Dan Roodt: GroenLinks en Afrikaans — Azille Coetzee se Amsterdamse relaas

Deel op

Teen my beterwete in, het ek $20,70 (R300 op ‘n rand of twee na) betaal vir die Kindle-weergawe van Azille Coetzee se debuut, In my vel — ‘n reis . (Tafelberg, 2019). Die skryfster is onbeskaamd links, feministies, kultuurmarxisties en het selfs die liberale Helen Zille oor die kole gehaal vanweë haar “rassisme en kolonialisme” (sien foto hier bo). Soos “ahistories” die teenoorgestelde van histories is, is “Azille” dus die antitese van “Zille”, want sy identifiseer met die verlinkse uithoek van die politieke spektrum.

Nou die dag het die idee by my opgekom dat “links/regs”, die ou tipering uit die dae van die Franse Revolusie nie eintlik meer vandag se politieke stryd afdoende benoem nie. Veel eerder woed die oorlog nou tussen twee pole wat ek “tradisie” en “dekadensie” sou noem. Natuurlik oorvleuel dit steeds met regs/links, maar die aard van die stryd is nóg dié van ‘n ekonomiese klassestryd nóg dié van “beskawingskonflik” of Kulturkampf à la Huntington. Veel eerder gaan dit om ‘n konflik tussen diegene wat Westerse afgang — “die ondergang van die aandland” soos Spengler dit beskryf het — bepleit of bevorder en diegene wat dit teenstaan en Tradisie, met ‘n hoofletter-T, wil beaam, beskerm en handhaaf.

Die vertelster is nie net verlinks nie, maar ook dekadent. Tydens haar verblyf in Amsterdam sê sy eers haar kêrel wat haar Nederland toe vergesel het — wat bloot as “C” bekendgestel word — af en slaap dan by ‘n hele alfabet van ander mans, waaronder ‘n ouer man wie se identiteit as “Die Nederlander” aangegee word. Sy neem ook aanmekaar alkohol in. Dit lyk asof In my vel eintlik ‘n soort “outobiografiese vertelling” à clef is waarin die name van bepaalde persone verswyg word, maar waarin die werklike ervarings en menings van die skryfster weergegee word.

Op een vlak is dit dus ‘n soort Boereweergawe van iets soos Cathérine Millet se La vie sexuelle de Cathérine M, ‘n berugte Franse outobiografie deur ‘n kunshandelaar wat haar vergryp aan orgies, seks in die openbaar en ander meer ekstreme ervarings. Ek sê “Boereweergawe”, want kennelik het iets oorgebly van Azille Coetzee se kinderdae as boorling van Bellville “agter die Boereworsgordyn van die Kaap” soos sy dit stel, en het sy nog nie “gepromoveer” tot volskaalse dekadensie soos Cathérine Millet of vele ander soortgelyke Franse skryfsters wat onder andere ook in pornografiese films opgetree of prostitusie beoefen het nie.

Iewers laat Azille Coetzee haar egter positief uit oor “sekswerkers” — asook dwelms! Al het sy dus nog nie die hoogste sport in dekadensie bereik nie, moontlik vanweë haar Calvinistiese Afrikaanse skoolopvoeding aan die Hoërskool D.F. Malan, beskaam die hoop nie dat sy ons moontlik nog gaan vergas op die meer “volwasse” weergawe van haar “reis” op die breë weg nie.

Iewers gebruik sy die Engelse woord “journey” om haar lewensverhaal te beskryf. Daarom haas ek my om by te voeg dat, anders as Cathérine Millet s’n, is haar vertelling heel kuis en behoort geen ouderdomsbeperking te geld nie. Waar die boek egter wel aanstoot gee, is in die gebruik van onnodige Engelse woorde waar gangbare Afrikaanses bestaan. ‘n Mens lei af uit een gedeelte waar sy die “kreoolse herkoms” van Afrikaans besing dat sy eerder ‘n soort “Kaaps” wil besig, maar selfs dít is nie baie geslaagd nie, want die tegniese en akademiese woordeskat van “Kaaps” skiet waarskynlik tekort om sommige van haar eenvoudige feministiese of marxistiese begrippe oor te dra.

By ‘n onthaal raak sy aan die gesels met ‘n ouditeur, Danie, en val sommer met die deur in die huis deur haar linkse, “anti-koloniale” identiteit aan hom oor te dra:

Dis nog ’n laataand by nog ’n partytjie. ’n Verjaardagpartytjie van ’n Afrikaanse ouditeurkennis van my, met keurige catering, craft-bier en ’n playlist van golden oldies. Deloitte Suid-Afrika-styl.

Ek is spyt ek het gekom. Ek sit en gaap in ’n vensterraam van die luukse woonstel op die sesde vloer en kyk uit oor die stad wat wasig is agter die vlae reën, die presiese lyne van die netjiese dakke troebel in die donker.

Nes ek die wilskrag bymekaarskraap om op te staan, my jas aan te trek en die vyf kilometer lange fietsrit terug na De Pijp aan te pak, in die reën, kom daar iemand langs my op die vensterbank sit. Ek sug en staal my vir ’n laaste sarsie small talk.

“PWC?” vra hy. En toe ek my kop skud: “O, KPMG? Ek het jou nog nie by ons gesien nie? Ek is Danie, ek is by Deloitte,” steek hy sy hand uit en groet my met ’n stewige Afrikaanse handdruk. Iets wat ek nogal mis hier in Europa.

