praag.co.za

‘Kom hier!’ sê ek en my R4

Written by

in

Daar kan mos nie gestry word oor wat die beste algemene militêre roer is nie.

Stilte! Ek het mos gesê die argument is verby. Dis die R4 en klaar.

Vir ’n  geweer om in aanmerking te kom, moet dit semi-outomaties met ’n  voloutomatiese funksie hê, van ’n  dodelike kaliber wees, met ’n hoëkapasiteitsmagasyn. Met ander woorde, dit moet ’n  stormgeweer wees. Deur die eeue was daar gewere wat wonderlik in bepaalde omstandighede en tydsgewrigte gefunksioneer het, maar dié wat nie as stormgewere geklassifiseer kan word nie, van die roemryke Amerikaanse M1 Garand terug tot by die veertiende-eeuse lontgeweer, kom nie vir oorweging in aanmerking nie.

Die Garand is ter sprake. Dit was betwisbaar die beste infanteriewapen van die Tweede Wêreldoorlog, ten spyte van ’n klein magasyn – net agt rondtes – en die irriterende gewoonte om die herlaaistrokie na die laaste skoot uit te werp – met so ’n  helder simbaalgeluidjie wat ’n  vyand in die nabye omgewing inlig dat jou wapen leeg is. Die M1 was die enigste semi-outomatiese langroer van die Oorlog en met die indrukwekkende .30-06-rondte waarmee dit gewerk het, het dit vir die Amerikaanse GI besondere slaankrag gegee. Hy het nie nodig gehad om elke keer die grendel terug te slinger en vorentoe te stop nie; hy kon maar net die sneller trek.

Die wapensmede van daardie tyd was reeds baie bedrewe met die werking van die voloutomatiese wapen. Die eerste pistole en masjiengewere wat só geopereer het, het reeds in die vorige eeu verskyn. En in die Eerste Wêreld-oorlog is die geweer se lompheid in intieme gevegsituasies, soos in loopgrawe, uiteindelik aangespreek met die ontwerp en vervaardiging van die eerste submasjiengewere: Klein, snelvuurwapens wat pistoolammunisie gebruik het.

Die geweer en sy spraaksame kleinboet, die SMG, het twee verskillende situasies aangespreek. Die geweer het die infanteris se gebruiklike operasionele gevegsafstand van honderd meter en verder gevul. Onder ’n  honderd meter het die SMG oorgeneem. Dit het egter ’n  grys gevegsruim, so tussen honderd en driehonderd meter gelaat, waar snelvuur ideaal sou wees, maar waar meer slaankrag en akkuraatheid as wat die SMG kon verskaf, nodig was.

Dit was die Duitsers, immer op soek na ’n  Wunderwaffen, wat die deurbraak ontwerp het. Dit was die Sturmgewehr 44, ‘n outomatiese skouerwapen, langer en meer akkuraat as ’n  submasjiengeweer en korter, meer draagbaar, makliker aanwendbaar en met groter magasynkapasiteit as ’n geweer. Dit het ook vernuwend gewerk met samestelling deur geperste staalonderdele te gebruik. Die ammunisie was korter en nie so kragtig soos dié van ’n  tradisionele geweer nie, en is ontwerp op grond van Wehrmacht-ondersoeke wat bevind het dat by verre die meeste kontak op minder as 300 meter plaasvind en dat ’n kragtige rondte soos die Duitsers se eie 7,9 x 59 mm onnodig baie energie daarvoor ontwikkel het.

Die Sturmgewehr het alles verander. (Dis ook hoekom ek van ’n “Stormgeweer” eerder as “Aanvalsgeweer” praat. Die Duitsers het die konsep ontwerp en hulle kom die voorreg toe om dit ’n  naam te gee. Die Engelse het dit as “Assault Rifle” vertaal en dis waar ons die idee van “Aanvalsgeweer” gekry het.)  Maar dit was net die begin.

’n  Russiese tenksoldaat, Mikail Timofeiewitsj Kalashnikof, het sy eie interpretasie van die stormgeweer gebou: Die afstootlike meganiese wonderwerk, die AK47. 65 jaar later is daar nog nie ’n  betroubaarder stormgeweer gelewer nie, en dit sou die beste gewees het as dit nie vir die relatiewe pap kaliber was nie.

