Tsvangirai het geweier om die beraad by te woon nadat die Mugabe-regime geweier het om 'n nuwe paspoort aan hom uit te reik en hom slegs 'n tydelike reisdokument gegee het.
Die leier van President Robert Mugabe se berugte oorlogsveterane sê hulle het geen ander opsie as om aksie te neem teen die aangewese eerste minister, Morgan Tsvangirai en die Beweging vir Demokratiese Verandering nie.
Tsvangirai het geweier om die beraad by te woon nadat die Mugabe-regime geweier het om 'n nuwe paspoort aan hom uit te reik en hom slegs 'n tydelike reisdokument gegee het.
Die prinsipaal van 'n skool in Mitchells Plein in Kaapstad het met sy lewe daarvan afgekom toe hy tydens die etensuur deur 'n bende gewapende rowers 'n paar meter van die skoolgronde af, geskiet is. Leerlinge by die Lentegeur Hoërskool wat die voorval gesien het, het probeer om tot prinsipaal Aboebakr Frieslaar se hulp te kom, maar hulle het uitmekaar gespat toe die skote begin klap.
Toe hy sy motor parkeer, het twee mans hom genader en met 'n vuurwapen gedreig. 'n Ligte struweling het ontstaan en Frieslaar is in die been geskiet. Die twee mans het met leë hande in 'n motor op die vlug geslaan. 'n Lentegeur onderwyser, Jenny Corulus het Donderdag gesê dit gaan goed met Frieslaar. Hy is Woensdagmiddag in die hospitaal opgeneem en later die aand ontslaan.
Corulus sê die skool het net een sekuriteitswag wat die skoolgronde patrolleer maar geen Bambanani-vrywlligers nie. Direkteur Nariman Khan van die Veiliger Skoolprogram sê na 'n waardebepaling van die skool se veiligheidsmeganismes gister, het beamptes bevind dat die skool "taamlik veilig" is. Sy sê egter die skool se veiligheidskomitee en 'n beampte van die Veiliger Skoolprogram sal Donderdag bymekaar kom om veiligheidsmaatreels te bespreek.
Khan sê ofskoon dié skool nie een van die 109 hoë-risiko skole in die provinsie is nie, sal daar met die Department van Gemeenskapsveiligheid oorleg gepleeg word om Bambanani's by die skool te ontplooi. Die plaaslike polisie het beloof om polisiepatrollering in die omgewing van die skool op te skerp. Williams wou nie kommentaar lewer oor die moontlikheid dat personeel van die bank die verdagtes 'n wenk gegee het oor Frieslaar se onttrekking nie.
Hy het bevestig dat die Promenade-winkelsentrum sekuriteitskameras het maar kon nie bevestig of Frieslaar en die insittendes van die motor deur die kameras opgeneem is nie. Die St Cyprian-skool in Oranjezicht was vroeër vanjaar die toneel van 'n soortgelyke voorval. 'n Beampte van die skool is vanaf 'n bank na die Gardens-sentrum agtervolg en deur vier mans van R10 000 op die skoolterrein beroof.
Suid-Afrika se kontroversiële wapentransaksie kan nou meer as 47 miljard rand kos, byna 17 miljard meer as wat oorspronklik geskat is, het die departement van Verdediging onthul.
In ‘n geskrewe antwoord op ‘n parlementêre vraag van die VF Plus, het die ministerie gesê dat die waarde van die strategiese verdedigingspakket ten tyde van die kontrak net meer as 30 miljard rand werd was, gemeet in 1998 se randwaarde.
Gedurende 2000 het die projek se waarde gegroei tot 43.82 miljard, gebaseer op die fluktuasie van die wisselkoers teen daardie tyd.
‘n Totaal van 36.114 miljard is tot op hede spandeer op die strategiese verdedigingspakket.
Programme wat nog afgehandel moet word sluit in die Gripen en Hawk vliegtuie en die Augusta A 109 helikopters.
Die duikbote en korvette programme is byna afgehandel, het die ministerie gesê.
Die 2008 geprojekteerde koste vir die afhandeling van die strategiese verdedigingspakket is 47.525 miljard.
Vryheid Front Plus LP, dr. Pieter Groenewald het gesê die ekstra koste van die transaksie is kommerwekkend.
Barack Obama blyk om op pad te wees na ‘n groot oorwinning oor John McCain. Daar is toenemende konsensus onder Demokratiese en Republikeinse voorspellers oor die saak.