Aan sy natuurlik gespierde arms en bobene wat ’n mens deur sy klere kan sien, lei ek af dat hy ’n ouditeur is wat handearbeid ken, wat ’n ploeg kan stoot. Waarskynlik op ’n plaas grootgeword, werk net bietjie in finansies om geld te spaar en die wêreld te sien voordat hy oor ’n paar jaar die boerdery by sy pa oorneem, raai ek.

“Waar kom jy vandaan?” vra ek.

“Riversdal,” sê hy. “Ons boer met skape, maar ek het op Stellenbosch geswot. Is nou al drie jaar hier in Amsterdam en wil nog ’n jaar bly.”

Ek was reg.

“By watter firma is jy?” vra hy.

“Nee, ek is by die universiteit,” sê ek.

“O, wat swot jy, regte?” vra hy geïnteresseerd.

“Nee, filosofie.” Ek hoop om hiermee die gesprek te beeindig, soms is die noem van my studierigting genoeg om enige vinnige gesprek, of romantiese belangstelling, in die kiem te smoor, veral hierdie tyd van die aand.

Maar Danie is lus vir gesels.

“O, so jy kan my persoonlikheid analiseer?” sê hy. “Ek soek al heelaand iemand vir wie ek my probleme kan vertel.”

“Nie sielkunde nie. Filosofie. Dis iets anders.” Ek kan nie help om te glimlag nie, so vinnig val Danie se gesig. En om die finale slag aan ons gesprek toe te dien, voeg ek by: “Feministiese filosofie.”

Ek maak reg om op te staan. Maar ek onderskat vir Danie.

“Okay, maar vertel vir my,” sê hy. “Ek wonder nog altyd wat filosofie nou eintlik is. En feminisme, for that matter.”

Ek kyk op my horlosie. Twintig oor elf. Ek kan seker maar nog ’n paar minute bly. Dit reën nog katte en honde. Ek sit weer terug.

“Wel, ek vra hoe feministiese denke uit Afrika ons kan help om dekolonisering te bedink. So, ek kyk na hoe die Afrika-filosofie dink aan die liggaam, aan seks, aan die verskil tussen die geslagte en die verhoudings tussen mense en probeer sien hoe dit ons kan help om die koloniale denkwyses wat ons wêreld definieer, te kritiseer en te begin afbreek.”

Danie dink ’n bietjie; ek sien in sy oë, agter sy brilglase, hoe sy kop aan die werk is.

“Okay, maar dekolonisering. Hoekom?”

Ai, ek moes geweet het.

Maar voordat ek my lang antwoord kan begin, praat hy verder. Duidelik ’n saak na aan sy hart.

“Kolonialisering was góéd vir Afrika. Waar sou hulle gewees het as die Hollanders en Britte hulle nie kom ophef het nie?”

Ek probeer hom in die rede val, maar hy stuur voort.

“Maar eintlik, wat ek wil sê, is, hulle was nie eens daar toe ons daar aangekom het nie. Die Britte het die Afrikaners kom kolonialiseer. Maar toe ons aan die begin daar aangekom het, was daar niemand nie.”

“Wie is ‘ons’ en wie is ‘hulle’?” kry ek vinnig my vraag in voor hy aangaan.

“Ons is die Hollanders en hulle is die swart mense,” haal hy sy skouers op. “En die kleurlinge, of wat ook al.”

Hier is my kans: “Ek is nie ’n Hollander nie,” sê ek.

“Ja, man, jy weet wat ek bedoel,” sê Danie.

Al weer. Daar is so baie wat onuitgesproke aangevoer word wanneer Afrikaners oor politiek praat. So baie wat ons voel ons nie hoef te sê nie, omdat ons aanneem dat daar konsensus is, al is dit nie meer polities korrek om dít waaroor ons konsensus het, hardop te uiter nie. Ómdat ons Afrikaners is, wéét ons hierdie dinge, hoef ons dit nie te sê nie.

“Ek is Afrikaans, ek is ’n Afrikaner, nie ’n Hollander nie,” sê ek.

“Afrikaners ís Hollanders,” sê hy. “Jy kan dit mos hoor aan ons taal. Hollands in Afrika, bietjie getweak deur die boere, maar nie te erg nie.”

Dis nie waar nie, Danie. Jy soek verniet vir suiwerheid, veral in ons taal. In die voue van Afrikaans sit die Khoi. Vra vir die taalkundiges, Danie, vra hulle. Daar is rekords van Khoi-mense wat Nederlands kon verstaan so vroeg soos 1595, vóór die koms van Jan van Riebeeck. Hulle dryf handel met die Nederlanders wat by die Kaap verbygekom het voor die vestiging van die VOC. Die Khoi-mense rol die Nederlandse woorde in hul monde rond, buig dit. Breek die sinne, sit hulle terug aanmekaar, sodat die ritme reg sit, blaas rym daarin, sodat dit betekenis kry hier onder die sterre, die oopblou lug, op die liggrys grond op die suidelike punt van die Afrika-kontinent.

Jou voorgeslagte, Danie, die veeboere van die agtiende eeu, wat hulself later Afrikaners begin noem, praat nie Hollands nie. Hulle praat veeboerafrikaans wat gevorm word in noue aanraking met die Khoi-Afrikaans van die Khoi-mense. Die Khoi en die veeboere is afhanklik van mekaar in die Kaapse binneland. Wanneer hulle met mekaar praat, slaan hulle oor tussen Khoi-Afrikaans en veeboerafrikaans. Khoi-Grensafrikaans word dit.

