Leon Lemmer: Azille Coetzee, ‘n amateur oor die ou en nuwe Suid-Afrika

Deel op

Ek het gehoop dat hierdie beker by my sou verbygaan. Dan Roodt het ‘n uitstekende artikel oor Azille Coetzee se boek, In my vel, ‘n reis (Kaapstad: Tafelberg, 2019, 207p, R250; Amazon Kindle $20,70) gepubliseer (GroenLinks en Afrikaans – Azille Coetzee se Amsterdamse relaas, Praag 20.07.2019). Dit is die verhaal van ‘n “maklike meisie” se omgang met te veel drank en talle mans; ‘n reis op die “breë weg” wat met trots en inhibisieloos aangebied word. Dit is mos die beeld wat jy van jouself moet voorhou as jy jou van tradisionele waardes bevry het en met mening teen behoudende Afrikaners te velde wil trek. Dit bring onder meer mee dat geradbraakte Afrikaans gunstig as inklusiewe kreools voorgestel word.

Anders as Roodt se resensie is ander besprekings van die boek feitlik deurgaans gunstig, bv Murray La Vita se onderhoud met Coetzee (Netwerk24, 9.08.2019). Coetzee sê bv: “Daar is natuurlik ‘n paar baie luide kampvegters vir Afrikaans, maar die soort Afrikanerskap en Afrikaans waarvoor hulle veg, is die een waarmee die meeste van ons baie ongemaklik voel.” Sy beweer selfs dat “seksuele geweld ook ‘n nadraai van die koloniale geweld is … Iets wat al die kulture in Suid-Afrika gemeen het, is ‘n soort macho of gewelddadige manlikheid” – asof blanke mans netso gewelddadig soos swart mans is.

Lesers word in die resensies wysgemaak dat Coetzee se boek besondere diepte het; dat die teks selfs ‘n herlees werd is; seker sodat verdere lae van die gewaande diepte ontdek kan word. Die ergste oorskatting kom van Lindie Koorts, waarin Coetzee in die opskrif van die resensie beskryf word as “‘n skrywer wat haarself blootlê sodat ons onsself kan sien” (LitNet 14.08.2019). Die probleem is dat ek myself glad nie kan herken in Coetzee se subjektiewe, irrasionele ontboesemings nie; onder meer omdat ek die ganse apartheidsera eerstehands ervaar het terwyl sy deurdrenk is met die anti-apartheidspropaganda van die ANC en sy meelopers.

Koorts wek nie die indruk dat sy ‘n behoudende Afrikaner wil wees nie. Haar doktorale proefskrif oor dr DF Malan, ingelewer aan die Universiteit Stellenbosch, is in Engels en haar ander publikasies maak dit duidelik dat dit vir haar, soos vir Coetzee, belangrik is om hulle van die Afrikanerdom te distansieer – hulle is Afrikaanssprekendes, maar om die dood nie tradisionele Afrikaners nie. Koorts se werkgewer is die Free State University, terwyl Coetzee in diens van Stellenbosch University is. Om in sodanige klimaat beroepsgewys te vorder, is ANC-gedienstigheid eintlik ‘n vereiste. Geen mens durf dink dat Koorts pro-apartheid is omdat sy oor DF Malan navorsing gedoen het nie. Vir Coetzee is haar rondslapery by mans ‘n prestige-saak. Terselfdertyd oorbeklemtoon sy haar militante feminisme – die man of vrou by wie sy woon, is die een wat bv kosmaak – iets waarmee sy ongetwyfeld haar anti-manskollega, Amanda Gouws, se guns probeer verseker. Sowel Koorts as Coetzee wil oorgraag bevryde, getransformeerde organismes wees.

In haar resensie skryf Koorts meer oor haarself as oor Coetzee se boek. Koorts se uitlatings is openbarend van die groot mate waarin sy haar, soos Coetzee, van die behoudende Afrikanerdom distansieer. Dit verduidelik waarom wat Koorts skryf, gunstig in Naspers/Media24-geledere ontvang word. Coetzee se boekie word as “‘n grondverskuiwende boek” opgehemel. “Ek wil hierdie boek weer en weer lees. En aan mense uitdeel.” Koorts het gewoon nie die insig om die vlakheid eie aan Coetzee te eien nie, onder meer omdat sy net vyf jaar ouer as Coetzee (gebore in 1986) is.

