Die Afrikaner: ‘n nuwe optimisme

In 2005 het ek met ‘n mate van intensiteit begin om aan die politieke prosesse van die land deel te neem deur die Afrikaner se krisis te ondersoek en te beskryf. Dit was moontlik die donkerste tyd in die volk se geskiedenis. Ons val was hard en ons het gesamentlik winduit rondgestaan in die oorblyfsels van wat ons voorgangers in die geil jare van Afrikaner-heerskappy opgebou het. Niemand het blykbaar ‘n werkbare oorlewingstrategie vir die volk gehad nie en die enigste Afrikaner-stemme wat enigsins volume gehad het, was dié van oorlopers soos Max du Preez en Christi van der Westhuizen wat darem té skril en heeltemal voortydig oor die snelnaderende algehele verdwyning van die Afrikaner gejodel het.

Nie net was ons aansienlike mag deur die verraad van ons leiers van ons gestroop nie, dit is aan ons mees verbete vyande oorhandig om teen ons te gebruik. As dit nie was dat ons soldate die kruipende pes van wêreldwye marxisme vir dertig jaar vertraag en buite ons landsgrense gehou het nie, en as ons nie vir die nuwe heersende elite ‘n sekere monetêre waarde gehad het nie, en as dit nie was dat die ANC se vernaamste internasionale borg sy imperiale wensdenkery moes laat vaar het nie, het dit die nuwe swart regering vrygestaan om ons finaal te verpletter.

Erger nog, ons was die slagoffers van ons eie mismoedigheid en het versteen gestaan en toekyk hoe ons kultuursimbole vernietig word, ons universiteite en skole ingeneem word, ons taal geminag en ons dorpsname verander word. Die Afrikaner het werklik oor die afgrond geleun en in die dieptes van sy eie laaste sonsondergang getuur, of dit nou was weens die aggressie van ons vyande of ons eie ongeërgdheid.

Nou, egter, agt jaar later, as jy my vra watter volk is die beste toegerus en in posisie om die toekoms in Suid-Afrika te oorleef, sal ek sonder huiwering die Afrikaner kies, en dit juis weens ‘n uitsonderlike verloop van wêreldwye omstandighede en die merkwaardige oorgang tussen epogge.

Ons vyande het ons verslaan met die masjinerie van ‘n verdwynende wêreld: Ekonomiese mag onder hulle ystere beheer, internasionale isolasie en propaganda. Soms het ons eenvoudig nie die implemente vir weerstand gehad nie; ander kere het ons bloot versuim om vas te skop. Die feit wat Orwell se ou Grootboet in die tande moet kyk, is dat sy mag geheel en al ingemessel is in ‘n wêreld wat binnekort waarskynlik nie meer sal bestaan nie.

O, kyk, ons teenstanders is ontsaglik groot en magtig, maar hoe groter en magtiger iets of iemand word, hoe moeiliker vind hy om iets wat nie groot of magtig is nie, raak te slaan. Salomo het duisende jare gelede hom reeds verwonder aan hierdie beginsel. ‘n Akkedis, beduie hy, is ‘n diertjie wat met die hand gevang kan word en tog is hulle in koningspaleise te vinde.

As daar een hedendaagse nasie is wat allergies vir dié beginsel behoort te wees, is dit die V.S.A. Hulle is militêr gesproke die onbetwiste swaargewigkampioen. Hulle krygsmag is tegnologies en toerustinggewys waarskynlik nou nog magtiger as al die ander lande s’n saam. In 1991 het hulle die vierde grootste weermag in die wêreld veelgeroemd binne 100 ure vergruis. Hulle beskik nou nog oor ‘n arsenaal kernwapens wat die vermoë het om hopies uitgebrande koolstofkorrels van die hele mensdom te maak. En tog kon hulle nie keer dat ‘n anderhalfdosyn doelgerigte fanatici duisende burgers in New York en Washington met Amerika se eie vliegtuie afmaai nie.

Hulle het ook, byvoorbeeld, nie ‘n antwoord gehad vir een ontgogelde jongman wat met ‘n trokkie vol diesel en kunsmis ‘n regeringsgebou in Oklahoma opgeblaas en meer as 160 mense om die lewe gebring het nie.

Geen nasie probeer meer verbete om hulle akkedisse te vang nie, maar dit word vir hulle al hoe moeiliker. Om ‘n akkedis te vang moet jy sy gedrag, vermoëns en habitat ken, maar die probleem ontstaan wanneer die reptiel van gedaante en gewoontes verander. Niemand kon die verskyning, groei en mag van die internet voorspel nie. Dit het ‘n hele nuwe gebroedsel akkedisse vrygestel.

