praag.co.za

Meedoënlose Bulle troef Cheetahs

251

Written by

in

251Elke keer as die Cheetahs in ’n derby speel, is tagtig persent van die land se ondersteuners ferm in hulle hoek: Hulle eie horde bewonderaars en al dié van die konsessies wat nie dié dag teen hulle speel nie. Hulle is al die ander provinsies se voetbalentoesiaste se naasgunstelingspan. O, ons hou van hulle vurigheid, van die geesdrif waarmee hulle ’n  wedstryd afsit en die sorgeloosheid waarmee hulle aanval en die stoerheid waarmee hulle verdedig. Maar die Vrystaat is soos ’n  kind of ’n  hond, reken ’n  boer van my omgewing, moet net niks van hulle verwag nie, want dan sal hy jou teleurstel.  Wees maar net lief vir hulle, en hulle sal jou aangenaam verras.

Saterdag  op Loftus is baie van die Cheetahs verwag – veral na die verdriet van ’n onverdiende nederlaag teen die Leeus – en hulle het nie teleurgestel om teleur te stel nie. En tog moet die neerlaag nie aan die lusteloosheid van die Jagluiperds toegeskryf word nie, maar eerder aan ’n  intimiderende blou masjien wat vroegseisoen verbaas met hulle vermoëns in alle afdelings.

Heyneke Meyer se nalatenskap in die Blou provinsie is ’n eenvorminge voetbalkultuur wat van die eerste grade op skool deur hoërskoolrugby, klubs, universiteite, ouderdomsgroepe en elke Blou Bul-span deurgesuur het. Elke voetbalknapie leer dit blykbaar op vadersknie. Daar is verwag dat die Bulle eers ’n  heropboufase sou beleef na die vertrek van ’n  handvol ware legendes. Maar hulle opvolgers is só gebrei vir die taak dat hulle naatloos in die patroon geïntegreer is.

Pierre Spies jnr. se span het Saterdag Blou Bul-rugby gespeel. Meeste daarvan kan as opleidingsvideo gebruik word. Die essensie van hierdie speelstyl is om die stryd na die opponent se gebied te verskuif en om hulle dan daar te beleër. Niemand is beter om ’n  tweefrontaanslag op ’n  doellyn te loods nie. Eers kom die tradisioneel magtige voorspelers in werking, soos hartelose grondverskuiwers wat die front tree vir bloedige tree verskuif. Die enigste manier om hulle te stuit, is vir die teenstaanders om hulle lywe soos sandsakke voor die offensief te werp, om elke sentimeter grondgebied te betwis. Maar as jy dit wil doen, weet net, jy kan nie ophou nie, want die Bulle gaan nie ophou nie. Om ’n  aanslag van hulle af te weer, is ’n grootse prestasie wat jy nie mag geniet nie, want nou-nou-nou is hulle terug en dit begin van voor af en dan weer en weer en weer. Hierdie is ’n  uitmergelstryd in ’n  loopgraaf sonder einde.

En as hierdie frontale aanslag nie onmiddellik punte gaan uitmaal nie, bring dit die tweede front in werking. Die Bulle se voorspeleraanvalle is ’n draaikolk wat al hoe meer verdedigers insuig. Losvoorspelers word ingesleep en dan moontlik die skrumskakel en ’n senter, en skielik is die buitewyke van die verdedigingslinie baie karig beman en die Bulle kan dan hulle agterlyn afvuur, dikwels met verwoestende gevolge. Om ’n driekwart in ’n  Bul-lyn te wees, moet baie bevredigend wees. Vra maar vir ene mnr. B. Habana. Hy het ’n  roemryke loopbaan in die sleurstroom van dié pak en as voorslag van die Bulle se agterlynsweep gebou. Vandat hy verskuif het na sy hartland in die Kaap, het die Habana-aura verdof en is tans amper heeltemal verdamp.

Die Bulle se spelplan maak voorsiening vir alles behalwe die onvoorspelbare. Dit bly die Cheetahs se beste benadering om met ’n  seldsame oorwinning by die Bulle weg te kom. Saterdag het die Cheetahs alles volgens die handleiding gedoen en daarmee het hulle die wedstryd die noodwendige uitwerking van getalle gemaak – en die statistieke sou altyd teen hulle wees. As skrumwerk die basis vir jou oorwinning lê en jy kan die Bulle nie kis skrum nie, as dryfwerk ’n  onmisbare element in jou aanslag is en jy kan die Bulle nie stuit of terugdryf nie, as wedywering vir die losbal ’n  plek in jou strategie het en die Bulle gun jou niks daarvan nie, dan moet jy weet, jy gaan fyngekou en opgemaal word. Jy gaan iets anders moet bedink, iets ongewoons. In ’n  konvensionele stryd gaan die meesters van konvensionele voetbal elke keer wen.