Die Amerikaners het hulle eie roete gevolg deur eers die M1 Garand as ’n  aanvalsgeweer te verwerk. Hulle het die geweer effe ligter gemaak en ’n  groter, en verwyderbare,  magasyn gegee. Hulle het dit die M14 genoem, maar dit was in wese net ’n  meer bruikbare langroer. Die 7,62 NATO patroon was te kragtig om met gemak op kort afstande in die gesig van die vyand te gebruik. ’n  Kleiner rondte en ’n nuutontwerpte aanvalsgeweer was nodig. Eugene Stoner het namens die Armalite-maatskappy een, wat onder lisensie deur Colt gebou is, ontwerp.

Die legendariese lugmaggeneraal, Curtis LeMay (wat die aflewering van die atoombomme op Japan in 1945 toegesien het), het sy hande op een by ’n  demonstrasie gelê, ’n  paar waatlemoene daarmee geskiet, in die liefde daarmee geval en sy status gebruik om aanvaarding deur die verskillende komitees te stormram. Die Amerikaanse weermag het dit net betyds as die M16 vir hulle onsmaaklikheid in Vietnam in gebruik geneem. Inderwaarheid was dit ’n  geweer met ernstige ontwerpsgebreke wat dit liederlik onbetroubaar gemaak het. Dit is onbekend hoeveel Amerikaanse GI’s die lewe gelaat het omdat hulle M16’s in die rysakkers van Vietnam op ’n  kritieke oomblik vasgeslaan het. Die Yanks, eerder as om die mislukking te erken, het miljoene dollars gespandeer om oplossings daarvoor te vind. Maar nou nog beskou ek die M16 as ’n  puntenerige, brose wapen. En tog het dit een onskatbare bydrae tot die Westerse arsenale gemaak: Die liggewig, hoëtrompsnelheidrondte, die 5,56 mm, NATO wat daarvoor ontwerp is.

Die koeël, in omvang en werkverrigting nie baie anders as die .222 wat Boerseuns goed geken het nie, het ontsaglike weefselvernietingspotensiaal, soos wat selfvoldane maar droë krygstuiganaliste daarvan praat. Onder 300 meter mors dit baie meer met die mens se lyf as selfs die Amerikaners se geliefde .30-06.

Die Europeërs het ’n  ander NATO-rondte, die 7,62 x 51 mm rondte vir hulle stormgewere gebruik. Die beroemdste van hierdie wapens was die FN FAL. Omdat die SAW in hierdie militêre dampkring was, het hulle die FN in die vroeë sestigs as hulle eerste stormgeweer opgeneem en dit later in metrieke dimensies self vervaardig. Dit was die ikoniese R1 waarmee die troepe volk en vaderland verdedig het.

Die R1 is ’n geweerman se geweer. Dit is ’n  elegante wapen wat maklik in die skouer lê en fynskiet bewerkstellig. En tog bevat dit presies die gebreke van die M14 – die kaliber, veral vir dienspligtige dorpsjapies, was net te kragtig. Die magasyn het ’n  relatiewe karige 20 patrone gehuisves. Boonop is dit geensins ’n robuuste geweer nie. Dit verg deurlopende sorg om ’n  R1 in gevegstand te hou en in die deurnat, stof en modder van die Operasionele Gebied was dit ’n  komplikasie. Die troepe het eers die omvang daarvan ingesien toe hulle begin het om AK47’s van slagvelde te herwin en gesien het hoe hierdie Rus net aanhou skiet, of dit nou vol stof, spinnerakke of modder is.

’n  Loopgraafdenker wat hierdie dinge ontleed het, moes tot een gevolgtrekking gekom het: As daar maar net ’n stormgeweer soos die AK met ’n  goeie kaliber was. Al die tyd was daar toe net so ’n  krygswonderwerk, die Israelse Galil, en in 1982 toe kry ons hom ook, begin homself maak, effe meer robuust met ’n saamgesteldeplastiekkolf, -hand- en voorste greep, en die opvoukolf is merkbaar langer want die SAW-troep is groter as sy Israelse eweknie. Gewere in die ou SAW het nie naastenby sulke kleurvolle name as hulle voertuie gekry nie. Dié roer word toe nie die Spoegslang of die Bysteek of die Bobbejaanspinnekop nie. Dit is bloot die R4.

