Gauteng is die gevaarlikste provinsie in die land in terme van plaasaanvalle, toon ‘n nuwe boek wat Donderdag bekendgestel is.
Byna 20% (ongeveer 663) van die 3 319 plaasaanvalle wat tussen 1990 en 2012 in die land plaasgevind het, was in Gauteng, het Kraal Uitgewers gesê.
In die res van die land het 15,3% van die aanvalle in Mpumalanga, 15,2% in die Noordwes en 12,7% in Limpopo plaasgevind.
Altesaam 11,8% van die aanvalle was in die Vrystaat, 11,5% was in KwaZulu-Natal, 7% in die Oos-Kaap en 4,7% in die Wes-Kaap.
Die Noord-Kaap is die veiligste provinsie in dié opsig, met slegs 1,6% van die plaasaanvalle wat daar plaasgevind het.
Die studie is ingesluit in ‘n boek getiteld Treurgrond: Die Realiteit van Plaasaanvalle 1990-2012, wat Donderdag bekendgestel is.
Kraal Uitgewers het gesê die syfers is gebaseer op die aantal aanvalle in elke provinsie. Dit hou nie verband met die aantal inwoners of plase en kleinhoewe in elke provinsie nie.
Die studie het getoon dat daar gemiddeld drie aanvallers in elke geval betrokke was. In sommige gevalle was daar tot 10 aanvallers.
Volgens die boek was 42,6% van die slagoffers van plaasaanvalle 61 jaar of ouer. Altesaam 62,7% van alle slagoffers was 51 jaar en ouer.
Die boek is deur Dirk Hermann, adjunksekretaris van die vakbond Solidariteit, Ilze Nieuwoudt van die vakbond se uitgewersmaatskappy Kraal Uitgewers, en Chris van Zyl van die Transvaalse Landbou-unie saamgestel.
