Joseph Nyalunga (48) is Vrydagnag aangekeer in besit van vier renosterhorings wat in sy wit Colt-bakkie se sitplek versteek was. Hy is ‘n oud-polisieman.
Joseph Nyalunga (48) is Vrydagnag aangekeer in besit van vier renosterhorings wat in sy wit Colt-bakkie se sitplek versteek was. Hy is ‘n oud-polisieman.
“Tans is daar meer as 3 000 vermoedelike en bevestigde gevalle,” het Prosper Chonzi, die stad se direkteur van gesondheidsdienste, aan The Sunday Mail gesê.
Meer as 90 mense van die voorstad Kuwadzana is in Januarie in die hospitaal opgeneem. Die owerhede het buitelug-kosverkope verbied in ‘n poging om te keer dat die siekte versprei.
“Ons is nou bekommerd dat die tifuskoors versprei na die aanliggende gebiede rondom Kuwadzana,” het Chonzi gesê.
“Nou beweeg ons in die onbesmette gebiede in sodat ons mense oor die verspreiding van die siekte kan opvoed. Die stadsowerhede het gevind dis beter om op voorkomingsmaatreëls te fokus, eerder as regstellende optrede.”
Henry Madzorera, die minister van gesondheid, het in ‘n onderhoud op die staatstelevisie gesê die regering het nie geld om die siekte nou te bestry nie. Dit het sedertdien na ander provinsies versprei.
Tifuskoors floreer in gebiede sonder behoorlike sanitasie. Swak higiëne en sanitasie het veroorsaak dat siektes die afgelope jare talle kere in Zimbabwe uitgebreek het.
Sommige voorstede is weke lank sonder lopende water omdat die munisipaliteite sukkel om dienslewering vol te hou.
In Oktober is meer as 6 000 gevalle van diarree in die suidelike dorpe Masvingo en Kadoma aangemeld, en kinders is die ergste geraak. Vier jaar gelede is meer as 4 000 mense aan cholera dood.
Elke keer as die Cheetahs in ’n derby speel, is tagtig persent van die land se ondersteuners ferm in hulle hoek: Hulle eie horde bewonderaars en al dié van die konsessies wat nie dié dag teen hulle speel nie. Hulle is al die ander provinsies se voetbalentoesiaste se naasgunstelingspan. O, ons hou van hulle vurigheid, van die geesdrif waarmee hulle ’n wedstryd afsit en die sorgeloosheid waarmee hulle aanval en die stoerheid waarmee hulle verdedig. Maar die Vrystaat is soos ’n kind of ’n hond, reken ’n boer van my omgewing, moet net niks van hulle verwag nie, want dan sal hy jou teleurstel. Wees maar net lief vir hulle, en hulle sal jou aangenaam verras.
Saterdag op Loftus is baie van die Cheetahs verwag – veral na die verdriet van ’n onverdiende nederlaag teen die Leeus – en hulle het nie teleurgestel om teleur te stel nie. En tog moet die neerlaag nie aan die lusteloosheid van die Jagluiperds toegeskryf word nie, maar eerder aan ’n intimiderende blou masjien wat vroegseisoen verbaas met hulle vermoëns in alle afdelings.
Heyneke Meyer se nalatenskap in die Blou provinsie is ’n eenvorminge voetbalkultuur wat van die eerste grade op skool deur hoërskoolrugby, klubs, universiteite, ouderdomsgroepe en elke Blou Bul-span deurgesuur het. Elke voetbalknapie leer dit blykbaar op vadersknie. Daar is verwag dat die Bulle eers ’n heropboufase sou beleef na die vertrek van ’n handvol ware legendes. Maar hulle opvolgers is só gebrei vir die taak dat hulle naatloos in die patroon geïntegreer is.
Pierre Spies jnr. se span het Saterdag Blou Bul-rugby gespeel. Meeste daarvan kan as opleidingsvideo gebruik word. Die essensie van hierdie speelstyl is om die stryd na die opponent se gebied te verskuif en om hulle dan daar te beleër. Niemand is beter om ’n tweefrontaanslag op ’n doellyn te loods nie. Eers kom die tradisioneel magtige voorspelers in werking, soos hartelose grondverskuiwers wat die front tree vir bloedige tree verskuif. Die enigste manier om hulle te stuit, is vir die teenstaanders om hulle lywe soos sandsakke voor die offensief te werp, om elke sentimeter grondgebied te betwis. Maar as jy dit wil doen, weet net, jy kan nie ophou nie, want die Bulle gaan nie ophou nie. Om ’n aanslag van hulle af te weer, is ’n grootse prestasie wat jy nie mag geniet nie, want nou-nou-nou is hulle terug en dit begin van voor af en dan weer en weer en weer. Hierdie is ’n uitmergelstryd in ’n loopgraaf sonder einde.
En as hierdie frontale aanslag nie onmiddellik punte gaan uitmaal nie, bring dit die tweede front in werking. Die Bulle se voorspeleraanvalle is ’n draaikolk wat al hoe meer verdedigers insuig. Losvoorspelers word ingesleep en dan moontlik die skrumskakel en ’n senter, en skielik is die buitewyke van die verdedigingslinie baie karig beman en die Bulle kan dan hulle agterlyn afvuur, dikwels met verwoestende gevolge. Om ’n driekwart in ’n Bul-lyn te wees, moet baie bevredigend wees. Vra maar vir ene mnr. B. Habana. Hy het ’n roemryke loopbaan in die sleurstroom van dié pak en as voorslag van die Bulle se agterlynsweep gebou. Vandat hy verskuif het na sy hartland in die Kaap, het die Habana-aura verdof en is tans amper heeltemal verdamp.
Die Bulle se spelplan maak voorsiening vir alles behalwe die onvoorspelbare. Dit bly die Cheetahs se beste benadering om met ’n seldsame oorwinning by die Bulle weg te kom. Saterdag het die Cheetahs alles volgens die handleiding gedoen en daarmee het hulle die wedstryd die noodwendige uitwerking van getalle gemaak – en die statistieke sou altyd teen hulle wees. As skrumwerk die basis vir jou oorwinning lê en jy kan die Bulle nie kis skrum nie, as dryfwerk ’n onmisbare element in jou aanslag is en jy kan die Bulle nie stuit of terugdryf nie, as wedywering vir die losbal ’n plek in jou strategie het en die Bulle gun jou niks daarvan nie, dan moet jy weet, jy gaan fyngekou en opgemaal word. Jy gaan iets anders moet bedink, iets ongewoons. In ’n konvensionele stryd gaan die meesters van konvensionele voetbal elke keer wen.
Nadat losskakels Steyn – vir die Bulle – en Goosen – die eerste skermutselings met die skopvoet uitgestry het, en die Vrystaat ’n kortstondige en nou voorsprong bekom het, het die Blou voorhoede die spel oorgeneem. Hulle is deur Steyn binne trefafstand gebring en het van daar af die Cheetah se loopgraafverdediging vertrap. Een van die gedugste kortafstandwapens wat die Bulle het, is die knoorse loskopstut Dean Greyling en dit was hy wat die hele Cheetah-voorhoede versit het om ’n drie te druk. Nie lank daarna nie het sy stutmaat, Werner Kruger, dieselfde gedoen.
Die Vrystaat se fokus het al hoe meer verskuif om die malende horde uit die vesting te hou, en met die suigsandeffek van die voorhoedestryd is die agterlyn hopeloos onbeman gelaat. ’n Eenvoudige proses van die verskuiwing van die bal van speler tot speler het Bjorn Basson om die laaste verdediger gestuur vir die Bulle se derde drie.
Teen hierdie tyd was die Cheetahs klaar oorhoops. Hulle kon beswaarlik die meedoënlose aantog van die voorpak stuit en het geen maatreëls gehad om teen die skeurlopies van Bul-skrumskakel, Francois Hougaard, in werking te bring nie. Om hom beter op te pas, het sleutelpersoneel in die agterlyn se aandag geverg en die Bulle, met ’n jong Francois Venter wat op binnesenter tot vernietingswerk bereid is, het begin om gate deur die Vrystaters se skanse te hardloop.
Voor die einde van die eerste helfte het Zane Kirchner van heelagter af ten volspoed in die agterlyn opgeduik en die bonusdrie gaan druk.
Die Vrystaters kon net punte met die Goosen-voet behaal. Van hulle gebruiklike plofkragtige aanvalle was daar net nie sprake nie. Hulle was te besig om te verdedig. Hulle het nooit kans gehad om te slaan nie, want hulle was te besig om wal te gooi.