Wie is ons, wie is hulle? Nederlands vergader stof, hierdie lewe vind nie uitdrukking in die swaar sinne met hul stadige verbuigings nie. Hierdie lewe in die helder son, waar ’n mens lig moet trap, waar god in die sterre sit en die dood om elke draai. Hiervoor het ons ’n ander taal nodig.

Nederlands word afgestof wanneer ’n mens ’n brief wil skryf, of formaliteite in rekords wil vasvang, geboortesertifikate. Daarvoor kan ’n mens dit nog gebruik.

Maar nie vir lank nie. Afrikaans vind wel sy geskrewe vorm. Maar nie soos ons wil glo nie, nie in die bleek ou penne van die Hollanders nie. Hier ook is Afrikaans bruiner as wat jy dink. Met ’n klein bietjie ondersoek kom die steriele suiwerheid waarvan Afrikanernasionalisme ons wou probeer oortuig so vinnig tot niks. In die sewentiende eeu word Moslem-mense as slawe na die Kaap gebring om arbeid te verskaf aan die nuwe kolonie. Later praat hulle Afrikaans en aanbid hulle in Afrikaans in hul Madrasah in die Bo-Kaap van Kaapstad. In die negentiende eeu vertaal die kerkleiers die heilige tekste tot in Afrikaans, maar skryf dit neer in Arabiese skrif waarin die Moslem-mense geleer lees en skryf het. Arabies-Afrikaans. Die klanke van ons taal, die lettergrepe en strukture dra ook die spore van die Moslem-spiritualiteit, die eggo’s van Malayu.

Afrikaner pas nie in die koloniale onderskeidings in nie. Dis nie óf Europees óf van Afrika nie. Dis nie óf wit óf swart nie. Dis nie óf setlaar óf slaaf nie. Nie óf uitheems óf inheems nie.

Afrikaans is nie óf óf nie, dis én én.

Ek is nie óf óf nie, ek is én én.

Vra die taalkundiges, Danie, vra hulle.

Wie is ons en wie is hulle?

“Jou logika werk nie,” sê Danie.

“Hoekom nie?” vra ek.

“As daar nie ’n ons of ’n hulle is nie, waaroor is die bohaai van dekolonisering dan?”

Danie lig sy wenkbroue, vat ’n sluk bier. Hy dink hy het my vasgevra.

En verder:

“So mooi hoe jy oor ons taal praat. Ek kan sien jy is ’n passievolle Afrikaner,” sê hy met ’n glimlag.

“Maak my sommer na ons land verlang. Het jy ’n boyfriend?” Hy kyk my reguit in die oë en tussen ons vind daar ’n fyn verskuiwing van energie plaas.

“Nee,” dring dit weer tot my deur. “Nie meer nie.”

Hy sit versigtig sy hand op my been. ’n Uitnodiging. Ek voel die hitte van hierdie mooi sterk Suid-Afrikaanse hand deur my jeans. En die suiwer gewig daarvan. My blik volg vlugtig die kragtige kontoere van sy liggaam, die groot voorarms, gedefinieerde skouers, bultende bobene …

Ek haal bogaande bladsye uitvoerig aan omdat hulle vir my die kruks van die boek bevat: Azille Coetzee se identiteitskrisis waar sy haar in Nederland bevind. Waarskynlik het sy in Suid-Afrika meer Engels, meer wêreldburger, vormloos, links en selfs anti-Afrikaner gevoel. Want Afrikaans en links gaan nie so lekker saam nie: Koos Kombuis het op ‘n stadium “uit die volk bedank”, terwyl figure soos  (Mal) Max du Preez, Piet Kopdoek en Christi van der Westhuizen enige oorblyfsels van ‘n Afrikaneridentiteit van hul afgewerp het en met oorgawe deelneem aan die soort Engelse en swart Boerehaatkultus wat sedert 1806, maar veral sedert 1994, in Suid-Afrika woed. Dit word mooi saamgevat deur frases soos “kill a Boer” of “Afrikaans must fall”. Die Afrikaner is “die ander”, die gehate, die verguisde, die agterlike, die “fascis”, “rassis”, “seksis” en elke ander “-is” uit die hatige leksikon van “Suid-Afrikaanse” (lees: derdewêreldse) linksheid.

Verder pak sy die “kreoolsteorie van Afrikaans” uit teenoor Danie, wat op min of niks taalkundigs berus nie. In die 1500 bladsye van Wannie Carstens se Die Storie van Afrikaans, wat elders op dié webblad deur Leon Lemmer geresenseer is, kan hy slegs “plekname” noem as konkrete bewyse van “Khoisaninvloed” op Afrikaans. (Leon Lemmer: Wannie Carstens se Storie van Afrikaans en Leon Lemmer: Wannie Carstens: Die hibridisering van Afrikaans.)

Op ‘n stadium deel Azille Coetzee ‘n woonstel met ander vroue, waaronder ‘n Sweed uit Stockholm. Pleks dat sy die Sweed uitgevra het oor hoekom Sweeds so erg “kreools” en vereenvoudig is, sonder dat die Swede ooit naby slawe of Khoisan gekom het?