Tot op hede het geen kandidaat met so groot voorsprong so laat in die verkiesingstryd ‘n presidensiële verkiesing verloor nie.
Selfs Republikeinse analiste was Woensdag pessimisties oor McCain se kanse om die stryd te kan omkeer.
Analiste het Woensdag voorspel dat Barack Obama meer as 350 stemme kan kry, heelwat meer as die 270 wat nodig is om in die Withuis te kan land. Die syfer is omtrent gelyk aan wat Bill Clinton is 1992 en 1996 behaal het.
Daarmee saam is daar ook ‘n duidelike verhoging in vroeë stemme in deelstate soos Florida en Ohio, wat kan help om Obama te insuleer teen ‘n vernouing in die getalle in die laaste paar dae.
Dinge lyk selfs nog slegter vir McCain in die groot arena, met Obama wa duidelik voorloop in Pennsilvanië, New Hampshire, Colorado, Virginië, Minnesota en Wisconsin.
In Florida, Noord Carolina en Nevada is daar met die vroeë stemme tot dusver twee demokratiese ondersteuners geregistreer vir elke een Republikeinse ondersteuner.
Ysland se ekonomiese krisis dreig nou om heelwat immigrante-arbeiders, meeste van hulle van Pole af, terug te laat gaan na hul tuistes. ‘n Aksie wat die eiland se ekonomie verder kan skade doen, het Ray Furlong van die BBC gesê.
Flateyri is net ‘n handjie vol huise en pakhuise wat naby ‘n fjord geplaas is. Op ‘n mooiweersdag skitter die son op die water en is sneeu sigbaar op die berge om die plekkie.
Dit is ver verwyderd van die finansiële krisis in die hoofstad, Reykjavik, maar die storm kan binnekort ook oorspoel na die klein plekkies toe.
Die enigste aktiwiteit in Flateyri, buiten die klein kroeg is die visverwerkingsaanlegte, waar werkers van Pole, Filippyne en Thailand vis verpak, reg om gevries te word.
Dieselfde storie het hom al in hoeveel klein, afgesonderde vissersdorpies afgespeel.
Die jongmense het die plekkies verlaat vir opleiding en werk in Reykjavik, wat die bevolking laat afneem het, tot die neiging die laaste par jaar geswaai het met die invloei van immigrantewerkers, meestal van Pole af. Die probleem is dat die ekonomiese krisis die werkers weer kan laat terugkeer na hul tuislande.
Inflasie was op 14% voor die finansiële krisis, maar die ontstuimige markte het die land se geldeenheid, die Yslandse Kroon op een dag tot 30% van sy waarde laat verloor.
Yslanders het gemengde gevoelens oor die immigrantewerkers, aangesien die land nie veel immigrante gekry het nie.
In verlede jaar se verkiesing het ‘n klein opposisie party, die Liberale, plekke in die parlement gekry deur steun toe te sê aan die vermindering van immigrante.
Magnus Thor Hafsteinsson, een van die LP’s van die party sien die huidige krisis as ‘n bedekte seëning.
Hy het gesê dat die saak van integrasie belangrik is vir die Yslanders, aangesien hulle ‘n klein volkie is.
“Ons is net 300 000 mense wat die taal praat, wat nêrens anders gepraat word nie. Dit is baie belangrik dat ons ons geskiedenis bewaar, ons agtergrond, en ons taal. Dit is dinge wat van ons ‘n volk maak” het hy verder gesê.
In reaksie op die krisis het Ysland ‘n perk geplaas op die hoeveelheid geld wat uit die land geneem kan word. Poolse werkers, was nie in staat was om geld huis toe te stuur nie, wat die hoofsaaklike rede is dat hulle daar is. Die feit dat geld nie meer uit die land gestuur kan word nie, kan die doodsklokke inlui vir besigheidsmense en die klein gemeenskappe wat hulle ondersteun.
“Die ANC se roekelose hantering van die straatnaamkwessie in Pretoria het nou krisisafmetings aangeneem en verg nou dringend ingryping.”
Die geweld het uitgebreek toe 'n swart inwoner 'n wit inwoner, volgens berigte van agter met 'n stoel geslaan het. Tydens die daaropvolgende hewige argumente is 'n wit inwoner gearresteer, terwyl die persoon wat die aanval met die stoel geloods het nie eens aangespreek is nie – hy is trouens later weer deur die organiseerders van die vergadering na die verrigtinge teruggenooi.
