Saterdag se Curriebeker-eindstryd

Die Haaie draf Saterdag op die veld in die Curriebeker-eindstryd met die wete dat hulle die oorweldigende gunsteling is om die eerste keer in meer as tien jaar die trofee te lig. Onder John Plumtree het die Haaie baie vooruitgegaan en speel hulle meer intelligente rugby as vantevore. Verby is die dae wat die Haaie in ‘n finaal soos afkophoenders uit hulle eie doelgebied sal begin hardloop en hoop vir die beste. Hulle rugby lyk nou baie meer na gestruktureerde spel en teenaanvalle word gelei deur een van hulle spelbrekers.

Die twee spanne behoort so teen mekaar op te weeg:

Voorrye: Albei spanne het gedugte voorrye. Daar is min te kies tussen die 2 loskopstutte Beast en Gunthro, die vaskopstutte is ook min of meer van dieselfde gehalte, maar in Bismarck Du Plessis op haker het die Haaie beslis ‘n voordeel hier.
Slotte: Johan Muller en Steven Sykes of Albert van der Bergh kan nie in dieselfde asem genoem word as die Bulle se slotpaar van Victor Matfield en Danie Rossouw nie. Die Bulle sal hoop dat Victor Matfield weer die soort spel lewer waarvoor hy ‘n speler van die wedstryd toekenning gekry het in die Wêreldbeker-finaal.
Losvoorspelers: Hier verwag ek ‘n baie gelykop uitslag. Pierre Spies en Ryan Kankovski is potensiele wedstrydwenners. Veral Kankovski se vorm is kookwater op die oomblik.
Skakelpaar: Die skakelpare weeg ook goed op teen mekaar. Die Haaie het in die Fransman Michalak ‘n potensiele swak skakel op losskakel. Michalak het al verskeie wedstryde vir Frankryk eiehandig verloor as hy die dag die kluts kwyt is.
Senters: Ook hier staan die Bulle en die Haaie nie vir mekaar terug nie. Wynand Olivier speel die beste rugby van sy lewe en Francois Steyn aan die Haaie se kant begin die vorm herwin wat hom laasjaar die wonderseun van internasionale rugby gemaak het.
Agterste driehoek. In Brian Habana het die Bulle ‘n wedstrydwenner wat nie sy gelyke in die wereld het nie. Sy briljantheid word egter uitgeskakel deur die onbestendigheid van die Bulle se heelagter Zane Kirschner. Ek verwag dat die Haaie Kirschner gaan bombaardeer met hoë skoppe.

Alles in ag genome behoort dit ‘n baie gelykop eindstryd te wees met die tuisveldvoordeel wat sterk in die Haaie se guns tel. Ongelukkig vir die Haaie het hulle oor die jare heen bewys dat hulle grootwedstrydtemperament maar beroerd is, terwyl die Bulle spog met oorwinnings in bykans elke eindstryd wat hulle in enige kompetisie gespeel het. 

купить куклыФільчаков Олександр Васильович