In multikulturele lande soos Suid-Afrika polariseer sosiopolitieke verhoudings uiteindelik na die uiterstes toe: jy is óf EFF óf AWB, met die middelgrond wat wegkalwe. Dit is wat met die eens liberale, Engelssprekende Helen Zille, die voormalige “antiapartheidsjoernalis” gebeur het, en wat by implikasie ook besig is om haar oënskynlike teenhanger, A-zille, te tref… Anders as die vorige geslag “Afrikaanse” linkses, is sy nie meer in staat om haar Afrikaneridentiteit sonder meer te vewerp nie.

Dit maak haar ‘n “regse”, onvermydelik! Soos die linkse Franse koerant, Libération, ná die verskyning van Michel Houellebecq se vorige roman, Soumission (Onderwerping), geskryf het: “Hiermee het Houellebecq op een slag die vernaamste temas van die verregses in die Franse letterkunde ingebring.” Houellebecq was in sy jeug ‘n kommunis, maar omdat hy die komende islamisering van Frankryk gesatiriseer het, beskou Libération hom voortaan as “verregs”.

Die verslag van die Waarheids- en versoeningskommissie het dit onomwonde gestel: die Afrikaanse taal en kultuur is “outoritêr”, na die definisie van die kultuurmarxis Theodor Adorno. Om jouself post-1994 ‘n Afrikaner te noem, kom dus kragtens die heersende ideologie neer op ‘n erkenning dat jy ‘n “fascis” is! Netnou-netnou breek daar ‘n linkse heksejag op Azille Coetzee ook uit, soos toe ek destyds in 2005 met geweld gedreig is toe ek na die Woordfees op Stalinbos genooi is om oor my roman Moltrein te praat. Linkses is altyd “gewaltbereit”, soos die Duitsers sê.

Amsterdam, die prentjiemooi “ruimtelik geordende” stad met haar kanale, museums, kafees, restaurante, boekwinkels, kunsgalerye en die alomteenwoordige fietse, konfronteer die besoekende Afrikaner met die vraagstuk van sy herkoms en identiteit. Kortom, dít wat ek “tradisie” noem, teenoor die “dekadensie” van eenvoudig maar deur die Afro-Saksiese bevolkingsmeerderheid van Suid-Afrika geassimileer en verswelg te word.

Terloops, ‘n klompie jare gelede het die digter Breyten Breytenbach iewers die stelling gemaak dat “identiteit in Suid-Afrika geen toekoms het nie”. Hiermee het hy bedoel dat almal in die groot smeltkroes sou verdwyn en dat identiteit en die implisiete nasionalisme wat daarmee saamhang, ‘n “uitgediende, agtergehaalde begrip” was. Soos gewoonlik was hy verkeerd, en Azille Coetzee se boek is ‘n bewys daarvan. In my vel — ‘n reis gaan oor niks minders as die regse, selfs verregse vraag rondom identiteit nie. Nie verniet nie word daar in Frankryk, Oostenryk en elders na nasionaliste as “identitêres” verwys. Onthou dat identiteit, veral in die Engels-linkse sfeer, altoos as “vloeibaar, verganklik en onbelangrik” aangebied word; dis ‘n “verbeelde konstruk” soos een of ander dom Brit kwytgeraak het; ons is “wêreldburgers, geslagloos, identiteitsloos”.

Ná aan sy dood het die Amerikaner Samual Huntington natuurlik ‘n boek oor die Amerikaanse identiteit geskryf met die titel: Who are we? Aan die begin van In my vel — ‘n reis, herhaal Azille Coetzee die vraag:

Op nog ’n Vrydagaand in Amsterdam, soos baie ander van sy soort, kom ek weer eens te staan voor die vraag wat sny tot op die been van die wit Suid-Afrikaner. Waar kom ek vandaan?

Wie is ek?

Sy erken insgelyks dít wat ek, Leon Lemmer en ander al jare lank sê, stemme roepende in die woestyn van hierdie o so Engelse land, naamlik dat daar “identiteitsverwarring” heers:

Omdat so baie mense in postapartheid-Suid-Afrika besig is met belangrike en moeilike identiteitskuiwe, het ek nie besef dat daar groepe mense is wat so seker is van wie hulle is, en so trots op hul kultuur en taal is, soos die Nederlanders nie. Die Nederlanders wéét wie hulle is. Hulle weet waar hulle vandaan kom en waarvoor hulle staan. Hul taal en kultuur is ondubbelsinnig, en skaamteloos, húlle s’n. Hulle kan wel spot met dit wat “gewoon echt Nederlands” is, ironies daarmee omgaan, of soms aspekte daarvan bevraagteken, maar dit is omdat hulle dit so goed ken en hulle dit so volledig toe-eien. Ek beny die Nederlanders hul rotsvaste selfverstaan en tussen hulle word ek werklik bewus van die identiteitsverwarring en onsekerheid wat my bestaan kenmerk en vorm.

Indien Azille Coetzee in Frankryk, Italië, Pole of Rusland sou gewoon het, sou sy die “rotsvaste selfverstaan” van Nederlanders in oortreffende trap by dié groter Europese volkere aangetref het en waar Engels nog glad nie op dieselfde vlak as in byvoorbeeld Nederland en Skandinawië ingedring het nie. In ‘n hotel in Lublin, ietwat suid van Warskou, het die man by die ontvangs nie ‘n enkele woord Engels, Frans of Duits geken nie — net Pools. Op een woord na, bygesê: “wifi”. Maar as dit op Engels uitgespreek word, het hy dit nie herken nie. Dit moes met ‘n Poolse aksent geuiter word, dan kon hy dit vaagweg eien as iets wat hy ken.