Spies het gesê die saak moet nou uit die hande van die plaaslike ANC geneem word omdat die ernstige spanning wat deur hulle aksies geskep word, 'n landswye impak kan hê. Die party het gesê dat hy sy voorbereiding van regsaksie teen die stadsraad gaan versnel om die proses so gou moontlik onwettig te laat verklaar deur die howe.
10:58:41 In sy stuk, Afrikaners moet realisties wees, pak JH du Toit sy krismisboks pakkie vir pakkie uit. Dit is egter nie moontlik om enige verassing of nuwe nuanse by hom te vind nie.
Dis weer dieselfde geykte uitdrukkings, weer dieselfde clichés, soos: "Die idee dat jonger Afrikaners hul etnisiteit herontdek weens 'n hunkering na volksidentiteit is net so onakuraat as die mitiese 'Boerevolk' waarna hy verwys. Die term 'Boerevolk' is kontensieus en nie juis goed gegrond as 'n historiese etnisiteit of gepaardgaande naam nie. Die woord 'Boer' was ook 'n skelwoord soos 'kaffer' wat deur die Engelse aangewend is."
Hierdie mening het ek reeds ad nauseam gehoor. Maar ek het nog nooit van iemand gehoor wat deur die term "Boer" beledig gevoel het nie.
Du Toit is waarskynlik heeltemal onbewus van die feit dat baie hoërskoolseuns vierkleure vandag agter op hul skooltasse verf. Kom, ek wed jou Du Toit het nie die verhoogstuk, "Ons vir jou", gesien nie. Verder verwed ek 'n honderd rand dat hy lid van die Broederbond was, en tans 'n ywerige ondersteuner van die Afrikaanse Taalraad is, gekoppel aan die FAK, Afrikanerforum of Solidariteit.
Laasgenoemde is prysenswaardige instansies wat, soos du Toit, hulself geroepe voel om die Afrikanervolk te red. Maar die probleem is dat die Afrikanervolk nie gered wil wees nie, omdat daar nie meer soiets soos 'n Afrikanervolk bestaan nie. Die Afrikanervolk was 'n projek wat die Nasionale Party en sy telge moes voed, maar waarvan die gom verweer het.
Volksnasionalisme is nog altyd aan staatsmag gekoppel. Soos ander ideologieë het dit ook 'n rakleeftyd. Die geskiedenis het geleer dat op enkele uitsonderings na, nasionalismes 'n rakleeftyd van twee tot drie geslagte het. Nasionalisme kan beskryf word as die ideologie van volke se geïndividualiseerde bestaan, 'n ideologie van sosiale begrensing, van sosiale kontinuïteit en van sosiale gelyksoortigheid, maar wat tog verskeidenheid kan insluit. Dit is die ideologie van 'n sosiale realiteit wat as die konsep van nasieskap ontstaan het en meelopend is met die twee dimensies van tyd en ruimte.
Binne tydverband omlyn die geskiedenis 'n volk en die integriteit van sy landsgrense identifiseer 'n nasie in ruimtelike verband. Hierdie twee werklikhede is die hoofbestanddele van 'n nasie se selfidentifikasie en soewereiniteit. Die nasie vertolk sy geskiedenis en daardie vertolking sal verander as die nasie sou verander. So ook die landsgrense. 'n Volk se eksklusiewe aanspraak op die landsgrense is slegs geldig solank hy die staatsmag beheer. Wanneer hy daarvan afstand doen, dan maak sy opvolger aanspraak op daardie ruimte. Dan verloor 'n volk sy volkskap en word sy lede tot enkelingburgers gereduseer.
Hiermee vervaag Du Toit se veralgemeende stellings van die Afrikanerdom tot irrelevante bespiegelings.