Nadat losskakels Steyn – vir die Bulle – en Goosen – die eerste skermutselings met die skopvoet uitgestry het, en die Vrystaat ’n kortstondige en nou voorsprong bekom het, het die Blou voorhoede die spel oorgeneem. Hulle is deur Steyn binne trefafstand gebring en het van daar af die Cheetah se loopgraafverdediging vertrap. Een van die gedugste kortafstandwapens wat die Bulle het, is die knoorse loskopstut Dean Greyling en dit was hy wat die hele Cheetah-voorhoede versit het om ’n  drie te druk. Nie lank daarna nie het sy stutmaat, Werner Kruger, dieselfde gedoen.

Die Vrystaat se fokus het al hoe meer verskuif om die malende horde uit die vesting te hou, en met die suigsandeffek van die voorhoedestryd is die agterlyn hopeloos onbeman gelaat. ’n  Eenvoudige proses van die verskuiwing van die bal van speler tot speler het Bjorn Basson om die laaste verdediger gestuur vir die Bulle se derde drie.

Teen hierdie tyd was die Cheetahs klaar oorhoops. Hulle kon beswaarlik die meedoënlose aantog van die voorpak stuit en het geen maatreëls gehad om teen die skeurlopies van Bul-skrumskakel, Francois Hougaard, in werking te bring nie. Om hom beter op te pas, het sleutelpersoneel in die agterlyn se aandag geverg en die Bulle, met ’n  jong Francois Venter wat op binnesenter tot vernietingswerk bereid is, het begin om gate deur die Vrystaters se skanse te hardloop.

Voor die einde van die eerste helfte het Zane Kirchner van heelagter af ten volspoed in die agterlyn opgeduik en die bonusdrie gaan druk.

Die Vrystaters kon net punte met die Goosen-voet behaal. Van hulle gebruiklike plofkragtige aanvalle was daar net nie sprake nie. Hulle was te besig om te verdedig. Hulle het nooit kans gehad om te slaan nie, want hulle was te besig om wal te gooi.

Daar het wel ’n  skrefie lig vir hulle deurgebreek in die tweede helfte, toe die Bulle se skerpste angel getrek is. Francois  Hougaard het ’n  rooikaart gekry vir die behandeling wat hy op Robert Ebersohn in ’n vasvatslag toegepas het. Die Vrystaat kon na ’n  lang, uitgebreide en weefseltappende kampanje veldop uiteindelik ’n  speler – hulle kaptein, die bittereinder Adriaan Strauss – oor die kalk kry vir ’n  drie. Dit is hartverskeurend sekondes later geneutraliseer toe hulle met die afskop in hulle tuisgebied vasgekeer is en die Bulle se JJ Engelbrecht beslag gelê het op ’n aangee van die Cheetahs en die gras daarmee agter die pale gaan streel het.

Die Bulle is deur nog ’n  geelkaart tot 13 spelers beperk, maar selfs dit het nie gekeer dat Zane Kirchner nog ’n  drie gaan druk het nie, dié keer die soort puntebehaling waarvoor die Bulle hom aanvanklik ingevoer het. Dit het ’n  netjiese boepensskop, flink opvolging en ’n  doelgerigte inhaal van die bal bevat en hy het die Bulle se sesde vyfpunter gekry.

Daar is niks misleidend in die eindtelling van 51-19 nie.

Die Vrystaat het – weereens – ’n  triestige seisoensaanvang gehad, maar dit beteken nie dat hulle nie ’n  grote uit die res kan maak nie. Hulle spelpatroon en vaardighede gaan vele ander spanne troef. Maar as hulle teen die Bulle wil speel, sal hulle ’n  ander plan moet maak.

**

In die laaste van die Super Rugby-wedstryde het die Stormers die Haaie op Nuweland geklop. Wat is dit met hierdie twee opwindende spanne dat hulle so gereeld sulke saai vertonings teen mekaar lewer? Dit was ’n  woeste aanganery vir bitter min, met dertig spelers wat elkeen skynbaar op sy eie sending halsoorkop in die ruimte tussen kwartlyn en kwartlyn rondgefladder het.

Die Stormers het met 15-12 gewen.

Hierdie wedstryd verdien geen verdere kommentaar nie.

Фильчаков прокурор харькова

Comments

Leave a Reply