Met al hulle mag kon twee regerings, dié van Amerika en Swede, en die hele magtige Hollywood met falankse prokureurs aan die voortou, nie ‘n roofstroomwebwerf, Pirate Bay, wat deur drie bleek jong Skandinawiërs bedryf word, vir een enkele dag van lyn af haal nie.

‘n Hele nuwe geldstelsel, geheel en al efemeer, Bitcoin, verhandel vir miljoene dollar. Dit word nie deur goud of nywerheidsuitset ondersteun nie; net deur ‘n algoritme. Al die ontwikkelde lande saam kan niks doen om dit te stuit nie.

Grootboet sidder by die gedagte, maar die internet is besig om ‘n alternatiewe ekonomie te skep en dit is een waaruit die wêreldmagte nie hulle kilogramme vleis kan sny nie.

Hierdie pasafgelope week het ‘n Amerikaanse student, Cody Wilson, suksesvol ‘n pistool met ‘n 3D-drukker uitgedruk en afgevuur. Grootboet sluk swaar. Dink net aan die implikasies: Binnekort sal enige pokkel met ‘n rekenaar, ‘n internetverbinding en ‘n 3D-drukker (tans kos ‘n bruikbare een sowat R10 000) ‘n ontwerp van die web kan aflaai en vir homself ‘n vuurwapen druk, ‘n wapen sonder reeksnommer en, omdat dit van plastiek is, amper onopspoorbaar. Grootboet kan homself net handhaaf as hy in volkome beheer is. Wanneer mense begin om hulle eie geld op die internet uit te gee en die vermoë ontwikkel om hulle eie wapens te druk van alle dinge, is Grootboet se mag besig om te kwyn.

En watter volk in Suid-Afrika is die beste in posisie om hierdie hoogtegnologiese golf te ry?

Die regstreekse gevolg is dat die regering toenemend irrelevant raak. Mense begin tegnologie te gebruik om hulleself te beveilig en om sonder belemmering oor landsgrense heen te werk en handel te dryf. Die Afrikaner met sy ingebore skranderheid, wilskrag en ondernemingsgees is uiters gemaklik in hierdie nuwe wêreld.

Ons moet drie tegnologiese vraagstukke oplos om onafhanklik te wees waar ons ook al leef: Ons moet kos kan verbou, onsself beskerm en elektrisiteit opwek. Tans is ons nog afhanklik van die nasionale kragnetwerk, maar teen die koers wat Eskom pryse verhoog, sal alternatiewe, privaat opgewekte energie een van die dae goedkoper wees. Vir die ander vraagstukke sal daar oplossings wees en jy kan maar weet die Afrikaner sal dit uitwerk.

Albert Einstein was van mening dat die Derde Wêreldoorlog nie, soos die Tweede, met kernwapens beslis sal word nie, maar met klippe en stokke. Daarmee het hy aangedui dat hy van mening is dat die hele wêreld na ‘n na-tegnologiese epog gaan beweeg. Hierdie is ‘n scenario wat al hoe meer mense voorsien. Tegnologie en die wêreldekonomie is baie styf inmekaargeryg. Ná 2008 se skrikmaker is dit skielik heel denkbaar dat die steierwerk rondom die wêreldekonomie baie skielik kan wegval.

As dít gebeur, slaan die staatsmasjinerie vas. Lande se vermoë om elektrisiteit op te wek, sal ingrypend belemmer word en as dit gebeur, verdwyn massamedia onmiddellik en daarmee saam ons opponente se vermoë om die waarheid in propaganda op te los en om die openbare mening te manipuleer.

Ons sal dan sowaar in ‘n nuwe duister tydperk wees, een sonder moderne tegnologie waarin net die taaiste, vindingrykste, geduldigste volke sal oorleef. In Suid-Afrikaanse terme, stel ek voor, is dit die Afrikaner.

Aanpasbaarheid is ‘n voorvereiste vir oorlewing. Die Afrikaner het die afgelope twintig jaar opnuut sy verstommende vermoë om aan te pas gedemonstreer. Ons sal onsself in ‘n hoogtegnologiese wêreld handhaaf. Ons sal dit ook doen in ‘n wêreld van stokke en klippe. Ons is die akkedis, mnr. Grootboet. Jy dink maar net jy kan ons vang.

Afrikaanse skole in Gauteng: die laaste loopgraaf

Geagte leser, ons verkeer met ons rug teen die muur. As ons nie nou soos een man opstaan om ons kinders se opvoeding in Afrikaans te beskerm nie, is ons vreemdelinge in ons eie land. Nie net dít nie, maar ‘n gebrekkige skoolopvoeding gaan ons kinders met rasse skrede laat verarm en ons gaan regtig as ‘n halfgeletterde, derdewêreldbevolking eindig.