George Orwell skryf in 1945: "Nationalism is power-hunger tempered by self-deception." Destyds het hy na die Duitse, Italiaanse en Britse nasionalismes verwys, maar sy insigte van destyds kan net so op die Afrikanervolk van toepassing gemaak word. Orwell beweer dat nasionaliste hulself bedrieg deur aan hul eie meerderwaardigheid te glo, selfs wanneer die feite tot die teendeel hulle in die oë staar. Hy sê dat 'n nasionalis tot die mees flagrante selfbedrog en oneerlikheid in staat is, maar die wete dat sy wandade in belang van iets gepleeg word wat groter is as hy, naamlik vir die saak, maak hom absoluut seker dat hy slegs die waarheid en geregtigheid deur sy optrede dien. Enigiets wat trou aan die saak bevorder is toelaatbaar, maar feite met 'n negatiewe strekking word as verkeerd verwerp. Sulke feite moet geplooi of verswyg word om die saak na behore te dien.
Tydens die dekades tussen die depressiejare en Republiekwording is die Boere en die Cape Dutch onder die begrip "Afrikaners" of "die Afrikanervolk" in een kraal gejaag. Sommige geskiedskrywers beweer dat die etniese ontwaking van Afrikanerdom, oftewel die Afrikaners se volksnasionalisme, deur die herdenking van die 1938-ossewatrek ingelui is. By die "Ekonomiese Volkskongres" van 1939 is besluit dat Afrikaners 'n groter aandeel in die Suid-Afrikaanse ekonomie moes verkry. Hierna het 'n etnies gebaseerde kapitalisme ontwikkel, wat bestuur en gedryf is deur SANLAM, Federale Voksbeleggings, die Broederbond met sy tentakels in die Afrikaanse media, die Nasionale Party, die veiligheidsdienste, die akademie en die semistaatsinstellings. Baie van u was seker by die Voortrekkermonument in 1947 om die ontluiking van die Afrikaners se volksnasionalisme te ervaar. 'n Jaar later het etnies gesinde Afrikaners die staatsmag deur die Nasionale Party verkry.
Jong professionele ingenieurs, regsmense, finansiële bestuurders, nyweraars, bemarkers, ja, noem maar op, het met sterre in die oë hul loopbane in die staatsdiens en by hierdie Afrikanerorganisasies begin. Hulle wou vir die saak werk.
Baie het geglo dat daardie netwerk ontwikkel moes word om die Nasionale Party te dien. Aanvanklik mag dit wel die geval gewees het, maar teen die sewentigerjare was die werklikheid andersom. Die party het sakebelange begin dien. Praktiese politiek is deur sakebelange bepaal. Beklee met staatsmag, kon Afrikaners op die hele Suid-Afrika aanspraak maak en is die Afrikanervolk se soewereiniteit deur die onaantasbaarheid van ons landsgrense en die standardisering van sy gekiedenis bevestig. Lees gerus weer die jubelende volksliedere in die FAK-sangbundel om hierdie emosie te kan waardeer.
Afrikanersentiment het die Afrikanerbesighede laat groei met die oprigting van banke, bougenootskappe, versekeringswese ens. Regeringsbeleid het Afrikaners opgehef, sodat daar min werkloosheid onder Afrikaners was. 'n Groot deel van die jaarlikse fiskus het deur Afrikanerwerkers se hande gevloei en in die koffers van Sanlam, Volkskas, en Afrikaanse pers beland. Semistaatsbedrywe soos die poswese, spoorweë, Yskor en SASOL was die net wat Afrikaners van 'n loopbaan verseker het en wat Afrikanerdom se geldmag en invloed verder uitgebrei het. Hierdie instellings het op Afrikanersentiment gedy en binne twee dekades kon enorme finansiële mag uitgeoefen word. Maar dit was teen 'n prys. Teen die middel-sestigerjare het Afrikanernasionalisme sy eerste treë gegee wat dertig jaar later tot sy ondergang sou lei.
In 1965 het dr. Verwoerd vergeefs teen Federale Volksbeleggings se stap gewaarsku om nie die geheimsinnige internasionale wêreld van die mynwese te betree nie, aangesien die oorlewingstrategie van Afrikanerdom reëlreg met die mynhuise se belange gebots het. Die Britsbeheerde mynhuise het Afrikanerdom se politieke heerskappy as 'n verbygaande ongerief beskou en tydelik aanvaar. Hulle het dus planne gesmee om die Afrikanerdom onder beheer van die mynmagnate te bring. Die oorname van General Mining en later Union Corporation was die eerste ernstige stap vir die Afrikanerdom om die geheimsinnige binnekring van 'n volksvreemde domein te betree wat voorheen as die Afrikanerdom se grootste vyand beskou is. Dit was die enigmatiese skemerwêreld van die internasionale geldmag.
