SAID-baas soebat na sy dwelm-bande rugbaar raak

Oupa Magashula, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het glo om vergifnis gesmeek nadat hy Vrydag skielik bedank het weens sy bande met ‘n veroordeelde dwelmhandelaar.

“Ek het die hoogste agting vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Ek het die minister gesien en aan hom gevra om my asseblief te vergewe,” het Magashula aan die Sunday Times gesê.

“Ek het ‘n onvanpaste gesprek met daardie mev. [Nosipho] Mba gehad. Dit was eintlik net ‘n geterg. Daar was geen bedoeling om die werwingsproses van die SAID te ondermyn nie. Ek het bedank omdat ek omgee vir die SAID.”

Magashula het die uitlatings aan die Sunday Times gemaak vanuit sy hospitaalbed waar hy vir hoë bloeddruk behandel word.

Pravin Gordhan, minister van finansies, het Vrydag Magashula se bedanking aangekondig na afloop van ‘n ondersoek na bewerings dat hy vir ‘n geoktrooieerde rekenmeester ‘n pos by die SAID aangebied het.

Die veroordeelde dwelmhandelaar Timothy Marimuthu, wat glo vir Magashula onder sy invloed het, het blykbaar die gesprek met die rekenmeester gereël.

Maak 'n opvolg-bydrae