My gat se deksel was toe Gert van der Westhuizen, myns insiens een van die grootste dwase noord van die Suidpool, Coetzee se boekie beskryf het as “een van die belangrikste boeke wat vanjaar in Afrikaans sal [!] verskyn” en dat iedere Afrikaner dit móét lees (Netwerk24, 26.08.2019). Van der Westhuizen gee voor dat raskwotas vir rugby die beste uitvindsel ná moedermelk is. Sy vreeslose dwaasheid sorg dat hy sommer ook die geleentheid misbruik om te verwys na “die onnodige bohaai gegrond op ‘n ongesonde nostalgie vir die ou vlag.” In sy retoriek verwys hy na “regse boelies” en “luide konserwatiewe Afrikaners,” met Steve Hofmeyr wat by die naam genoem word. As dwaas herhaal hy Coetzee se dwaashede goedkeurend. Dit is sy manier om aan sy Naspers-werkie te bly vasklou. My dag begin sommer heelwat beter as ek Netwerk24 en die Naspers/Media24-koerante lees en daar is geen skryfwerk in van die drie Van der Westhuizens (Johann, Gert en Christi) nie. Sedert Gert se nie-onaardige artikel, “Akademici in Afrikaans” (LitNet 7.07.2015), het daar ‘n groot (opportunistiese) verskuiwing na links by hom ingetree.

Ek het reeds ‘n bietjie oor Coetzee se boek geskryf: In my reaksie op Suidpunt se skrywe onderaan my artikel, “‘n Pleidooi vir Afrikaans op Afrikaansdag” (Praag 14.08.2019). Ek gaan dit nie hier herhaal nie. Die onverskoonbare naïwiteit in Koorts en Van der Westhuizen se resensies bring mee dat ek my verplig voel om enkele aspekte in Coetzee se boek aan te roer.

Coetzee is behep met blanke bevoorregting. Sy gaan “gebuk … onder die skuld van witheid” (p 10). As sy sê sy is ‘n Afrikaner dan roep dit “skaamte en skuld” op (11). “As ‘progressiewe’ Afrikaner distansieer ek my van die meeste dinge wat ‘tradisioneel Afrikaans’ is omdat dit so duidelik die afdruk van die ou Afrikanernasionalisme toon. En, behalwe daarvoor, is ‘tradisionele’ Afrikaanse kultuur opmerklik uncool. Trouens, wat ís ons kultuur? Is dit al die boeretradisies (daardie two-tone hemde?), en die godsdiens? Is dit die boerekos? Is braai al wat oorbly? Die kontemporêre Afrikaner-identiteit bestaan in ‘n soort kulturele leegte” (11).

Soos Coetzee het ek ook in die buiteland studeer. Toe ek destyds Amerika toe is, het ek in die waan verkeer dat swartes, as 10%+ van die bevolking, mos maklik in die meerderheid blankes geïntegreer kon word. Ek het gou besef dat my standpunt foutief is. By my terugkeer het my vorige departementshoof opgemerk: Jy moes waaragtig Amerika toe gaan om die vanselfsprekende agter te kom. Wat Coetzee doen, is om haar by globalisme en teen Afrikanernasionalisme te skaar. In haar gemoed breek sy Afrikanerkultuur af en dan kla sy oor haar identiteitloosheid. As ongetransformeerde Afrikaner is ek sonder skaamte of skuld oor blanke “bevoorregting”. ‘n Mens kan immers individueel en groepgewys bo die meerderheid van die bevolking uitstyg danksy kundigheid, toewyding, deursettingsvermoë, harde werke, ens.