'n Gaping is doelbewus vir die Afrikanerdom oopgelaat waarin die stryd tussen etnisiteit en groot besigheid beslis sou word. Tot almal se verbasing is aangekondig dat van kredietfinansiering gebruik gemaak sou word om die oorname van General Mining deur Afrikaanse sakebelange moontlik te maak. Met 'n enorme skuldlas en die vooruitsig van 'n pot goud aan die einde van die reënboog sou invloedryke Afrikaners voortaan onder 'n vreemde juk moes trek. Die probleem was egter dat slegs die Boeregedeelte van die Afrikanerdom enige etniese gewete gehad het. Die res is gerieflikheidshalwe as Afrikaners gekategoriseer.
Afrikanernasionalisme was voorheen op etniese kapitalisme geskoei en het daarmee saam gegroei. Etniese kapitalisme was 'n netwerk wat alle fasette van die Afrikaner se bedryfs- en kultuuromgewing, soos 'n reusevisnet bymekaar gehou het. Teen 'n muur van die FAK se kantoor by die VTM pryk die organisasiewapens of embleme van 32 organisasies wat in brons gegiet is. Name soos Federale Volksbeleggings, Sanlam, Yskor, FAK, Die Rapportryers, Voortrekkers, SAS&H, Volkskas, SA Akademie vir Kuns en Wetenskap, General Mining, SASOL, ens. Hierdie organsasies is gestig om die Afrikanersaak te dien en was inderdaad die Afrikanervolk se erfporsie. Hierdie name was dus die kernpunte of nodusse van Afrikanernasionalisme.
'n Nodus is een van die baie knooppunte in 'n net, wat deur skakels aanmekaar verbind word. Daardie net het soos 'n elastiese spinnerak gewerk waarop die spinnekop van nasionalisme sy prooi kon vang en isoleer. Ná die magsoorgawe van 1994 het die net geskeur en gedisintegreer deurdat sy nodusse opgegaan het in die proses van transformasie. Die Broederbond het irrelevant geword en is deur die Native Club vervang. Afrikanerorganisasies is nou ten volle getransformeer. Die enjinkamer van die mitiese Afrikanervolk is uitmekaargehaal.
Gedurende die sestiger- en sewentigerjare en daarna het Afrikaners se volksnasionalisme derhalwe in 'n staatsnasionalisme verander. Die klem het begin val op die witman en nie meer op die begrip Afrikaner nie. Die terminale sterfproses van Afrikaners se volksnasionalisme het begin. Sedert 1994 is daardie proses bloot voortgesit om ook die ander volksgroepe in die nasionale begrip in te sluit. Die towerwoord is inklusiwiteit op sport-, godsdiens-, akademiese, sake- en kultuurgebiede. Etnisiteit moet uitsterf om plek te maak vir 'n nuwe heterogene kultuur wat die nuwe mites en nuwe amptelike geskiedenis van 'n nuwe nasie moet weerspieël. Afrikaners moet uitreik na veral ander Afrikaanssprekendes sodat Afrikaners hul invloedsfeer kan verbreed. Die term Afrikaner moet deur Afrikaanse mense of Afrikaanses vervang word. Loslit- en oopgulp-Afrikaans, "songs" en kunstefeeste moet die mark vir die Afrikaanse media onder alle kultuurgroepe bevorder. Die term "volk" het die vyand van die taal geword.
Van Wyk Louw se Afrikanernasionalisme wat vroeër 'n volksnasionalisme was, het van John Vorster se tyd die fondament van 'n nuwe staatsnasionalisme geword wat sakebelange moes dien. Daardie nuwe staatsnasionalisme is gebou op die Afrikaner se volksnasionalisme en het die etniese volksgevoel en samehorigheid van Afrikaners doodgesmoor. Met die verlies aan staatsmag in 1994 en gepaardgaande weersin wat Afrikaners in die nuwe staatsbestel ontwikkel het, is die hoofaarinspuitings wat Afrikaners voorheen daagliks deur die propagandamasjien gevoer is, afgesny en het staatsnasionalisme sy laaste asem uitgeblaas.
Is hierdie genoegsame bewys dat die Afrikanervolk 'n projek was? Hoe verdedig 'n lid van die Afrikaanse gemeenskap homself teen die internasionale reg wat beweer dat Afrikaners net so uitheems is as wit Australiërs, Kanadese of Amerikaners? Waarom het 'n Boer nie dieselfde probleem nie?
