Flateyri is net ‘n handjie vol huise en pakhuise wat naby ‘n fjord geplaas is. Op ‘n mooiweersdag skitter die son op die water en is sneeu sigbaar op die berge om die plekkie.
Dit is ver verwyderd van die finansiële krisis in die hoofstad, Reykjavik, maar die storm kan binnekort ook oorspoel na die klein plekkies toe.
Die enigste aktiwiteit in Flateyri, buiten die klein kroeg is die visverwerkingsaanlegte, waar werkers van Pole, Filippyne en Thailand vis verpak, reg om gevries te word.
Dieselfde storie het hom al in hoeveel klein, afgesonderde vissersdorpies afgespeel.
Die jongmense het die plekkies verlaat vir opleiding en werk in Reykjavik, wat die bevolking laat afneem het, tot die neiging die laaste par jaar geswaai het met die invloei van immigrantewerkers, meestal van Pole af. Die probleem is dat die ekonomiese krisis die werkers weer kan laat terugkeer na hul tuislande.
Inflasie was op 14% voor die finansiële krisis, maar die ontstuimige markte het die land se geldeenheid, die Yslandse Kroon op een dag tot 30% van sy waarde laat verloor.
Yslanders het gemengde gevoelens oor die immigrantewerkers, aangesien die land nie veel immigrante gekry het nie.
In verlede jaar se verkiesing het ‘n klein opposisie party, die Liberale, plekke in die parlement gekry deur steun toe te sê aan die vermindering van immigrante.
Magnus Thor Hafsteinsson, een van die LP’s van die party sien die huidige krisis as ‘n bedekte seëning.
Hy het gesê dat die saak van integrasie belangrik is vir die Yslanders, aangesien hulle ‘n klein volkie is.
“Ons is net 300 000 mense wat die taal praat, wat nêrens anders gepraat word nie. Dit is baie belangrik dat ons ons geskiedenis bewaar, ons agtergrond, en ons taal. Dit is dinge wat van ons ‘n volk maak” het hy verder gesê.
In reaksie op die krisis het Ysland ‘n perk geplaas op die hoeveelheid geld wat uit die land geneem kan word. Poolse werkers, was nie in staat was om geld huis toe te stuur nie, wat die hoofsaaklike rede is dat hulle daar is. Die feit dat geld nie meer uit die land gestuur kan word nie, kan die doodsklokke inlui vir besigheidsmense en die klein gemeenskappe wat hulle ondersteun.
