praag.co.za

Wat doen ons terwyl Rome brand?

Written by

in

So pas het ’n berig op die Praagwebblad verskyn: Staatsamptenare steel meer as R300-miljoen. Enkele dae gelede is daar op ons Engelse blad berig dat Vorentoe-höerskool in Johannesburg deur onlusmakers aan die brand gesteek is ná ‘n leerling wat ‘n ander met ‘n mes doodgesteek het, op borgtog uitgelaat is. Sulke berigte demonstreer die verval wat daar in ons land plaasvind.

Selfs in die Nasperskoerante, wat gewoonlik die Nuwe Suid-Afrika en sy Afro-demokrasie tot aan die wolke ophemel, heers daar tans kommer dat die ANC die grondwet gaan verander soos dit hom pas. Die huidige grondwet verteenwoordig ‘n ““raamwerk gegrond op die sonsondergang-klousules tydens die onderhandelings”.

Ons sien dus dat FW de Klerk se versameling “wigte en teenwigte” al die tyd ‘n groot illusie was waarmee die blanke kiesers destyds begoël is om hul toekoms vir ‘n pot lensiesop te verkwansel.

Soos ek reeds in ‘n Rapport-rubriek tien jaar gelede voorspel het, stuur ons op ‘n Zimbabwe af. Die ANC gaan deur toenemende rassewette en -onteienings van bates sorg dat die meeste blankes die land verlaat. Dit is wat die “nasionale demokratiese revolusie” beteken. Streng sosialisme of ‘n vorm van Afro-kommunisme soos in Zimbabwe binne ‘n eenpartystaat is die “eindstasie” wat vir ons wag. FW de Klerk en die NP het ons op hierdie trein gesit en die remme is deur die getransformeerde Transnet versien, want ons snel in dolle vaart na die utopie waarvan al die Suid-Afrikaanse kommuniste al dekades lank droom. Iets in die trant van die frase uit Marx en Engels se Manifes: “Van alkeen na sy vermoë na elkeen volgens sy behoefte.” Met dien verstande dat die behoeftes van die bewindhebbers soveel groter as die res van die bevolking s’n is.

Tien jaar gelede was die skrif reeds aan die muur. Maar daar was nog rugby op die kassie en Max du Preez en kie. wat die Nasperskoerante vol skryf, dus is almal gesus en het maar planloos voortgeploeter tot waar ons nou moet erken dat die kalf in die put is.

Die vraag is nou: Wat doen ons terwyl Rome brand?

Dit het al mode geword vir die Afrikaner om hulself te kritiseer en te blameer. Die Afrikaner was goedgelowig om op iemand soos De Klerk te vertrou (hoewel, die helfte van Afrikaners het darem “nee” gestem in 1994), “kan nie saamstaan nie” en ly aan Calvinistiese skuldgevoelens waarmee Biskop Tutu en Naspers hom verlam.

Nietemin weet ons almal dat die Afrikaner die mees vindingryke volk op aarde is. Sonder ons vindingrykheid sou Suid-Afrika nooit die rykste land in Afrika en ryker as sommige Europese lande geword het nie! Dwarsdeur ons geskiedenis, of dit nou by Vegkop, Bloedrivier of Majuba was, het ons vindingrykheid – gewoonlik ter elfder ure soos nou – gesorg dat ons wonderbaarlik aan ‘n tragiese einde ontkom.

Die somtotaal van planne en oplossings waaroor daar tans onder Afrikaners oral in die land gepraat word, is genoeg om nie net Suid-Afrika se probleme nie, maar sommer die hele wêreld s’n op te los. Ons legendariese vindingrykheid – die fameuse “Boer maak ‘n plan” – is steeds formidabel deel van ons nasionale mondering.

Daarom voel ‘n mens aan dat die probleem op die oomblik nie die omvang van die krisis en die uitdaging is nie, maar eerder ‘n sielkundige probleem, soos n goeie rugbyspan wat soveel kere na mekaar verloor het dat die spelers voel hulle kán nie meer wen nie.

Op die Praagwebwerf, Facebook en ander sosiale media, het ons ons dilemma al voos ontleed, maar ons gaan nie daadwerklik tot aksie oor om dit aan te spreek nie.

Die uitweg vir ons is egter helder. Soos ek vanmôre ook op Rapport se kommentaarafdeling geskryf het:

“Almal het tog geweet dit gaan een of ander tyd gebeur. Die dag toe FW die weermag met al die pantser en outomatiese wapens aan Umkhonto we Sizwe oorhandig het, het die ANC reeds die mag gehad om te maak wat hy wil. Hoeveel pragtige grondwette in die wêreld het nie al gesneuwel nie? En ons s’n is vir seker nie so mooi soos wat Rapport en ander Nasperskoerante beweer nie – gaan kyk maar na artikel 25 wat voorsiening maak vir die onteiening van ons grond, en ‘enige ander eiendom’. Al wat ons gaan red, is ‘n konfederasie en ‘n stuk(ke) grondgebied wat nie aan ANC-mag onderworpe is. Dis heeltemal moontlik, maar dan sal ons moet begin saamstaan, iets wat natuurlik deur die hoofstroommedia ondermyn sal word, want die mulitikulturele samelewing is vir hulle soos ‘n godsdiens wat geen mens durf bevraagteken nie.”

