meintjes. Daar word beoog om 1 miljoen hektaar grond onder voedselproduksie te plaas, maar daar is geen aanduiding gegee van hoe die geld bestee gaan word nie.

Daar kan ook nie behoorlik rekenskap gegee word oor die geld wat die afgelope jaar bestee is nie. Sulke projekte behoort gemeet te word aan die oppervlakte wat bewerk is, hoeveel hektaar geplant is, wat was die koste gemeet aan kommersiële landbou standaarde, die opbrengs, wat die wins was. En of die produk kompeterend is in ‘n vrye mark ekonomie. Hierdie antwoorde is nie gegee nie.

Daar is ook’n groot vraag oor die aanwending van die fondse. Hoeveel van die geld is werklik gespandeer op die grond waar die boer dit nodig het?

Volgens die program wat verskaf is, was hulle reeds agter met die implementering en gaan hulle in alle waarskynlikheid te laat wees vir die somer aanplanting.

Maar met die Staat se ruim bydrae is daar wel dadelik ‘n familielid van die President beskikbaar om die projek te bestuur. Wat sy kennis van landbou is, is tot dusver ook onseker.

“Hierdie is ‘n tweede Nkandla,” sê mnr. Meintjes. “Alhoewel TLU SA hom verbind tot voedselsekerheid in die land, doen hy dit vanuit die perspektief dat die kommersiële landbouer volhoubaar op sy grond gehou moet word as prioriteit. Tweedens moet die staat sy eie grond beskikbaar stel aan nuwe projekte en toesien dat hierdie projekte op volhoubare ekonomiese beginsels bestuur word, en nie deur moontlike nepotisme nie.”

VF+ verwelkom Zuma-besluit oor arm wit behuising

Die VF Plus in Pretoria het die Presidensie se aankondiging dat behuising aan arm wittes van Pretoria-Wes voorsien gaan word, gister verwelkom.

Die stap van die president volg nadat die VF Plus in 2008 onder leiding van die party se Pretoria-leier en raadslid in die Tshwane-metroraad, Philip Van Staden, met die president tydens sy besoek aan die Wesmoot, ‘n gesprek hieroor gevoer het.

In 2011 het die VF Plus ook die saak in die Tshwane-metro verder gevoer deur in gesprek te tree met die burgemeester, raadslid Ramokgopa. ‘n Databasis van arm wittes in die gebied is aan die burgemeester oorhandig en bouwerk aan huise het reeds begin in die gebiede van Danville en Suiderberg.

Die president gaan op 18 Julie 2013 die eerste huise aan arm wittes van Betlehem oorhandig.

Van Staden het gesê dat die VF Plus verheug is oor die president se stap, maar dat daar nog baie huise aan arm wittes regoor Pretoria verskaf moet word.

“Die VF Plus sal nie ophou om die saak te dryf nie en hierdie is maar net die begin van alles.”

Wouter Basson-saak hervat

Die voormalige geneesheer-generaal Niel Knobel getuig na verwagting vandag wanneer die saak oor etiese wangedrag teen die kardioloog en chemiese kenner dokter Wouter Basson hervat word.

Basson word van onetiese gedrag aangekla en dat hy betrokke was in die grootskaalse vervaardiging en verskaffing van mandrax, kokaïen en traangas aan die Unita-leier in Angola, Jonas Savimbi.

Basson word ook daarvan aangekla dat hy middels verskaf het wat in ontvoerings gebruik is, sowel as sianied-kapsules wat agente gebruik het om selfmoord te pleeg.

In 2002 is Basson in die hooggeregshof in Pretoria vrygespreek op 67 aanklagte, ná ‘n uitgerekte strafregtelike saak.

Tydens ‘n verhoor in 2008 deur die Raad op Gesondheidsberoepe is Basson aangekla van oortredings wat spruit uit sy tyd as sogenaamde “chemiese oorlogkenner.”

Onluste breek uit na Zimmerman vrygespreek word

Die Amerikaanse president Barack Obama het vir kalmte gepleit nadat die buurtwag-vrywilliger George Zimmerman Saterdag onskuldig bevind is aan moord op ‘n ongewapende swart tiener in die VSA.

Betogings het oral in die VSA voorgekom na die uitspraak in die guns van ‘n bruin veiligheidswag wat daarvan beskuldig is dat hy ‘n swart tiener vermoor het.

Zimmerman het gesê hy vrees dat sy vryheid vir die res van sy lewe ingeperk sal wees, nadat hy vrygespreek is.

Volgens sy broer, Robert, sal George voortaan gereeld oor sy skouer moet kyk.

Sy prokureur het gewaarsku dat die moontlikheid van wraakaanvalle na die hofsaak kan voorkom en dat die ‘n nasionale rassedebat kan ontketen.

Volgens George Zimmerman het hy in selfverdediging opgetree toe hy Trayvon Martin doodgeskiet het.

Duisende mense is opgesweep deur die Obama-administrasie se anti-wit rasse-vooroordeel, en het die strate ingevaar om te betoog na die uitspraak.

Betogers in Oakland,  Kalifornië, het vensters gebreek, polisievoertuie beskadig, vullishouers omgekeer en brande in die middestad van Oakland gestig.

Een polisiemotor is met die woorde “Kill Pigz” versier en Amerikaanse vlae is aan die brand gesteek. “Dood aan Zimmerman” is oral op mure aangebring, ook by die Alameda County Court.

Swart sportsterre en Twitter-gebruikers het Zimmerman openlik met die dood gedreig. ‘n Joodse tiener het selfs grootskaalse massamoorde op wittes op Twitter voorgestel.

Vrese dat jurielede se identiteite in weerwraak ontbloot sal word, is ook geopper.

Die sangster Beyoncé het ‘n minuut van stilte afgekondig by haar konsert, om teen die uitspraak kapsie te maak.

Agt vas na dwelmgeweld in Kaapstad losbars

Agt mense is Saterdag vir openbare geweld in hegtenis geneem in Ocean View naby Vishoek in die Wes-Kaap nadat ‘n beweerde dwelmbaas se huis beskadig is.

‘n Woordvoerder vir die polisie, Tembinkosi Kinana, het gesê inwoners het die huis met klippe bestook, die dak beskadig en ‘n motor wat voor die huis gestaan het stukkend geslaan.

“Die polisie is ontbied om die situasie onder beheer te bring en om die gesin wat ten tyde van die voorval in die huis was te ontruim.”

Volgens Kinana is polisievoertuie ook beskadig.

Kinana het gesê die beskadiging van die huis was ‘n wraakaanval nadat ‘n 32-jarige man Saterdagoggend geskiet is deur ‘n ongeïdentifiseerde verdagte.

‘n Saak van poging tot moord word ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.

Die agt mense wat vir openbare geweld in hegtenis geneem is sal na verwagting binnekort in die Simonstad-landdroshof verskyn.