Daar het wel ’n skrefie lig vir hulle deurgebreek in die tweede helfte, toe die Bulle se skerpste angel getrek is. Francois Hougaard het ’n rooikaart gekry vir die behandeling wat hy op Robert Ebersohn in ’n vasvatslag toegepas het. Die Vrystaat kon na ’n lang, uitgebreide en weefseltappende kampanje veldop uiteindelik ’n speler – hulle kaptein, die bittereinder Adriaan Strauss – oor die kalk kry vir ’n drie. Dit is hartverskeurend sekondes later geneutraliseer toe hulle met die afskop in hulle tuisgebied vasgekeer is en die Bulle se JJ Engelbrecht beslag gelê het op ’n aangee van die Cheetahs en die gras daarmee agter die pale gaan streel het.
Die Bulle is deur nog ’n geelkaart tot 13 spelers beperk, maar selfs dit het nie gekeer dat Zane Kirchner nog ’n drie gaan druk het nie, dié keer die soort puntebehaling waarvoor die Bulle hom aanvanklik ingevoer het. Dit het ’n netjiese boepensskop, flink opvolging en ’n doelgerigte inhaal van die bal bevat en hy het die Bulle se sesde vyfpunter gekry.
Daar is niks misleidend in die eindtelling van 51-19 nie.
Die Vrystaat het – weereens – ’n triestige seisoensaanvang gehad, maar dit beteken nie dat hulle nie ’n grote uit die res kan maak nie. Hulle spelpatroon en vaardighede gaan vele ander spanne troef. Maar as hulle teen die Bulle wil speel, sal hulle ’n ander plan moet maak.
**
In die laaste van die Super Rugby-wedstryde het die Stormers die Haaie op Nuweland geklop. Wat is dit met hierdie twee opwindende spanne dat hulle so gereeld sulke saai vertonings teen mekaar lewer? Dit was ’n woeste aanganery vir bitter min, met dertig spelers wat elkeen skynbaar op sy eie sending halsoorkop in die ruimte tussen kwartlyn en kwartlyn rondgefladder het.
Die Stormers het met 15-12 gewen.
Hierdie wedstryd verdien geen verdere kommentaar nie.
Wel, hulle sê die duiwel wat jy ken is beter as die een onbekend aan jou. Die Nieu-Seelandse krieketspan weet darem nou watter monster die Proteas kan wees. Of weet hulle regtig? Deur die loop van die pasafgehandelde drie eendagwedstryde het hulle uitmuntende veldwerk, grasieuse kolfwerk en bitsige boulwerk van die Suid-Afrikaners beleef – net nie in dieselfde wedstryd nie.
Saterdag, op Eden Park in Auckland is die seile uiteindelik weggetrek van Suid-Afrika se wonderwapen: Hulle boulaanval. Voorheen in die reeks het die Swart Kepse voortdurend vasgeval teen ’n kolflinie wat die Kiwi-bouloffensief moeiteloos uitgedoof het. AB de Villiers se moeitelose honderdtal en bykomende bydraes, Amla se vernuftige beurte, Duminy se tandeknersweerstand en Faf du Plessis se hoofpynwekkende frontale aanslae het die beste van die Nieu-Seelandse boulers mak, tandeloos en ontman gelaat. Maar voor Saterdag het hulle nog nie regtig beleef hoe dit voel om ’n Suid-Afrikaanse boulaanval op volle vaart in die tande te kyk nie.
De Villiers het die loot gewen en die bal aangevra om die twis op ’n kolwersvriendelike blad voort te sit. Daar is verskillende maniere hoe ’n goeie aanval die verbrokkeling van ’n teenstander kan bewerkstellig. Soms is dit om deurdringend te werk te gaan, om die defensiewe maatreëls van die kolwers te neutraliseer en om penne te laat spat. Ander kere is dit deur die oë te verblind, takties fyn te ontplooi, die kolwer voortdurend te flous… Of, soos in hierdie aanslag, kan die boulers hulle offensief ontwerp om die kolwers eenvoudig tot oorgawe te wurg.
Op ’n blad met ‘n bietjie wipvaart, het Dale Steyn en Marchant de Lange gou uitgewerk dat die Kiwi’s geheel en al allergies is vir missiele wat van die blad af op grom na borshoogte, om nie eens te praat van die ware skokbal wat koers kry vir die kennebak, neus of voorkop nie. Die meestereksponent van die bal wat kort van ’n lengte af die kolwer intimideer, is die Phalaborwa Patroon.
Steyn is ’n skrikwekkende implement. Hy is veel meer as die teoretiese produk van sy onderdele. Hy is klein vir ’n bouler en tog is daar nie nog ’n tamatiewerper wat so ’n hoë gemiddelde snelheid kan handhaaf nie. Meestal moet ’n medium-tot-snelbouler kies tussen spoed en beheer, maar nie Steyn nie. Sy eerste bal vat-vat aan die 140 km/u en dit land op die kolletjie wat hy blykbaar in sy gedagte met ’n merkpen ingekleur het, net buite die wegpen, en kom sissend van die blad af na die paaltjiewagter se handskoene. Hy is ’n suinige ou vrek, wanneer dit by lopies kom: Elke een moet eenvoudig van hom afgekoevoet word.
Aan die oorkantste aanvalshoek is ’n raaisel wat die Kiwi’s nou nog nie kan ontrafel nie: Lonwabo Tsotsobe. Hy boul teen ’n bedeesde sub-130 km/u en tog kry hulle met hom niks uitgerig nie. Hy ís akkuraat, soos van ’n bouler van medium snelheid verwag sou word, en hy beweeg die bal asof met radiobeheer van weg na by. Die Nieu-Seelanders het te veel goeie paaltjies aan hom afgestaan en hulle kolf teen hom asof hy handgranate boul.
In die middelwedstryd van die reeks het die ellelange Morné Morkel die hoek wat van sy boulhand na die blad geskep is, tot dodelike effek gebruik en vyf paaltjies saam met die Man-van-die-Wedstryd-toekenning ingepalm. Hy is vir goeie diens met ’n afdag beloon vir die laaste wedstryd. In sy plek, skuif ’n breë jong vlamwerper van ’n bouler in.
Marchant de Lange is nie veel korter as Morkel nie, baie breër deur die skouer en heelwat meer iesegrimmig in houding en benadering. In hierdie, nog jong, seisoen, is die krieketpubliek al so verstom deur boulvondse, vernaamlik Vernon Philander, dat De Lange amper geluidloos, soos ’n olifant op doekvoete, op die toneel verskyn het. In enige ander seisoen sou sy aanvangsprestasies met trompetgeskal verkondig gewees het. In sy eerste toets het hy reeds ’n vywer behaal en al wat kolwer is laat koes en retireer. In sy eerste T-20 reeks het hy gewys dat spoed, akkuraatheid en verrassingstaktieke baie doeltreffend is om tellings laag te hou. In die laaste T-20 het hy die wedstryd uit die Nieu-Seelandse kake losgewikkel toe hy 7 lopies in die laaste boulbeurt suksesvol verdedig het, nie net met blote, rou spoed nie, maar met finesse en waagmoed. In die ooreenkomende fase van sy loopbaan was Dale Steyn in vergelyking met De Lange haastig maar onbeheersd en takties verslons.
Die Kiwi’s het nou vir De Lange in sy eerste Eendag Internasionale Wedstryd in die gesig gestaar, en nie gehou van wat hulle sien nie. Hy het begin deur dieselfde kortlengte net buite die wegpen te boul as Steyn en Tsotsobe, maar het nie gehuiwer om ’n paar toonkrakers diep te stoot nie. Hy het die momentum van ’n wegholkoekepan opgebou en die Nieu-Seelanders moes diep grawe en dik skanse opwerp net om te oorleef.
Die Kiwi-kolwer, Martin Guptil, was vroeër die seisoen, na Nieu-Seeland se verplettering van daardie krieketmag, Zimbabwe, deur sy vaderlandpers voorgehou as ’n speler wat ’n telefoonhokkie vir ’n kleedkamer het. Maar hierdie Superman het uitgevind dat om ’n breker onder kinders te wees, nie noodwendig beteken jy gaan nie ’n kind onder brekers wees nie. Na ’n skaflike vertrek teen die Proteas in die T-20’s het hy nou uitgerafel teen ’n dodelike aanval. Saterdag het hy sy paaltjie goedkoop aan Tsotsobe verkwansel, hoewel die kwitansie uitgereik is deur ’n vlieënde Faf du Plessis wat ’n Guptil-kaphou middevlug onderskep het. Du Plessis is besig om die hedendaagse Jonty Rhodes effe tru van punt te word.