Hoe kan Du Toit die bestaan van die Boerevolk bevraagteken? Sy verwysing na die AWB is 'n duidelike bewys van sy onkunde van die moderne geskiedenis. Die AWB het niks met die Boerevolk uit te waai nie, maar is weereens 'n NP-regeringsprojek wat deur oudpremier JB Vorster aangevoor is.
Ek sal op 'n ander geleentheid weer na die gesuiwerde ANC verwys.
Lede van ‘n minderheidsgroep van die Nieu-Seelandse regering het ‘n senior regeringsamptenaar van rassisme beskuldig nadat hy neerhalende opmerkings oor Asiese en Stille-Oseaan migrantewerkers gemaak het gedurende ‘n verkiesingsveldtog.
Die National Party se Lockwood Smith, wat wwarskynlik die minister van Immigrasie sal word as sy party die verkiesing op 8 November sou wen, het gesê dat werkers van Stille-Oseaan eilande leiding nodig het om toilette, storte en wasmasjiene te gebruik, en dat die kleiner hande van die Asiërs hulle nuttig gemaak het om druiwe te snoei.
Die Marlborough Express het Woensdag berig dat Smith die opmerkings gemaak het terwyl hy in die wynproduserende Marlborough gebied gepraat het, waar baie seisoenswerkers van Asië en die Stille-Oseaan teenwoordig is.
Smith is soos volg aangehaal, “Asiërs is beter om die wingerder te snoei, aangesien hulle kleiner hande het, en sommige werkgewers van die Stille-Oseaan eilandbewoners moet aan die werkers leiding verskaf om ‘n toilet, stort en wasmasjien te gebruik”
Tarania Turia, ‘n leier van die minderheids-Maori party wat Nieu-Seeland se inheemse minderheid verteenwoordig, het die opmerkings as rassisties en beledigend beskryf. Maori’s is van Polinesiese afkoms en voel ‘n sterk samehorigheid met die suid-Stille-Oseaan eilandbewoners.
Turia het gesê dit is skandelik dat ‘n senior persoon in die National Party sulke sieninge handhaaf.
Winston Peters, die leier van Nieu-Seeland se First Party, het ook gesê dat die nasionaliste se rasseondertoon duidelik is wanneer immigrasie ter sprake is.
Smith het gesê dat hy eenvoudig die wynprodusente se mening oorgedra het en het sy spyt uitgespreek dat die kommentaar so uit verband uit geruk is.
“Ek kan sien dat die kommentaar wat ek gelewer het dalk mense kwaad gemaak het. Ek is werklik jammer daaroor, aangesien dit nie my bedoeling was nie,” het hy in ‘n kort verklaring gesê.
Die woordewisseling is ‘n onwelkome saak vir die nasionaliste, wat probeer het om stemme te wen onder die Asiese- en Stille-Oseaan eilandbewoners in die laaste paar maande, in ‘n poging om die regerende Arbeiders party te stuit.
John Key, leier van die National Party, het gesê dat die opmerkings as aanstootlik beskou kan word, maar dat Smith se verklaring waarin hy spyt daaroor uitgespreek het daarna, heeltemal toepaslik en billik was.
Eerste minister, Helen Clark het gesê dat Smith “verskriklike en ontoepaslike” dinge gesê het.
Winston Peters se geloofwaardigheid oor die onderwerp is deur sy eie woorde verlede week, ondermyn toe hy gesê het dat Sjinese werkers die poste van Nieu-Seelanders bedreig, en dat immigrante na werk getrek word soos motte na ‘n neonlig.
’n Wildboer van Vryheid is in ’n tronksel gesodomiseer terwyl sy medegevangenes gesing het, moes die Pietermaritzburgse hooggeregshof gister hoor. Hulle het vermoedelik gesing om die slagoffer se gille uit te doof, het regter Nic van der Reyden gesê.
Hulle is gearresteer omdat hulle glo Van Wyk se diere sonder ’n lisensie vervoer het. Duvenhage is nie gesodomiseer nie, maar blybaar wel aangerand, en hy eis R350 000. Adv. Gerrie Roberts SC, namens die applikante, het gesê die stasiebevelvoerder het geslaap tydens die voorval en het nie van Van Wyk se gille gehoor nie.
