Malema glo EFF sal SA binnekort regeer

Julius Malema, leier van die Economic Freedom Fighters, wat Donderdag die EFF-protesbeweging bekendgestel het, het Saterdag belowe die EFF sal Suid-Afrika se nuwe regerende party word.

Malema het Saterdag aan die skare gesê die EFF gaan boere se grond vat as hulle die mag oorneem.

“Ons gaan die regering vat en wanneer ons dit gevat het, gaan ons nie onderhandel nie. Ons gaan ons grond vat, ons gaan dit vat omdat dit ons grond is.”

Hy het ook Saterdag gesê Jesus sal terugkeer omdat die ANC arrogant geword het.

“Die regerende party het arrogant geword. Hulle het gesê hulle sal die land regeer totdat Jesus kom. Watter tipe stelling is dit?” het Malema aan inwoners by ‘n EFF-saamtrek in Sebokeng, suid van Johannesburg, gevra.

“Hulle het Jesus nodig, so Jesus moet terugkeer sodat hulle kan uitgaan. Hulle is nie die alfa en omega nie.”

Malema het gesê die mense van die land is die ” alfa en omega”.

“Julle moet mag uitoefen. Ons kan die regering oorneem,” het Malema gesê.

In Maart 2009 het pres. Jacob Zuma aan ANC-ondersteuners in Mpumalanga gesê die party sal regeer totdat Jesus kom.

Malema, wat voorheen die leier van die ANC-jeugliga was, is in 2012 uit die party geskors.

 

Maak 'n opvolg-bydrae