Om dit te keer, sal u PRAAG in ons stryd moet ondersteun deur hier ‘n debietorder uit te neem. Ons het ‘n strategie om ons skole te red, maar sonder geldelike steun gaan ons nie slaag nie.

Waaroor gaan dit?

Donderdag by die Grondwethof in Johannesburg het ek naakte Afrikanerhaat aanskou: Enkele uitlanders wat ‘n groep gehuurde swart betogers teen model-C-skole aanhits, met as primêre teiken Hoërskool Fochville wat tans moedig teen die GOD (Gautengse onderwysdepartement) veg om Afrikaans te bly. Daar is selfs militêre liedjies deur die betogers gesing. Word daar nou teen ons kinders en hul skole oorlog gemaak? het ek gewonder.

Dis ‘n felle aanslag! Nie net teen Afrikaans nie, maar ook teen die Afrikaner. Daar woon meer Afrikaners in Gauteng as in enige ander provinsie: ongeveer 1,5 miljoen. Al die skole en opvoedkundige infrastruktuur wat ons hier vir ons kinders oor meer as ‘n eeu opgebou het, verkeer tans in gevaar.

Met gesinne wat verbrokkel het, en werkende enkelouers wat nie tyd het om hul kinders ‘n Afrikaanse opvoeding te gee nie, is die plaaslike staatskool nog die enigste plek waar iets van die Afrikaanse kultuur en tradisies aan die volgende geslag oorgedra word. Vat jy dit weg, is die volgende geslag Engels, multikultureel, “Suid-Afrikaners” wat hulself soos die res aan drank en dwelms vergryp. Hulle sal eenvoudig deel van die “mensvleisbredie” word, soos N.P. van Wyk Louw dit iewers beskryf het.

Skielik verstaan ek 1994 beter. Soos Paul Kruger aan die uitlanders gesê het: “Dis nie stemreg wat julle wil hê nie, dis my land!” Die land het hulle reeds gekry, nadat FW de Klerk mense op laakbare wyse ‘n rat voor die oë gedraai en sonder seremonie aan die ANC oorgegee het.

Ons het reeds alles verloor: Yskor, Eskom, Transnet, die weermag en polisie wat deur Afrikaners opgebou is en waar duisende van ons mense eens gewerk het. Ons vlag, ons volkslied, ons geskiedenis, is ons ontneem. Al wat oorbly, is ons skole. Daardie skole is met ons belastings betaal en deur geslagte van ons onderwysers deur harde werk tot stand gebring.

Nou het ‘n giftige Engelse vrou wat die Gautengse LUR vir onderwys is, Barbara Creecy, besluit dat die horde kinders van immigrante wat oor ons grense stroom, gebruik kan word om Afrikaanse kinders uit hul eie skole te verdryf. Hierin word sy deur ‘n haatdraende Anglo-Amerikaanse nie-regeringsorganisasie, Section 27, ondersteun.

‘n Gesoute Afrikanerjoernalis skryf vandeesweek aan my: “Nugter weet wat Section 27 wil bereik. Wie befonds hulle? Ek weet net dieselfde mense wat by die Treatment Action Campaign betrokke was, is nou ook by deel van hulle.”

Sover dit aksiegroepe betref, is Section 27 ‘n olifant en PRAAG ‘n foksterriër. Op die organisasie se webblad verskyn die foto’s van 23 personeellede, waarvan die meeste oor regsgrade of nagraadse regskwalifikasies beskik.

Section 27 het onder andere die onderwysdepartement van Limpopo in die hof probeer dwing om betyds voorgeskrewe boeke in sekere skole te lewer. Waarom het dié magtige NRO met al sy regsgeleerdes nou die mes in vir Hoërskool Fochville en ander Afrikaanse skole?

Die Britse uitvoerende beampte, Mark Heywood, het aan my verduidelik dat hy reeds sedert 1982 ‘n stryd teen Afrikaners voer. Hoewel ons van alle politieke mag gestroop is, beskik ons nog oor eie, eentalige Afrikaanse skole. En dit is ‘n onding. Op dieselfde manier as wat linkse organisasies in die Suide van Amerika die blankes deur hofsake op hul knieë gedwing en uit die openbare skoolstelsel gedwing het, moet Afrikaners nou ook hardhandig deur mev. Creecy en Section 27 uit hul skole geboender word. In soveel woorde het Heywood dit nie gestel nie, maar die bedoeling is duidelik: Afrikaanse skole behoort aan die staat. En die staat (mev. Creecy) sal besluit wanneer so ‘n skool vol is en veral watter taalmedium daar gebruik mag word.