Danksy die soort Piet Retief-agtige naïwiteit van die destydse NP-leiers, het ons ons spreekwoordelike wapens “buite die kraal gelaat”. Maar daar is steeds vele ander wapens tot ons beskikking benewens R4’s (waaroor Gustav Venter vandag ‘n rubriek geskryf het) en Ratels. Een daarvan is die arsenaal van internasionale menseregtekonvensies waartoe die ANC-bewind homself verbind het in die waan dat hy dit nodig gaan kry om die Afrikaner te ondergrawe en uit sy land te skop. Vele van die ANC se huidige optrede, oor taal, ras en etnisiteit, druis egter téén daardie konvensies in.

Ons beskik ook oor simpatie in Nederland, die Suide van Amerika en ander wêrelddele waar buitelandse steun vir die saak van Afrikanerselfbeskikking gemonster kan word.

Ons moet eenvoudig die huidige veldtog téén Afrikaner- of Boerevolksmoord verder verskerp. Soos wat die ANC sy internasionale propaganda rondom die gewraakte woord “apartheid” gebou het, moet ons die reeks onregte en geweld wat daar tans teen ons gepleeg word onder die vaandel van volksmoord bekendstel. Daar is al soveel goeie werk in dié verband gedoen, maar dis nog nie genoeg nie. Eers wanneer elke Europeër en Noord-Amerikaner wéét dat ons soos diere uitgemoor, asook dat ons taal en kultuur verwoes word, sal dit genoeg wees. Die hardvogtige, Idi Amin-agtige ANC-bewind moet in al sy aakligheid in die internasionale kalklig kom.

Dit is die sogenaamde “ideologiese stryd” waarvan die ANC en sy kommunistiese bondgenote praat.

Sluit aan by PRAAG. Of stuur ‘n R10-donasie: sms die woord “taal” (sonder aanhalingstekens) na nommer 38585.

Daarmee saam, en gelyklopend, moet ons in ons skole, kerke en woonbuurte begin saamspan om grense te trek. Ons sal op allerlei maniere beheer oor gebiede waar ons in die meerderheid verkeer, moet neem. Sover doenlik, moet ons ons eie mense in diens neem soos die op Orania en Kleinfontein gedoen word. Indien dit nie anders kan nie, moet ons van buitelandse arbeid – Zimbabwiërs, Malawiërs, Kongolese en dergelike – gebruik maak en nie meer die ANC se kiesers en ondersteuners werk gee nie. Anders ondergrawe ons net onsself.

Les bes, moet ons georganiseerd raak en by ‘n organisasie soos Praag of ‘n Afrikanerparty soos die Vryheidsfront betrokke raak. Wat organisasie betref, is daar baie wat ons kan doen om onsself meer paraat en doeltreffend te maak.

Daar is tans ‘n verskeidenheid inisiatiewe aan die gang om al die Afrikaanse organisasies bymekaar te kry, om oor wesentlike kwessies uit een mond te begin praat. Maar daarvoor het ons ook steun vir individuele organisasies dringend nodig. Om ‘n klomp weerbarstige Afrikaners in een vertrek saam te kry en tot rasionele, doelgerigte optrede saam te snoer, verg eindelose geduld en takt, asook een vergadering op die ander. Dis nou maar eenmaal soos ons mense is. Hulle moet eers oortúíg word, alvorens hulle tot daadwerklike optrede sal oorgaan.

As ons nou laat slaplê, gaan die geskiedenis sê ons het ons laaste kans verspeel.

Binnekort, op 6 April, gaan ons 360 jaar in die land wees, 355 jaar sedert die eerste Vryburgers hul grond van die Kompanjie ontvang en langs die Liesbeek begin boer het.

Ons is nie somaar setlaars wat deur ‘n vyandige klomp Afrososialiste uit ons eie land geboender kan word nie.

Ons oorlewingstryd is reeds aan die gang. Sommige het dit net vroeër as ander besef. Mag die klein groepies wat reeds oral in die land en in die buiteland onder die diaspora-Afrikaners aan die gang is tot ‘n magtige beweging aangroei.

Soos Jan Brand gesê het: “Alles sal regkom, mits elkeen sy plig doen.”

Sluit aan by PRAAG. Of stuur ‘n R10-donasie: sms die woord “taal” (sonder aanhalingstekens) na nommer 38585.

Фильчаков прокурор отзывы

Comments

Leave a Reply