Johan Botha, die oog van die storm nadat hy tot die aanval gevoeg is, het vir Nicol met ’n bal buite die wegpen gepaai om dit tot in AB de Villiers se hande te vryf. Williamson het gekom, wal gegooi en gebid vir die beste totdat hy hom ook met Faf misgis het en uitgehardloop is na ’n flambojante opskep-en-duik ingooi van die ratse Afrikaner.
Brendon McCullum, wat ten bloede toe vir oorlewing gestry het, het uiteindelik gewitvlag met ’n stoothoutjie na ’n vol aflewering van De Lange om op punt uitgevang te word.
Die Nieu-Seelanders het moedig geveg, en dit moet die alarms die luidste by hulle laat skel. Hulle het nie hulle penne gering geskat en gelate weggegee nie; hulle het aan elke paaltjie vasgeklou asof aan die lewe self, maar was onmagtig om dit te behou.
De Lange het die middelorde eers gekasty en toe aan flarde geruk met die bykomende paaltjies van Franklin, Nathan McCullum en Ellis. De Grandhomme is uitgehardloop met ’n voltreffer van Albie Morkel en Robin Peterson het twee stertkantkolwers been voor betrap.
Dale Steyn het weereens paaltjieloos geëindig, maar sy medeboulers skuld hom ’n aandeel in elke pen wat hulle gevat het. Sy presiesheid, venyn en volgehou druk, het meermale veroorsaak dat kolwers oorspoel is van verligting om teen ’n ander bouler te kolf, dat hulle konsentrasie summier gedaal het.
Suid-Afrika het die telling maklik in minder as 44 beurte afgekolf. Amla, wat soveel doeltreffender is wanneer hy teen sy eie ordentlike koers kolf, het die telling se rug met 76 lopies gebreek. In iets soos ’n vakansiestemming vandat die reeksoorwinning verseker is, het die Proteas ’n eksperimentele kolflys gebruik met die Moslem, Wayne Parnell, wat saam met sy godsdiensgenoot geopen het. Hy het ’n moeitelose 27 gekry voor hy plek gemaak het vir Albie Morkel wat weereens gewys het daar is meer hoofstukke in sy kolfhandleiding as om net die bal se een kant te probeer platslaan. Hy het verantwoordelik en presies gekolf vir 41 voordat hy op die grens uitgevang is. (En dit sê iets goed van sy kolfvermoë dat hy omtrent net uitgaan as hy in die buiteveld gevang word.) Duminy het 25 lopies uit 37 balle gemaal voordat De Villiers en Johan Botha die laaste veglus van die Kiwi’s gesnuit het.
Die Proteas is in opmars na die voorste posisie op die eendagranglys. Hulle het mooi dinge in hierdie kort reeks gewys. Wat mens wel nog van hulle wil sien, is die soort ongenaakbaarheid wat die Steve Waugh/Ricky Ponting- Ausiespanne van weleer gekenmerk het. Wanneer hulle ’n teenstaander tot ’n karige telling beperk het, het hulle die veld geneem en hom teen tempo hewig vergruis. Maar nou ja, dit was krieket op ’n ander vlak en tog is dit een waarna die Proteas kan aspireer. Dit is nie buite hulle bereik nie.
So pas het ’n berig op die Praagwebblad verskyn: Staatsamptenare steel meer as R300-miljoen. Enkele dae gelede is daar op ons Engelse blad berig dat Vorentoe-höerskool in Johannesburg deur onlusmakers aan die brand gesteek is ná ‘n leerling wat ‘n ander met ‘n mes doodgesteek het, op borgtog uitgelaat is. Sulke berigte demonstreer die verval wat daar in ons land plaasvind.
Selfs in die Nasperskoerante, wat gewoonlik die Nuwe Suid-Afrika en sy Afro-demokrasie tot aan die wolke ophemel, heers daar tans kommer dat die ANC die grondwet gaan verander soos dit hom pas. Die huidige grondwet verteenwoordig ‘n ““raamwerk gegrond op die sonsondergang-klousules tydens die onderhandelings”.
Ons sien dus dat FW de Klerk se versameling “wigte en teenwigte” al die tyd ‘n groot illusie was waarmee die blanke kiesers destyds begoël is om hul toekoms vir ‘n pot lensiesop te verkwansel.
Soos ek reeds in ‘n Rapport-rubriek tien jaar gelede voorspel het, stuur ons op ‘n Zimbabwe af. Die ANC gaan deur toenemende rassewette en -onteienings van bates sorg dat die meeste blankes die land verlaat. Dit is wat die “nasionale demokratiese revolusie” beteken. Streng sosialisme of ‘n vorm van Afro-kommunisme soos in Zimbabwe binne ‘n eenpartystaat is die “eindstasie” wat vir ons wag. FW de Klerk en die NP het ons op hierdie trein gesit en die remme is deur die getransformeerde Transnet versien, want ons snel in dolle vaart na die utopie waarvan al die Suid-Afrikaanse kommuniste al dekades lank droom. Iets in die trant van die frase uit Marx en Engels se Manifes: “Van alkeen na sy vermoë na elkeen volgens sy behoefte.” Met dien verstande dat die behoeftes van die bewindhebbers soveel groter as die res van die bevolking s’n is.
Tien jaar gelede was die skrif reeds aan die muur. Maar daar was nog rugby op die kassie en Max du Preez en kie. wat die Nasperskoerante vol skryf, dus is almal gesus en het maar planloos voortgeploeter tot waar ons nou moet erken dat die kalf in die put is.
Die vraag is nou: Wat doen ons terwyl Rome brand?
Dit het al mode geword vir die Afrikaner om hulself te kritiseer en te blameer. Die Afrikaner was goedgelowig om op iemand soos De Klerk te vertrou (hoewel, die helfte van Afrikaners het darem “nee” gestem in 1994), “kan nie saamstaan nie” en ly aan Calvinistiese skuldgevoelens waarmee Biskop Tutu en Naspers hom verlam.
Nietemin weet ons almal dat die Afrikaner die mees vindingryke volk op aarde is. Sonder ons vindingrykheid sou Suid-Afrika nooit die rykste land in Afrika en ryker as sommige Europese lande geword het nie! Dwarsdeur ons geskiedenis, of dit nou by Vegkop, Bloedrivier of Majuba was, het ons vindingrykheid – gewoonlik ter elfder ure soos nou – gesorg dat ons wonderbaarlik aan ‘n tragiese einde ontkom.
Die somtotaal van planne en oplossings waaroor daar tans onder Afrikaners oral in die land gepraat word, is genoeg om nie net Suid-Afrika se probleme nie, maar sommer die hele wêreld s’n op te los. Ons legendariese vindingrykheid – die fameuse “Boer maak ‘n plan” – is steeds formidabel deel van ons nasionale mondering.
Daarom voel ‘n mens aan dat die probleem op die oomblik nie die omvang van die krisis en die uitdaging is nie, maar eerder ‘n sielkundige probleem, soos n goeie rugbyspan wat soveel kere na mekaar verloor het dat die spelers voel hulle kán nie meer wen nie.
Op die Praagwebwerf, Facebook en ander sosiale media, het ons ons dilemma al voos ontleed, maar ons gaan nie daadwerklik tot aksie oor om dit aan te spreek nie.
Die uitweg vir ons is egter helder. Soos ek vanmôre ook op Rapport se kommentaarafdeling geskryf het:
“Almal het tog geweet dit gaan een of ander tyd gebeur. Die dag toe FW die weermag met al die pantser en outomatiese wapens aan Umkhonto we Sizwe oorhandig het, het die ANC reeds die mag gehad om te maak wat hy wil. Hoeveel pragtige grondwette in die wêreld het nie al gesneuwel nie? En ons s’n is vir seker nie so mooi soos wat Rapport en ander Nasperskoerante beweer nie – gaan kyk maar na artikel 25 wat voorsiening maak vir die onteiening van ons grond, en ‘enige ander eiendom’. Al wat ons gaan red, is ‘n konfederasie en ‘n stuk(ke) grondgebied wat nie aan ANC-mag onderworpe is. Dis heeltemal moontlik, maar dan sal ons moet begin saamstaan, iets wat natuurlik deur die hoofstroommedia ondermyn sal word, want die mulitikulturele samelewing is vir hulle soos ‘n godsdiens wat geen mens durf bevraagteken nie.”
Danksy die soort Piet Retief-agtige naïwiteit van die destydse NP-leiers, het ons ons spreekwoordelike wapens “buite die kraal gelaat”. Maar daar is steeds vele ander wapens tot ons beskikking benewens R4’s (waaroor Gustav Venter vandag ‘n rubriek geskryf het) en Ratels. Een daarvan is die arsenaal van internasionale menseregtekonvensies waartoe die ANC-bewind homself verbind het in die waan dat hy dit nodig gaan kry om die Afrikaner te ondergrawe en uit sy land te skop. Vele van die ANC se huidige optrede, oor taal, ras en etnisiteit, druis egter téén daardie konvensies in.