Die Skolewet het tot dusver die mag aan die beheerraad van ‘n skool verleen om die taalbeleid vas te stel. Soos ons egter in die geval van Hoërskool Ermelo in Mpumalanga gesien het, het daardie wet die onderwysdepartement nie verhoed om die hoof, mnr. Koos Kruger, summier af te dank en uiteindelik die skool se taalbeleid te verander nie.

Die saak wat tans tussen die GOD en ‘n Engelse laerskool in die noorde van Johannesburg, Rivonia Primary, aan die gang is, gaan juis oor die magte van die beheerraad. Die advokaat van die departement, Matthew Chaskalson, voer aan dat die staat die skool besit en daarom kan maak en breek soos hy wil. Hierteenoor meen die skool dat die beheerraad oor die magte beskik om te bepaal wanneer ‘n skool vol is.

Chaskalson se pa, Arthur, was Mandela se advokaat tydens die Rivoniaverhoor. Is dit toevallig of sien ek hier ‘n komplot raak, dat daar nou op die Afrikaner wraak geneem word deur sy kinders van ‘n behoorlike opvoeding in Afrikaanse staatskole te ontneem?

Verskeie Afrikaanse skole in Johannesburg is reeds gedreig dat hul eentalig Afrikaanse beleid nie mev. Creecy, wat ‘n ruk lank in Brittanje gestudeer het, se goedkeuring wegdra nie. Soos met Fochville gebeur het, mag hulle dalk ook op ‘n dag met ‘n groep Engelstalige kinders gekonfronteer word wat ondanks alle redelikheid opsluit in die skool onderrig moet ontvang. In Engels.

Tydens my gesprekke met skoolhoofde in Johannesburg, het een en almal laat blyk dat hulle die Grondwethof se uitspraak oor Rivonia Primary en die magte van beheerrade met ‘n valkoog dophou.

Beleef ons die laaste dae van Afrikaanse onderwys? Binnekort sal die Grondwethof uitspraak lewer. En die fanatiese Brit, Mark Heywood, was Donderdag baie seker dat die Grondwethof in die guns van die anti-Afrikaanse agitators en mev. Creecy gaan beslis.

Intussen het PRAAG probeer uitvind waar Section 27 die fondse vandaan kry om ‘n hele regspan wat byna die grootte van een van die kleiner Hoërhofdistrikte se balies is, se salarisse te betaal.

Onder andere het die organisasie verlede jaar $140 000 van die South Africa Development Fund ontvang. Laasgenoemde fonds het eers as die Fund For A Free South Africa bekendgestaan, maar het ná die 1994-verkiesing sy naam verander. Dit is deur ‘n swart Suid-Afrikaanse akteur wat destyds in die VSA gewoon het, Themba Vilakazi, opgerig. Vilakazi het egter nie ‘n bietjie van sy sakgeld afgeknyp nie, want volgens die fonds se webblad het dit reeds $16,9 miljoen aan Suid-Afrikaanse organisasies uitbetaal. Teen die huidige wisselkoers is dit gelykstaande aan: R153 760 425!

Instellings wat op hul beurt geld aan die South Africa Development Fund skenk, is die volgende:

Bill & Melinda Gates Foundation

Broadway Cares/Equity Fights AIDS

Calamus Foundation

Charles Stewart Mott Foundation

Cobble Creek Foundation

European Climate Foundation

Gesso Foundation

Josef & Anni Albers Foundation

Kimerling Foundation

Michael & Joanne Levin Foundation

New World Foundation

Orange County Community Foundation

Rhode Island Foundation

Rockefeller Family Foundation

Schwab Charitable Fund

Tides Foundation

Wallace Global Fund

World Resources Institute

Kennelik is daar internasionale geldelike steun vir die huidige aanslag wat Section 27 besig is om teen Afrikaanse skole te loods!

Staan ons in die pad van die Nuwe Wêreldorde? wonder ek.

Vorentoe sal die identiteit van ons vyande seker duideliker raak, of dit die internasionale Geldmag is of sekere plaaslike linkses wat dink dat die Afrikaner, noudat hy lê, maar die genadeskoot gegee kan word. Die coup de grâce, soos die Franse sê.

Ons is egter nog lank nie dood nie. By PRAAG het die veglus nog nooit so hoog gebrand soos juis nou nie.

Staan dus saam met ons! Kom ons wys hierdie lafhartige onderkruipers waar Dawid die wortels gegrawe het. Sluit by PRAAG aan dat ons hulle in die howe, op die internet, in die media, op straat en oral waar nodig is, kan baklei.

Inkomstediens wil magte drakonies uitbrei

“Die nuwe wetsontwerp op die lisensiëring van sakeondernemings (die sogenaamde smouswet) kom daarop neer dat plaaslike regerings die rol van belastingagente vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) sal moet vervul,” sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.

