SAIRR roep DA se bluf oor NDP

Die land se twee voorste sogenaamde liberale organisasies – die SA Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRR) en die Demokratiese Alliansie (DA), die land se grootste opposisieparty – het mekaar openlik in die hare gevlieg

Die onenigheid gaan oor die DA se skerp swaai na links om swart stemme te trek. Die party het daarmee sy eertydse opposisie teen rasseklassifikasie en rassediskriminasie, die enkele belangrikste komponent van DA-beleid, laat vaar ten gunste van die NDP, die Nasionale Ontwikkelingsplan.

Dit blyk uit die DA se houding teenoor dié sentrale beleidsdokument van die ANC-regering, asook die DA se positiewe gesindheid teenoor Breedgebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging (BBSEB).

Met die bekendstelling van die NDP in November 2011 het die DA-leier, Helen Zille die plan verwelkom as ‘n “ontluikende konsensus in die nie-rassige, vooruitstrewende sentrum van die Suid-Afrikaanse politiek. Die NDP is gewortel in dieselfde analitiese raamwerk wat die grondslag van die DA se eie politieke filosofie verteenwoordig: die ‘oop geleentheidsamelewing vir almal'”.

By nadere ondersoek is Zille se optimisme vreemd, aangesien die NDP juis nie die aspekte wat Zille raaksien, bevat nie.

Die SAIRR het ook hierdie lastige gebrek in die plan opgemerk. “Dit [NDP] is fundamenteel gebrekkig – deurspek met ideologiese disleksie, ekonomiese verwarring en teenstrydige idees – en sal nie sy maatskaplike en ekonomiese doelwitte bereik nie. Die NDP versuim om die deregulering van die arbeidsmark aan te spreek, rasse-beleid te laat vaar, doeltreffende stappe te neem om die gehalte van onderwys te verbeter, en sy beleggings-, groei- en indiensnemingsdoelwitte is onbereikbaar “.

Die SAIRR deur sy ontleding, verwerp die NDP se padkaart as in stryd met gesonde ekonomiese beginsels. Die breë gedagte daarin vervat, volgens vele ontleders, is om beheer oor alle sentrums van mag in Suid-Afrika te bekom, en ‘n onbereikbare gelykheidsideaal na te streef met die herverdeling van rykdom en inkomste.

Erger nog is dat rassetransformasie ‘n sleutelelement van die NDP verteenwoordig. Die ANC het die NDP op sy 53ste Nasionale Konferensie in Mangaung in Desember 2012, geloof as rigtingbepalend in dié opsig.

Blykbaar steun die voormalige uitvoerende hoof van AngloGold, Bobby Godsell – wat terloops deur die DA benoem is om te dien op die Nasionale Beplanningskommissie – die Afrikanisering van Suid-Afrika in weerwil van die problematiese ekonomiese uitkomste wat voorsien word indien die plan ten uitvoere gebring word.

Zille glo soos Godsell die DA is op koers deur die NDP en BBSEB te aanvaar en die land onherroeplik in ‘n rigting van totale swart beheer te stuur.

Dat Cosatu-geaffilieerde vakbonde en die SA Kommunistiese Party ook die NDP verwerp, is rede tot kommer aangesien dit beteken dat ‘n groot deel van Suid-Afrika se bevolking meen daar moet nog meer inmenging deur die staat wees en dat die NDP nie sosialisme genoeg uitdra nie.

Sommige kommentators, soos Stanley Uys egter, meen dat die “debat oor die liberalisme momentum gekry het”. Uys, verblind deur die gewone hubris waaraan Engelssprekende ontleders hulself al soveel keer skuldig gemaak het in Suid-Afrika, het duidelik nie begryp dat die debat nie handel oor gesonde liberale ekonomiese beginsels nie, maar oor transformasie, rasse-voorkeur, sosialisme en naakte magspolitiek.

Die SAIRR se siening dat belangrike dele van die beleidsposisies van die DA en ANC “feitlik ononderskeibaar” is, beaam dit net verder en skep rede tot kommer dat die Instituut ‘n stem in die woestyn verteenwoordig teen die rasse-aanslag van die DA/ANC.

Maak 'n opvolg-bydrae