Wat ons by die Israeli’s gekry het, was in wese ’n  AK47 ingeruim vir die dodelike 5,56 NATO-rondte. Die werkende dele is identies aan Kalasjnikof se ontwerp. Uiterlik is dit heel anders en die enigste ooreenkoms met die AK is die piesangvormmagasyn en, vir die fynkykers, die rompdeksel. Maar in sy siel is die R4 ’n  AK en dit is so betroubaar as wat van enige stormgeweer verwag kan word.

Die R4 is vir die eerste keer aan troepe uitgedeel die jaar voor ek weermag toe is. Die eerstes was so soort van ’n  oorbruggingswapen met meer tradisionele kenmerke soos ’n  voorste handgreep van hout. Dit het ook ’n  koddige drahandvatsel gehad, so ’n  uitswaaibare plastiek- en staalarmpie. Dié geweer is gou vervang met ’n  wapen wat die SAW sou help om legendes regoor die Operasionele Gebied en in Angola te skryf. So ’n  wapen was die R4 genaamd Brünnhilde.

Die inwerkingstelling van die R4 as die standaardstormgeweer van die SAW het my met afgryse vervul. Ek was ’n  R1-man vandat ek die eerste keer as penkop een gesien het. Daar was iets so dodelik en slank aan die R1. Maar ai, die R4 was ’n  lelike klein bliksem veral met die dik, kantige voorste greep. Estetiese oorwegings ter syde gelaat, was ek in die keuse van kaliber geskok. Ek sou goed kon glo dat daar ’n  kommunistiese komplot was om die Suid-Afrikaanse soldaat hopeloos kwesbaar voor sy vyande te laat. (Ek sou later van beter leer.)

Ek het teen alle hoop in gehoop dat ons tog R1’s sou kry. Maar nee. My R4 is in Januarie aan my, ’n  rou rower, in 1SAI oorhandig. Ek en die res van my peloton het langs ’n  hoë toonbank in die magasyn afgeskuif tot by ’n  korporaal wat met groot konsentrasie my rang, magsnommer en naam in  ’n  register aangeteken het. ’n  Oumanklerk agter hom het sy hand in ’n groot oliedrom gesteek. Daar was ’n  bondel gewere in die oliedrom. En olie. Hy het ’n  druipnat, olieglibberige wapen uit die drom getrek, dit pens-na-bo gedraai, die olie met  ’n  lap van die nommer weggevee en dit vir die korporaal gelees, en toe die glinsterende, oliedeurweekte roer aan my oorhandig.

Om van daardie olie ontslae te raak, was ’n  onbegonne taak, een van daardie onmoontlike dinge wat die weermag van die troepe verwag het, en wat hulle tog reggekry het met kookwater, seep, lappies van elke grootte, naelborsels, deurtrekkabels, kwassies, tandestokkies en ander amptelike en minder-amptelike implemente.

Sonder olie was die wapen aan my toevertrou om die goddelose mee te verdryf ’n  kort (net oor ’n  meter) kantige, gesette wapen, dofswart van die riffels agter die skouerkolf tot die ring voor aan die blitsbreker. Die romp is van uitgeperste metaal, die agterste handgreep ’n  nou, hol balk van polimer. Die voorste handgreep was dik, onhandig en het die R4 se ware koddigheid verberg – dubbeluitslaanpootjies met ’n  draadtang aan die voorkant.

Daardie pootjie-en-draadtangkonstruksie was altyd my grootste beswaar teen die R4. Die geweer het net nie soos ’n  R1 of ’n Lee Enfield of K98 Mauser in die palm gelê nie. Boonop was dit ten strengste verbied om die geweer af te vuur terwyl dit op die pootjies is. Ek weet van geen draad wat in aggressie met die tang geknip is nie, en dit het buitendien net gehou totdat jy probeer het om ’n   slot daarmee af te byt (in die dae voor jy geweet het wat die regte manier is om ’n  slot van ’n  trommel af te breek.)