Hy sê benewens die feit dat die wet ook beamptes van doeane en aksyns inspekteurs sal maak, is daar geen beletsel in terme van die wet om inligting oor geregistreerde en ongeregistreerde besighede aan die inkomstediens te oorhandig nie.

Die feit dat sulke inligting nie as vertroulik geag word deur die wet nie, beteken dat die inkomstediens sy tentakels in terme hiervan wyd kan uitbrei.

Weens die korrupsie wat gedy in die staatsdiens, kan hierdie magte tot ‘n verdere praktyk van afpersing en omkopery in die kleinhandelsektor aanleiding gee.

“Die meeste munisipaliteite is nie in staat om tans hul pligte na behore uit te voer nie. Watter chaos gaan dit nie veroorsaak as die bykomende funksionele en administratiewe las op hulle geplaas word nie?” het adv. Alberts gevra.

Hy sê die beoogde wet sal die reg op vryheid van handel, beroep en professie ernstig ondermyn deur dit moeilik te maak vir mense, veral in die informele, klein- en mediumsake-sektore, om handel te dryf en nuwe werk te skep.

Die wetsontwerp se definisie is ook baie wyd en is van toepassing op “alle mense en sakeondernemings wat in die republiek sake doen”. Dit terwyl die huidige wet slegs lisensies vereis van ondernemings wat hoofsaaklik in die voedselbedryf, gesondheidsdienste of vermaak betrokke is.

Die wet sal nie alleenlik moeilik uitvoerbaar wees nie, maar is strydig met die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) wat ‘n vermindering in die koste van die regulering van veral klein- en mediumsake-ondernemings vereis.

In die praktyk sal dit beteken dat niemand van die wet uitgesluit word nie. Van mense wat ‘n lewe probeer maak deur informeel goedere in plakkerskampe te verkoop, ‘n kerkbasaar of ‘n skoolsnoepie, sal aansoek moet doen om ‘n lisensie.

“Dit spreek vanself dat dit ‘n geweldige las op plaaslike regerings sal plaas om te reguleer. Veral polisiebeamptes en metro-polisielede sal hulle tyd nou hiermee mors terwyl misdaad baie meer aandag vereis.

“Boonop is die bepalings van die wet vaag en die magte wat aan inspekteurs en lisensie-owerhede gegee word, is so ongedefinieerd en wyd dat dit noodwendig tot korrupsie sal lei.

“Junior beamptes vanaf die rang van sersant kan as inspekteurs optree. Net so mag ongedefinieerde boetes en strawwe opgelê word. Veral kommerwekkend is die feit dat inspekteurs die vermoë sal hê om ‘enige perseel te sluit hangende verdere ondersoek’ en ‘enige goedere te verwyder’.

“Dit is gekheid. Die nuwe wet sal in die praktyk moeilik uitvoerbaar wees en gaan die deur net vir korrupsie oopmaak,” het adv. Alberts gesê.

Britse menseregte-advokaat pleit vir seks op 13

Menseregte-advokaat Barbara Hewson het ‘n opskudding veroorsaak in die VK deur te suggereer dat die ouderdom vir wettige seks verlaag word na 13.

Hewson sê dit is tyd om “die einde aan die vervolging van ou mans te maak” soos die uitsaaier Stuart Hall, wat van die onsedelike aanranding van 13 meisies aangekla is, wat hy erken, as “lae vlak oortredings “.

Sy het vir die einde van anonimiteit vir klaers en ‘n verlaging van die ouderdom vir konsensuele seks gepleit.

Haar kommentaar kom te midde van Scotland Yard se Operasie Yewtree, ‘n ondersoek na bewerings oor oorlede Jimmy Savile sowel as sanger Gary Glitter en Max Clifford se kindermolestering. Almal ontken enige oortredings.

Die prominente figure was adviseurs van die Britse troon.

‘n Verslag van Unicef ​​het gesê die Verenigde Koninkryk is ver voor “met ‘n aansienlike afstand” in die aantal jong mense wat betrokke is in riskante seks en swanger geword het op ‘n te vroeë ouderdom.

Uit 16 van 17 van die rykste lande met die data, het tussen 15 persent en 28 persent van jong mense seks gehad teen die ouderdom van 15. Vir die Verenigde Koninkryk, was die syfer 40 persent.

Plaasaanvalle hoogste in Gauteng

Gauteng is die gevaarlikste provinsie in die land in terme van plaasaanvalle, toon ‘n nuwe boek wat Donderdag bekendgestel is.

Byna 20% (ongeveer 663) van die 3 319 plaasaanvalle wat tussen 1990 en 2012 in die land plaasgevind het, was in Gauteng, het Kraal Uitgewers gesê.

In die res van die land het 15,3% van die aanvalle in Mpumalanga, 15,2% in die Noordwes en 12,7% in Limpopo plaasgevind.

