Leon Lemmer: Wannie Carstens: Die hibridisering van Afrikaans en Afrikaners

Deel op
Doodskoot vir die kreoolsteorie? In hierdie uitgebreide resensie oor Wannie Carstens en Edith Raidt se tweede boek oor Afrikaans, wys Leon Lemmer nie net hul denkfoute uit nie, maar ook die gruwelike slordigheid rondom verwysings in die teks en in die register.

Deel 2 van WAM Carstens en EH Raidt se boek, Die storie van Afrikaans: Uit Europa en van Afrika (Pretoria: Protea Boekhuis, 2019, 1175p, R750), is in verskeie opsigte ‘n kolossale teleurstelling. Die gebreke wat in Deel 1 voorkom, word ook in Deel 2 aangetref. Die omvattendste bespreking van Deel 1 is op Praag (26.11.17) gepubliseer. Hierdie kritiek is destyds ook onder die aandag van die uitgewer gebring. Ek doen dieselfde met hierdie bespreking. Dalk slaag ek daarin om hierdie keer ‘n reaksie van die uitgewer te ontlok. Aanvanklik wek die boek die indruk dat op my vorige kritiek ag geslaan is, maar mettertyd kom dieselfde gebreke in oortreffende mate voor. Die teks is klaarblyklik paaiementsgewys geskryf en periodiek hersien, gevolglik is dele van die boek, wat foute betref, minder irriterend as ander dele.

Die onnodige en dikwels misleidende gebruik van die woord “weer” is slegs uit sommige dele van die teks geweer. Tipiese voorbeelde: “Britte keer terug in 1795 om Kaap weer te annekseer” (p 39) en “Vir ‘n kort tyd, 1803-1806, het die Kaap weer onder die Bataafse regering van Nederland gekom” (134). In bronverwysings het die gebruik van kleinletters pleks van onnodige hoofletters darem toegeneem. Maar vergelyk die styl van bv Van Jaarsveld 1971 met die ander bronne in daardie lys (20-21). Veral by skynbare latere toevoegings is teruggeval op die gebruik van onnodige hoofletters. Die geheelindruk is dieselfde as by Deel 1: dat ‘n deeglik afgeronde manuskrip nie gelewer is nie en dat die uitgewery tevergeefs probeer het om die teks redaksioneel te ontfout. Carstens is twintig jaar jonger as sy hoogsbejaarde en sieklike mede-outeur, Edith Raidt (gebore in 1932), en moet die hoofverantwoordelikheid vir die foute aanvaar.

Ek skryf aanvanklik oor tegniese gebreke om die gebrekkige afronding van hierdie manuskrip te illustreer. Baie lesers sal seker verkies om die volgende agt paragrawe, asook die laaste paragraaf hier onder, oor te slaan. In my lyste van foute kon daar foute ingesluip het, maar ek vind dit nie die moeite werd om wat ek geskryf het nogeens na te gaan nie. Dit sou ‘n uiters tydrowende proses wees.

Die eindnote beslaan 120 bladsye (933-1052), maar die note is nie deurlopend genommer nie, maw elke hoofstuk se note is afsonderlik genommer. Die aangewese praktiese manier om die eindnote te gebruik, is om – soos ek gedoen het – aan die begin van die eindnote die bladsynommers te lys waarop die eindnote van elke hoofstuk begin; dus om ‘n inhoudsopgawe vir die eindnote te skep.

Die bronnelys beslaan bykans honderd bladsye (1053-1146) en word op ‘n internet-webtuiste aangevul. Wat die leser redelikerwys kan verwag, is dat die bronne waarna in Deel 2 verwys word in die gedrukte bronnelys moet verskyn, maar dit is baie dikwels nie die geval nie. Byvoorbeeld, drie bronne waarna op bladsy 5 verwys word, verskyn nie in die gedrukte bronnelys nie. Dit veroorsaak dat die lees van die boek ‘n uiters frustrerende ervaring is. Verder is die bronverwysings in die teks nie altyd betroubaar nie. “Die verhaal van die Afrikaanse taal sedert die Anglo-Boereoorlog is ‘n storie van loop en val, val en weer opstaan” (265). Hierdie aanhaling word op bladsy 265 korrek aan JC Steyn toegeskryf, maar elders, in aangepaste vorm, verkeerdelik aan Pieter Kapp (122, 836).

In hoofstuk 19 (535-543) verskaf Carstens lyste van taalkundige boeke onder verskillende hoofde. Hy onderneem om hulle (alfabeties en) chronologies (535, 538) te lys, maar hy faal hierdie elementêre bibliografiese toets skouspelagtig. Malherbe 1917 moet voor AWS 2 1918 kom (536). Coetzee 1958 moet voor De Villiers 1958 kom en Carstens laat AWS 8 1991, 9 2002, 10 2009 en 11 2017 uit (537). Conradie 1934 moet voor Haarhoff 1934 kom en Kloeke 1950 voor Nienaber GS 1950 (539). Prinsloo 2008 moet ná Ponelis 1998 gelys word (540). Pheiffer 1980 moet voor Scholtz 1980 kom (541). Claassen 1983 (541) moet ná De Klerk 1968 kom (542). Picard 1988 moet ná Wybenga 1987 kom (543). Onder “Taalpolitiek” (542-543) is JC Steyn se Trouwe Afrikaners (1987) uitgelaat.

In ‘n omvattende werk soos hierdie is ‘n indeks (“register” genoem) as ‘n betroubare gids tot die inhoud vir naslaandoeleindes van die uiterste belang. Die register (1155-1175) is egter hoogs onvolledig. Dit sluit bv die eindnote uit. Vir hulp met die register word 14 mense bedank (1152-1153), maar die resultaat getuig van onkunde oor hoe ‘n boekindeks saamgestel behoort te word. Lang lyste bladsynommers onder ‘n onderwerpshoof (bv African National Congress, Afrikaner) is taboe. Onder “Tulbagh” word verwysings na die dorp en Ryk Tulbagh saamgegooi. Van die sewe verwysing by Sophia Kapp verwys net een na haar. Die ander verwysings is na PH (Pieter) Kapp. ‘n Indeks word saamgestel nadat die bladsynommers finaal vasgelê is. Blykbaar is daar aan die bladsynommers gepeuter nadat die indeks voltooi is. Byvoorbeeld, vergelyk die bladsynommers wat vir “LitNet” gelys word met die bladsye waarop die woord aangetref word. Die indeks wek die indruk van ‘n (volslae) mislukking. Wat nodig is, is om ‘n enkele kundige persoon, soos Marlene Burger van Clubview, Centurion, aan te stel om die indeks(e), verkieslik met name en sake apart, te versorg.

Selfs in die inhoudsopgawe is daar foutiewe bladsyverwysings, bv hoofstuk 14, paragrawe 3.1 tot 3.4. By Kaart 10 is die voorlopige onderwerpsaanduiding nie hersien nie (16). Die kaarte is blykbaar nie spesifiek vir hierdie boek geteken nie, gevolglik is daar ‘n gebrekkige sinkronisering van die teks en die kaarte. Die ergste is die talle onakkurate kruisverwysings in die teks (kyk die bylaag hier onder), wat tydens redigering reggestel kon word, maar waarvoor Carstens die verantwoordelikheid moet aanvaar. Foutiewe kruisverwysings getuig nie net van onbeholpenheid nie, maar dalk eerder van traak-my-nie-agtigheid. Carstens se vermoë om foute te begaan, durf nie onderskat word nie, maar hy bedank Nicol Stassen as die uitvoerende hoof van die uitgewery vir die vertroue wat daar in sy vermoë gestel is (1153). Toe ek die boek van voor tot agter deurgelees het, insluitende al die eindnote, het die gedagte by my opgekom: As iemand nie vloek terwyl hy die boek lees nie, ken hy nie ‘n vloekwoord nie.