Daar was net twee bykomstighede vir die R4 gelys: Magasyne en ’n  draband. Die draband was ’n  breë gordel van dik seil gemaak. Elke troep is deur opdrag van hoër gesag verplig om sy magsnommer met ’n  merkpen daarop te skryf en elke troep is deur groepsdruk genoop om sy meisie se naam by te voeg. Teen hierdie tyd was dit al vir my duidelik dat geen opgevoede man met die naam van sy meisie in  hierdie betrokke openbare forum te koop loop nie en ek het ’n  fiktiewe een neergeskryf. Ek was in ’n Wagner-fase en die Walkuur, Brünnhilde, was ’n  gepaste virago om ’n  implement van oorlog na te vernoem. So, in gotiese skrif, het die naam Brünnhilde, op my geweerband verskyn. Natuurlik is dit daar opgemerk en natuurlik het ek nie my bedrog erken nie. Maar ai, die gloeiende stories wat ek van dierb’re, gewillige Hilde vertel het!

Aanvanklik, soos in enige goeie verhouding, was die R4 net daar om vir ons ergenis te veroorsaak. Dit is as oefenimplement gebruik – hou dit horisontaal voor jou tot jou elmboë verkrummel. Dit  het ook in baie kompakte vorm ’n  legio moontlikhede om diep in die moeilikheid tydens ’n  inspeksie te kom, gebied. Offisiere het die misterieuse vermoë gehad om ’n  stoffie, ’n  oliespikkel, ’n  donsie in die fynste, diepste gleuf op te spoor en oorvloedige offisiële wraak was onvermydelik die gevolg. Ek is net eenkeer gestraf tot kasernebeperking (CB!) en dit was vir ’n vuil geweer.

Ons  het ook met die goed gehardloop.

Voor ’n  2,4 weeg ’n  R4 4,5 kilogram is daar gesê, en aan die einde daarvan 45 kilogram. Geen geweerband is toegelaat  nie en met die aftik van tyd en die aflê van treë word die geweer al hoe moeiliker om te dra. Jy probeer dit soos ’n juk oor jou skouers, of soos ’n  boomstomp oor die een skouer, soos ’n  baba in die arms of ’n  skooltas in die een hand dra, maak nie saak nie, die ding word net swaarder, bonkiger en lomper.

Ons was voornemende skutters en die weermag het baie  klem op geweeropleiding – skietkuns soos hulle dit genoem het – gelê. Daar was ’n  uitgebreide teoretiese komponent wat met baie praktiese oefening afgewissel is, weke voordat ons die wapens vir die eerste keer op De  Brug kon afvuur.

En iewers in die proses het ek en Brünnhilde mekaar tog gevind. Dit was so ’n  beskeie, praktiese, doeltreffende wapen sonder fieterjasies. Dit het nooit voorgegee om iets anders te wees nie en soos ons later sou leer, wanneer jy iets van jou R4 verwag het, het dit gepresteer – so anders as die R1 wat erg wispelturig kon wees. Iemand in die weermag het die onderdelebenaming van die wapen in die lekkerste Afrikaans weergegee, en daarin kon ek my ook verlustig: Blitsbreker, spangreep, romp, rompdeksel, rollende sluitstuk, gassuier, gassilinder…

Ons het elke onderdeel so goed leer ken en kon die geweer in sekondes aftakel en weer aanmekaar sit. (My buurman se seun het die anderdag sy pa se LM5, ’n  siwwieweergawe van die roer wat ek geken het, beetgekry. Neels sê toe vir hom dat as hy die voukolf kan opvou, kan hy dit kry. MWee het sy elfjarige gewig en krag met alle mening aangewend, maar kon nie in die operasie slaag nie. Toe ek weer daar uitslaan, daag hy my uit om dit te doen en oorhandig die geweer. Ek het nie daaroor gedink of die roer besigtig nie. My hande het eenvoudig oorgeneem, algeheel in outomaties, die linkerhand het die handgreep gevat, die rompdeksel na regs gedraai, die regterhand het die kolf gevat, die twee hande het kolf en romp teen die veer na mekaar gestoot en die kolf is opgevou. Ek was net so verbaas soos MWee.)