Altesaam 11,8% van die aanvalle was in die Vrystaat, 11,5% was in KwaZulu-Natal, 7% in die Oos-Kaap en 4,7% in die Wes-Kaap.

Die Noord-Kaap is die veiligste provinsie in dié opsig, met slegs 1,6% van die plaasaanvalle wat daar plaasgevind het.

Die studie is ingesluit in ‘n boek getiteld Treurgrond: Die Realiteit van Plaasaanvalle 1990-2012, wat Donderdag bekendgestel is.

Kraal Uitgewers het gesê die syfers is gebaseer op die aantal aanvalle in elke provinsie. Dit hou nie verband met die aantal inwoners of plase en kleinhoewe in elke provinsie nie.

Die studie het getoon dat daar gemiddeld drie aanvallers in elke geval betrokke was. In sommige gevalle was daar tot 10 aanvallers.

Volgens die boek was 42,6% van die slagoffers van plaasaanvalle 61 jaar of ouer. Altesaam 62,7% van alle slagoffers was 51 jaar en ouer.

Die boek is deur Dirk Hermann, adjunksekretaris van die vakbond Solidariteit, Ilze Nieuwoudt van die vakbond se uitgewersmaatskappy Kraal Uitgewers, en Chris van Zyl van die Transvaalse Landbou-unie saamgestel.

Grondbesettings dreig in Kaapstad

Die onwettige besetting van privaatgrond in Kaapstad het skerp toegeneem, het ‘n burgemeesterskomiteelid Donderdag gesê.

Tandeka Gqada, burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, het gesê dit lyk of die besetting van die Marikana-grondgebied in die stad vroeër die week, sowel as die besetting van ander gebiede, deel is van ‘n poging om “die stad onregeerbaar te maak”.

“Die Stad is deur ons wetstoepassers en ander agentskappe daarvan bewus dat inligting aan groepe mense verskaf word in verband met die ligging van oop stukke grond, wat hulle dan probeer om onwettig te beset,” het sy gesê.

“Veral grond wat privaat besit word, word op ‘n stelselmatige wyse geteiken.”

Die stad het gesê die behuisingsprobleem moet binne die wet opgelos word om ‘n regverdige en billike proses te verseker.

“Ons is baie simpatiek met dié inwoners wat tans sonder toegang tot formele behuising is, maar ons het ‘n plig om die regte te beskerm van die honderde duisende mense wat deur die regte kanale gegaan het om van ‘n behoorlike behuisingsgeleentheid deur die stad voorsien te word.”

Die stad het verlede week hutte vernietig wat by die Marikana-perseel in Philippi-Oos opgerig was, waar grond vir ander doelwitte uitgesit is.

Creecy, Heywood misbruik hul mag om Afrikaans te benadeel – mediaverklaring

MEDIAVERKLARING DEUR PRAAG (PRO-AFRIKAANSE AKSIEGROEP)

In reaksie op die Rivonia-Primary-hofsaak in die Grondwethof, asook die voortslepende geskil rondom Hoërskool Fochville, herinner PRAAG sowel mev. Barbary Creecy as mnr. Mark Heywood van Section 27 daaraan dat Afrikaans ‘n benadeelde taal in Suid-Afrika is.

Indien dit nie vir byna 200 jaar van blatante Engelse taalfascisme in Suid-Afrika was nie, sou Engels nooit die oorheersende taal in Suid-Afrika gewees het nie. Engelse het ‘n veel swakker rol in die land se kultuur, letterkunde en onderwys as Afrikaners gespeel. Maar vanweë hul koloniale magsposisie en verbintenis aan Brittanje, het Engels ‘n hegemoniese posisie verwerf en is Afrikaans veral sedert 1994 tot die status van minderheidstaal verlaag.

Nieteenstaande die taal se minderheidstatus, is ‘n front tans teen Afrikaans in skole gemonster en word daar van ras gebruik gemaak om ‘n instelling soos Hoërskool Fochville te intimideer om Engels as medium van onderrig te aanvaar.

Sowel mev. Creecy as Section 27 en ander Brits-georiënteerde NRO’s is besig om hul mag te misbruik, iets wat op die duur net tot polarisering en etniese konflik in Suid-Afrika kan lei.

Ongeag die uitslag in die Rivonia-Primary-saak, moet die taalregte van Afrikaners dringend erken word en moet Suid-Afrika hom nie langer aan taalkolonialisme skuldig maak nie. Nêrens ter wêreld sal die blatante ongelykheid wat Creecy en ander teenoor Afrikaans pleeg, geduld word nie. In die Europese Unie bestaan daar verpligtinge op alle state om nie net minderheidstale te beskerm nie, maar ook om sodanige tale uit te bou. Dit sluit vanselfsprekend die reg van minderheidsgemeenskappe om eentalige instellingsg in stand te hou, in.