Wat is bevoorregting/bevoordeling? Dit is nie as ‘n mens bv ‘n plaas uit die grond opgebou het en die vrugte van jou prestasie pluk nie. Bevoorregting is wanneer jy sonder teenprestasie allerhande dinge ontvang, dus wanneer jy op ander parasiteer. Bevoorregting is wanneer jy ‘n huis van die staat ontvang, nie inkomste- of munisipale belasting betaal nie, wanneer jy bv munisipale dienste (elektrisiteit, water, riolering, vullisverwydering), onderwys, mediese dienste en televisie ontvang sonder om daarvoor te betaal. Bevoorregting is as jy op grond van rasse- en/of geslagsdiskriminasie eerder as meriete in ‘n pos aangestel of bevorder word; as jy ingevolge Gert van der Westhuizen se norme ‘n kwota in ‘n sportspan vul; as jy geld van die staat of ‘n ander instansie steel, of bv ‘n skool of biblioteek afbrand, ‘n openbare pad versper en beskadig, as inkommer onwettig die land betree, ens, en skotvry daarvan afkom, dus nie as ‘n misdadiger veroordeel word nie.

“Die Nederlanders wéét wie hulle is. Hulle weet waar hulle vandaan kom en waarvoor hulle staan. Hul taal en kultuur is ondubbelsinnig, en skaamteloos, húlle s’n” (12). Dít kan ook van tradisionele, behoudende Afrikaners gesê word. Dit is propaganda-besoedelde mense soos Coetzee wat ronddobber op soek na ‘n ontwykende identiteit as Afrikane en wêreldburgers. Daar is die sug na ‘n inklusiwiteit en diversiteit wat teen die grein van Afrikanerskap ingaan. Regte Afrikaners geniet “die eenvoud van ‘n enkele, suiwere identiteit” (17). “‘n Mens dra swaar aan Suid-Afrika” (16). Ja, aan die nuwe, ná 1994, rommelstatus-Suid-Afrika; nie aan die beskaaf-Westerse/Europese ou Suid-Afrika van weleer nie.

Let op hierdie onverdunde naïwiteit: “Behalwe die landswye viering van die koms van die universeel geliefde en vergewensgesinde president Mandela, was daar geen teken in mý kinderjare dat apartheid tot ‘n einde gekom het nie” (36). Was Mandela onskuldig in die tronk of omdat hy met terroristiese geweld die blanke regering omvêr wou werp? Vir Coetzee was Mandela moontlik “die enigste wonderwerk … wat ons arme ou land bymekaarhou” (43). Is rasgeïntegreerde woonbuurte, skole, universiteite, hospitale, ens, nie duidelike tekens van die einde van apartheid nie? Ten spyte van blatante rassediskriminasie gaan baie blankes in die nuwe Suid-Afrika voort om voortreflik te presteer en bewys te lewer dat alle mense nie gelyk of eenders is nie; dat daar individueel en groepgewys ‘n kwaliteitshiërargie kan wees, wat deur mense soos Coetzee verkeerdelik as die voortsetting van apartheid, gebrandmerk as blanke bevoordeling, geëtiketteer word.

Selfs trots op die Hollandse Goue Eeu, die 17de, toe die VOC die halfwegstasie aan die Kaap gestig het, word nie deur Coetzee aan die hedendaagse Nederlanders gegun nie. Die Hollanders het uitgemunt as bv seevaarders en handelaars en tot op hede voortgegaan om voortreflik te presteer en ‘n voorspoedige land in stand te hou; iets wat die swartes hulle nie kan nadoen nie. Maar Coetzee verkies om die Hollanders/Nederlanders af te kraak oor slawerny én daarby kolonisering te reduseer tot “uitbuiting en wreedheid” asook allerhande goed “wat hulle van hul kolonies gesteel het” (42).

Coetzee se mansvriend, C, karakteriseer haar siening van kolonialisme soos volg: “In sy kop flits ‘n bebloede tafereel. Europa wat toesak op Afrika, die Ooste, Suid-Amerika, en alles [!] in die pad verwoes met verbysterende geweld. Marteling, verkragting, onthoofding, mensejag, ontvoering, slawehandel, dwangarbeid. Honderde jare aaneen, in die naam van die ‘beskaafde’ praktyk van ‘ontdekking’, gereserveer [!] vir die Europeër met sy wit vel … Eeue later, eers ‘n paar dekades gelede, onttrek die Europeërs hulle uit die kolonies en laat samelewings agter wat aan flarde is, deurdrenk van bloed, vergruis onder gesamentlike trauma, kulture wat onherstelbaar verwring en uitgevee is. En dan skud die Westerse wêreld sy kop wanneer hierdie samelewings in chaos verval, of nie binne ‘n dekade weer op hulle voete kom nie” (47-48). Hou in gedagte dat die Suid-Afrikaanse blanke politieke bewind van ná 1910 deur die ANC en “progressiewes” soos Coetzee as “‘n spesiale soort kolonialisme” beskou word. Is ontdekkingsreise destyds vir die Europeërs “gereserveer” of was dit omdat blankes (en in ‘n mate bv die Chinese en Arabiere, maar nie die swartes nie) bv die kundigheid en ondernemingsgees gehad het om die wêreld te verken?