Azille Coetzee vertoon ‘n onhebbelike voorliefde vir anglisismes en selfs lukraak Engelse woorde wat altyd by my ‘n gevoel van eksistensiële naarheid (nausée) veroorsaak. Daarom vra ek die leser om verby die swak taal van die volgende vier sinne te kyk (of die lugsakkie byderhand te hou) en eerder te fokus op die identiteitsverwarring wat sy verwoord:

Om ’n wit Suid-Afrikaner te wees in hierdie sin is om in ’n soort liminale ruimte te verkeer. Ons is in Afrika, eeue al, maar ons teenwoordigheid is omstrede en voel fragiel, ons tuishorendheid word voortdurend in twyfel getrek deur onsself en deur ander.

In Afrika is ek Europeër, en in Europa is ek Afrikaan. My herkoms is ’n inkoherensie waarvoor niemand eienaarskap wil neem nie.

Eintlik lieg Azille Coetzee vir ons. In Europa is ons juis nie “Afrikane” nie! Destyds toe ek Parys toe is, wou die Franse ambassade om rassistiese redes nie vir my ‘n beurs gee om soontoe te gaan nie, want ek was ‘n blanke. Toe ek op eie stoom eers in Parys aanland en daagliks die moltrein werk toe neem, kom ek agter dat dieselfde swart Suid-Afrikaanse studente wat deur die Franse regering van rojale beurse voorsien is, elke dag in die moltrein deur die polisie voorgekeer word vir die sogenaamde “identeitskontroles”. Want hulle was swart.

Dit druk vir my die paradoks van politieke korrektheid mooi uit. Al sê die teorie nou ook wat, in die praktyk werk dit gewoonlik andersom. Dieselfde links-liberale persoon wat in Suid-Afrika popel oor die vreugde van multikulturele samesyn, sal vir hom ‘n huis in ‘n veiligheidsbuurt koop. Linkse politici in Amsterdam woon insgelyks nie in Moslem-ghetto’s nie, maar in die duurste, mees Nederlandse deel van die stad, binne die “Grachtengordel”. Mal Max du Preez se oproep van jare gelede dat witmense nou hul rassisme moet los en in die lokasies moet gaan bly, het onbeantwoord gebly, ook deur Max self.

Ek het ‘n hekel aan die postmodernisme wat ek tydens my jeug geesdriftig aangehang het. Maar dit was ook vir my destyds ‘n soort rebellie teen die alomteenwoordige Britse marxisme in Suid-Afrika, die hegemonie van Joe Slovo et al wat, lank voor die ANC-SAKP ons land kom beset het, reeds aan die plaaslike Engelstalige universiteite gevestig was. Ek is trouens by Wits uit ten minste een departement geskors omdat ek “die ligsinnige Franse teorieë van Barthes, Derrida, Deleuze, Baudrillard en Lyotard ernstig opgeneem het”, en nie die suiwer kultuurmarxisme van Adorno, Marcuse en Lukács wou napraat nie.

Aan die ander kant is daar een postmoderne begrip wat vir my die Afrikaner se verhouding tot Europa uitdruk, en dit is “gedesentreer”, dit wil sê, buite die sentrum. In Suid-Afrika word ons weliswaar deur die huidige rassistiese en afrosentriese bewind as “Europeërs” gesien, maar om die Kommunistiese Party se aaklige cliché aan te pas, “ons is Europeërs van ‘n spesiale tipe”. Ons woon buite die sentrum. Dit maak ons egter nie minder Westers en Europees nie; vandaar die term “Eurokaner” wat ek graag gebruik. Ons is geen “Africans” (swartes) in die Engelse sin van die woord nie.

Elders in haar teks sê Azille Coetzee:

In Nederlands gebruik ’n mens die woord “Afrikaans” om te verwys na enige iets van Afrika. In Afrikaans het ons nie ’n woord vir “African” nie, die naam vir ons eie taal neem die hele ruimte op.

Tydens die negentiende en twintigste eeue was eers die Boererepublieke en toe die hele Suid-Afrika vanselfsprekend Westers, én Europees. Ons beskik oor ‘n eie inheemse kultuur, maar ons band  met Europa is sterker as dié van die Amerikaners, Kanadese of Australiërs, wat in elk geval Britse kolonies was. En nou is daar Brexit… die eiland wat sy bande met die Europese Vasteland drasties en simbolies wil verbreek. Soos sowel Theresa May as Boris Johnson al kwytgeraak het, is Brittanje “globaal”, met ‘n “globale taal”; dit staan bevreemd teenoor die Europese nasionalismes, die eie taal, eie kultuur, eie kos, eie musiek, eie tradisie.

N.P. van Wyk Louw het blykbaar op ‘n keer, volgens die skrywer John Miles, tydens ‘n lesing by Wits baie klem daarop geplaas dat Afrikanernasionalisme, waaronder ook ons taalnasionalisme, presies dieselfde patroon gevolg het as die Europese nasionalismes, ook min of meer in dieselfde tyd. Eeue lank reeds, per skip, en later per vliegtuig en teleks, maar deesdae via die kuberruim, het ons ‘n intense wisselwerking en kruisbestuiwing met Europa en veral natuurlik met Nederland onderhou.