By die uitgewery het die redakteur en die proefleser dieselfde as vir Deel 1 gebly, met die byvoeging van ‘n proefleser. Hierdie persone verdien ‘n handdruk ná hulle waarskynlik smartvolle pogings om die manuskrip persklaar te maak. Die resultaat is egter steeds dat ‘n koper wat R750 betaal (‘n gesubsidieerde prys) ‘n hoogs onvolmaakte produk ontvang. Dit is des te meer onverskoonbaar omdat hierdie tweedelige boek waarskynlik nooit herdruk sal word nie. Daar is te veel foute in om van die boek ‘n betroubare naslaanwerk te maak. Ek het talle opsigtelike foute met ‘n enkele deurlees opgemerk, sonder dat ek bewustelik ‘n poging aangewend het om foute te soek. Maar Carstens skryf: “Danksy julle almal kon ‘n mooi produk tot stand kom” (1153). Die teks van bladsy 644 ontbreek. In die plek daarvan is bladsy 664 gereproduseer. As Deel 1 en 2 van hierdie boek in die toekoms herdruk of as ‘n e-boek beskikbaar gestel word, sal dit waarskynlik in verkorte vorm in ‘n enkele band wees, soortgelyk aan JC Kannemeyer se Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur (Deel 1, 1978/1984, Deel 2, 1983) wat as Die Afrikaanse literatuur, 1652-1987 (1988) in verkorte en bygewerkte vorm hergepubliseer is. So ‘n taak behoort aan ‘n kundige persoon, iemand van die kaliber van bv Jaap Steyn, opgedra te word.

Daar is taalfoute: “op [in] die streek” (23), “aan [in] die binnelandse gebiede” (24), “in totaal [altesaam]” (24), “ten [liewer: te] alle tye” (28, 31, 58, 819, 946), “tekort aan hande [arbeiders]” (49), “in mindere of meerdere mate” [meerdere of mindere] (101), “in opvolging by [van]” (122), “terugvoer” [terugvoering] (221, 270, 991, 992), “tot [in] ‘n mate” (254, 372, 1021), “in [uit] eie reg” (412, 517, 1041), “stap geneem” [gedoen] (465), “Van agterna beskou” [Agterna beskou] (473), “vanuit die kant” [van die kant] (547), “beter in Engels” [meer in Engels] (557), “in die eerste instansie” [in eerste instansie] (570), “oorgedra aan [na] Afrikaans” (575), “uit [van] huis uit” (654), “verlies in [aan]” (685, 686, 687, 688), “van [met] mekaar verskil” (804), “gevestig was op [in]” (839), “neem”/duur (937), “opdateer” [bygewerk] (992), “bankkrotskap” [bankrotskap] (1021).

Daar is druk- en ander foute: “Esperanca” [Esperance – p 46] (45), “Oliphant” (45)/”Olifant” (46), “Hope” (45)/”Goede Hoop” (46)/”Goede Hope” (46), “van Van Riebeeck” (46), “Newton-Koing” [King] (53), “Krotoa (1642-1874)” [1674] (54), Simon van der Stel kommandeur “(1679-1991)” [1691] en goewerneur “(1679-1699)” [1691] – p 51 (64), “dié redes” [rede] (67), “(1993)”? (70), “1802” [1803 – p 77] (74), “Sparrmann” [Sparrman – p 76, 120, 1122] (77), “uit [in – p 77] den Jahren” (92), “2013” [2012 – p 93, 94] (94), Afrikaans “tot standaardtaal” [amptelike taal] in 1925 (127), “ere … aan [eere … in – p 293] Muisenberg” (130), Slag van Bloedrivier “1836” [1838 – p 178] (179), die Namibiese grensoorlog “1966-1988” [1966-1989 – p 223] (222), “waar van hulle [hulle x 2] gevestig het” (246), “ingeneem” [aangeneem] (267), “Sameul” [Samuel – p 312, 314, 539, 972] (306, 313), “Zwaartmans” [Zwaartman – p 312, 314, 539, 972] (313), “Die Afrikaanse Folkslied” [Di Afrikaanse Folksliid – p 326] (326), “Printjes Boekie” [Printjies Boeki – p 329] (329), “Zuid-Afriak” [Zuid-Afrika] (344), “ou” [nou] (345), “Die Unie gestig – word later Die Unie” (366), Langenhoven se Versamelde Werke “vyftien dele” [16 dele – p 372, aanvanklik 14] (976), “wat by” [wat hy] (372), “Die 20ste eeu (letterlik 1 Januarie 1900-31 Desember 1999” [1901-2000] (375), “in x [die] Nasionale Biblioteek” (406), “1989” [1889] (406), “Taal van vermaak” [Taal van kultuur – p 12, 478] (424), “Afrikaanse familie” [Afrikaanse taalfamilie – p 425, 524, 540, 1110] (394, 425, 432), “1916 – Eerste De Burger verskyn” [1915 – p 440, 450, 452] (394, 451, 452), “styweboodjie” [styweboordjie] (443), “Landstem … Sondagblad” [het Woensdae verskyn] (450), “Die Boerevrou 1916 [1918 – p 455] (456), “25 Oktober” [27 Oktober – p 465] (462), “van die 1970’s op FM” [1962 – p 464] (465), “opsig[t]e” (467), “in Afrikaans” [ in Suid-Afrika] (475), “1994 begin ontstaan” [1994 ontstaan] (476), “1938 … die oprigting van die Voortrekkermonument” [hoeksteenlegging] (481), “dwe[l]mmisbruik” (491), “Radio-omroepers soos … Dana Snyman” [Niehaus (1918-1995)] (502), “395000 artikels” [39500] (517), “16de eeu” [17de] (522), “Taalmonument opgerig in 1975” [onthul] (581), “enhoe” [en hoe] (592), “bewoon” [gewoon] (836), “1680’s” [1650’s] (843), “Nietsche” [Nietzsche] (862), “1657-1857” [1657-1867 – p 928, 942] (1085), “latere opvolgers” [opvolgers] (947), “ongeveer as” [ongeveer] (953), “onthou vir” [onthou] (960), “Proeve van een Hollandsch Idioticon” (1882) [Proeven van een Kaapsch-Hollandsch idioticon (1884) – p 336, 974, 1099, maar “Proeve” – p 336] (974), “onder ander” [andere] (976), “Burger vanaf” [Burger (vanaf] (988), “Blommart” [Blommaert – p 1058] (997), “wat wat” [wat] (1011), “Soweto beslaan ‘n gebied van bykans 200 km” (1011), “werskloosheid” [werkloosheid] (1021), “sat” [dat] (1031).

Sowel die skryfstyl as die teks in sy geheel dra swaar aan onnodige herhaling. Wat die outeurs te dikwels gedoen het, is om die roumateriaal uit bronne aan te bied pleks van bloot self kennis van die inligting in bronne te neem, dit te verwerk en slegs die resultaat in die teks neerslag te laat vind. Byvoorbeeld, beslaan die Von Dessin-versameling 4 000 (945) of 4 500 (71) boekdele? “… sou eers in die twintigste eeu algemeen bekend word as Afrikaans” (114) en “wat al sedert die 19de eeu as Afrikaans bekend staan” (115). 2 038 families of 15 000 blankes was deel van die Groot Trek (174) of 2 540 gesinne of 17 000 blankes (175). Inligtingsverwerking deur die outeurs kon ‘n baie korter en meer leesbare teks tot gevolg gehad het. Van die leser word verwag dat hy soms chaoties teenstrydige inligting tot ‘n eie sintese moet verwerk. Daar word ook baie inligting aangebied wat kwalik in verband met die onderwerp van die boek gebring kan word. Die inligting wat in tabelle/kolomme onder die opskrif “tydlyn” aan die einde van hoofstukke of in hoofstukke aangebied word, is soms teenstrydig met wat in die teks staan, maar vul die teks soms ook aan.

In die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Afrikaanse woordelys en spelreëls (2017) staan: “Khoi (taalgroep), Khoi-Khoi (lid van bevolkingsgroep), -n [meervoud]” (371). Soos in Christo van Rensburg se boeke word hierdie onderskeid tussen taal en etniese groep nie deur Carstens gehandhaaf nie. Dikwels word Khoi as ‘n verkorting van Khoi-Khoin gebruik (bv 48), wat verwarrend is. Die Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst is in 1909 gestig. Aanvanklik het dit om “de handhaving en bevordering van de Hollandse Taal en Letteren” (530) eerder as Afrikaans gegaan. In 1942 is die naam verander na Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Pieter Kapp skryf in sy boek, Draer van ‘n droom (2009), wat oor die eerste eeu van die Akademie handel: “Die Akademie is gestig as ‘n taalstrewe” (530).

