“Tans is daar meer as 3 000 vermoedelike en bevestigde gevalle,” het Prosper Chonzi, die stad se direkteur van gesondheidsdienste, aan The Sunday Mail gesê.
Meer as 90 mense van die voorstad Kuwadzana is in Januarie in die hospitaal opgeneem. Die owerhede het buitelug-kosverkope verbied in ‘n poging om te keer dat die siekte versprei.
“Ons is nou bekommerd dat die tifuskoors versprei na die aanliggende gebiede rondom Kuwadzana,” het Chonzi gesê.
“Nou beweeg ons in die onbesmette gebiede in sodat ons mense oor die verspreiding van die siekte kan opvoed. Die stadsowerhede het gevind dis beter om op voorkomingsmaatreëls te fokus, eerder as regstellende optrede.”
Henry Madzorera, die minister van gesondheid, het in ‘n onderhoud op die staatstelevisie gesê die regering het nie geld om die siekte nou te bestry nie. Dit het sedertdien na ander provinsies versprei.
Tifuskoors floreer in gebiede sonder behoorlike sanitasie. Swak higiëne en sanitasie het veroorsaak dat siektes die afgelope jare talle kere in Zimbabwe uitgebreek het.
Sommige voorstede is weke lank sonder lopende water omdat die munisipaliteite sukkel om dienslewering vol te hou.
In Oktober is meer as 6 000 gevalle van diarree in die suidelike dorpe Masvingo en Kadoma aangemeld, en kinders is die ergste geraak. Vier jaar gelede is meer as 4 000 mense aan cholera dood.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.