Die navolgenswaardige voorbeeld wat die blanke koloniseerders in baie opsigte aan die inheemses gestel het, word glad nie verreken nie. Coetzee sou haar eerder skaar by diegene wat die blankes verwyt dat hulle bv onbedoeld pokke by die kolonies ingevoer het en nalaat om die groot verbetering te noem wat blankes aan gesondheidsdienste aangebring en epidemies in werklikheid in groot mate voorkom het. Dit is Europese koloniste wat die voorbeeld met behoorlike huisvesting, paaie, spoorweë, hawens, ens, gestel en werk aan werkloses verskaf het, bv deur kommersieel en al hoe meer wetenskaplik te boer en die inheemses in groot mate van hongersnood te vrywaar. Die inheemses sou nie die mineraalrykdom so doeltreffend soos die blankes kon ontsluit nie. Plaaslik was die swartes nie eens in staat om die rykdom van die see te benut nie.

Nie ‘n woord word gerep oor hoe Nederland en ander eens koloniale moondhede deesdae ly onder die weerslag van kolonialisme nie; bv dat die helfte van Suriname se inheemse bevolking ná “vrywording van die koloniale juk” hulle knus in Nederland gevestig het en sedertdien die tradisionele Nederlandse leefwyse ernstig ondermyn. Coetzee skaar haar by die inkommers in Nederland: Daar is glo “‘n verbete en konserwatiewe beskerming van (koloniale) voorreg en rykdom ten koste van byvoorbeeld die vlugtelinge wat verdrink op die oewers van hierdie kontinent” (106), dus Europa. Die “vlugtelinge” wat digby Afrika verdrink, bly onvermeld. Die naaste wat Coetzee aan kritiek op die inkommers kom, is as sy noem dat, anders as voorheen, die Nederlanders se fietse deesdae gesteel word (103, 180). Sy verwyt die ANC en PAC nie vir hulle terrorisme en die voortsetting tot op hede van daardie Mandela-geïnisieerde gewelddadigheid, bv plaasmoorde, nie. Halssnoermoorde word nie verdoem nie. Let op wat Coetzee wel veroordeel: “Terug in Suid-Afrika maak nog ‘n wit boer ‘n plaaswerker of vrugtedief aan die agterkant van sy bakkie vas en sleep hom oor die grondpad tot daar min van hom oor is. ‘n Óú apartheid-trick” (48). Hoeveel keer het bakkiesleepmoorde plaasgevind en in vergelyking daarmee: Hoeveel keer is plaas- en halssnoermoorde gepleeg? Coetzee is ‘n uiters bevooroordeelde mens: giftig bevooroordeeld teen blankes en ootmoedig bevooroordeeld ten gunste van swartes.

Die koloniseerders/blankes kry die skuld vir die chaos en verval wat na “bevryding”/politieke onafhanklik by die eertydse kolonies ingetree het. Op ‘n soortgelyke manier word die blanke politieke bewind verwyt vir die skade wat terrorisme plaaslik aangerig het. Die “heropbou” van die land is glo die taak wat aan die ANC-regering opgedra is, maar daar word nie gesê dat dit die einste ANC is wat bereid was om die land tot in die grond af te breek ten einde die politieke mag te bekom nie. Coetzee verwoord haar verwronge siening soos volg: “Ons land gaan gebuk onder honderde jare se slawerny, kolonialisme en apartheid. Suid-Afrikaanse koloniale regeringstrukture is al eeue [!] lank deurdrenk van korrupsie,* die infrastruktuur is gebou vir ‘n breukdeel van die populasie,** plus ons industrieë en boerdery is gestruktureer volgens koloniale behoeftes.*** Ek weet nie hoe enige regering hierdie situasie gaan regstel nie. Veral nie so vinnig nie”**** (106-107). Dit is hoe Coetzee “ons regering” (die ANC) verdedig (107).

