Die voormalige geneesheer-generaal Niel Knobel getuig na verwagting vandag wanneer die saak oor etiese wangedrag teen die kardioloog en chemiese kenner dokter Wouter Basson hervat word.
Basson word van onetiese gedrag aangekla en dat hy betrokke was in die grootskaalse vervaardiging en verskaffing van mandrax, kokaïen en traangas aan die Unita-leier in Angola, Jonas Savimbi.
Basson word ook daarvan aangekla dat hy middels verskaf het wat in ontvoerings gebruik is, sowel as sianied-kapsules wat agente gebruik het om selfmoord te pleeg.
In 2002 is Basson in die hooggeregshof in Pretoria vrygespreek op 67 aanklagte, ná ‘n uitgerekte strafregtelike saak.
Tydens ‘n verhoor in 2008 deur die Raad op Gesondheidsberoepe is Basson aangekla van oortredings wat spruit uit sy tyd as sogenaamde “chemiese oorlogkenner.”