In koloniale of neokoloniale Suid-Afrika, word minderheidstale egter vir die wolwe gegooi.

Dr. Dan Roodt, Direkteur, PRAAG

Britse burger voer veldtog teen Afrikaanse skole

Tydens ‘n betoging vandag voor die Grondwethof het mnr. Mark Heywood, wat tans ‘n regsaksie teen Fochville-hoërskool voer, erken dat hy ‘n Britse burger is. Hy beveg glo al van die ouderdom van 14 af Afrikanerinvloed in Suid-Afrika.

Heywood is die uitvoerende hoof van die nie-regeringsorganisasie Section 27 wat tesame met die Gautengse Onderwysdepartement die magte van beheerliggame wil wegneem of drasties wil beperk. Indien vandag se saak deur Rivonia Primary by die Grondwethof verloor word, sal beheerliggame nie meer die getalle leerlinge by voormalige model-C-skole mag beperk nie en ook nie meer die taalmedium mag bepaal nie.

Die gevolge vir Afrikaanse skole sal potensieel rampspoedig wees. Mev. Barbara Creecy, LUR vir onderwys in Gauteng, wat self by ‘n Britse privaatskool in Johannesburg en aan ‘n Londense universiteit gestudeer het, is van plan om Engelstalige kinders na Afrikaanse skole in te bus soos wat sy reeds by Fochville-hoërskool gedoen het.

Die toekoms van Afrikaanse onderwys is dus in die weegskaal, danksy twee Britte wat ‘n verbete stryd teen skole met dié taal as medium voer.

‘n Groep van ongeveer 20 swart betogers wat spesiaal vir dié doel by die Grondwethof ingebus is, het ANC-strydliedjies gesing, onder andere met die refrein Umkhonto we Sizwe. Dit kan maklik die indruk skep dat daar ‘n militêre plan teen Afrikaanse skole ook bestaan.

Van die betogers het nie geweet waaroor die hofsaak gaan waarvoor hulle ingebring is om te betoog nie. Hulle word egter deur Section 27 vertel dat daar “wit rassiste” is wat nie wil hê swart kinders moet by hulle skole ingeneem word nie.

Sowel Fochville-hoërskool as Rivonia Primary beskik egter oor swart leerlinge. In die geval van Rivonia Primary was die skool egter vol, terwyl Fochville-hoërskool ‘n Afrikaanse taalbeleid het en daarom onwillig is om Engelstalige leerlinge in te neem.

Mev. Barbara Creecy het egter vir Fochville gedwing om Engelstalige kinders by die skool in te skryf, ondanks die taalbeleid en strydig met die Skolewet. Die Fochville-saak is nog besig om in die Hooggeregshof baklei te word, maar Section 27 het besluit om veral van Fochville-hoërskool se taalbeleid ‘n strydpunt te maak, ook tydens Rivonia Primary se Grondwethofsaak.

Vrae deur PRAAG oor die bron van Section 27 se befondsing is nie beantwoord nie. Die vermoede is dat die NRO, wat oor ‘n aansienlike personeel van regsgeleerdes en aktiviste beskik, vanuit die buiteland befonds word om bepaalde politieke doelwitte in Suid-Afrika te bereik.

Kennelik is een van daardie doelwitte om Afrikaans as taalmedium uit te fasseer en Afrikaners van hul rol in die onderwys te beroof.

Die VSA se skynheiligheid

Washington het nie die morele hoë grond om vir die Chinese te preek oor hul beweerde kuberaanvalle op die VSA nie, skryf Rick Falkvinge die stigter van die eerste Pirate Party.

Die Verenigde State beskuldig China daarvan dat hulle die VSA rekenaars vir spioenasie doeleindes kraak. Hierdie aanklag is skynheilig en aanstellerig: Vir ‘n paar dekades lank, het die Verenigde State van Amerika elke ander land se gesprekke waar moontlik afgeluister.

Toe Washington se Echelon globale afluisternetwerk ontbloot is – die meeste geïndustrialiseerde lande was slagoffers – het dit die ongeoorloofde skending van internasionale vertroue beteken. Die meeste wou selfs nie glo dat die Echelon-program werklik bestaan ​​het en operasioneel was nie.

Hierdie netwerk van afluisterstasies is nie net gebruik deur die Verenigde State van Amerika vir militêre doeleindes nie. Dit is ook gebruik sodat die Verenigde State van Amerika se nywerhede die oorhand in suiwer industriële aanwendings moes kry, in kompetisie met sy internasionale eweknieë.