Ons beskik ook oor simpatie in Nederland, die Suide van Amerika en ander wêrelddele waar buitelandse steun vir die saak van Afrikanerselfbeskikking gemonster kan word.
Ons moet eenvoudig die huidige veldtog téén Afrikaner- of Boerevolksmoord verder verskerp. Soos wat die ANC sy internasionale propaganda rondom die gewraakte woord “apartheid” gebou het, moet ons die reeks onregte en geweld wat daar tans teen ons gepleeg word onder die vaandel van volksmoord bekendstel. Daar is al soveel goeie werk in dié verband gedoen, maar dis nog nie genoeg nie. Eers wanneer elke Europeër en Noord-Amerikaner wéét dat ons soos diere uitgemoor, asook dat ons taal en kultuur verwoes word, sal dit genoeg wees. Die hardvogtige, Idi Amin-agtige ANC-bewind moet in al sy aakligheid in die internasionale kalklig kom.
Dit is die sogenaamde “ideologiese stryd” waarvan die ANC en sy kommunistiese bondgenote praat.
Daarmee saam, en gelyklopend, moet ons in ons skole, kerke en woonbuurte begin saamspan om grense te trek. Ons sal op allerlei maniere beheer oor gebiede waar ons in die meerderheid verkeer, moet neem. Sover doenlik, moet ons ons eie mense in diens neem soos die op Orania en Kleinfontein gedoen word. Indien dit nie anders kan nie, moet ons van buitelandse arbeid – Zimbabwiërs, Malawiërs, Kongolese en dergelike – gebruik maak en nie meer die ANC se kiesers en ondersteuners werk gee nie. Anders ondergrawe ons net onsself.
Les bes, moet ons georganiseerd raak en by ‘n organisasie soos Praag of ‘n Afrikanerparty soos die Vryheidsfront betrokke raak. Wat organisasie betref, is daar baie wat ons kan doen om onsself meer paraat en doeltreffend te maak.
Daar is tans ‘n verskeidenheid inisiatiewe aan die gang om al die Afrikaanse organisasies bymekaar te kry, om oor wesentlike kwessies uit een mond te begin praat. Maar daarvoor het ons ook steun vir individuele organisasies dringend nodig. Om ‘n klomp weerbarstige Afrikaners in een vertrek saam te kry en tot rasionele, doelgerigte optrede saam te snoer, verg eindelose geduld en takt, asook een vergadering op die ander. Dis nou maar eenmaal soos ons mense is. Hulle moet eers oortúíg word, alvorens hulle tot daadwerklike optrede sal oorgaan.
As ons nou laat slaplê, gaan die geskiedenis sê ons het ons laaste kans verspeel.
Binnekort, op 6 April, gaan ons 360 jaar in die land wees, 355 jaar sedert die eerste Vryburgers hul grond van die Kompanjie ontvang en langs die Liesbeek begin boer het.
Ons is nie somaar setlaars wat deur ‘n vyandige klomp Afrososialiste uit ons eie land geboender kan word nie.
Ons oorlewingstryd is reeds aan die gang. Sommige het dit net vroeër as ander besef. Mag die klein groepies wat reeds oral in die land en in die buiteland onder die diaspora-Afrikaners aan die gang is tot ‘n magtige beweging aangroei.
Soos Jan Brand gesê het: “Alles sal regkom, mits elkeen sy plig doen.”
Staatsamptenare het in die afgelope boekjaar R300-miljoen aan openbare fondse gesteel, berig die Sunday Times.
Dié feit is vervat in ‘n verslag deur die openbare dienskommissie (OD) wat vandeesweek in die parlement ter tafel gelê is.
Die OD het finansiële wanpraktyke in 39 regeringsdepartemente en nege provinsiale regerings ondersoek.
‘n Totaal van 1135 gevalle van finansiële misdrywe is gedurende die 2009/2010-boekjaar deur staatsamptenare gepleeg.
Van hulle is 998 daaraan skuldig bevind dat hulle R346-miljoen uit die staatskas gesteel het, berig die koerant. Die syfer is die hoogste wat in vyf jaar opgeteken is – dit verteenwoordig ‘n verbysterende styging van 346 persent vergeleke met die R100-miljoen in 2008/2009.
Die OD het die regering sterk gekritiseer omdat hy nie strafregtelike vervolgings instel nie.
“Die versuim om strafregtelike vervolgings in te stel… mag gevalle van finansiële misdrywe aanmoedig sodat dit verder styg,” meen die verslag.
{jathumbnail off}
Die eerste inrigting waar jong mense onbedoeld vir ‘n taalbeweging gereed gemaak is, was die Paarlse Gimnasium. Die oprigter in 1858 van dié suiwer Hollandse skool was ds. G.W.A. van der Lingen (1804-1869). Hy was die predikant wat ‘n voorspraak was vir die Voortrekkers en deur Andries Pretorius ‘n “waare Afrekaan” genoem is. Van der Lingen was die mees belese Afrikaner van sy tyd en het ‘n boekery van meer as 4000 boekdele oor uiteenlopende onderwerpe nagelaat. Sy pastorie was die sentrum van die Hollands-Afrikaanse kultuur van sy omgewing.
Die Gimnasium het hy opgerig in ‘n tyd toe Engels al hoe meer die onderwysmedium vir Afrikaanse kinders geword het. Met dié skool het hy groot invloed op die jong geslag uitgeoefen. Sy sterk Afrikaanse gesindheid het hy op baie Afrikaanse leerlinge oorgedra. Hy was baie teen ‘n nuwe skool vir die Paarl wat Engels as voertaal sou hê en het van die kansel af gesê dat, as sy lidmate help om dit op te rig, daar “dan ‘n skeiding kom tussen herder en gemeente, vir ‘n tyd, vir sommige wellig vir die ewigheid”. Toe party Paarliete wou hê dat Latyn aan die Gimnasium deur medium van Engels en met Engelse uitspraak gedoseer word, het hy so siek en sat vir die hele kampanje geraak dat hy laat weet het: “Laat ons hulle antwoord nee, en nogmaals nee. Gee mens vir hulle daaroor toe, sal hulle weer iets nuuts vind.”
Twee van die bekendste leerlinge aan die skool was twee latere dominees, S.J. du Toit en W.P. de Villiers. Laasgenoemde was die stigter van ‘n Hollandse meisjesschool op Beaufort-Wes. Ter wille van die opheffing van minderbevoorregte Afrikaners het ds. De Villiers die welvarende Beaufort-Wes verlaat en na Carnarvon gegaan waar hy dertig jaar lank ‘n ou winkel as woning moes gebruik. Hy was die eerste NG predikant wat parlementslid geword het, en het op 7 Junie 1881 gepleit dat Hollands in albei huise van die Kaapse Parlement erkenning kry.
By die jong S.J. du Toit het ‘n liefde vir Afrikaans ontstaan deur die toedoen van Van der Lingen en ‘n Nederlandse onderwyser aan die Gimnasium, Arnoldus Pannevis. Du Toit is op 9 Oktober 1847 op die plaas Kleinbosch in die Drakenstein-vallei gebore. Pannevis was onderwyser aan die Gimnasium en het in private gesprekke en in die pers mense probeer oortuig dat Afrikaans ‘n volwaardige taal is. Du Toit het vroeg al in De Zuid-Afrikaan gedigte en ander stukke geskryf wat deur die anti-Engelse gees van die twee geïnspireer is. Du Toit was in naam by die Gimnasium ingeskryf, maar het volgens sy biograaf, V.E. d’Assonville, sy studie privaat gedoen.
Van der Lingen het gesê hy verwag dat ‘n Afrikaanse letterkunde tot stand gaan kom. In ‘n admissie-eksamen van die NG kerk het hy die jong Du Toit gevra om ‘n Griekse herdersang van Theokritus in Afrikaans te vertaal “om ons te toon hoeveul beter dit sig in Afrikaans as Hollans laat vertaal” – dit het Du Toit later vertel. Deur die Afrikaanse tradisie aan die Paarl kon ‘n volwaardige taalbeweging daar begin toe die tyd ryp was. Reeds voor dit het ander mense Afrikaans vir ernstige sake gebruik. Hulle was lede van ‘n godsdienstige gemeenskap in Kaapstad.
Dit moet erg wees om Tim du Plessis te wees, amper net so erg as om Max du Preez te wees! Die nuutste rubriek van ons heer Tim (Volksblad 2/3) het my laat wonder of ek moet lag of huil of my broek bevuil!