Sedert 1961 is die English Academy of Southern Africa ‘n teenhanger vir die SA Akademie. Aangesien Afrikaans veral sedert 1994 onder politieke druk verkeer, het die gedagte by my opgekom dat dit eintlik die Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns behoort te heet. Deel van die Akademie se huidige visie is “die bevordering van die gebruik en die gehalte van Afrikaans” (532). As die Akademie sy naam soos voorgestel verander, sal hy moontlik meer geneë wees om taalsuiwerheid aktief te bevorder; ‘n funksie wat die afgelope kwarteeu erg verwaarloos is. Anne-Marie Beukes is pas aangestel as die nuwe uitvoerende hoof van die Akademie. Sy is ‘n oud-voorsitster (2014-2017) en huidige direksielid van die Afrikaanse Taalraad waar sy blykbaar versoening en meertaligheid eerder as Afrikaans voorstaan.

In Carstens se boek word ses van Beukes se publikasies gelys (1057), een in Afrikaans en vyf in Engels. Carstens skryf: “Dit is nie ‘n skande of ‘n verswakking om in Engels die Afrikaanse saak te stel nie” (810). Beukes se aanstelling laat myns insiens my wens vir ‘n meer agressiewe Afrikaanse Akademie vervaag. Carstens se visie vir die Akademie is soos dié van die ANC, “dat sy ledesamestelling die Afrikaanse gemeenskap se demografie weerspieël” (533). Die ANC-regering het in 1994 sy jaarlikse subsidie aan die Akademie gestaak en ondersteun nou eerder die Academy of Science of South Africa (532), gestig in 1996. Carstens verwys na “die aanslag op Afrikaans” “sedert 2010” (533). Waarom nie sedert 1994 nie?

Ek bepaal my by voorkeur tot wat van aktuele belang is. Ek gaan nie ‘n oorsig gee van die geskiedenis van Afrikaans nie, maar ek kan my nie daarvan weerhou om die volgende aan te haal nie; pêrels wat deur die historikus, Dan Sleigh, uitgerol is: “Jy kan die Engelse buitelandse politiek op een hand se vingers tel. Een: Gaan plant die vlag. Twee: Skiet die donders. Drie: Vind hulle goud en stuur dit oorsee. Vier: Soek jou volgende teiken” (129). Tydens die Slagtersnekopstand in 1815 is na die Britte as “Godvergete tiranne en skelms” verwys (157). Jaap Steyn skryf: “Vandat die Engelse hul voet aan wal gesit het [1795] het die stigmatisering van die Afrikaners begin, en dit het eintlik nog nooit end gekry nie” (208). Die ANC sit hierdie tradisie voort. Waarom die vyandiggesinde ANC vir Afrikaners verwerplik is, blyk onder meer uit die volgende: “Sedert 1994 word daar nie meer deur die ANC-regering fondse beskikbaar gestel om hierdie [Anglo-Boereoorlog- (ABO-)] begraafplase in stand te hou nie” (263). In 1901 het Charles Aked (1864-1941) oor die ABO gesê: “Great Britain cannot win the battles without resorting to the last despicable cowardice of the most loathsome cur on earth – the act of striking a brave man’s heart through his wife’s honour and his child’s life. The cowardly war has been conducted by methods of barbarism … the concentration camps have been Murder Camps” (967).

Volgens Carstens moet die term “blankes” blykbaar met “wittes” vervang word. Kyk bv “nie-blankes (sic)” en “blankes (sic)” (310, 613). Carstens se gesindheid teenoor Afrikaners blyk duidelik uit die feit dat hy “volk” telkens tussen aanhalingstekens plaas (bv 187, 188, 189, 254, 269, 270, 276, 324, 373, 394, 465, 481, 582, 849, 958); ook “volkseie”, “volksiel” (373), “nasie” (394), “Afrikaner” (608) en “Boerevolk” (958). “Vir ‘n lang tyd ná 1975 was die taalmonument die simbool van Afrikanernasionalisme en daardeur [!] is Afrikaans ook gestigmatiseer” (589). Carstens erken: “Swart nasionalisme is waarskynlik net so erg as wit nasionalisme” (188), maar dit is laasgenoemde wat hy vir hewige kritiek uitsonder. Die “pyn” wat blankes glo vir swartes veroorsaak het, word beklemtoon terwyl baie sagter geoordeel word oor wat swartes die blankes aandoen.

Die volgende stelling kan bevraagteken word: “In Suid-Afrika het veral Afrikanernasionalisme vir so lank die land se bestaan gedefinieer, maar ook bedreig, in die besonder in 1900-1976” (189). MT Steyn het gesê: “Indien ons ons taal verwaarloos, dan moet ons ook verwag dat ons volksbestaan langsamerhand sal kwyn om uiteindelik verlore te gaan” (269-270). Christiaan de Wet het gesê: “De taal van een volk is zijn meest gewaardeerde kleinnood” (270). Carstens distansieer hom hiervan deur skynbaar lughartig te skryf: “Na afloop van die oorlog [ABO] is die taalkitaar gereeld geslaan om die volk bymekaar te hou” (270).

Die volgende stelling kan ook bevraagteken word: “Gebruikers van Afrikaans reken dat die wegneem van Afrikaans se amptelike status in die land [Namibië], die taal ook ontneem het van die stigma as ‘taal van die verdrukker'” (221). In werklikheid hou die verlies aan amptelike status vir Afrikaans in Namibië geen voordele in nie. Die valse toedigting van ‘n stigma aan Afrikaans gaan voort, afgesien daarvan of Afrikaans ‘n amptelike taal is al dan nie. Dink aan die situasie in die nuwe Suid-Afrika waar Afrikaans nie veel meer as in naam ‘n amptelike taal is nie. Carstens weet dat stigmatisering die resultaat van propaganda is. Hy verwys na “die gebruik van propaganda om een taal ten koste van ‘n ander taal te bevorder (stigmatisering is hier ‘n tipiese patroon)” (232).

Carstens skryf oor “politieke druk om Afrikaans in die land af te skaal (1970-2000)” (402). “Die politiek van die 1970’s en 1980’s het Afrikaans geknou en dit [!] het tot gevolg gehad dat ná 1994 Afrikaans afgeskaal is aan universiteite” (401). Hier word erg kortpad gevat. Afrikaans was nie al sedert die 1970’s onder druk nie. Die invloed van die Soweto-opstand in 1976 moet nie oorskat word nie. Afrikaans is nie as gewonde of gestigmatiseerde taal aan universiteite afgeskaal of afgeskaf nie. Hierdie onreg word Afrikaans aangedoen deur veral Afrikaanssprekende akademici weens hulle kruipsug by die ANC. Carstens verwys bv na “die rol wat Afrikaanssprekendes in bestuursposte speel om Afrikaans se funksies te ondergrawe” (1034). Ek het al dikwels hieroor geskryf.

“Afrikaans is vandag steeds stewig gevestig as kerktaal in Suid-Afrika” (405). Maar dan haal Carstens aan wat Johan Combrink reeds in 1999 geskryf het: “In baie van die kerke word die Afrikaanssprekende lidmate oorheersend in Engels of in Engels naas Afrikaans bedien” (405). By NGK-predikante is daar die neiging om al hoe meer geradbraakte Afrikaans te gebruik; Afrikaans gemarineer in Engels. In werklikheid is daar niks verkeerd met “korrekte, suiwer, styweboo[r]djie-Afrikaans” nie (443). Die VGK maak geen geheim van sy voorkeur vir Engels nie. In 1997 het die Algemene Sinode van die VGK besluit “dat die voertaal en skryftaal van die VGKSA op Algemene Sinode-vlak voortaan Engels sou wees” (906). Terloops, Carstens het uit die NG Kerk bedank omdat daar glo nie toeskietlik genoeg met homoseksuele gehandel word nie (Netwerk24 12.11.2016).