Toe ek die eerste keer in Parys gekom het en ‘n koerant aan die ontbyttafel gelees het, het ‘n Franse vriend glimlaggend opgemerk: “Tipies Engels.” Wanneer Azille Coetzee skuim-om-die-mond fulmineer teen Afrikanernasionalisme, rassisme en dergelike meer, wil ek ook uitroep: “Tipies Engels!”

Engelse politieke korrektheid, Engelse sedelesse oor die Afrikanergeskiedenis… Dit bring my by die gebreke van Azille Coetzee se boek, sy dit dan ‘n debuut deur ‘n jeugdige skryfster, selfversekerd met haar kraakvars Ph.D. in Filosofie of Wysbegeerte van die Vrije Universiteit van Amsterdam.

Maak geen fout nie, ek is gek oor Amsterdam, Nederland en Nederlanders en voel my meer tuis daar as op enige ander plek in Europa, met die uitsondering dalk van Vlaandere. En Frankryk, waar ek darem die taal ordentlik kan praat. Maar in mentaliteit en kultuur, voel ek my baie naby aan Nederland, oneindig nader as aan enige anderstalige Suid-Afrikaner, met inbegrip van die plaaslike Engelse wat ek al jare lank “vervelend” vind, in die Nederlandse sin soos Coetzee dit so mooi vir ons verduidelik.

Desnieteenstaande, is Nederland nou nie eintlik ‘n land wat bekend is vir sy filosofie nie, anders as Duitsland en Frankryk byvoorbeeld. Nederlanders is handelaars, kunstenaars, digters, boere. Maar nie eintlik filosowe of groot ideoloë nie. Hulle is pragmaties, nes hul “neefs” hier aan die suidpunt van Afrika.

Daarom staan ek bietjie skepties teenoor ‘n Ph.D. in Filosofie van die Vrije Universiteit van Amsterdam. Veral in hierdie dekadente tye. In elk geval betrek Azille Coetzee kwalik enige filosofiese argument of denkrigting by haar Amsterdamse dagboek. Waar sy wel na “filosowe” verwys, is hulle eerder non-wysgere, soos die mallerige Kaliforniese feminis, Judith Butler, of swart-Suid-Afrikaanse skrywers en joernaliste wat oorborrel van anti-blanke retoriek.

Miskien gaan In my vel in Amsterdam onder die GroenLinkse burgemeesteres, Femke Halsema, deur vir “filosofie”. Halsema het mos redelik onlangs gesê dat geen nuwe name van “witte mannen” op straatnaamborde in ‘n nuwe buurt mag verskyn nie:

Recent adviseerde de commissie burgemeester Femke Halsema om de straten in een nieuwe wijk in IJburg te noemen naar de hoofdrolspelers van de Slag op de Zuiderzee in 1573. Allemaal witte mannen. ‘Dus toen zij met het idee kwamen van die kapiteins uit de 16de eeuw, heb ik de commissie er gewoon op gewezen dat dit niet in lijn is met het beleid van de stad.’, aldus Halsema.

Vervolgens adviseerde het stadsbestuur de Cnor om eens na te denken over de leiders van slavenopstanden. Dat zijn dan tenminste overwegend zwarte mannen.

Ook het ons al genoeg vreemde geluide gehoor uit Stalinbos, soos die Universiteit van Stellenbosch soms deesdae in die volksmond bekendstaan, om te wonder of ‘n opleiding aldaar — is Anton van Niekerk nie ook “professor van filosofie” nie? — nog enigiets beteken, ten minste in die geesteswetenskappe.

André P. Brink, wat hom gedurig as groot “feminis” voorgedoen het, was ‘n opperste rokjagter wat vroue verwond en misbruik het. Net so vind ek dit ironies dat Azille Coetzee, wat soos Femke Halsema gal braak oor “wit mans”, so gereeld in een se bed teregkom, waaronder ook “die Nederlander” wat vir haar ‘n verblyfvergunning verseker omdat sy dan as “partner van ‘n Nederlander” deur die administrasie geklassifiseer kan word.

Blykbaar is Azille Coetzee ‘n aanhanger van die ANC onder Mandela en Ramaphosa, maar nie onder Zuma nie. Dit klink vir my so half “hoofstroom-Stalinbos”. Sy rebelleer dus nie teen haar eie Kaapse maghebbers nie, maar konformeer teenoor die heersende akademiese ideologie.

Gegewe haar afkeer van “witte mannen”, kan ‘n mens seker die skryfster se politiek as GroenLinks na die Nederlandse norm tipeer.

Terloops is dit vir my nogal vreemd dat soveel beurshouers vanuit Stellenbosch wat in Nederland gaan studeer het, amper as Boerehaters terugkeer. Marlene van Niekerk, Gerrit Olivier… om maar enkeles te noem. Weliswaar tipeer Azille Coetzee haar steeds  as ‘n “Afrikaner”, maar sy wil ‘n ander inhoud aan die begrip gee as die tradisionele, wat meer strook met die Angel-Saksiese opvatting van “vloeibare, buigbare identiteit”.

Die waarde van die boek, half belydenis-van-‘n-maklike-meisie, half advertensie-vir-politieke-korrektheid-vanuit my-woonstel-in-sorgvrye-Amsterdam, is vir my geleë in die bydrae wat dit tot die debat oor Afrikaans-Nederlandse identiteit maak. Tot dusver is dié debat meer in behoudende of, na my term, “tradisionele” kringe gevoer, terwyl linkses of dekadentes hulle daaraan afgevee het. Hulle was bloot “wêreldburgers” of “mense met vloeibare identiteit op alle vlakke”.