Ek het my eerste skoot met Brünnhilde geskiet op die klipharde, stowwerige skietbaan van Generaal De Wet Opleidingsterrein te De Brug. Die skoot het so ’n  plat knal, soos ’n  sweepklap, anders as die R1 se meer robuuste blaf of die AK 47 se “pôp!”-geluid wat mens aan ploffende springmielies laat dink. Lêhouding, voorste visier in die kring gevorm deur die agterste visier, rus die teiken op die balkie… trek die vinger. En daar is hierdie gevoel van die geweer werklik as ’n  masjien, van vere en slagpenne wat slaan, van afgetapte gas en suiers en silinders en stawe en hake en terugslagvere, alles in presiese, afgemete volgorde in werking gestel deur ’n  millimeterlange beweging van die voorvinger.

Die ware vreugde van die R4 is om daarmee te skiet. Dit byt nie, skop nie noemenswaardig terug nie, ruk nie die loop op nie; net ’n  stampie teen die skouer en ’n dun, langwerpige missiel skroei deur die atmosfeer teen meer as ’n  1,000 meter per sekonde. Bliksem! Ons het baie geskiet in Basies, maar nooit genoeg vir my nie. Ek het uitgevind dat die R4 heerlik akkuraat is, ’n  regte duimspykerdrukker tot op 300 meter. Ons was nie toegelaat om op voloutomaties te skiet nie, maar selfs in semi-outo kon ’n  mens van ’n  indrukwekkende hoop ammunisie in ’n  baie kort tydjie ontslae raak.

In Tweede Fase – ’n  konvensionele-oorlogvoeringopleidingsfase – was die klem wel en deeglik op die verhouding tussen skutter en sy geweer. Ons het kilometer na uitmergelende kilometer geoefen aan vuur-en-beweging. Dit is die klassieke infanteriemetode om na ’n  doelwit op te ruk. Die idee is om oor ’n  kort afstand te storm, neer te slaan, ’n  paar ontwykende bewegings uit te voer, ’n  paar skote op die front te vuur en om dit alles weer te herhaal. Wat ’n  meedoënlose oefening in oënskynlike futiliteit is, word opwindend wanneer die aksie met skerppuntammunisie herhaal word. Om in kompanieverband op ’n  vasgestelde doelwit af te storm, so adrenaliendeurtrek dat die harde De Brug-grond so onintimiderend as ’n  verebed word, met die geraas van stewels, krete, bevele en… beste van alles, die plat knalle van R4’s en die hees gestotter van LMG’s op die flanke, is infanterieparadys.

In een so ’n  aanval het ek en Brünnhilde vir die eerste keer bloed getrek: My eie. Ek het die grond hard getref, gerol, gekruip, die omgewing bespied, ’n  teiken gekies, gemik en die sneller getrek – onbewus dat in al die bedrywigheid my voorste elmboog terug geskuif het en my pinkie in die werkende dele van die geweer geskuif het. Die terugslagveer het die sluitstuk soos ’n slagyster toegeslaan en die voorkant van my pinkie het soos ’n  druiwekorrel onder ’n  hamer oopgebars. Daar was bloeddruppels teen die voorste visier, al langs die geweer af, in my gesig en tot op my staaldak. En dit was heerlik, heerlik, heerlik… daardie skerp pyn, ingemeng met die liggaam se krisissappe. Ek was op my voete, skielik reg voor die doelwit.

“Bullets!” gil Korporaal Digue agter my. Brünnhilde kom teen my skouer, die ring van die agterste visier tussen die twee pilaartjies kom voor my op en ek sien die balk van die voorste visier. Wlak!Wlak! En ek en Brünnhilde storm nog nader aan die uitwissing van die vyand.

