Robert Mugabe het glo ‘n beloning van $300,000 aangebied aan enigiemand met inligting oor ‘n anonieme blogger wat ‘n rits lekkasies oor beweerde Zimbabwiese moordkomplotte, korrupsie en planne met hierdie maand se verkiesing op die internet beskikbaar gestel het.
Die goed-ingeligte mol, wat homself “Baba Jukwa” noem, is binne in die binnekamers van die regime, en plaas reeds vier maande lank onthullings op Facebook.
Die bladsy is al meer as ‘n miljoen keer besoek en hy het meer as 239,000 volgelinge.
Pogings om die mol op te spoor het tot dusver misluk. Kenners meen hy/sy/hulle kan nie in Zimababwe wees nie, aangesien dit te gevaarlik is.
Die plasings beskuldig ministers van korrupsie en polisiehoofde van wreedheid, en hul private selfoonnommers word beskikbaar gestel.
Pogings deur senior Zanu-PF-party-amptenare om Facebook te oorreed om die bladsy te sluit, het misluk en Mugabe het na bewering ‘n beroep op China gedoen vir tegniese ondersteuning om die blogger en gebruikers te identifiseer.
Verlede maand het die mol gewaarsku dat ‘n sluipmoordkomplot teen ‘n voormalige minister beplan word wat van die lek van inligting verdink word.
Edward Chindori-Chininga is toe skielik in ‘n motorongeluk dood kort nadat hy in die openbaar Zimbabwe se omstrede diamantbedryf gekritiseer het.
“Ek het vir julle gesê sal daar lyke wees hierdie jaar. Die oorlog het begin,” het Baba Jukwa op sy muur geskryf na die politikus se dood.
Volgens berigte het die minister gesterf toe sy motor ‘n boom getref het. Geen ander voertuig was betrokke nie.
Teenstanders van Mugabe in die verlede het in soortgelyke onverklaarbare padongelukke omgekom.