Die twee mans is aanvanklik in ’n aparte sel aangehou, maar is geskuif na ’n ander sel met 14 verdagtes toe drie vroue na hul sel geskuif is.
Hulle voer aan dat hulle na ’n ander sel, soos die landdroshofselle of ’n ander polisiestasie, geskuif kon word om die voorval te verhinder.
Die 14 ander mans was almal verdagtes in ernstige misdade soos moord, verkragting en brandstigting. Dr. Senta Klingenberg, distriksgeneesheer van Vryheid, het getuig Van Wyk is verskeie kere gepenetreer. Sy het ook gesê Duvenhage het twee kneusplekke op sy kop en rug gehad. Roberts het getuig Van Wyk is omstreeks 03:00 deur een of meer mans gesodomiseer.
Van Wyk kon later sy vrou bel om die ondersoekbeampte in die saak te kontak. Die ondersoekbeampte het na die polisiestasie gery, maar die hek was gesluit en hy het oor die hek geklim om by die aanklagkantoor te kom waar hy die bevelvoerder, ene insp. Mtshali, aan die slaap gekry het. Die voormalige kommissaris van die polisiestasie, supt. Isobel Weiss, het getuig aanrandings is algemeen in dié selle.
Sy het gesê die polisiebeamptes moes geweet het om ondersoek in te stel, aangesien gevangenes wat begin sing daarop dui dat “iets aan die broei is”.
Weiss sou ook nie vir Van Wyk en Duvenhage in dieselfde sel as verdagtes in geweldsmisdade geplaas het nie, het sy getuig.
Die Haaie draf Saterdag op die veld in die Curriebeker-eindstryd met die wete dat hulle die oorweldigende gunsteling is om die eerste keer in meer as tien jaar die trofee te lig. Onder John Plumtree het die Haaie baie vooruitgegaan en speel hulle meer intelligente rugby as vantevore. Verby is die dae wat die Haaie in ‘n finaal soos afkophoenders uit hulle eie doelgebied sal begin hardloop en hoop vir die beste. Hulle rugby lyk nou baie meer na gestruktureerde spel en teenaanvalle word gelei deur een van hulle spelbrekers.
Voorrye: Albei spanne het gedugte voorrye. Daar is min te kies tussen die 2 loskopstutte Beast en Gunthro, die vaskopstutte is ook min of meer van dieselfde gehalte, maar in Bismarck Du Plessis op haker het die Haaie beslis ‘n voordeel hier.
Slotte: Johan Muller en Steven Sykes of Albert van der Bergh kan nie in dieselfde asem genoem word as die Bulle se slotpaar van Victor Matfield en Danie Rossouw nie. Die Bulle sal hoop dat Victor Matfield weer die soort spel lewer waarvoor hy ‘n speler van die wedstryd toekenning gekry het in die Wêreldbeker-finaal.
Losvoorspelers: Hier verwag ek ‘n baie gelykop uitslag. Pierre Spies en Ryan Kankovski is potensiele wedstrydwenners. Veral Kankovski se vorm is kookwater op die oomblik.
Skakelpaar: Die skakelpare weeg ook goed op teen mekaar. Die Haaie het in die Fransman Michalak ‘n potensiele swak skakel op losskakel. Michalak het al verskeie wedstryde vir Frankryk eiehandig verloor as hy die dag die kluts kwyt is.
Senters: Ook hier staan die Bulle en die Haaie nie vir mekaar terug nie. Wynand Olivier speel die beste rugby van sy lewe en Francois Steyn aan die Haaie se kant begin die vorm herwin wat hom laasjaar die wonderseun van internasionale rugby gemaak het.
Agterste driehoek. In Brian Habana het die Bulle ‘n wedstrydwenner wat nie sy gelyke in die wereld het nie. Sy briljantheid word egter uitgeskakel deur die onbestendigheid van die Bulle se heelagter Zane Kirschner. Ek verwag dat die Haaie Kirschner gaan bombaardeer met hoë skoppe.
Alles in ag genome behoort dit ‘n baie gelykop eindstryd te wees met die tuisveldvoordeel wat sterk in die Haaie se guns tel. Ongelukkig vir die Haaie het hulle oor die jare heen bewys dat hulle grootwedstrydtemperament maar beroerd is, terwyl die Bulle spog met oorwinnings in bykans elke eindstryd wat hulle in enige kompetisie gespeel het.