Die rubriek is rakende die hele debakel wat nog ‘n verwarde omie gemaak het in die parlement oor die “Bantoesprekendes”. (Snaaks hoeveel wit omies verward begin raak…) Tim skryf:
“Ons moet praat, met ander woorde. Grond is een van daardie kwessies wat die hele kaartehuis kan laat intuimel. Maar is praat nog moontlik?”
En dan in die volgende paragraaf skryf hy:
“Die hoofstroom-reaksie op Mulder het ek gelees en gehoor. Die ekstreme standpunte op veral obskure digitale platforms het ek geïgnoreer. Jy verloor niks as jy jou doof en blind hou hiervoor nie. Die internet is ’n wonderlike ding. So ook geselsradio. Maar hulle het vir malletjies ’n stem gegee wat hulle nooit gehad het nie en allermins verdien.”
Wie is die malletjies? Is dit dalk die 80% van Beeld en Volksblad se lesers wat kommentaar lewer op die internet? Is dit dalk die mense van Praag of talle ander Afrikanerwebwerwe wat volgens Tim “obskure digitale platforms” is?
Tim sluit sy rubriek af met:
“Soos ek dit verstaan: Die Grondwet en sy waardes moet die kanaal word waarlangs ons met mekaar sal moet praat en tot konsensus kom.”
Is dit nou dieselfde grondwet wat almal die reg tot vryheid van spraak, opinie en assosiasie beloof? Volgens Tim, “soos ek dit verstaan” moet ons die grondwet gebruik om met mekaar te praat, maar moet ons net die “malletjies” ignoreer wat die “obskure digitale platforms” gebruik. Dit maak die gesprek bietjie langdradig want ons sal eers by onse heer Tim moet uitvind wie nou almal malletjies is!
Tim het dus die hoofstroom-reaksie reaksie gehoor en gelees, wat dan seker sal bestaan uit die SABC, Naspers en dalk ‘n paar onafhanklike Engelse koerante. (Natuurlik is al hierdie bronne totaal objektief en is daar geen politieke agendas daar betrokke nie!) Na aanleiding van hierdie o, so betroubare inligting het hy die opinies opgedeel in vier afdelings:
Nou goed, as jy dit wiskundig uitwerk, kan die formule soos volg lyk:
(Die hele bevolking) – (ENGELSE liberale) – (swart geledere) – (die wit kant) – (die malletjies) = X
X moet dan gelyk wees aan Tim en die wit liberales?
En: Tim en die wit liberales wat blind en doof is vir die malletjies, (met ander woorde skuldig daaraan om die menseregte soos daargestel deur die Grondwet, te ignoreer) wil nou juis die grondwet gebruik om ‘n gesprek te begin met die (ENGELSE liberale) , (die swart geledere) en die (rassistiese wittes).
Die enigste sinvolle afleiding wat mens kan maak uit die formule is dat X in die vorm van ‘n kruisie demokrasie daarstel, met ander woorde X= reg en Tim = X, daarom is Tim = reg.
Dit kan dus wiskundig bewys word dat Tim du Plessis die enigste mens is wat die land se sake objektief kan benader en oplos en daarom moet dit vreeslik erg wees om so ‘n groot verantwoordelikheid op jou skouers te dra.
Nou goed, ek neem aan ek is net ‘n “malletjie” op ‘n “obskure digitale platform”, maar hel(!) ten minste skuil ek nie agter ‘n Engelsman nie! Tim is besig om die “liberale” gedagtes oor te skuif na die arme “Engelse” toe. Nou goed, vir ‘n “Engelsman” het die boer nie tyd van 1899 af nie, maar ek gun selfs nie my vyand dít wat Tim besig is om te doen nie. Teen die tyd dat ons “malletjies” ons ogies uitvee, is Tim en Max presidente van die nuwe behoudende Afrikanervolkstaat.
Dit was miskien naïef van ons om te verwag dat Afrikaanse liberales verantwoordelikheid sal vat vir hulle optrede – Dit was toe al die tyd, ná 110 jaar, weer die ENGELSE liberales se skuld!!
Kan jy dit nou oorvertel?
Daar kan mos nie gestry word oor wat die beste algemene militêre roer is nie.
Stilte! Ek het mos gesê die argument is verby. Dis die R4 en klaar.
Vir ’n geweer om in aanmerking te kom, moet dit semi-outomaties met ’n voloutomatiese funksie hê, van ’n dodelike kaliber wees, met ’n hoëkapasiteitsmagasyn. Met ander woorde, dit moet ’n stormgeweer wees. Deur die eeue was daar gewere wat wonderlik in bepaalde omstandighede en tydsgewrigte gefunksioneer het, maar dié wat nie as stormgewere geklassifiseer kan word nie, van die roemryke Amerikaanse M1 Garand terug tot by die veertiende-eeuse lontgeweer, kom nie vir oorweging in aanmerking nie.
Die Garand is ter sprake. Dit was betwisbaar die beste infanteriewapen van die Tweede Wêreldoorlog, ten spyte van ’n klein magasyn – net agt rondtes – en die irriterende gewoonte om die herlaaistrokie na die laaste skoot uit te werp – met so ’n helder simbaalgeluidjie wat ’n vyand in die nabye omgewing inlig dat jou wapen leeg is. Die M1 was die enigste semi-outomatiese langroer van die Oorlog en met die indrukwekkende .30-06-rondte waarmee dit gewerk het, het dit vir die Amerikaanse GI besondere slaankrag gegee. Hy het nie nodig gehad om elke keer die grendel terug te slinger en vorentoe te stop nie; hy kon maar net die sneller trek.
Die wapensmede van daardie tyd was reeds baie bedrewe met die werking van die voloutomatiese wapen. Die eerste pistole en masjiengewere wat só geopereer het, het reeds in die vorige eeu verskyn. En in die Eerste Wêreld-oorlog is die geweer se lompheid in intieme gevegsituasies, soos in loopgrawe, uiteindelik aangespreek met die ontwerp en vervaardiging van die eerste submasjiengewere: Klein, snelvuurwapens wat pistoolammunisie gebruik het.
Die geweer en sy spraaksame kleinboet, die SMG, het twee verskillende situasies aangespreek. Die geweer het die infanteris se gebruiklike operasionele gevegsafstand van honderd meter en verder gevul. Onder ’n honderd meter het die SMG oorgeneem. Dit het egter ’n grys gevegsruim, so tussen honderd en driehonderd meter gelaat, waar snelvuur ideaal sou wees, maar waar meer slaankrag en akkuraatheid as wat die SMG kon verskaf, nodig was.
Dit was die Duitsers, immer op soek na ’n Wunderwaffen, wat die deurbraak ontwerp het. Dit was die Sturmgewehr 44, ‘n outomatiese skouerwapen, langer en meer akkuraat as ’n submasjiengeweer en korter, meer draagbaar, makliker aanwendbaar en met groter magasynkapasiteit as ’n geweer. Dit het ook vernuwend gewerk met samestelling deur geperste staalonderdele te gebruik. Die ammunisie was korter en nie so kragtig soos dié van ’n tradisionele geweer nie, en is ontwerp op grond van Wehrmacht-ondersoeke wat bevind het dat by verre die meeste kontak op minder as 300 meter plaasvind en dat ’n kragtige rondte soos die Duitsers se eie 7,9 x 59 mm onnodig baie energie daarvoor ontwikkel het.
Die Sturmgewehr het alles verander. (Dis ook hoekom ek van ’n “Stormgeweer” eerder as “Aanvalsgeweer” praat. Die Duitsers het die konsep ontwerp en hulle kom die voorreg toe om dit ’n naam te gee. Die Engelse het dit as “Assault Rifle” vertaal en dis waar ons die idee van “Aanvalsgeweer” gekry het.) Maar dit was net die begin.
’n Russiese tenksoldaat, Mikail Timofeiewitsj Kalashnikof, het sy eie interpretasie van die stormgeweer gebou: Die afstootlike meganiese wonderwerk, die AK47. 65 jaar later is daar nog nie ’n betroubaarder stormgeweer gelewer nie, en dit sou die beste gewees het as dit nie vir die relatiewe pap kaliber was nie.
Die Amerikaners het hulle eie roete gevolg deur eers die M1 Garand as ’n aanvalsgeweer te verwerk. Hulle het die geweer effe ligter gemaak en ’n groter, en verwyderbare, magasyn gegee. Hulle het dit die M14 genoem, maar dit was in wese net ’n meer bruikbare langroer. Die 7,62 NATO patroon was te kragtig om met gemak op kort afstande in die gesig van die vyand te gebruik. ’n Kleiner rondte en ’n nuutontwerpte aanvalsgeweer was nodig. Eugene Stoner het namens die Armalite-maatskappy een, wat onder lisensie deur Colt gebou is, ontwerp.