In Europa, was dit nie genoeg vir die Verenigde State van Amerika om af te luister in alle gesprekke met die Echelon-program nie. Die VSA het ook inligting oor alle SWIFT-banktransaksies in Europa verkry, oënskynlik in die naam van die stryd teen terreur, maar sulke inligting het Amerikaanse nywerhede ‘n oorhand in industriële spioenasie gegee.

Om dus China te kritiseer vir waarmee die VSA al in die res van die wêreld vir dekades lank besig is, kom oor as skynheilig en aanstellerig van die ergste graad, ongeag of die bewerings waar is. Maar dit raak erger: Dit beweerde Chinese kuberaanval het glo militêre doelwitte gehad  en die VSA beweer dit was ‘n skending van die “internasionale vertroue.”

Tot op datum is, is slegs twee lande bekend wat militêre kuberaanvalle loods: Die Verenigde State en Israel, in hul gesamentlike aanval op Iran se kernfasiliteite. Kwaadwillige sagteware van ‘n gesofistikeerdheid nog nooit gesien deur die sekuriteitsgemeenskap nie, is gebruik. (As ‘n bonus, voordat dit ontbloot is dat die VSA agter die aanval was, het NAVO hierdie kuberaanval gebruik om vrees op te jaag om te vra vir groter befondsing.)

Die ware doelwit was ten behoewe van die Pax Americana – die idee dat die vrede in die wêreld gewaarborg word deur die Verenigde State van Amerika, maar slegs op die terme van dieselfde Verenigde State. (Ons kan maklik sien hoe dié terme daagliks verander, en dan toegepas word, deur onbemande tuie.)

Indien enige ander land in ‘n enkele veld presteer, kan Washington se reeds oorlaaide militêre vermoë om geweld na enige plek in die wêreld te projekteer, ooreis word. Hoewel die VSA se militêre begroting bykans soveel as die res van die geïndustrialiseerde wêreld se weermagte saam is, sal hierdie feit ‘n Achilleshiel in hul oorheersing ontwikkel.

Daarom is dit absoluut noodsaaklik vir Amerikaanse belange dat hulle – en slegs hulle – die res van die wêreld kraak en afluister vir hul industriële belange, om orde te handhaaf en ‘n sterk weermag te waarborg, wat op sy beurt gebruik sal word om sy eie vrede te handhaaf: Die Pax Americana.

Indien enige ander land afluister- of kraakvermoëns ontwikkel, sal hulle ‘n langtermyn-bedreiging vir Amerikaanse oorheersing wees. Daarom kom dit as geen verrassing dat Washington ander so lustig kritiseer nie. Maar kla oor “oortredings van vertroue?” Niks klink meer hol nie.

Dat internasionale vertroue ‘n lang tyd gelede geskend is, en nie deur die Chinese nie, is seker. Die Verenigde State het nie die morele hoë grond, of ‘n enkele been waarop hulle kan staan ​​nie.

Tutu berispe Morgan Freeman oor Israeli-prys

Aartsbiskop Desmond Tutu en ANC-swaargewig Ahmed Kathrada het ‘n beroep op die swart akteur Morgan Freeman gedoen om sy besluit om ‘n Israeli-toekenning te aanvaar, te verduidelik. Freeman is genomineer vir die toekenning deur die Kanadese Vriende van die Hebreeuse Universiteit van Jerusalem Maandag. Die toekenning is na bewering vir sy “filantropiese werk”.

Tutu het vir Freeman geskryf om hom te vra om sy besluit om die toekenning te aanvaar, te verduidelik. Kathrada, het intussen, teenoor Freeman sy “verbasing” uitgespreek dat hy die toekenning aanvaar het.

Beide Tutu en Kathrada is openlik gekant teen Israel se onderdrukking van Palestina.

Wêreldbekende fisikus Stephen Hawking het hierdie week aangesluit by ‘n akademiese boikot teen Israel. Hawking het aanvanklik ‘n uitnodiging aanvaar om te praat op ‘n konferensie wat deur Israel se president Shimon Peres gehou sal word.

Suid-Afrika het voorheen Israeliese aanvalle op Palestina veroordeel sonder ‘n ondersteunende boikot teen Israel.

Die Departement van internasionale betrekkinge se woordvoerder Clayson Monyela het egter gesê die tweede en derde lugbomaanvalle wat Israel onlangs op Sirië gedoen het, verteenwoordig ‘n “ernstige” oortreding van internasionale reg.

Israel steun Al-Kaida terroriste in Sirië wat teen die huidige regering veg. “Hierdie aanvalle is ‘n baie gevaarlike eskalasie van die krisis in Sirië, wat ernstige implikasies vir die stabiliteit van die hele Midde-Ooste inhou. Suid-Afrika vra vir kalmte en versoek lande van die streek om verdere militêre optrede te staak,” het Monyela gesê.