Goudprodusente het ‘n verhoging van 4% vir arbeiders voorgestel. Werkgewers sê die verhogings is gegrond op die dalende goudprys sowel as produktiwiteit, en kostes wat die hoogte inskiet.
Arbeidskoste maak tans meer as die helfte van die algehele produksiekoste uit. AMCU eis verhogings van selfs 100%, na gelang van die senioriteit van die werknemers. NUM eis verhogings van 60% en Solidariteit eis 10%.
Ontleders meen die onderhandelinge, wat volgende week voortgesit word, is die moeilikste in die mynbedryf sedert 1994.
NUM het tyd tot Dinsdag om nog lede te werf en sy meerderheidstatus teen sy opposisie, AMCU by Lonmin se Marikanamyn te behou.
Vier-en-veertig mense is in Augustus verlede jaar tydens ‘n loonverwante staking op Marikana dood. In ander verwikkelinge is die NUM se aansoek om Lonmin te keer om die vakbond se erkenning terug te trek, in die Arbeidshof van die rol geskrap omdat dit nie dringend is nie.
NUM het aangevoer dat hy op onreëlmatighede in die oorgang van sy lede na AMCU afgekom het.
Intussen is loononderhandelinge by Eskom is na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie verwys nadat die kragverskaffer en vakbonde ‘n dooiepunt bereik het.
‘n Woordvoerder, Hilary Joffe, sê die maatskappy het ‘n dispuut verklaar omdat daar geen beweging van die vakbonde se kant af was nie. Die loononderhandelinge het in Mei begin.
Joffe sê Eskomwerknemers word verteenwoordig deur Solidariteit, die NUM en NUMSA. Sy het die vakbonde gewaarsku dat Eskom as ‘n noodsaaklike diens beskou word wat beteken dat werkers nie mag staak nie.
Die maatskappy bied ‘n verhoging van 5,6% aan sy werkers, maar hulle eis tot 20 persent meer.