In dié opsig kom In my vel soos ‘n torpedo vir die gemaklike linkse hegemonie wat daar sedert 1994 oor identiteitskwessies in Suid-Afrika geheers het. Dit herbevestig die begrip “Afrikaner”, sy dit dan op onsekere wyse, wat saam met Afrikaans aan die universiteite en in die howe afgeskaf moes gewees het. Die blote feit dat die boek by ‘n hoofstroomuitgewer verskyn, spreek van ‘n bres wat in die linkse hegemonie geslaan is. Eens het Die Burger omsendbriewe aan sy joernaliste uitgestuur waarin hulle verbied is om die woord “Afrikaner” te gebruik omdat die term, asook die mense, afgeskaf moes word. Nou herleef die begrip selfs vanuit linkse, dekadente kringe!

‘n Aspek wat Azille Coetzee nie aanroer nie, is hoe die internet die verhouding tussen Afrikaners en Nederlanders onherroeplik verander het. Dieselfde “witte mannen” wat destyds skeepskapteins was, het rekenaars, selfone en digitale kommunikasietegnologie tot ons beskikking gestel. Pleks van die oseaan te bevaar, seil ons nou op die internet, lees mekaar se boeke en artikels, kyk oor en weer YouTube-video’s in sowel Nederlands as Afrikaans.

Moontlik sal dié boek ook in Nederland gelees word. Coetzee se taamlik stereotipe sienings van Nederlanders mag amuseer, of selfs ontstel. Veral haar soort fanatieke Engelse moralisme en kultuurmarxistiese pogings om Nederland as ‘n “stelsel van blanke bevoorregting” voor te stel, mag dalk kommentaar in die “Moederland” ontlok. Tafelberg behoort aan Media24, wat op sy beurt ‘n filiaal van Naspers is en op ‘n stadium had Multichoice sy hoofkantoor in Hoofddorp, neffens die Schiphollughawe.

Coetzee is kennelik ook onkundig aangaande die groot rol wat Nederlanders, waaronder die “Hollanderonderwysers” en hul nakomelinge, in die totstandkoming van Afrikaans gespeel het. Vele van ons vroeë romanskrywers, soos Jochem van Bruggen en Johannes van Melle, was Nederlanders of van Nederlandse afkoms.

Afrikaners en Nederlanders staan maar nog aan die begin van ‘n nuwe toenadering en verkenning van mekaar. Sáám kan ons soveel uitrig en tesame met Vlaandere selfs ‘n nuwe “Dietse beweging” op tou sit.

Die Nederlandse parlement, oftewel Tweede Kamer, het hom onlangs by wyse van ‘n mosie uitgespreek téén grondonteiening sonder vergoeding in Suid-Afrika. Vergeleke met die jare van verguising, terreur en boikotte, was ons verhouding met Nederland nog nooit so goed sedert die 1950’s nie.

Ek het my die afgelope jare, weliswaar met die gasvryheid en hulp van sleutelpersone in Nederland, sterk beywer vir groter dialoog tussen Afrikaner-Suid-Afrika en Nederland. Terwyl die Nederlandse “linksvolk”, soos hulle soms genoem word, afsydig staan teenoor ons, vertoon die meer regse Nederlanders groot empatie met ons, leer en lees Afrikaans, luister Afrikaanse musiek en kyk Afrikaanse films op die internet.

Behalwe Afrikaanse ouditeure in Nederland, het Azille Coetzee blykbaar meesal met “linksvolk” verkeer en is sy kwalik bewus van figure soos Thierry Baudet, Martin Bosma, asook die joernalis Joost Niemöller wat ‘n groot rol speel om Nederland meer van ons haglike situasie bewus te maak.

Benewens Afrikaans-Nederlandse dialoog en debat wat moet voortwoed, sou dit goed wees as daar ook links-regse of, tradisioneel-dekadente, dialoog onder Afrikaners self plaasvind. Die Afrikaner-“linksvolk” in wie se geledere Azille Coetzee haar bevind, is vervul met ‘n irrasionele haat vir alles wat tradisioneel Afrikaans is, wat alles van Van Wyk Louw — die “nazi” soos Gerrit Olivier hom getipeer het — tot Steve Hofmeyr of leersoolskoene en kraaghemde insluit. As jy nie tekkies en ‘n Mandela-T-hempie dra nie, is jy vir hulle afstootlik.

Azille Coetzee vra die volgende retoriese vraag, wat eintlik op ‘n ontkenning van die Afrikaanse kultuur, die grootste wat daar nog ooit op die Afrikavasteland geskep is, neerkom:

Trouens, wat ís ons kultuur? Is dit al die boeretradisies (daardie two-tone hemde?), en die godsdiens? Is dit die boerekos? Is braai al wat oorbly? Die kontemporêre Afrikaner-identiteit bestaan in ’n soort kulturele leegte. Ek het geen tradisionele kulturele register waarin ek tuis voel en wat polities heeltemal aanvaarbaar is nie.

Het sy dan heeltemal níks aangaande Afrikaans aan Stalinbos geleer nie? Ons poësie en letterkunde, Romeins-Hollandse reg, teologie en filosofie, filmkuns, kunsmusiek, popmusiek, klassieke en moderne argitektuur, kookkuns, tradisionale drag, mode, ontwerp, reklamewese, Boeremusiek, tradisionele sport, vlae en ander simbole?