Van die tweede helfte van Basies, deur die grootste gedeeltes van Tweede Fase-opleiding, tot aan die einde van jou operasionele aanwending, was jou geweer voortdurend óf byderhand, óf aan jou lyf, die R4 tipies met kolf opgevou, loop ondertoe, aan die band oor jou regterskouer teenaan jou rug. Jou geweer het saamgegaan kantien toe, as jy gaan stort, terwyl jy ’n  loopgraaf grawe, by jou in jou kajuit terwyl jy Buffel of Ratel bestuur. Dit was by jou in die vrieskoue van De Brug, die smeltende hitte van Ovamboland, die modder van Angola. Dit was by jou terwyl jy huis toe verlang het, saam met jou pelle te veel gedrink het, die dood van makkers betreur  het en die lewe gevier het. Jou natuurlike stand was met jou R4 teen jou. Daar sou tye kom wat jy skielik in kouesweet besef jy is onvolledig, op ’n  manier gebreklik en in die moeilikheid want: Jou R4 is nie by jou nie! En dan besef jy jy is by die huis op verlof.

Daardie stomp, swart geweer was saam met my deur opleiding en twee gemeganiseerde operasies in Angola. Dis eensaam in ’n  loopgraaf in die donker, onseker wat daar is en nader beweeg. Maar dan vryf jy oor die rompdeksel van Brünnhilde en jy weet dat as daar ’n  slaagsraking sou wees, jy en jou R4 iets te sê sal hê.

In ’n  rustiger tydjie het die rang besluit om die troepe se dreigende verveeldheid met ’n magsvertoon aan te spreek. ’n  “Magsvertoon” in dié konteks was om al wat ’n  wapen en ’n voertuig is in ’n  uitgestrekte linie uit te span en dan, op ’n  bevel, vir almal om al die ammunisie in hulle besit min of meer rigting vorentoe leeg te skiet.

Van my vriende was nie opgekekkel oor die dag se vermaak nie en ek het hulle magasyne versamel. Op die vuurfront het ek hulle kruis en dwars tot so middellyfhoogte opgestapel. Met die vuur! het ek die R4 gespan, die kieser op “A” vir “Afrikaans” (outomaties) gestoot, Brünnhilde tot teen skouer gebring en die geweer het gehakkel teen my skouer en vonke by die blitsbreker gestrooi. Magasyn leeg! Haak uit en laat val! Volgende in… Teen die skouer! Knal!knal!knal! Leeg. Minute later kon niemand verder as twee meter deur die dik bank rook en stof sien nie. En al my magasyne was leeg. Ek het digby ’n  duisend rondtes afgevuur en die loop het behoorlik gegloei; het so warm geword dat die voorste handgreep so breibaar soos klei geword en losgekom het. Maar Brünnhilde kon dit vat en daar was nie ’n  enkele storing nie.

In Februarie 1984 is ons sonder waarskuwing aangesê om aan te tree en ons gewere na die wapenstoor te neem. Daar het ek vir Brünnhilde oorhandig. Dit was die laaste keer wat ek die kort, bonkige geweertjie gesien het. In plek daarvan het ek ’n  splinternuwe R4, dié keer in ’n  donker, egalige bruin, ontvang. Dit is die geweer wat ek tot aan die einde van my loopbaan gehad het. Ek het nooit dieselfde verhouding daarmee as met my eerste weermagroer opgebou nie, maar nou ja, ons is nie saam deur naastenby dieselfde nie.

Ek en my ou weermagvriende droom van ’n onafhanklike staat waar die Afrikaner deur homself geregeer sal word en net vir homself verantwoordelik sal wees. Ek glo – ek wéét – dat hierdie wonderlike land op ’n  vreedsame manier bekom kan word. Maar ek is nie naïef nie. Ek weet dit sal beveilig moet word, indien nodig met die roer teen ’n  oormag.

As dié dag sou kom, en ek en my pelotonmakkers is te oud vir vuur-en-beweging, plaas ons in die voorste verdedigingslinie, verwyder ons rolstoele. En as ons elkeen ’n  R4 het, wie die goddelose teen ons ook al is… laat hulle kom!

Фильчаков Харьков

Comments

Leave a Reply