[* Vóór 1994 het korrupsie nie in noemenswaardige mate voorgekom nie. Buitensporige korrupsie is egter ‘n wesenskenmerk van die nuwe Suid-Afrika.

** Het nieblankes nie ook in die voordele van paaie, spoorweë, hawens, myne, Westerse/Europese stede en dorpe, skole, universiteite, hospitale, ens, gedeel nie?

*** Het blank Suid-Afrika nie op groot skaal voedsel en vervaardigde goedere aan die plaaslike swartes en die res van Afrika voorsien nie?

**** Suid-Afrika sal vinniger van die ná-1994 agteruitgang en verval herstel as daar minder korrupsie is en mense volgens bekwaamheid (en nie ingevolge ras en geslag nie) aangestel en bevorder word.]

Ná 1994 het die bedenklike gewoonte posgevat om – soos Coetzee doen – die plaaslike geskiedenis tot “slawerny, kolonialisme en apartheid” te reduseer (106). Daardie drie terme dien as kodes om die blankes sleg te sê. Insgelyks word die term “demokrasie” as kode misbruik om die swart politieke bewind, dus die ANC-regering, te verheerlik, sonder dat enige poging aangewend word om die aard van hierdie soort demokrasie te kritiseer of die geskiktheid daarvan vir plaaslike toepassing te bevraagteken.

“Die rampsalige Afrikaner[s]” beskou hulleself glo as “‘n uitverkore volk [wat] … hulself geregtig ag op grond, slawearbeid en rassemeerderwaardigheid … Dalk is hierdie meerderwaardigheidsgevoel en hardkoppige geloof in uitverkorenheid, entitlement, dus ‘n soort genetiese programmering?” (110). Die blankes het ongetwyfeld plaaslik en wêreldwyd beter as die swartes gepresteer, vandaar die blankes se standpunt dat hulle geregtig is op wat hulle versamel en bereik het; dat hulle besittings nie deur ‘n swart regering onteien/gesteel behoort te word nie. Sedert 1994 het verguising en verworpenheid by Afrikaners plek vir enige moontlike vroeëre gedagtes van uitverkorenheid gemaak.

Maar Coetzee borduur voort in haar geykte groewe: “In Suid-Afrika dra ek swaar aan hierdie wit vel omdat dit belaai is met die status van onderdrukker, met historiese wreedheid, met dominansie en steeds met verskriklike bevoorregting” (115). Blankes is seker onder meer “bevoorreg” om nêrens in hierdie droewe, opgedonderde land seker van hulle lewens en eiendom te wees nie. “My witheid val hier [in Nederland] nie weg nie. En dit raak nie skielik beter nie. Dit raak nie los van die struktuur van witbevoorregting nie. Ek is waar ek is grootliks te danke aan my wit vel in koloniale en apartheid-Suid-Afrika. En die goeie lewe hier in Nederland is tot ‘n groot mate moontlik gemaak deur eeue se slawerny, kolonialisme en ‘n steeds voortgaande kolonialiteit” (117).

Ek dink die kern van die saak is eerder dat Coetzee ‘n bedorwe brokkie uit ‘n welgestelde gesin is wat vier jaar lank (128), van 2013 tot 2016, in Nederland en elders in Europa kon drink en rondflenter eerder as om voltyds en aktief te studeer en navorsing te doen. Ek, daarenteen, het in Amerika sonder ‘n studiebeurs en met eie en geleende geld studeer en het die jaarlange doktorale program asook ‘n proefskrif van meer as 400 bladsye binne 18 maande suksesvol voltooi omdat studiebeurse eerder aan Suid-Afrikaanse nieblankes uitgedeel is. In my geval was die bevoorregting nie aan die blanke kant nie maar aan dié van die nieblankes. Kyk hoe tydsaam, hiperkoel en loslit kon Coetzee studeer: “In die kafees in my nuwe buurt is ek daagliks besig om die finale afrondings aan my proefskrif te doen” (119). “Ek loop vir ure deur die stad” (127). Desnieteenstaande komplimenteer sy haarself soos volg: “Harde werk en fokus, dis wat my ouers my geleer het” (121). Sy was/is myns insiens nie daartoe in staat om elke dag, heeldag, sewe dae per week, 18 maande lank, dus voltyds en aktief, te studeer en navorsing te doen nie.