Soos enigeen van die Europese volkere, beskik ons oor ‘n lewende tradisie wat teen groteske aanvalle en uitwissing verdedig móét word.

Antjie Krog het verstaan dat om werklik anti-Afrikaans te wees en ons tradisie heeltemal te verwerp, moet jy jou liewer in Engels uitdruk. Coetzee se blote aandrang op Afrikaanse uitdrukking maak haar deel van daardie lewende tradisie. As sy dít nie begryp nie, moet sy maar die Amsterdam-Ph.D. teruggee soos sy blykbaar met haar Nederlandse verblyfskaart gedoen het.

Wat vir my persoonlik baie amusant was, benewens haar tipering van Afrikanerkleredrag as “two-tone hemde” (gaan kyk maar al die stylvolle foto’s van ons ou leiers in die eerste helfte van die twintigste eeu), is haar bewondering vir “Johannesburgse sofistikasie”. Met verwysing na ‘n vriendin, skryf sy:

…Elma, ’n ambisieuse Johannesburger oorspronklik van die Paarl, wie se plattelandse Afrikanerherkoms iets is wat soms ’n struikelblok is in die gesofistikeerde, stedelike besigheidswêreld van Johannesburg, waarin ’n mens privaatskool-Engels of Zoeloe, of meestal enige iets anders as Afrikaans praat.”

“Privaatskool-Engels,” ai. Dit is hier waar Coetzee se provinsialistiese Kaapse onderrok uitsteek, “provinsialisties” in die Franse sin van ‘n plattelander wat grootogig na die grootstad, Parys, staar. (Om Johannesburg en Parys egter in dieselfde asem te noem, is soos om ‘n vullishoop met ‘n kunsmuseum te vergelyk.) Johannesburg is deesdae niks meer as ‘n vulgêre hool vol gierige, korrupte mense met hier en daar ‘n McDonald of ‘n KFC nie. Die meeste Afrikaners in Gauteng koester net minagting vir die verval wat dié stad kenmerk, waaronder “wildplassen” soos Coetzee dit beskryf. Behalwe dat niemand ‘n boete van €150 opgelê word nie; dis deel van die norme en die stank.

Dekadentes beskik oor geen nuwe idees nie, benewens hul houding van: “laat gods water maar oor gods akker loop”. Laat die land verval, berus jou in oorheersing deur die aggressiewe Afro-Saksers, is hul houding. Hierteenoor put tradisionaliste hoop uit die groot ideologiese kentering wat tans besig is om in Europa plaas te vind, met die herlewing van skoonheid, voortreflikheid, galantheid, intelligensie, suiwer taal en uitdrukking, sedes in die breedste sin, asook nasionale trots.

In sy beroemde toespraak ná die Nederlandse verkiesing vroeër vanjaar, het Thierry Baudet verwys na die “uil van Minerva wat haar vlerke sprei as die aand aanbreek”, asook na “ons boreale wêreld”, ‘n uitdrukking wat linkse/dekadente joernaliste in Nederland met maniese angs en woede vervul het:

“Net als al die andere landen van onze boreale wereld, worden we kapotgemaakt door de mensen die ons juist zouden moeten beschermen. We worden ondermijnd door onze universiteiten, onze journalisten. Door de mensen die onze kunstsubsidies ontvangen en die onze gebouwen ontwerpen. En vooral worden we ondermijnd door onze bestuurders.”

Afrikaners mag gedesentreerd lewe, hier in ons “Suiderland” wat al male sonder tal deur digters en skrywers besing is, maar in wese behoort ons ook tot “die boreale wêreld”, die wêreld van die Noorde. In ons denke, asook in ons reëlgebonde en wetsgehoorsame gedrag, beliggaam ons alles wat Azille Coetzee in Nederland raaksien en bekla.

Ek kan geen aanklank vind by die Engelse “denkers” — as hul so ‘n benaming waardig is — wat Coetzee siteer nie. Daarteenoor voel ek my tuis in die denkwêreld van die Stoïsyne, sowel Grieks as Romeins, Hegel en Nietzsche, maar ook Heidegger en alles wat daarop gevolg het, veral in Frankryk waar Tradisie van vooraf aan bedink is as die omgewing wat nodig is vir die menslike organisme (en die volk of nasie) om te kan gedy. Ek moes alles afleer waarmee ek ooit op universiteit geïndoktrineer is en voel tans soos ‘n eerstejaarstudent wat uiteindelik nuwe, opwindende en verbode boeke ontdek, veral uit die laat negentiende en vroeë twintigste eeue. Ongelukkig geniet ek nie die skoonheid van Amsterdam nie, maar moet as ‘n blanke man tussen die ruïnes van Johannesburg sin maak van ons gestadigde afgang en ondergang. Ek soek na die sleutel tot ons dekadensie in die Franse romans van die negentiende eeu, toe die woord gemunt is, veral na aanleiding van Joris-Karl Huysmans se À rebours.

As Azille Coetzee werklik omgee vir Afrikaans, soos sy voorgee, anders as die ander Stalinbossers wat lankal reeds Engelse globalisme omhels het en bloot ons taal en tradisies ondermyn, sou sy ook kon insien dat tradisie iets is wat tegelyk beredeneer en gekoester behoort te word. Selfs te midde van die ruïnes huiwer daar reste om te ontdek en weer te verstaan.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.