praag.co.za

Kiwi’s sneuwel voor De Lange

Written by

in

Wel, hulle sê die duiwel wat jy ken is beter as die een onbekend aan jou. Die Nieu-Seelandse krieketspan weet darem nou watter monster die Proteas kan wees. Of weet hulle regtig? Deur die loop van die pasafgehandelde drie eendagwedstryde het hulle uitmuntende veldwerk, grasieuse kolfwerk en bitsige boulwerk van die Suid-Afrikaners beleef – net nie in dieselfde wedstryd nie.

Saterdag, op Eden Park in Auckland is die seile uiteindelik weggetrek van Suid-Afrika se wonderwapen: Hulle boulaanval. Voorheen in die reeks het die Swart Kepse voortdurend vasgeval teen ’n  kolflinie wat die Kiwi-bouloffensief moeiteloos uitgedoof het. AB de Villiers se moeitelose honderdtal en bykomende bydraes, Amla se vernuftige beurte, Duminy se tandeknersweerstand en Faf du Plessis se hoofpynwekkende frontale aanslae het die beste van die Nieu-Seelandse boulers mak, tandeloos en ontman gelaat. Maar voor Saterdag het hulle nog nie regtig beleef hoe dit voel om ’n  Suid-Afrikaanse boulaanval op volle vaart in die tande te kyk nie.

De Villiers het die loot gewen en die bal aangevra om die twis op ’n  kolwersvriendelike blad voort te sit. Daar is verskillende maniere hoe ’n  goeie aanval die verbrokkeling van ’n  teenstander kan bewerkstellig. Soms is dit om deurdringend te werk te gaan, om die defensiewe maatreëls van die kolwers te neutraliseer en om penne te laat spat. Ander kere is dit deur die oë te verblind, takties fyn te ontplooi, die kolwer voortdurend te flous… Of, soos in hierdie aanslag, kan die boulers hulle offensief ontwerp om die kolwers eenvoudig tot oorgawe te wurg.

Op ’n  blad met ‘n bietjie wipvaart, het Dale Steyn en Marchant de Lange gou uitgewerk dat die Kiwi’s geheel en al allergies is vir missiele wat van die blad af op grom na borshoogte, om nie eens te praat van die ware skokbal wat koers kry vir die kennebak, neus of voorkop nie. Die meestereksponent van die bal wat kort van ’n  lengte af die kolwer intimideer, is die Phalaborwa Patroon.

Steyn is ’n  skrikwekkende implement. Hy is veel meer as die teoretiese produk van sy onderdele. Hy is klein vir ’n bouler en tog is daar nie nog ’n  tamatiewerper wat so ’n  hoë gemiddelde snelheid kan handhaaf nie. Meestal moet ’n  medium-tot-snelbouler kies tussen spoed en beheer, maar nie Steyn nie. Sy eerste bal vat-vat aan die 140 km/u en dit land op die kolletjie wat hy blykbaar in sy gedagte met ’n merkpen ingekleur het, net buite die wegpen, en kom sissend van die blad af na die paaltjiewagter se handskoene. Hy is ’n  suinige ou vrek, wanneer dit by lopies kom: Elke een moet eenvoudig van hom afgekoevoet word.

Aan die oorkantste aanvalshoek is ’n  raaisel wat die Kiwi’s nou nog nie kan ontrafel nie: Lonwabo Tsotsobe. Hy boul teen ’n  bedeesde sub-130 km/u en tog kry hulle met hom niks uitgerig nie. Hy ís akkuraat, soos van ’n bouler van medium snelheid verwag sou word, en hy beweeg die bal asof met radiobeheer van weg na by. Die Nieu-Seelanders het te veel goeie paaltjies aan hom afgestaan en hulle kolf teen hom asof hy handgranate boul.

In die middelwedstryd van die reeks het die ellelange Morné Morkel die hoek wat van sy boulhand na die blad geskep is, tot dodelike effek gebruik en vyf paaltjies saam met die Man-van-die-Wedstryd-toekenning ingepalm. Hy is vir goeie diens met ’n  afdag beloon vir die laaste wedstryd. In sy plek, skuif ’n breë jong vlamwerper van ’n  bouler in.

Marchant de Lange is nie veel korter as Morkel nie, baie breër deur die skouer en heelwat meer iesegrimmig in houding en benadering. In hierdie, nog jong, seisoen, is die krieketpubliek al so verstom deur boulvondse, vernaamlik Vernon Philander, dat De Lange amper geluidloos, soos ’n  olifant op doekvoete, op die toneel verskyn het. In enige ander seisoen sou sy aanvangsprestasies met trompetgeskal verkondig gewees het. In sy eerste toets het hy reeds ’n  vywer behaal en al wat kolwer is laat koes en retireer. In sy eerste T-20 reeks het hy gewys dat spoed, akkuraatheid en verrassingstaktieke baie doeltreffend is om tellings laag te hou. In die  laaste T-20 het hy die wedstryd uit die Nieu-Seelandse kake losgewikkel toe hy 7 lopies in die laaste boulbeurt suksesvol verdedig het, nie net met blote, rou spoed nie, maar met finesse en waagmoed. In die ooreenkomende fase van sy loopbaan was Dale Steyn in vergelyking met De Lange haastig maar onbeheersd en takties verslons.