Coetzee het navorsing oor “feministiese filosofie” gedoen: “Ek vra hoe feministiese denke uit Afrika ons kan help om dekolonisering te bedink” (77). Op grond hiervan is sy as navorser aan die Universiteit Stellenbosch aangestel om Amanda Gouws met haar skynvak, wat Susterkunde genoem kan word, te help. Coetzee kan die aangewese persoon wees om in Ousiekunde te spesialiseer. Die woord ousie kom glad nie in die HAT (2015) voor nie. Wel outa, wat as “rassisties” geëtiketteer word: “n Woord wat tot die rasbeduiwelde verlede van Suid-Afrika behoort en daarom liefs te vermy” (p 945). Hoort sulke emosionele uitbarstings in ‘n woordeboek wat veronderstel is om ‘n objektief-wetenskaplike en akademiese inslag te hê? Is daar enige woorde wat weens die rasbeduiwelde hede in die HAT rassistiese status verwerf het? Die goeie nuus is dat geen verdere uitgawes van die HAT gepubliseer gaan word nie.

Terug in Suid-Afrika vergas Coetzee haar lesers met onoortrefbare militant-feministiese vlakheid en gebrek aan insig, bv: “Een van die enigste dinge wat mense van alle kulture in Suid-Afrika deel, [is] die oortuiging … dat vroue nie op dieselfde manier as mans geregtig is op menswaardigheid en seggenskap oor hul eie liggame nie” (167).

Coetzee is eintlik onredbaar. Na haar verblyf in Nederland wil nie net in Afrika wees nie, maar ook van Afrika wees. “Die Afrika-filosofie sê dit al vir eeue. Ek word ‘n mens deur ander mense. En dan wonder ek, watter ander wêreld sou moontlik gewees het as ons toegelaat het dat die Afrika-denke die fondamente van ons wêreldbeeld vorm, eerder as die Descartes’s van die wêreld, wat ons op ‘n manier oortuig het dat menswees ‘n individualistiese opgaaf is. Dat dit die Rede is wat van my mens maak. Maar dan dink ek ook, dalk verg ‘n lewe volgens die ubuntu-leer ‘n meer gesofistikeerde menswees as wat ons as ‘Westerlinge’ ontwikkel het” (182-183).

Ubuntu is dikwels die somtotaal wat mense van Afrika-filosofie weet. Rasionaliteit en individualiteit het verseker dat Westerlinge suksesvoller en welvarender as die res van die mensdom is. Die ander wêreld waarna ons in die belang van alle Suid-Afrikaners behoort te verlang, is nie ‘n meer geafrikaniseerde land nie, maar eerder in baie opsigte ‘n terugkeer na die Suid-Afrika van vóór 2 Februarie 1990. My siening verskil radikaal van Coetzee se verwronge insigte, bv: “My bevoorregte posisie as wit Suid-Afrikaner is die erfenis van ‘n lang, pynlike geskiedenis waarin my voorreg op ‘n gewelddadige manier gewen is ten koste van die meerderheid mense in hierdie land” (185).

In Coetzee se hersiene geskiedenis staan bv dat die Kasteel in Kaapstad “‘n plek van onheil en pyn [is], die grond waarop dit staan deurdrenk [is] met die bloed van duisende [!] mense” (187). Afrikaners het glo “twyfelagtige voorsate” (191). Coetzee verstaan gevolglik “hoekom sommige mense van Afrikaanse herkoms kies om eerder in Engels te leef” (193). Saam met die etiket van Afrikaanswees “kom ‘n donker verlede, ‘n verskriklike reputasie, wat soos ‘n string blikke agter my klap” (193). Hierdie mens smeek eintlik om ‘n deeglike, omvattende heropvoeding.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.