Die legendariese lugmaggeneraal, Curtis LeMay (wat die aflewering van die atoombomme op Japan in 1945 toegesien het), het sy hande op een by ’n demonstrasie gelê, ’n paar waatlemoene daarmee geskiet, in die liefde daarmee geval en sy status gebruik om aanvaarding deur die verskillende komitees te stormram. Die Amerikaanse weermag het dit net betyds as die M16 vir hulle onsmaaklikheid in Vietnam in gebruik geneem. Inderwaarheid was dit ’n geweer met ernstige ontwerpsgebreke wat dit liederlik onbetroubaar gemaak het. Dit is onbekend hoeveel Amerikaanse GI’s die lewe gelaat het omdat hulle M16’s in die rysakkers van Vietnam op ’n kritieke oomblik vasgeslaan het. Die Yanks, eerder as om die mislukking te erken, het miljoene dollars gespandeer om oplossings daarvoor te vind. Maar nou nog beskou ek die M16 as ’n puntenerige, brose wapen. En tog het dit een onskatbare bydrae tot die Westerse arsenale gemaak: Die liggewig, hoëtrompsnelheidrondte, die 5,56 mm, NATO wat daarvoor ontwerp is.
Die koeël, in omvang en werkverrigting nie baie anders as die .222 wat Boerseuns goed geken het nie, het ontsaglike weefselvernietingspotensiaal, soos wat selfvoldane maar droë krygstuiganaliste daarvan praat. Onder 300 meter mors dit baie meer met die mens se lyf as selfs die Amerikaners se geliefde .30-06.
Die Europeërs het ’n ander NATO-rondte, die 7,62 x 51 mm rondte vir hulle stormgewere gebruik. Die beroemdste van hierdie wapens was die FN FAL. Omdat die SAW in hierdie militêre dampkring was, het hulle die FN in die vroeë sestigs as hulle eerste stormgeweer opgeneem en dit later in metrieke dimensies self vervaardig. Dit was die ikoniese R1 waarmee die troepe volk en vaderland verdedig het.
Die R1 is ’n geweerman se geweer. Dit is ’n elegante wapen wat maklik in die skouer lê en fynskiet bewerkstellig. En tog bevat dit presies die gebreke van die M14 – die kaliber, veral vir dienspligtige dorpsjapies, was net te kragtig. Die magasyn het ’n relatiewe karige 20 patrone gehuisves. Boonop is dit geensins ’n robuuste geweer nie. Dit verg deurlopende sorg om ’n R1 in gevegstand te hou en in die deurnat, stof en modder van die Operasionele Gebied was dit ’n komplikasie. Die troepe het eers die omvang daarvan ingesien toe hulle begin het om AK47’s van slagvelde te herwin en gesien het hoe hierdie Rus net aanhou skiet, of dit nou vol stof, spinnerakke of modder is.
’n Loopgraafdenker wat hierdie dinge ontleed het, moes tot een gevolgtrekking gekom het: As daar maar net ’n stormgeweer soos die AK met ’n goeie kaliber was. Al die tyd was daar toe net so ’n krygswonderwerk, die Israelse Galil, en in 1982 toe kry ons hom ook, begin homself maak, effe meer robuust met ’n saamgesteldeplastiekkolf, -hand- en voorste greep, en die opvoukolf is merkbaar langer want die SAW-troep is groter as sy Israelse eweknie. Gewere in die ou SAW het nie naastenby sulke kleurvolle name as hulle voertuie gekry nie. Dié roer word toe nie die Spoegslang of die Bysteek of die Bobbejaanspinnekop nie. Dit is bloot die R4.
Wat ons by die Israeli’s gekry het, was in wese ’n AK47 ingeruim vir die dodelike 5,56 NATO-rondte. Die werkende dele is identies aan Kalasjnikof se ontwerp. Uiterlik is dit heel anders en die enigste ooreenkoms met die AK is die piesangvormmagasyn en, vir die fynkykers, die rompdeksel. Maar in sy siel is die R4 ’n AK en dit is so betroubaar as wat van enige stormgeweer verwag kan word.
Die R4 is vir die eerste keer aan troepe uitgedeel die jaar voor ek weermag toe is. Die eerstes was so soort van ’n oorbruggingswapen met meer tradisionele kenmerke soos ’n voorste handgreep van hout. Dit het ook ’n koddige drahandvatsel gehad, so ’n uitswaaibare plastiek- en staalarmpie. Dié geweer is gou vervang met ’n wapen wat die SAW sou help om legendes regoor die Operasionele Gebied en in Angola te skryf. So ’n wapen was die R4 genaamd Brünnhilde.
Die inwerkingstelling van die R4 as die standaardstormgeweer van die SAW het my met afgryse vervul. Ek was ’n R1-man vandat ek die eerste keer as penkop een gesien het. Daar was iets so dodelik en slank aan die R1. Maar ai, die R4 was ’n lelike klein bliksem veral met die dik, kantige voorste greep. Estetiese oorwegings ter syde gelaat, was ek in die keuse van kaliber geskok. Ek sou goed kon glo dat daar ’n kommunistiese komplot was om die Suid-Afrikaanse soldaat hopeloos kwesbaar voor sy vyande te laat. (Ek sou later van beter leer.)
Ek het teen alle hoop in gehoop dat ons tog R1’s sou kry. Maar nee. My R4 is in Januarie aan my, ’n rou rower, in 1SAI oorhandig. Ek en die res van my peloton het langs ’n hoë toonbank in die magasyn afgeskuif tot by ’n korporaal wat met groot konsentrasie my rang, magsnommer en naam in ’n register aangeteken het. ’n Oumanklerk agter hom het sy hand in ’n groot oliedrom gesteek. Daar was ’n bondel gewere in die oliedrom. En olie. Hy het ’n druipnat, olieglibberige wapen uit die drom getrek, dit pens-na-bo gedraai, die olie met ’n lap van die nommer weggevee en dit vir die korporaal gelees, en toe die glinsterende, oliedeurweekte roer aan my oorhandig.
Om van daardie olie ontslae te raak, was ’n onbegonne taak, een van daardie onmoontlike dinge wat die weermag van die troepe verwag het, en wat hulle tog reggekry het met kookwater, seep, lappies van elke grootte, naelborsels, deurtrekkabels, kwassies, tandestokkies en ander amptelike en minder-amptelike implemente.
Sonder olie was die wapen aan my toevertrou om die goddelose mee te verdryf ’n kort (net oor ’n meter) kantige, gesette wapen, dofswart van die riffels agter die skouerkolf tot die ring voor aan die blitsbreker. Die romp is van uitgeperste metaal, die agterste handgreep ’n nou, hol balk van polimer. Die voorste handgreep was dik, onhandig en het die R4 se ware koddigheid verberg – dubbeluitslaanpootjies met ’n draadtang aan die voorkant.
Daardie pootjie-en-draadtangkonstruksie was altyd my grootste beswaar teen die R4. Die geweer het net nie soos ’n R1 of ’n Lee Enfield of K98 Mauser in die palm gelê nie. Boonop was dit ten strengste verbied om die geweer af te vuur terwyl dit op die pootjies is. Ek weet van geen draad wat in aggressie met die tang geknip is nie, en dit het buitendien net gehou totdat jy probeer het om ’n slot daarmee af te byt (in die dae voor jy geweet het wat die regte manier is om ’n slot van ’n trommel af te breek.)
Daar was net twee bykomstighede vir die R4 gelys: Magasyne en ’n draband. Die draband was ’n breë gordel van dik seil gemaak. Elke troep is deur opdrag van hoër gesag verplig om sy magsnommer met ’n merkpen daarop te skryf en elke troep is deur groepsdruk genoop om sy meisie se naam by te voeg. Teen hierdie tyd was dit al vir my duidelik dat geen opgevoede man met die naam van sy meisie in hierdie betrokke openbare forum te koop loop nie en ek het ’n fiktiewe een neergeskryf. Ek was in ’n Wagner-fase en die Walkuur, Brünnhilde, was ’n gepaste virago om ’n implement van oorlog na te vernoem. So, in gotiese skrif, het die naam Brünnhilde, op my geweerband verskyn. Natuurlik is dit daar opgemerk en natuurlik het ek nie my bedrog erken nie. Maar ai, die gloeiende stories wat ek van dierb’re, gewillige Hilde vertel het!