Carstens is ‘n voorstander van integrasie en inklusiwiteit op (seker) ierdere terrein en iemand wat klaarblyklik op die voorste snypunt van verligtheid wil wees. Maar dan skryf hy: “Dit is vanselfsprekend nie die doel van hierdie boek om in ‘n politieke diskoers betrokke te raak nie” (596). Die ANC-regering het ‘n Engelsdosent, Mashudu Mashinge, as raadsvoorsitter van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) aangestel. ‘n Absurde situasie het ontstaan deurdat Mashinge in hierdie prima-Afrikaanskonteks in Engels met die raadslede gekommunikeer het en die raadsvergaderings (hoofsaaklik) in Engels gehou is. Carstens was toe ‘n ATM-raadslid. Hy verwerp die kritiek wat teen die uittartende aanstelling van Mashinge uitgespreek is. “Dat daar hoegenaamd teenstand was, was ongelukkig juis omdat Afrikaanse instansies nog so dikwels uitsluit eerder as insluit” (998).

Dwarsdeur die boek word die “Swart gevaar” en die “Rooi gevaar” afgemaak asof hulle onskadelik is (bv 614). In werklikheid ervaar ons sedert 1994 daagliks die uiters skadelike gevolge van albei. Soos Robert Ross dit stel: “What matters is the sort of country South Africa has become and continues to become” (597). Op ‘n geykte manier word daar dikwels na apartheid-Suid-Afrika en die apartheidsregime verwys, maar nie na rommelstatus-Suid-Afrika en die rommelstatusregime nie. Danny Titus se besondere insig is: “Ons land het inderdaad ten goede verander” (604). Carstens juig: “Die verkiesing op 27 April 1994 was die begin van ‘n nuwe Suid-Afrika, ‘n land vry van verdrukking en van diskriminasie” (620); asof daar sedert 1994 nie teen blankes gediskrimineer word nie; asof blankes se eiendomsreg teen onteiening sonder vergoeding beskerm word; asof blankes veilig in die land kan woon en vryelik daarin kan rondgaan, ens.

Carstens kry dit reg om die geskiedenis van Suid-Afrika van 1960 tot 1994 te skets sonder om na die ANC en PAC se terrorisme te verwys (613-621). Later word enkele besonderhede daaroor darem verstrek maar sonder om dit te veroordeel (652). Oor Nelson Mandela skryf Carstens: “Sy politieke aktiwiteite het hom in onguns by die destydse owerhede laat beland” (1007). Mandela se bomplantveldtog word nie genoem nie. Daar was “‘n atmosfeer van weerstand, gesteun deur enkele [!] gewelddade” (1013). Carstens wek die indruk dat hierdie terrorisme matig en redelik was. Die onbeskaafde anargie van die Soweto-opstand in 1976 word aangebied as “die bevryding van Afrikaans” (638).

Telkens word beswaar geopper teen die beweerde afdwing van Afrikaans in swart skole, maar nêrens word die opdringing van Engels as bv prakties die enigste amptelike taal in die nuwe Suid-Afrika veroordeel nie. Carstens se vriend, Michael le Cordeur, skryf “dat Afrikaans nooit weer aan mede-Suid-Afrikaners opgedwing moet word nie: nie op skool nie, en ook nie aan tersiêre instellings nie” (1013). Maar Engels word oogluikend as (dikwels die enigste) voertaal aan skole en universiteite opgedring en dan is Le Cordeur en diesulkes stil. Hy steun selfs die verengelsing van die Universiteit Stellenbosch.

Carstens kan kwalik trots wees op die uiterste eensydigheid waaraan hy hom skuldig maak. Daar is ‘n afdeling oor “Die gevolge van apartheid” (630-633). Oor die gevolge van terrorisme, bv dat daardie soort gewelddadigheid steeds voortgesit word, word glad nie besin nie. Dat terrorisme destruktief was, moet die leser maar self aflei uit die feit dat die “heropbou” van die land nodig was/is (633). Oor die nuwe politieke bedeling skryf Christo van Rensburg waaragtig: “Taalregte word nou as voorregte gesien … Daarmee is niks verkeerd nie” (633). Daarteenoor skryf Carstens darem: “Die gebruik van jou eie taal is ‘n mensereg” (679).

Carstens haal die volgende skynbaar afkeurend aan: “Jare later sou die meerderheid Afrikaanstalige films steeds gekenmerk word deur ‘n verknogtheid aan die verlede, ‘n ideaal van taalsuiwerheid, rassuiwerheid en godsdiens en morele norme” (488). Met sodanige uitbeelding kan ek geen fout vind nie. In die 1970’s is talle Afrikaanse rolprente vervaardig “wat die Afrikaner ‘goed kon laat voel'” (489). Hoekom nie? Die volgende aanhaling pas uitnemend in die Carstens-kraal: “Elke woord wat in Afrikaans teen apartheid/bevoorregting/politieke uitsluiting gedink en geskryf (is), is vir Afrikaans suiwer wins. Dit is in hierdie konteks die beste manier waarop Afrikaans ‘bevorder’ kan word” (507).

Propaganda het op ‘n hoogs suksesvolle manier skuldgevoelens by Carstens gewek. In die voorwoord staan: “Dit is so dat aspekte van Afrikaans se verhaal nie so mooi is soos ‘n mens dit sou wou hê nie” (17). Met ‘n “sosiohistoriese benadering” (17) probeer die outeurs glo om “bloot historiese keuses en gebeure [te] kontekstualiseer en nie [om] gebreke of foute [te] regverdig nie” (18). Daar word glo na “objektiwiteit” gestreef (17). Die benadering van die outeurs word selfs tot navolgenswaardige norm verhef: “In hierdie hoofstuk word die agtergrond geskets waarteen die ontwikkeling van Afrikaans in die 17de en 18de eeu beskou moet [!] word” (41) en “Ter wille van die ontwikkeling van die argument word hier onder net enkele opmerkings gemaak om die gebeure in die regte [!] konteks te plaas” (200). Deel van hierdie “regte konteks” is om die werk van die nasionalistiese Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) te reduseer tot: “Die Eerste Taalbeweging was feitlik in sy geheel aan die waardering en ‘verheerliking’ van Afrikaans gewy” (203).

Ek vra my af: In die breër, inklusiewe konteks waarin Carstens Afrikaans plaas, is dit moontlik om geradbraakte Kaaps te verheerlik? Enigeen wat ‘n aanvoeling vir Afrikaans het en begaan oor sy toekoms is, móét Kaaps, in soverre dit in ruime mate Engels is, as absoluut verwerplik beskou. “Selfs persone wat nie toonaangewendes is nie, kan ook die standaardvariëteit korrek gebruik” (522). Suiwer(der) Afrikaans kan en mag dus van alle Afrikaanssprekendes verwag word. Engels word nie in die nuwe Suid-Afrika as ‘n verderflike koloniale taal gebrandmerk nie; wel Hollands: “Selfs Nederlands was ‘n koloniale taal met ‘n negatiewe verlede in Indonesië, en ook vir ‘n tyd in suidelike Afrika” (379). Carstens noem dat “Afrikaans in die politieke slagveld beland het” en dat bruin en swart mense na Engels oorgegaan het “wat hulle nie so seergemaak en verneder het nie” (592). Afrikaans se verlede was glo nie “vlekkeloos” nie (593), maar die indruk word gewek dat Engels, anders as selfs Hollands/Nederlands, ‘n vlekkelose verlede het en selfs ‘n neutrale taal is (906).

