Britse burger voer veldtog teen Afrikaanse skole

Tydens ‘n betoging vandag voor die Grondwethof het mnr. Mark Heywood, wat tans ‘n regsaksie teen Fochville-hoërskool voer, erken dat hy ‘n Britse burger is. Hy beveg glo al van die ouderdom van 14 af Afrikanerinvloed in Suid-Afrika.

Heywood is die uitvoerende hoof van die nie-regeringsorganisasie Section 27 wat tesame met die Gautengse Onderwysdepartement die magte van beheerliggame wil wegneem of drasties wil beperk. Indien vandag se saak deur Rivonia Primary by die Grondwethof verloor word, sal beheerliggame nie meer die getalle leerlinge by voormalige model-C-skole mag beperk nie en ook nie meer die taalmedium mag bepaal nie.

Die gevolge vir Afrikaanse skole sal potensieel rampspoedig wees. Mev. Barbara Creecy, LUR vir onderwys in Gauteng, wat self by ‘n Britse privaatskool in Johannesburg en aan ‘n Londense universiteit gestudeer het, is van plan om Engelstalige kinders na Afrikaanse skole in te bus soos wat sy reeds by Fochville-hoërskool gedoen het.

Die toekoms van Afrikaanse onderwys is dus in die weegskaal, danksy twee Britte wat ‘n verbete stryd teen skole met dié taal as medium voer.

‘n Groep van ongeveer 20 swart betogers wat spesiaal vir dié doel by die Grondwethof ingebus is, het ANC-strydliedjies gesing, onder andere met die refrein Umkhonto we Sizwe. Dit kan maklik die indruk skep dat daar ‘n militêre plan teen Afrikaanse skole ook bestaan.

Van die betogers het nie geweet waaroor die hofsaak gaan waarvoor hulle ingebring is om te betoog nie. Hulle word egter deur Section 27 vertel dat daar “wit rassiste” is wat nie wil hê swart kinders moet by hulle skole ingeneem word nie.

Sowel Fochville-hoërskool as Rivonia Primary beskik egter oor swart leerlinge. In die geval van Rivonia Primary was die skool egter vol, terwyl Fochville-hoërskool ‘n Afrikaanse taalbeleid het en daarom onwillig is om Engelstalige leerlinge in te neem.

Mev. Barbara Creecy het egter vir Fochville gedwing om Engelstalige kinders by die skool in te skryf, ondanks die taalbeleid en strydig met die Skolewet. Die Fochville-saak is nog besig om in die Hooggeregshof baklei te word, maar Section 27 het besluit om veral van Fochville-hoërskool se taalbeleid ‘n strydpunt te maak, ook tydens Rivonia Primary se Grondwethofsaak.

Vrae deur PRAAG oor die bron van Section 27 se befondsing is nie beantwoord nie. Die vermoede is dat die NRO, wat oor ‘n aansienlike personeel van regsgeleerdes en aktiviste beskik, vanuit die buiteland befonds word om bepaalde politieke doelwitte in Suid-Afrika te bereik.

Kennelik is een van daardie doelwitte om Afrikaans as taalmedium uit te fasseer en Afrikaners van hul rol in die onderwys te beroof.

Maak 'n opvolg-bydrae