Aanvanklik, soos in enige goeie verhouding, was die R4 net daar om vir ons ergenis te veroorsaak. Dit is as oefenimplement gebruik – hou dit horisontaal voor jou tot jou elmboë verkrummel. Dit het ook in baie kompakte vorm ’n legio moontlikhede om diep in die moeilikheid tydens ’n inspeksie te kom, gebied. Offisiere het die misterieuse vermoë gehad om ’n stoffie, ’n oliespikkel, ’n donsie in die fynste, diepste gleuf op te spoor en oorvloedige offisiële wraak was onvermydelik die gevolg. Ek is net eenkeer gestraf tot kasernebeperking (CB!) en dit was vir ’n vuil geweer.
Ons het ook met die goed gehardloop.
Voor ’n 2,4 weeg ’n R4 4,5 kilogram is daar gesê, en aan die einde daarvan 45 kilogram. Geen geweerband is toegelaat nie en met die aftik van tyd en die aflê van treë word die geweer al hoe moeiliker om te dra. Jy probeer dit soos ’n juk oor jou skouers, of soos ’n boomstomp oor die een skouer, soos ’n baba in die arms of ’n skooltas in die een hand dra, maak nie saak nie, die ding word net swaarder, bonkiger en lomper.
Ons was voornemende skutters en die weermag het baie klem op geweeropleiding – skietkuns soos hulle dit genoem het – gelê. Daar was ’n uitgebreide teoretiese komponent wat met baie praktiese oefening afgewissel is, weke voordat ons die wapens vir die eerste keer op De Brug kon afvuur.
En iewers in die proses het ek en Brünnhilde mekaar tog gevind. Dit was so ’n beskeie, praktiese, doeltreffende wapen sonder fieterjasies. Dit het nooit voorgegee om iets anders te wees nie en soos ons later sou leer, wanneer jy iets van jou R4 verwag het, het dit gepresteer – so anders as die R1 wat erg wispelturig kon wees. Iemand in die weermag het die onderdelebenaming van die wapen in die lekkerste Afrikaans weergegee, en daarin kon ek my ook verlustig: Blitsbreker, spangreep, romp, rompdeksel, rollende sluitstuk, gassuier, gassilinder…
Ons het elke onderdeel so goed leer ken en kon die geweer in sekondes aftakel en weer aanmekaar sit. (My buurman se seun het die anderdag sy pa se LM5, ’n siwwieweergawe van die roer wat ek geken het, beetgekry. Neels sê toe vir hom dat as hy die voukolf kan opvou, kan hy dit kry. MWee het sy elfjarige gewig en krag met alle mening aangewend, maar kon nie in die operasie slaag nie. Toe ek weer daar uitslaan, daag hy my uit om dit te doen en oorhandig die geweer. Ek het nie daaroor gedink of die roer besigtig nie. My hande het eenvoudig oorgeneem, algeheel in outomaties, die linkerhand het die handgreep gevat, die rompdeksel na regs gedraai, die regterhand het die kolf gevat, die twee hande het kolf en romp teen die veer na mekaar gestoot en die kolf is opgevou. Ek was net so verbaas soos MWee.)
Ek het my eerste skoot met Brünnhilde geskiet op die klipharde, stowwerige skietbaan van Generaal De Wet Opleidingsterrein te De Brug. Die skoot het so ’n plat knal, soos ’n sweepklap, anders as die R1 se meer robuuste blaf of die AK 47 se “pôp!”-geluid wat mens aan ploffende springmielies laat dink. Lêhouding, voorste visier in die kring gevorm deur die agterste visier, rus die teiken op die balkie… trek die vinger. En daar is hierdie gevoel van die geweer werklik as ’n masjien, van vere en slagpenne wat slaan, van afgetapte gas en suiers en silinders en stawe en hake en terugslagvere, alles in presiese, afgemete volgorde in werking gestel deur ’n millimeterlange beweging van die voorvinger.
Die ware vreugde van die R4 is om daarmee te skiet. Dit byt nie, skop nie noemenswaardig terug nie, ruk nie die loop op nie; net ’n stampie teen die skouer en ’n dun, langwerpige missiel skroei deur die atmosfeer teen meer as ’n 1,000 meter per sekonde. Bliksem! Ons het baie geskiet in Basies, maar nooit genoeg vir my nie. Ek het uitgevind dat die R4 heerlik akkuraat is, ’n regte duimspykerdrukker tot op 300 meter. Ons was nie toegelaat om op voloutomaties te skiet nie, maar selfs in semi-outo kon ’n mens van ’n indrukwekkende hoop ammunisie in ’n baie kort tydjie ontslae raak.
In Tweede Fase – ’n konvensionele-oorlogvoeringopleidingsfase – was die klem wel en deeglik op die verhouding tussen skutter en sy geweer. Ons het kilometer na uitmergelende kilometer geoefen aan vuur-en-beweging. Dit is die klassieke infanteriemetode om na ’n doelwit op te ruk. Die idee is om oor ’n kort afstand te storm, neer te slaan, ’n paar ontwykende bewegings uit te voer, ’n paar skote op die front te vuur en om dit alles weer te herhaal. Wat ’n meedoënlose oefening in oënskynlike futiliteit is, word opwindend wanneer die aksie met skerppuntammunisie herhaal word. Om in kompanieverband op ’n vasgestelde doelwit af te storm, so adrenaliendeurtrek dat die harde De Brug-grond so onintimiderend as ’n verebed word, met die geraas van stewels, krete, bevele en… beste van alles, die plat knalle van R4’s en die hees gestotter van LMG’s op die flanke, is infanterieparadys.
In een so ’n aanval het ek en Brünnhilde vir die eerste keer bloed getrek: My eie. Ek het die grond hard getref, gerol, gekruip, die omgewing bespied, ’n teiken gekies, gemik en die sneller getrek – onbewus dat in al die bedrywigheid my voorste elmboog terug geskuif het en my pinkie in die werkende dele van die geweer geskuif het. Die terugslagveer het die sluitstuk soos ’n slagyster toegeslaan en die voorkant van my pinkie het soos ’n druiwekorrel onder ’n hamer oopgebars. Daar was bloeddruppels teen die voorste visier, al langs die geweer af, in my gesig en tot op my staaldak. En dit was heerlik, heerlik, heerlik… daardie skerp pyn, ingemeng met die liggaam se krisissappe. Ek was op my voete, skielik reg voor die doelwit.
“Bullets!” gil Korporaal Digue agter my. Brünnhilde kom teen my skouer, die ring van die agterste visier tussen die twee pilaartjies kom voor my op en ek sien die balk van die voorste visier. Wlak!Wlak! En ek en Brünnhilde storm nog nader aan die uitwissing van die vyand.
Van die tweede helfte van Basies, deur die grootste gedeeltes van Tweede Fase-opleiding, tot aan die einde van jou operasionele aanwending, was jou geweer voortdurend óf byderhand, óf aan jou lyf, die R4 tipies met kolf opgevou, loop ondertoe, aan die band oor jou regterskouer teenaan jou rug. Jou geweer het saamgegaan kantien toe, as jy gaan stort, terwyl jy ’n loopgraaf grawe, by jou in jou kajuit terwyl jy Buffel of Ratel bestuur. Dit was by jou in die vrieskoue van De Brug, die smeltende hitte van Ovamboland, die modder van Angola. Dit was by jou terwyl jy huis toe verlang het, saam met jou pelle te veel gedrink het, die dood van makkers betreur het en die lewe gevier het. Jou natuurlike stand was met jou R4 teen jou. Daar sou tye kom wat jy skielik in kouesweet besef jy is onvolledig, op ’n manier gebreklik en in die moeilikheid want: Jou R4 is nie by jou nie! En dan besef jy jy is by die huis op verlof.
Daardie stomp, swart geweer was saam met my deur opleiding en twee gemeganiseerde operasies in Angola. Dis eensaam in ’n loopgraaf in die donker, onseker wat daar is en nader beweeg. Maar dan vryf jy oor die rompdeksel van Brünnhilde en jy weet dat as daar ’n slaagsraking sou wees, jy en jou R4 iets te sê sal hê.
In ’n rustiger tydjie het die rang besluit om die troepe se dreigende verveeldheid met ’n magsvertoon aan te spreek. ’n “Magsvertoon” in dié konteks was om al wat ’n wapen en ’n voertuig is in ’n uitgestrekte linie uit te span en dan, op ’n bevel, vir almal om al die ammunisie in hulle besit min of meer rigting vorentoe leeg te skiet.