Let op hoe skeef Carstens die GRA beskou: “Die doel van die GRA was duidelike nasionalistiese vertrekpunte. Die taal word wel hieraan gekoppel. Die beweging was dus nie eksplisiet taalgerig nie [!], maar eerder op die Afrikaner se nasionale ontwaking” (326). “Die taalfaktor [was] nie van sosiale en politieke faktore te skei nie, en hier begin die tragiese verstrengeling wat ‘n eeu later [dus 1975, toe bv die Taalmonument onthul is] tot groot nadeel van Afrikaans sou lei. Die nuwe taalbewussyn en taalstrewe was ná 1875 amper eksklusief gekoppel aan die wit Afrikaanssprekendes, en hulle opheffing en opvoeding terwyl die stimulus tot die proses juis die bruin mense was” (287). Die stimulus waarna verwys word, is Arnoldus Pannevis se begeerte in 1872 om die Hollandse Bybel in Afrikaans te vertaal. Dit was dus ‘n blanke inisiatief en nie ‘n bruin een soos moontlik geïnsinueer word nie.

Carstens borduur voort: “Hoewel ongeveer die helfte van die Afrikaanstaliges bruin was, is hulle nie in die doelbewuste [GRA-]uitbouingsproses aktief betrek nie. Dit sou Afrikaans in die loop van tyd onmeetbare skade berokken” (287). Die letterkundige, Carstens, se Potchefstroomse kollega, die taalkundige, Hans du Plessis, (die “arm man” se Christo van Rensburg), “sluit hierby aan met sy siening dat 14 Augustus nie regtig ‘Afrikaansdag’ is nie” (334). Die eerste byeenkoms van die GRA was op 14 Augustus 1875. Dus, die ontstaan (en dalk selfs die vestiging en voortbestaan) van Afrikaans moet volgens mense soos Carstens en Du Plessis nie by die blankes nie maar eerder by die nie-blankes gesoek word (kyk hier onder); nog ‘n manier om iets, naamlik Afrikaans, wat Afrikaners in groot mate eiehandig tot stand gebring het, te verkleineer. Dit gaan vir diesulkes om afrikanisering. Soos Du Plessis dit stel: “Hoe nader Standaardafrikaans aan Nederlands is, hoe minder Afrika is daar in die taal” (572).

Die outeur(s) se skuldgevoelens is egter oorweldigend, gevolglik word in die voorwoord nogeens gewag gemaak van “wat verkeerd geloop het … [en] hoe probeer word om dit reg te maak” (18). Daar is geen teken van waardering vir (Afrikaner)nasionalisme soos by Jaap Steyn nie: “Die gevoel vir jou ‘eie mense’ wat hulle in ellende bevind, is die sterkste en edelste dryfveer vir nasionalisme” (188). Die “onsheid” van Afrikaners word deur Steyn beklemtoon (189). Hierteenoor is Carstens se standpunt: “Sodra die wit Afrikaanssprekende daarin slaag om hom los te maak van die Afrikanernasionalistiese band wat hom vashou, sal daar bevryding vir die taal kom en sal dit die taal van almal word” (636). “Deur … voorkeur aan die eie [te gee] … het Afrikaans in die 20ste eeu enorme skade opgedoen” (194). Ek sou eerder beweer: Deur voorkeur aan die ander te gee, word Afrikaans in die 21ste eeu al hoe meer in sy swernoot gestuur. Jaap Steyn skryf tereg: “‘n Taal kan oorleef as sy mense die seggenskap oor hul eie sake behou” (231). Carstens, daarenteen, verhef – op grond van hulle getalle (John Stuart Mill se tirannie van die meerderheid) – die bruin mense tot die lotbeskikkers van Afrikaans terwyl hy weet dat hulle, anders as die Afrikaners, nie oor die gehalte en toekoms van Afrikaans begaan is nie: “Vir bruin Afrikaanssprekendes is ‘n taal dikwels ‘n mindere saak” (895).

In die Afrikaanse vakliteratuur is dit veral Steyn wat die term “taalgetrouheid” in omloop gebring het. Dit is ‘n kwessie van benadering of houding. Een van die gevolge van taalgetrouheid is dat jy jou taal na die beste van jou vermoë korrek gebruik (238). In hierdie opsig is daar ‘n haas onoorbrugbare kloof tussen die sprekers van Afrikaans en dié van die mengeltaal Kaaps. Afrikaners gee om vir die gehalte van hulle moedertaal. Juis daarom waak hulle teen die inklusiwiteit wat deur Carstens bepleit word. Hy het twee dik boekdele oor die storie van Afrikaans gepubliseer sonder om enige werklike besorgheid oor die huidige verengelsing van veral gesproke Afrikaans uit te spreek. Dit laat my wanhoop aan sy taalgetrouheid.

Carstens skuil agter die beweerde “inherente heterogeniteit van Afrikaans” (239), ook “diversiteit” genoem (240). Daar moet myns insiens eerder krag geput word uit die eenheid wat Standaardafrikaans verteenwoordig. Die historiese grondslag van Standaardafrikaans is Nederlands. Volgens Christo van Rensburg is die saambindende faktor van die historiese variëteite (die taal van die slawe, Khoi-San en ander nie-blankes) nie-Standaardnederlands (240-241), verwysende nie net na onder meer 17de eeuse Suid-Hollandse dialekte nie, maar ook na bv Oosterse invloede. Dit kan beteken dat Standaardafrikaans, in soverre dit aansluiting by die latere Standaardnederlands vind, deur bv Kaaps vermurwe word. Tekste in Kaaps, met talle Engelse woorde, deur Peter Snyders en Nathan Trantraal, word in die boek weergegee. Carstens noem hulle “mooi” voorbeelde van hedendaagse Kaapse Afrikaans (242), terwyl ek verkies om hulle nie as Afrikaans te erken nie.

Victor Webb word soos volg aangehaal: “Daar is nie iets soos die beste of die korrekste vorm van Afrikaans nie” (558). Maar daar is sekerlik variëteite van Afrikaans, bv Standaardafrikaans, wat meer geskik vir eerbare oorlewing as ander, bv Kaaps, is. Standaardafrikaans is ongetwyfeld ook meer korrek as die Engels-elemente in Kaaps. Maar Carstens en sy dissipel, Ronel van Oort, beweer: “Die Afrikaanse variëteite is nie ‘foutiewe’ of ‘onsuiwer’ Afrikaans nie” (559). As Kaaps nie onsuiwere Afrikaans of ‘n mengeltaal is nie, kan onsuiwerheid aan geen taal toegedig word nie. “Die standaardtaal [word] voortdurend deur die omgangstaal verryk” (544). ‘n Omgangstaal soos Kaaps kan en het Afrikaans ongetwyfeld egter ook met verengelsing besoedel. Polities byderwets word Kaapssprekers feitlik nooit hiervoor verkwalik nie. Dit is dieselfde Van Oort wat hoogs oordrewe skryf: “Die Nasionale Party se Afrikanernasionalistiese taalbeleid en apartheidsideologie het Afrikaans as erfenis en as eksklusiewe taal van die wit Afrikaner geannekseer” (WAM Carstens & Michael le Cordeur, Ons kom van vêr, Tygervallei: Naledi, 2016, p 553).

Op grond van hulle getalle gelas Carstens: “In enige proses rakende Afrikaans moet die bruin sprekers van Afrikaans ‘n dominante rol speel. Dit kan mettertyd ‘n impak hê op die standaardvorm van Afrikaans via die proses van herstandaardisering” (708). Die Afrikaanse Taalraad (ATR), gestig in 2008 (735), waarvan Carstens die eerste voorsitter was (2008-2011), word deur hom beskou as dié liggaam wat in 1998 reeds in sy voorgeskiedenis die prosesse aan die gang gesit het wat tot die heling van die betrekkinge, onder meer taalbetrekkinge, tussen blankes en nie-blankes kan lei (729, 734, 841). Die primêre oogmerk van die ATR is van ‘n politieke aard, naamlik versoening (735) en nie die bevordering van Afrikaans soos sy naam valslik aandui nie. In sy aksies is die ATR meer begaan oor die bevordering van meertaligheid, wat Afrikaans kan uitsluit, as met Afrikaans. Vir die ATR “lê die klem onbeskaamd op versoening” (737).

