praag.co.za

Tim vir President!

Written by

in

Dit moet erg wees om Tim du Plessis te wees, amper net so erg as om Max du Preez te wees! Die nuutste rubriek van ons heer Tim (Volksblad 2/3) het my laat wonder of ek moet lag of huil of my broek bevuil!

Die rubriek is rakende die hele debakel wat nog ‘n verwarde omie gemaak het in die parlement oor die “Bantoesprekendes”. (Snaaks hoeveel wit omies verward begin raak…) Tim skryf:

“Ons moet praat, met ander woorde. Grond is een van daardie kwessies wat die hele kaartehuis kan laat intuimel. Maar is praat nog moontlik?”

En dan in die volgende paragraaf skryf hy:

“Die hoofstroom-reaksie op Mulder het ek gelees en gehoor. Die ekstreme standpunte op veral obskure digitale platforms het ek geïgnoreer. Jy verloor niks as jy jou doof en blind hou hiervoor nie. Die internet is ’n wonderlike ding. So ook geselsradio. Maar hulle het vir malletjies ’n stem gegee wat hulle nooit gehad het nie en allermins verdien.”

Wie is die malletjies? Is dit dalk die 80% van Beeld en Volksblad se lesers wat kommentaar lewer op die internet? Is dit dalk die mense van Praag of talle ander Afrikanerwebwerwe wat volgens Tim “obskure digitale platforms” is?

Tim sluit sy rubriek af met:

“Soos ek dit verstaan: Die Grondwet en sy waardes moet die kanaal word waarlangs ons met mekaar sal moet praat en tot konsensus kom.”

Is dit nou dieselfde grondwet wat almal die reg tot vryheid van spraak, opinie en assosiasie beloof? Volgens Tim, “soos ek dit verstaan” moet ons die grondwet gebruik om met mekaar te praat, maar moet ons net die “malletjies” ignoreer wat die “obskure digitale platforms” gebruik. Dit maak die gesprek bietjie langdradig want ons sal eers by onse heer Tim moet uitvind wie nou almal malletjies is!

Tim het dus die hoofstroom-reaksie reaksie gehoor en gelees, wat dan seker sal bestaan uit die SABC, Naspers en dalk ‘n paar onafhanklike Engelse koerante. (Natuurlik is al hierdie bronne totaal objektief en is daar geen politieke agendas daar betrokke nie!)  Na aanleiding van hierdie o, so betroubare inligting het hy die opinies opgedeel in vier afdelings:

  1. “Die liberale, hoofsaaklik wit en Engels, het op Mulder toegesak en hom van ’n kant af sleggesê. Dis hul ou laai: As jy wit en Afrikaans is, is jy by voorbaat gediskwalifiseer vir deelname.”
  2. “Dan was daar die siedende reaksie uit swart geledere wat Mulder se sienings verskreeu en verduiwels het. As jy African black is, was jy eerste hier, maak nie saak wát die historiese feite sê nie. Klaar gepraat.”
  3. “Van wit kant het Mulder se siening van die historiese vestigingspatrone heelwat steun gekry. Geen verrassing nie. Ook nie die stertjie wat gewoonlik bykom van ‘maak in elk geval nie saak wie was eerste hier nie, dis wittes wat swartes leer lees en skryf het nie’. Asof dit enigiets bewys.”
  4. “Die malletjies.”

Nou goed, as jy dit wiskundig uitwerk, kan die formule soos volg lyk:

(Die hele bevolking) – (ENGELSE liberale) – (swart geledere) – (die wit kant) – (die malletjies) =  X

X moet dan gelyk wees aan Tim en die wit liberales?

En: Tim en die wit liberales wat blind en doof is vir die malletjies, (met ander woorde skuldig daaraan om die menseregte soos daargestel deur die Grondwet, te ignoreer) wil nou juis die grondwet gebruik om ‘n gesprek te begin met die (ENGELSE liberale) , (die swart geledere) en die (rassistiese wittes).

Die enigste sinvolle afleiding wat mens kan maak uit die formule is dat X in die vorm van ‘n kruisie demokrasie daarstel, met ander woorde X= reg en Tim = X, daarom is Tim = reg.

Dit kan dus wiskundig bewys word dat Tim du Plessis die enigste mens is wat die land se sake objektief kan benader en oplos en daarom moet dit vreeslik erg wees om so ‘n groot verantwoordelikheid op jou skouers te dra.

Nou goed, ek neem aan ek is net ‘n “malletjie” op ‘n “obskure digitale platform”, maar hel(!) ten minste skuil ek nie agter ‘n Engelsman nie! Tim is besig om die “liberale” gedagtes oor te skuif na die arme “Engelse” toe. Nou goed, vir ‘n “Engelsman” het die boer nie tyd van 1899 af nie, maar ek gun selfs nie my vyand dít wat Tim besig is om te doen nie. Teen die tyd dat ons “malletjies” ons ogies uitvee, is Tim en Max presidente van die nuwe behoudende Afrikanervolkstaat.

Dit was miskien naïef van ons om te verwag dat Afrikaanse liberales verantwoordelikheid sal vat vir hulle optrede – Dit was toe al die tyd, ná 110 jaar, weer die ENGELSE liberales se skuld!!

Kan jy dit nou oorvertel?

(As jy so maak, onthou net jy het dit by ‘n malletjie op ‘n obskure digitale platform gehoor!)

Данильченко Юрий Харьков

Comments

Leave a Reply