praag.co.za

Leeus hap mis

Conrad Smith

Written by

in

Conrad SmithDie braaivleisvraag waaroor die afgelope maande getwis is, is of die Leeus se Curriebekersukses van verlede seisoen die werk van kampioene of ’n lukrake gelukskoot was. Die skeptici het volgens gisteraand se telbord genoeg ammunisie om oor te haal. Maar fyner ontleding van die wedstryd, wat die Leeus teen die Hurricanes met 28-30 verloor het, wys dat die dispuut nog lank nie opgeklaar is nie.

Gesoute Leeu-ondersteuners moet in die versoeking wees om in die ou bekende gelatenheid, beklemtoon met die ophaal van die argelose skouer vyftien sentimeters bo die gekweste hart, te verval. Hierdie neerlaag is ou bekende terrein. Dit is immers die vyfde keer in die laaste vyf kragmetings teen die Hurricanes wat die Leeus afgestof is. En tog is daar beduidende verskille met die verlede. Vroeër jare wanneer die Leeus verloor het, was dit omdat hulle eenvoudig nie goed genoeg was nie. Wanneer hulle nader aan ’n oorwinning gekom het, was dit weens moed wat groter as talent is en/of ’n dubbelskeut geluk.

Die Leeus van hierdie jaar ís goed genoeg om te wen. Die beste span het verloor, en ja, ons sal die “scoreboard checks” Oom Boy.

Dit was geensins ’n span in volle vaart wat verloor het nie. Die vroegseisoengriep is nog onder lede. Op die aanval is hulle nog nie so deurdringend as wat ’n mens van hulle kan verwag nie en hulle het ’n bepaalde swakheid ontwikkel om die bal in die botsing te verloor. Hulle primêre eerstefasewapen – ’n bulskrum – is na die eerste kwart van die wedstryd geneutraliseer toe plaasvervangerstut, CJ van der Linde afgehinkepink het met ’n bobeenbesering. Wedyweringslose skrums het nou gegeld en daarmee kon die Hurricanes se losvoorspelers vinniger onttrek om die aanvallende Leeus se ruimte in te kort.

Die punteinsameling het met ’n Bowden Barret-strafskop begin. Minute later het die Leeus die Hurricanes teen die doellyn vasgedruk en ’n ondreigende laterale aanvalle geloods. Die bal is eenvoudig aangewip van speler tot speler, met blykbaar elkeen van hulle wat geweier het om die lyn reguit te trek. Die laaste aangee was na Jaco Taute en hy het geen reg gehad om te dink hy gaan ’n drie uit dié situasie druk nie. Maar hy het. Hy het daardie twee-drie treë met die mees ongesofistikeerde krag gewen en toe gevind sy arm is lank genoeg om die doellyn te haal.

Die Leeus het die afskopbesit op die grond gemors en het onkant gedwaal. Barrett het getref en die telling was 6-5. ’n Minuut later het Jaco Taute, binne sy eie halfgebied, die drywer op die bal getrek vir ’n strafskop, en die telling was 8-6.

Nie lank daarna nie het die bal die Leeus weer ontglip, die Hurricanes kon aanval en die heelagter, André Taylor het ’n gespierde lak van Michael Killian vir ’n drie in die hoekie oorleef. Die Hurricanes, voor, 14-8 met halftyd.

Na die openingstrofe van die tweede helfte het albei spanne ’n strafskop behaal, maar ’n teenaanval van die Leeus het die Hurricanes se verdediging versplinter. In die gebruiklike harwar was dit Franco van der Merwe wat sý arm die keer lank gerek het vir ’n drie.

Wat volg was twee minute waarin die Leeus swaar gekwes is. Met ’n aanval in volle swang het Josh Strauss die bal in ’n lak verloor. Conrad Smith het die bal vorentoe geskop en agterna gesit, net-net betyds weer daar gekom en wéér van die grond af geskop, dié keer nie reguit nie, maar dwarsvoet soos die spaantjie van ’n spykertafel kant toe waar die haker Dane Coles dit met ’n oop doellyn bymekaar gemaak het. Pas na die heraanvang het die Leeus wéér die bal weggegee en Barret het oopveld toe geskop waar die bal ongure manewales aangevang het om ’n Hurricanes-speler eerder as ’n Leeu te vind. Corey Jane het ingestoom vir ’n maklike drie. Nie een van dié twee drieë is gekroon nie, maar skielik was die Leeus 27-18 agter.

Die antwoord op die sommetjie was dat ’n strafskop en ’n verdoelde drie die yster sou wees om die kastaiÏngs uit die kole te hark. Die strafskop het geredelik gekom en nou het dit gelyk asof die Leeus se drie-en-twintigste speler – Tannie Ellispark en haar hoë lugdruk – beslissend sou deelneem. Die Hurricanes was sat gehardloop en het verniet diep gesuig vir suurstof. Weereens het ’n vlaag aanvalle die Leeus tot teen die doellyn gebring en hierdie keer was dit Butch James, van die bank af as plaasvervanger, wat die verdediging teruggeklop het met sy eie lyf en toe die aarde getref het vir ’n drie. Met agt minute oor was die Leeus een punt voor en dit het gelyk asof daar vir hulle nog meer wag. Hulle was doelgerig, skerp, verbete…

Maar die Hurricanes het die bal gekry en behou en begin speel om ’n strafskop uit die Leeus te wurg. Die een vlak aanval na die ander, links-regs, links-regs, ’n tree, twee tree op ’n slag in die middel af, die een fase uit die ander gemaak, en uiteindelik was dit Butch James wat oor die onkantlyn gedryf het, vlak teen die pale. Die Hurricanes het oorgeskop en die Leeus se desperate doodsaanvalle oorleef om met twee punte te wen.

Patric Cilliers is as Man van die Wedstryd aangewys en daar is geen argumente van my af nie. Hy het soos ’n bees geskrum toe hulle nog mag geskrum het, was elke keer met die bal onder die arm ’n swaar slag om te verwerk, en het soos ’n tjopkerwer gelak. Maar as dit my stem was wat die M.v.d.W. aangewys het, was dit Alwyn Hollenbach. Hierdie binnesenter begin al meer lyk asof groen en goud die regte kleure vir hom is. Hy is groot, het massiewe teenwoordigheid in die middelveld, vind gapings of hamer eenvoudig een deur die verdediging. Sy verspreiding is goed en hy perk homself nie streng in sy kanaal in nie en is dikwels eerste by om soos ’n goeie losvoorspeler skons te bak met die krummels besit wat op die grond lê of om ’n gelakte makker te help om die bal te herwin. Daar is een ander agterspeler met dieselfde aura, veggees en finesse as hy en dit is Jaco Taute, ook in die Leeus se agterlinie, op heelagter.

Die Leeus het soos die Leeus van ouds verloor. Maar die ander spanne sal skrander wees om hulle nie met hulle voorgangers te vergelyk nie. Wanneer alles reg gaan loop en hulle net die bal beter in die botsing beskerm, gaan hierdie Leeus nog baie spanne seermaak voor die seisoen verby is.

Данильченко

Comments

Leave a Reply