“Die ATKV is vandag met reg [!] die grootste rolspeler in die Afrikaanse kultuurlewe” (485), met een van die afdelingshoofde, Danny Titus, wat die meeste oor Afrikaans en Afrikanerkultuur te sê het. Japie Gouws, wat die ATKV van ‘n pro-Afrikaner in ‘n pro-bruin instansie getransformeer het – die ATKV het “onbeskaamd inklusief” geword (486) – het ná sy uittrede as uitvoerende hoof in 2017 die voorsitter van die ATR-direksie geword. Anne-Marie Beukes het noue bande met die ATR en is, soos hier bo genoem, as uitvoerende hoof van die SA Akademie aangestel. Dit lyk dus asof die Akademie, ATKV en ATR al hoe meer uit een mond gaan praat en aksies sal loods waarin Afrikaans, as eiesoortige taal wat duidelik van Engels onderskeibaar is, die groot verloorder en die verderflike mengeltaal Kaaps die wenner gaan wees. Carstens skryf: “Die ATKV het hom goed aangepas in die nuwe Suid-Afrika ná 1994 deurdat die beeld van ‘n Afrikanerorganisasie afgeskud is” (486). “Die rol van die ATKV as brugbouer in die Afrikaanse gemeenskap durf nie onderskat word nie en in hierdie proses word die ATKV ‘n voorbeeld vir ander Afrikaanse organisasies” (812). Ton Vosloo en Carstens het verseker dat die ATR van sy begin af die stempel van ‘n nie- (selfs anti-) Afrikanerorganisasie dra. Die Akademie is fluks op pad om dieselfde te doen. Vir die FAK het ek (amper) hoop gekry toe aangekondig is dat hy Steve Hofmeyr in September gaan vereer deur sy Prestige-prys vir besondere kultuurprestasie aan hom toe te ken (Die Burger, 29.04.2019, p 10). Die ATKV en ATR sou so iets nooit eens oorweeg nie.

In die laaste twee hoofstukke draai Carstens die krane van sy oorverligte vooroordele oop om die einde van Afrikaans as ‘n eerbare taal én van ‘n eie Afrikanerkultuur en selfs van Afrikaners as ‘n etniese groep te probeer verseker. Dit gaan vir hom om integrasie en inklusiwiteit met veral die bruin mense wat die kitaar slaan en die blankes wat hulle daarna skik om na bewering “heling” te bewerkstellig van al die booshede wat hulle glo in die naam van apartheid gepleeg het. ‘n Rolmodel vir Afrikaners is bv: “Die vrou wat haar bediende se kind se skoolrapport kom haal, sy skooltoebroodjies inpak” (800). Carstens is voorskriftelik oor “wat ‘n mens behoort te doen” (745). Byvoorbeeld: “Moenie toelaat dat Afrikaans gekaap word vir regse politiek nie” (797) en selfs: “Aanvaar die hegemonie van Engels” (810).

Ek voorspel: Wanneer mense in die toekoms in sak en as sit oor die vernietiging van Afrikaans as dié taal waarop Afrikaners eens trots was, sal hulle in Carstens se Afrikaansstorie kan lees van die dwase opsies wat bv Afrikaansinstansies en Afrikaansdosente sedert 1994 uitgeoefen het in die waan dat hulle Afrikaans gaan red terwyl hulle in werklikheid die taal se ondergang bewerkstellig het. Soos Carstens se geesgenoot, Hans du Plessis, dit stel: “Afrikaans gaan nêrens anders as waarheen ons dit vat nie” (792). Vir Carstens gaan dit om “die aanvaarding van die uitkomste van die proses sedert 1994” (747). H Kruger skryf: “Afrikaans sal net kan voortbestaan indien die Afrikaanssprekendes die nuwe politieke bedeling in Suid-Afrika aanvaar” (800). Die selfvernietiging van Afrikaans en Afrikaners word deur diesulkes bepleit.

Afrikaners verset hulle tereg teen die politieke bedeling wat in 1994 mandaadloos aan hulle opgedring is. Afrikaners verlang ‘n heeltemal ander opset waarin hulle afdoende politieke mag het om hulle eie lot te bepaal. Kortom, hulle verlang selfbeskikking. Dit sluit beskikking oor die lot van Afrikaans en Afrikanerkultuur in. Soos die gebore Suid-Afrikaner, Brace Courtenay (1933-2012), dit gestel het: “When we destroy a language we effectively undermine the culture it belongs to. Language is the very soul of a culture” (825).

Afrikaansrelevante kultuurorganisasies word in tabelle/kolomme gelys (753-759). Praag is (doelbewus) uitgelaat, waarskynlik omdat Praag nie in Carstens se FW de Klerk-oorgeemodus verkeer nie. Die enigste verwysing na Praag in die boek is in die volgende sin: “Van die tradisionele Afrikaners – in die betekenis van wit Afrikaanse mense wat hul onderskei as ‘n eiesoortige volk naas ander volkere – het daar min oorgebly, behalwe in groeperings soos in die voormalige Afrikaner-Volksfront (1994-1996), Orania-beweging, Praag, die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA), die Afrikaner-Weerstandsbeweging (AWB), en andere” (848). Van handhawing, wat histories so ‘n groot behoudende rol in die geskiedenis van Afrikaans gespeel het, is daar geen teken by Carstens nie. Hy is die mede- en hoofouteur van ‘n boek van 639 + 1175 bladsye waarin nêrens besorgdheid oor die gehalte van hedendaagse Afrikaans uitgespreek word nie. Geradbraakte Afrikaans, soos in Kaaps, is vir hom klaarblyklik nie aanstootlik nie.

Ter wille van versoening is Carstens blykbaar bereid om ordentlike Afrikaans op te offer. Hy sal nie van bruin mense eis dat hulle hulle Afrikaans van onnodige Engelse woorde moet suiwer nie. Hy sal dit seker nie eens as ‘n verpligting op blankes lê nie. Hy verseg ook om enige erkenning te gee aan die behoudende rol wat Dan Roodt in Afrikaans en Afrikanerkultuur speel. Roodt word nêrens genoem nie. Vir MK-terroriste soos Ashley Kriel (890, 1049), Basil Kivedo (814, 891, 893, 894, 903, 909, 914, 915) en Jeremy Vearey (913) is daar plek in Carstens se storie van Afrikaans, maar nie vir Roodt nie. Carstens se inklusiwiteit, diversiteit en versoening sluit konserwatiewe, behoudende Afrikaners uit. Maar alle nie-blankes word ten minste potensieel by sy uitverkorenes ingesluit. Carstens onderskryf die gevleuelde woorde van die deurlugtige Tim du Plessis: “Afrikaans se toekoms (lê) in bruin hande” (803, 814). Carstens voeg by: “Dit is die werklikheid van Afrikaans” (814). Waarop Carstens se standpunt neerkom, in die woorde van iemand anders, is: “Om die taal op te offer is ‘n klein opoffering om te maak ter wille van beter verhoudings” (853). Dit is die eindresultaat wat mense soos Carstens bereik omdat hulle groter waarde aan politiek (naamlik versoening) as aan taal (naamlik Afrikaans) heg.

Carstens wil nie ‘n tradisionele Afrikaner wees nie. Die term en begrip Afrikaner moet glo herdefinieer word; dus verbreed word om almal in te sluit “wat aan Afrikaans gebonde is. Dan verval die etniese konnotasie en sal Afrikaans waarlik vry van bagasie kan wees” (855). “Afrikaner” word dan ‘n sinoniem vir Afrikaanssprekende. Hiervolgens moet die Afrikaner se geskiedenis, tradisies, ens, agtergelaat word; sy historiese wese moet afgewater word. Die veronderstelling is dat wat die Afrikaner was, sleg is en dat die groter groep waarin hy moet opgaan sonder bagasie is; dat hulle só goed is dat hulle selfs die Afrikaner kan ontsmet.