Die Kiwi’s het nou vir De Lange in sy eerste Eendag Internasionale Wedstryd in die gesig gestaar, en nie gehou van wat hulle sien nie. Hy het begin deur dieselfde kortlengte net buite die wegpen te boul as Steyn en Tsotsobe, maar het nie gehuiwer om ’n  paar toonkrakers diep te stoot nie.  Hy het die momentum van ’n  wegholkoekepan opgebou en die Nieu-Seelanders moes diep grawe en dik skanse opwerp net om te oorleef.

Die Kiwi-kolwer, Martin Guptil, was vroeër die seisoen, na Nieu-Seeland se verplettering van daardie krieketmag, Zimbabwe, deur sy vaderlandpers voorgehou as ’n  speler wat ’n  telefoonhokkie vir ’n  kleedkamer het. Maar hierdie Superman het uitgevind dat om ’n  breker onder kinders te wees, nie noodwendig beteken jy gaan  nie ’n  kind onder brekers wees nie. Na ’n  skaflike vertrek teen die Proteas in die T-20’s het hy nou uitgerafel teen ’n  dodelike aanval. Saterdag het hy sy paaltjie goedkoop aan Tsotsobe verkwansel, hoewel die kwitansie uitgereik is deur ’n  vlieënde Faf du Plessis wat ’n  Guptil-kaphou middevlug onderskep het. Du Plessis is besig om die hedendaagse Jonty Rhodes effe tru van punt te word.

Johan Botha, die oog van die storm nadat hy tot die aanval gevoeg is, het vir Nicol met ’n  bal buite die wegpen gepaai om dit tot in AB de Villiers se hande te vryf. Williamson het gekom, wal gegooi en gebid vir die beste totdat hy hom ook met Faf misgis het en uitgehardloop is na ’n  flambojante opskep-en-duik ingooi van die ratse Afrikaner.

Brendon McCullum, wat ten bloede toe vir oorlewing gestry het, het uiteindelik gewitvlag met ’n  stoothoutjie na ’n  vol aflewering van De Lange om op punt uitgevang te word.

Die Nieu-Seelanders het moedig geveg, en dit moet die alarms die luidste by hulle laat skel. Hulle het nie hulle penne gering geskat en gelate weggegee nie; hulle het aan elke paaltjie vasgeklou asof aan die lewe self, maar was onmagtig om dit te behou.

De Lange het die middelorde eers gekasty en toe aan flarde geruk met die bykomende paaltjies van Franklin, Nathan McCullum en Ellis. De Grandhomme is uitgehardloop met ’n  voltreffer van Albie Morkel en Robin Peterson het twee stertkantkolwers been voor betrap.

Dale Steyn het weereens paaltjieloos geëindig, maar sy medeboulers skuld hom ’n  aandeel in elke pen wat hulle gevat het. Sy presiesheid, venyn en volgehou druk, het meermale veroorsaak dat kolwers oorspoel is van verligting om teen ’n  ander bouler te kolf, dat hulle konsentrasie summier gedaal het.

Suid-Afrika het die telling maklik in minder as 44 beurte afgekolf. Amla, wat soveel doeltreffender is wanneer hy teen sy eie ordentlike koers kolf, het die telling se rug met 76 lopies gebreek. In iets soos ’n  vakansiestemming vandat die reeksoorwinning verseker is, het die Proteas ’n  eksperimentele kolflys gebruik met die Moslem, Wayne Parnell, wat saam met sy godsdiensgenoot geopen het. Hy het ’n  moeitelose 27 gekry voor hy plek gemaak het vir Albie Morkel wat weereens gewys het daar is meer hoofstukke in sy kolfhandleiding as om net die bal se een kant te probeer platslaan. Hy het verantwoordelik en presies gekolf vir 41 voordat hy op die grens uitgevang is. (En dit sê iets goed van sy kolfvermoë dat hy omtrent net uitgaan as hy in die buiteveld gevang word.) Duminy het 25 lopies uit 37 balle gemaal voordat De Villiers en Johan Botha die laaste veglus van die Kiwi’s gesnuit het.

Die Proteas is in  opmars na die voorste posisie op die eendagranglys. Hulle het mooi dinge in hierdie kort reeks gewys. Wat mens wel nog van hulle wil sien, is die soort ongenaakbaarheid wat die Steve Waugh/Ricky Ponting- Ausiespanne van weleer gekenmerk het. Wanneer hulle ’n  teenstaander tot ’n  karige telling beperk het, het hulle die veld geneem en hom teen tempo hewig vergruis. Maar nou ja, dit was krieket op ’n  ander vlak en tog is dit een waarna die Proteas kan aspireer. Dit is nie buite hulle bereik nie.

Фільчаков прокурор

Comments

Leave a Reply