Agt vas na dwelmgeweld in Kaapstad losbars

Agt mense is Saterdag vir openbare geweld in hegtenis geneem in Ocean View naby Vishoek in die Wes-Kaap nadat ‘n beweerde dwelmbaas se huis beskadig is.

‘n Woordvoerder vir die polisie, Tembinkosi Kinana, het gesê inwoners het die huis met klippe bestook, die dak beskadig en ‘n motor wat voor die huis gestaan het stukkend geslaan.

“Die polisie is ontbied om die situasie onder beheer te bring en om die gesin wat ten tyde van die voorval in die huis was te ontruim.”

Volgens Kinana is polisievoertuie ook beskadig.

Kinana het gesê die beskadiging van die huis was ‘n wraakaanval nadat ‘n 32-jarige man Saterdagoggend geskiet is deur ‘n ongeïdentifiseerde verdagte.

‘n Saak van poging tot moord word ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.

Die agt mense wat vir openbare geweld in hegtenis geneem is sal na verwagting binnekort in die Simonstad-landdroshof verskyn.

Maak 'n opvolg-bydrae