Carstens se volgende skuif is om wat eie aan die Afrikaner is, eintlik te ontken sodat hy naatloos deel van die voortreflike groter groep kan word. Dit gaan glo om “die woord ‘Afrikaner’ te herstel tot sy oorspronklike betekenis: iemand wat in Suid-Afrika gebore is, die taal praat en deel het aan dieselfde [!] geskiedenis, geloof, kultuur, gebruike, en so meer” (856). Historiese, geloofs- en kultuurverskille word goedsmoeds ontken. Maar daar is bruin Moslems, die Kaapse Maleiers, wat in geloof hemelsbreed van Afrikaners verskil. Gestel ‘n Somaliese Moslem of Etiopiese Rastafariër kry as onwettige immigrant plaaslik ‘n kind wat Afrikaans leer praat. Volgens Carstens se definisie is hy ‘n Afrikaner, wat die mate aantoon waarin hy die begrip Afrikaner uithol sodat dit grootliks waardeloos of betekenisloos word. Die begrip Afrikaner moet volgens Carstens geen ras- (856) of etniese (855) konnotasie hê nie.

Dan vervolg Carstens waaragtig met: “Taal* en identiteit word hiermee erken” (856) en “dan verval die voorkeur aan die eie behoeftes (soos in die ou politieke bedeling)” (857). Dus, Afrikaners moet eiebelang afsweer en diensbaar aan ander mense, die land en die res van Afrika wees; ‘n boetedoenende, identiteitlose slaaf. “Dit gaan nie oor Afrikaans nie, maar oor die skep van ‘n Suid-Afrikaanse gemeenskap waarin almal tuis voel” (858). Sal die tradisionele, behoudende Afrikaners in so ‘n opset ook tuis voel? [* Sowel taal/Afrikaans as identiteit/Afrikanerskap word deur Carstens misken. Kyk hier onder vir Afrikaansmiskenning, dus Afrikaans wat soos Afrikanerskap afgewater en uitgehol word.]

Volgens Carstens is alle Afrikaansvariëteite gelyk. Op ‘n soortgelyke manier is alle mense gelyk verklaar. Alle mense is mos lede van dieselfde ras, die menseras. As etniese en kultuurverskille geïgnoreer word, kan inklusiwiteit, oftewel integrasie, skynbaar maklik bewerkstellig word. Dit is klaarblyklik wat Carstens verlang. Aan die Kaap is rasgemengde huwelike reeds in 1685 verbied (57, 927). Ek vind dit interessant dat daar terselfdertyd ‘n beroep op die gebruik van “korrekte, goeie Nederlands” gedoen is (58). Aan die Kaap was daar minder rasvermenging as in ander koloniale gebiede, bv Suid-Amerika. Carstens verwys egter na die “fornikasie met slavinne” (58, 79). Hy volg dit op met ‘n tabel van Afrikaanse vanne waarvan die nageslagte slavinne as stammoeders het (109-110). Hy doen dit met verwysing na JA en Hans Heese se navorsing waarvolgens 7% van die Afrikanerfamilies in die 20ste eeu ‘n nie-Europese stammoeder gehad het. Wat Carstens beklemtoon is dat Afrikaans nie die uitsluitlike skepping van blankes is nie en dat Afrikaners insgelyks nie suiwer blank is nie. Wat doelbewus agterweë bly, is beklemtoning van die geringe voorkoms van albei.

Hoogs oordrewe beweer Carstens dat die slawe “n groot deel van die geskiedenis van Suid-Afrika [nie net van die Kaap nie], maar ook van Afrikaans, uitmaak” (873). Oor laasgenoemde skryf hy: “Volgens aanduidings word daar bykans 400 woorde van Maleise en Arabiese herkoms daagliks in kommunikasie tussen Moesliems gebruik as hulle Afrikaans of Engels met mekaar praat” (878). Maar dit is in die konteks van hulle kultuur en godsdiens en daardie woorde is meesal of nie noodwendig deel van Afrikaans nie. In elk geval is enkele dosyne of selfs honderde woorde ‘n druppel in die emmer van die Afrikaanswoordeskat.

Die verligte Leopold Scholtz beweer blankes en bruines het “ewe veel tot die ontstaan van Afrikaans bygedra” (895). Hierdie stelling is eerder polities as feitelik korrek, maar let daarop dat dit net na die ontstaan, oftewel die begin, van Afrikaans verwys en die hupstoot ignoreer wat Hollands aan Afrikaans gegee het, asook die leeue-aandeel wat blankes in die verdere ontwikkeling van Afrikaans gehad het. Wanneer daar deesdae oor die “eiendomsreg” van Afrikaans geredekawel word – eiendomsreg het eers ná 1994 in die spervuur beland – moet duidelik onderskei word tussen diegene wat die taal gemaak wat wat dit is (dus nie net by die ontstaan betrokke was nie), naamlik hoofsaaklik die blankes/Afrikaners, en watter etniese groep die meeste Afrikaanssprekers het (glo die bruines, maar dan word Kaaps as Afrikaans gereken). Daar moet dus duidelik tussen taalskeppers of -bouers (veral die blankes) en taalgebruikers (blankes en bruines) onderskei word. Die eiendomsreg van Afrikaans weeg ongetwyfeld swaar in die guns van die Afrikaners. Dit is ook in die blanke sektor waar feitlik uitsluitlik die Afrikaansgetroues aangetref word. Onder die bruin Afrikaanssprekendes waarmee instansies soos die ATR en ATKV so gereeld saamwerk, is daar (feitlik) niemand wat van Afrikaansgetrouheid beskuldig kan word nie (bv dat hulle kinders in Afrikaans skoolgaan en dat hulle teen die verengelsing van eens Afrikaanse universiteite gekant is).

Ter wille van die nuwe Suid-Afrika wens Carstens as ‘t ware dat die Afrikaners minder blank is as wat hulle is. As rasvermenging ‘n tradisie aan die Kaap was, kan met groter gemak verseker word dat dit in die hede herleef. Aan die einde van die boek keer Carstens dus terug na “die genealogie van Afrikaanssprekendes” (923). Hy verwys na HT Colenbrander se boek, De afkomst der Boeren (1902). Volgens Colenbrander se berekening “was die slawe- of gekleurde komponent [in die blankes] minder as 1%” (927). Die Heeses se latere bevinding van 7% (maar in ‘n ander opsig) klink dus dalk meer aanvaarbaar in die onverkwiklike tyd waarin ons leef. Maar die persentasie nie-blanke bloed in Afrikaner-are is steeds minimaal. Desnieteenstaande wil Carstens die ons/hulle-verdeling afbreek en blankes en bruines tot broers en susters verklaar; soortgelyk aan die ANC wat broers en susters in die res van swart Afrika koester. Die Carstense het wel ‘n voorbeeld gestel en oor die rastou getrap. Hulle bevind hulle in die volgende groep: “Sommige slavinne het getrou met wit boere en so is die wit nedersetter se van oorgedra in die bruin gemeenskap” (925). ‘n Verdere lys van Afrikanervanne, in hulle hoedanigheid as oor-die-tou-trappers, word in tabelvorm verskaf (929-930). Die Lemmers skitter in hulle afwesigheid.

In talle aanhalings word beweer dat Afrikaans aan die slawe, die Khoi-Khoin of die Khoi-San, dus nie-blankes, behoort; dat hulle die taal geskep het en dat die blankes die taal (soos in die geval van grond) daarna van hulle gesteel het. Die eiendomsreg van Afrikaans word dus aan die nageslag van die slawe en inheemse Khoi-San, dus aan die huidige geslag bruin mense, oorgedra. Dít ten spyte van onomstootlike feite soos dat Afrikaans wesenlik uit Hollands/Nederlands en ander Germaanse tale ontwikkel het en blankes ongetwyfeld die leeue-aandeel in die ontwikkel, vestiging, amptelike erkenning, standaardisering, handhawing en uitbouing van Afrikaans gehad het.

Carstens en diesulkes aanvaar goedsmoeds dat die toekoms van Afrikaans aan bruin mense toevertrou moet word. Dit kom neer op onteiening van Afrikanerkultuurgoedere sonder vergoeding. Hiermee word ‘n misdaad teen ‘n deel van die mensdom, die Afrikanerdom, gepleeg. Ter vergoeiliking van hierdie dwaasheid word nie net die term en begrip Afrikaner herdefinieer/verbreed nie, maar by implikasie ook Afrikaans. Nêrens besin Carstens oor wat Afrikaans is nie, in die sin van wat met reg in- en uitgesluit behoort te word nie. Hy predik sonder meer inklusiwiteit, dus dat alle Afrikaansvariëteite gelykwaardig is en ingesluit moet word en dat Kaaps een hiervan is.