Van my vriende was nie opgekekkel oor die dag se vermaak nie en ek het hulle magasyne versamel. Op die vuurfront het ek hulle kruis en dwars tot so middellyfhoogte opgestapel. Met die vuur! het ek die R4 gespan, die kieser op “A” vir “Afrikaans” (outomaties) gestoot, Brünnhilde tot teen skouer gebring en die geweer het gehakkel teen my skouer en vonke by die blitsbreker gestrooi. Magasyn leeg! Haak uit en laat val! Volgende in… Teen die skouer! Knal!knal!knal! Leeg. Minute later kon niemand verder as twee meter deur die dik bank rook en stof sien nie. En al my magasyne was leeg. Ek het digby ’n duisend rondtes afgevuur en die loop het behoorlik gegloei; het so warm geword dat die voorste handgreep so breibaar soos klei geword en losgekom het. Maar Brünnhilde kon dit vat en daar was nie ’n enkele storing nie.
In Februarie 1984 is ons sonder waarskuwing aangesê om aan te tree en ons gewere na die wapenstoor te neem. Daar het ek vir Brünnhilde oorhandig. Dit was die laaste keer wat ek die kort, bonkige geweertjie gesien het. In plek daarvan het ek ’n splinternuwe R4, dié keer in ’n donker, egalige bruin, ontvang. Dit is die geweer wat ek tot aan die einde van my loopbaan gehad het. Ek het nooit dieselfde verhouding daarmee as met my eerste weermagroer opgebou nie, maar nou ja, ons is nie saam deur naastenby dieselfde nie.
Ek en my ou weermagvriende droom van ’n onafhanklike staat waar die Afrikaner deur homself geregeer sal word en net vir homself verantwoordelik sal wees. Ek glo – ek wéét – dat hierdie wonderlike land op ’n vreedsame manier bekom kan word. Maar ek is nie naïef nie. Ek weet dit sal beveilig moet word, indien nodig met die roer teen ’n oormag.
As dié dag sou kom, en ek en my pelotonmakkers is te oud vir vuur-en-beweging, plaas ons in die voorste verdedigingslinie, verwyder ons rolstoele. En as ons elkeen ’n R4 het, wie die goddelose teen ons ook al is… laat hulle kom!
Die braaivleisvraag waaroor die afgelope maande getwis is, is of die Leeus se Curriebekersukses van verlede seisoen die werk van kampioene of ’n lukrake gelukskoot was. Die skeptici het volgens gisteraand se telbord genoeg ammunisie om oor te haal. Maar fyner ontleding van die wedstryd, wat die Leeus teen die Hurricanes met 28-30 verloor het, wys dat die dispuut nog lank nie opgeklaar is nie.
Gesoute Leeu-ondersteuners moet in die versoeking wees om in die ou bekende gelatenheid, beklemtoon met die ophaal van die argelose skouer vyftien sentimeters bo die gekweste hart, te verval. Hierdie neerlaag is ou bekende terrein. Dit is immers die vyfde keer in die laaste vyf kragmetings teen die Hurricanes wat die Leeus afgestof is. En tog is daar beduidende verskille met die verlede. Vroeër jare wanneer die Leeus verloor het, was dit omdat hulle eenvoudig nie goed genoeg was nie. Wanneer hulle nader aan ’n oorwinning gekom het, was dit weens moed wat groter as talent is en/of ’n dubbelskeut geluk.
Die Leeus van hierdie jaar ís goed genoeg om te wen. Die beste span het verloor, en ja, ons sal die “scoreboard checks” Oom Boy.
Dit was geensins ’n span in volle vaart wat verloor het nie. Die vroegseisoengriep is nog onder lede. Op die aanval is hulle nog nie so deurdringend as wat ’n mens van hulle kan verwag nie en hulle het ’n bepaalde swakheid ontwikkel om die bal in die botsing te verloor. Hulle primêre eerstefasewapen – ’n bulskrum – is na die eerste kwart van die wedstryd geneutraliseer toe plaasvervangerstut, CJ van der Linde afgehinkepink het met ’n bobeenbesering. Wedyweringslose skrums het nou gegeld en daarmee kon die Hurricanes se losvoorspelers vinniger onttrek om die aanvallende Leeus se ruimte in te kort.
Die punteinsameling het met ’n Bowden Barret-strafskop begin. Minute later het die Leeus die Hurricanes teen die doellyn vasgedruk en ’n ondreigende laterale aanvalle geloods. Die bal is eenvoudig aangewip van speler tot speler, met blykbaar elkeen van hulle wat geweier het om die lyn reguit te trek. Die laaste aangee was na Jaco Taute en hy het geen reg gehad om te dink hy gaan ’n drie uit dié situasie druk nie. Maar hy het. Hy het daardie twee-drie treë met die mees ongesofistikeerde krag gewen en toe gevind sy arm is lank genoeg om die doellyn te haal.
Die Leeus het die afskopbesit op die grond gemors en het onkant gedwaal. Barrett het getref en die telling was 6-5. ’n Minuut later het Jaco Taute, binne sy eie halfgebied, die drywer op die bal getrek vir ’n strafskop, en die telling was 8-6.
Nie lank daarna nie het die bal die Leeus weer ontglip, die Hurricanes kon aanval en die heelagter, André Taylor het ’n gespierde lak van Michael Killian vir ’n drie in die hoekie oorleef. Die Hurricanes, voor, 14-8 met halftyd.
Na die openingstrofe van die tweede helfte het albei spanne ’n strafskop behaal, maar ’n teenaanval van die Leeus het die Hurricanes se verdediging versplinter. In die gebruiklike harwar was dit Franco van der Merwe wat sý arm die keer lank gerek het vir ’n drie.
Wat volg was twee minute waarin die Leeus swaar gekwes is. Met ’n aanval in volle swang het Josh Strauss die bal in ’n lak verloor. Conrad Smith het die bal vorentoe geskop en agterna gesit, net-net betyds weer daar gekom en wéér van die grond af geskop, dié keer nie reguit nie, maar dwarsvoet soos die spaantjie van ’n spykertafel kant toe waar die haker Dane Coles dit met ’n oop doellyn bymekaar gemaak het. Pas na die heraanvang het die Leeus wéér die bal weggegee en Barret het oopveld toe geskop waar die bal ongure manewales aangevang het om ’n Hurricanes-speler eerder as ’n Leeu te vind. Corey Jane het ingestoom vir ’n maklike drie. Nie een van dié twee drieë is gekroon nie, maar skielik was die Leeus 27-18 agter.
Die antwoord op die sommetjie was dat ’n strafskop en ’n verdoelde drie die yster sou wees om die kastaiÏngs uit die kole te hark. Die strafskop het geredelik gekom en nou het dit gelyk asof die Leeus se drie-en-twintigste speler – Tannie Ellispark en haar hoë lugdruk – beslissend sou deelneem. Die Hurricanes was sat gehardloop en het verniet diep gesuig vir suurstof. Weereens het ’n vlaag aanvalle die Leeus tot teen die doellyn gebring en hierdie keer was dit Butch James, van die bank af as plaasvervanger, wat die verdediging teruggeklop het met sy eie lyf en toe die aarde getref het vir ’n drie. Met agt minute oor was die Leeus een punt voor en dit het gelyk asof daar vir hulle nog meer wag. Hulle was doelgerig, skerp, verbete…
Maar die Hurricanes het die bal gekry en behou en begin speel om ’n strafskop uit die Leeus te wurg. Die een vlak aanval na die ander, links-regs, links-regs, ’n tree, twee tree op ’n slag in die middel af, die een fase uit die ander gemaak, en uiteindelik was dit Butch James wat oor die onkantlyn gedryf het, vlak teen die pale. Die Hurricanes het oorgeskop en die Leeus se desperate doodsaanvalle oorleef om met twee punte te wen.
Patric Cilliers is as Man van die Wedstryd aangewys en daar is geen argumente van my af nie. Hy het soos ’n bees geskrum toe hulle nog mag geskrum het, was elke keer met die bal onder die arm ’n swaar slag om te verwerk, en het soos ’n tjopkerwer gelak. Maar as dit my stem was wat die M.v.d.W. aangewys het, was dit Alwyn Hollenbach. Hierdie binnesenter begin al meer lyk asof groen en goud die regte kleure vir hom is. Hy is groot, het massiewe teenwoordigheid in die middelveld, vind gapings of hamer eenvoudig een deur die verdediging. Sy verspreiding is goed en hy perk homself nie streng in sy kanaal in nie en is dikwels eerste by om soos ’n goeie losvoorspeler skons te bak met die krummels besit wat op die grond lê of om ’n gelakte makker te help om die bal te herwin. Daar is een ander agterspeler met dieselfde aura, veggees en finesse as hy en dit is Jaco Taute, ook in die Leeus se agterlinie, op heelagter.
Die Leeus het soos die Leeus van ouds verloor. Maar die ander spanne sal skrander wees om hulle nie met hulle voorgangers te vergelyk nie. Wanneer alles reg gaan loop en hulle net die bal beter in die botsing beskerm, gaan hierdie Leeus nog baie spanne seermaak voor die seisoen verby is.