Kaaps mag ‘n variëteit van sowel Afrikaans as Engels wees, maar dit is nie ‘n taal uit eie reg nie omdat dit kennis van sowel Afrikaans as Engels veronderstel. Dit is ‘n mengel- of tussentaal wat, in soverre dit Engels is, geen heil vir die toekoms van Afrikaans inhou nie. In hierdie opsig is variëteite nie gelykwaardig nie. Oranjerivier- of Griekwa-Afrikaans bedreig nie die toekoms van Afrikaans nie, maar Kaaps doen dit wel in oortreffende mate. Omdat Carstens eerder politiek- as taalkorrek wil wees, kritiseer hy Kaaps in geen opsig nie. Om dieselfde rede spreek hy hom nie ten gunste van taalsuiwerheid uit nie. Vir hom gaan dit primêr om versoening en om dit te bereik word van Afrikaners verwag om op te offer; ‘n vereiste wat nie aan bv bruin mense gestel word nie. In werklikheid moet en mag Afrikaners van alle Afrikaanssprekendes verwag om Afrikaans so suiwer moontlik te gebruik sodat al sy sprekers trots op die taal kan wees; dat veral verengelsing ten alle koste vermy moet word.

As op die huidige manier voortgegaan word, gaan die verengelsing van Afrikaans die vernietiging van die taal veroorsaak en dit sal by uitstek op die rug van Kaaps gedoen word. In soverre Kaaps ongefiltreerde Engels is, moet dit ondubbelsinnig verwerp word. Deur die heil van Afrikaans aan bruin mense (en by implikasie aan Kaaps) toe te vertrou, is soortgelyk aan Marthinus van Schalkwyk se skuif om die Nasionale Party in die skoot van die ANC te laat beland. Twee onverenigbares is saamgegooi. Die resultaat was die einde van die Nasionale Party. Die ANC het geseëvier. Op ‘n soortgelyke manier gaan die Carstens-strategie Afrikaans via Kaaps vernietig en gaan net Engels uiteindelik oorbly.

In Carstens se boek word daar ‘n enkele keer na Guarani verwys, na aanleiding van wat in Jaap Steyn se boek, Tuiste in eie taal (1980), staan (355). Dit bied ‘n scenario vir wat met Afrikaans kan gebeur as voortgegaan word met die huidige verheerliking van Kaaps deur Carstens en sy geesgenote. Guarani is ‘n Indiaanse taal wat as die algemene spreektaal in Paraguay en omstreke gepraat word; soortgelyk aan Afrikaans wat meer as enige ander taal die algemene spreektaal in Suid-Afrika was en dalk nog is; ook in Namibië en voorheen in bv Zimbabwe. Guarani en die koloniale taal Spaans is die amptelike tale in Paraguay. ‘n Variant van Guarani, Jopará, het ontwikkel en word gekenmerk deur uitgebreide en toenemende Spaansbesoedeling, soortelyk aan die besoedeling van Kaaps deur Engels.

Jopará is die algemene spreektaal in Paraguay, maar Spaans word hoër geag. Vir laevlak-kommunikasie word minder en vir hoëvlak-kommunikasie meer Spaanse woorde in Jopará gebruik. Jong mense gebruik meer Spaans in Jopará as ouer mense. Deur die lot van Afrikaans aan bruin mense oor te gee, soortgelyk aan die manier waarop FW de Klerk die land aan swartes toevertrou het, verseker heel moontlik dat ‘n mengeltaal soos Kaaps – en nie Afrikaans nie – al hoe meer die taal van Afrikaanssprekendes sal word; ‘n nuwe taal geskik vir die nuwe Suid-Afrika; ‘n mengeltaal sogenaamd sonder bagasie maar een waarop ‘n mens nie trots kan wees nie; ‘n taal wat noodwendig tweede viool naas Engels sal speel en al hoe meer deur Engels verswelg sal word. Aan alle Afrikaansgetroues: Wees gewaarsku: Wannie huldig gevaarlike wanopvattings oor Afrikaans en Afrikaners.

Bylaag: Daar is ‘n swetterjoel bronverwysings in die boek. Ek het geen poging aangewend om hulle vir korrektheid na te gaan nie. Dit behoort die maklikste te wees om kruisverwysings korrek te doen, dus verwysings van een deel in die manuskrip na ‘n ander deel in die manuskrip. Ek het party van hierdie kruisverwysings nagegaan en die volgende (moontlike) foute opgespoor. Die volgorde waarin die inligting hier aangebied word, is: foutief/korrek (soms is dit te moeilik om vas te stel waarna verwys word, vandaar die vraagtekens): 4.3/4.2 (146), hoofstuk 24, 2.2.2.2/? (242), hoofstuk 12, 3.2/hoofstuk 12, 3.1 (245), hoofstuk 15, 3.2/hoofstuk 14, 3.2 (293), hoofstuk 14/hoofstuk 15 (354), hoofstuk 18, 2.4/hoofstuk 19, 2.4 (386), hoofstuk 14, 1.6.3/hoofstuk 15, 1.6.3 (394), hoofstuk 15, 4.3/hoofstuk 16, 4.3 (403), hoofstuk 14, 1.6.3/hoofstuk 15, 1.6.3 (424), hoofstuk 15, 5/hoofstuk 14, 5 (436), hoofstuk 14, 1.3/hoofstuk 15, 1.3 (447), hoofstuk 16, 4.4.5/hoofstuk 16, 4.4.3 (505), 8.3.4/2.4 (541), hoofstuk 22, 2.1/hoofstuk 22, 3.2.3 (543), hoofstuk 14, 2.4/hoofstuk 18, 2.1 (544), hoofstuk 14, 2.2/hoofstuk 15, 2.2 (568), hoofstuk 14, 1.2 & 1.4/hoofstuk 15, 1.2 & 1.4 (573), hoofstuk 15, 4.3.4/hoofstuk 16, 4.3.4 (573), hoofstuk 14, 1.2/hoofstuk 13, 7.1 & hoofstuk 14, 2.1 (577), hoofstuk 16, 5/hoofstuk 20, 2.2.1 (598), 5.3.1/? (674), 3.1.1/3.1 (676), hoofstuk 14, 1.6/hoofstuk 15, 1.6 (684), hoofstuk 22, 2.1.3.1.1/hoofstuk 23, 2.1.3.1.1 (691), hoofstuk 21, 2.4/hoofstuk 20, 2.4 (692), kaart 15/kaart 13 (835), hoofstuk 21, 3.5.1/hoofstuk 21, 5.1? (841), hoofstuk 15, 3.5/hoofstuk 14, 3.5 (872), hoofstuk 16, 4.3/hoofstuk 15, 2.2 (873), hoofstuk 16/hoofstuk 15, 2.2.1 (876), noot 95/96 (945), hoofstuk 28, noot 29/hoofstuk 24, noot 28 (969), hoofstuk 16, noot 69/hoofstuk 16, noot 70 (981), hoofstuk 13, 4.2.2/hoofstuk 13, 4.2 (986), noot 77/noot 153 (992), hoofstuk 20, 3.2/hoofstuk 21, 3.2 (996), hoofstuk 14, noot 93/hoofstuk 14, noot 94 (1003), hoofstuk 23, 2.1.3/hoofstuk 21, 4 (1018), note 73, 93, 122, 198 en 303/note 73, 122, 198 en 363 (1029), hoofstuk 22, noot 13/? (1035), noot 281/? (1036). note 73, 93, 122, 198 en 365/note 73, 93, 122, 363 (1036), noot 281/? (1036), punt 45 hieronder/? (1037), note 73, 93, 122, 198 en 363/note 73, 93, 122 en 198 (1045), hoofstuk 16, noot 17/hoofstuk 13, noot 121 (1049).

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.