Dan Roodt: Anton van Niekerk: agterryer in die stryd vir Engels

By die artikel van Anton van Niekerk op Netwerk24 waarin hy vandag Engels op Stellenbosch bepleit, is daar net een fout: Van Niekerk verskyn nie op die foto van Open Stellenbosch se betoging teen Afrikaans (sien hier bo) wat deur die blanke dr. Kylie Thomas van die Engelse departement, omring deur haar swart studente, gelei word nie. Waarom was Van Niekerk nie ook daar nie? Hy is dan nie ‘n voorstander van Engels nie? Of volg hy maar die stroom en is vandag ‘n stoere ondersteuner van ANC- en EFF-beleid téén Afrikaans, nes hy in die verlede ‘n NP-sikofant op Stellenbosch was?

Soos by alle volkere wat vir lang tye deur vreemdelinge oorheers is, is die tema van verraad besonder bekend onder Afrikaners. Jaap Steyn se postmoderne roman uit die laat sewentigerjare, Dagboek van ‘n verraaier, het skerpsinnige vrae oor lojaliteit teenoor die eie volk en taal gestel, in die lig van ‘n Breyten Breytenbach-agtige figuur wat verraad pleeg en hom by die ANC skaar. Verder terug was daar die joiners en hensoppers van die Tweede Vryheidsoorlog waaroor daar nou nog geskryf word.

Om soos die ietwat naïewe en dweperig godsdienstige hoofkarakter Anton in Dagboek van ‘n verraaier uiteindelik teen Afrikaners te draai, oorskry ‘n grens wat iewers in die boek só verwoord word:

“Jy sal baiekeer in jou lewe nie mooi weet wat om te doen nie, jy sal nie altyd weet of is iets reg of verkeerd nie, maar dan sal jy tog op een of ander manier weet: ‘n Afrikaner maak nie so nie.” (bl. 94)

Wesentlik is daar geen verskil tussen dít wat Van Niekerk in die linkse Netwerk24-media bepleit en die EFF se standpunt wat juis vandag in hul mediaverklaring oor die triomf van Engels by Kovsies verwoord is nie. “Afrikaans must fall.” Dit is die EFF se standpunt en dit is insgelyks Van Niekerk s’n. So pas het die EFF ‘n verklaring uitgereik waarin die aanvaarding van Engels as enigste taal aan die Universiteit van die Vrystaat verwelkom word:

Nothing marks the step towards transformation at UFS than this decision to abandon Afrikaans as a medium of instruction. This is because within the institutions of higher learning, as well as in many public schools in South Africa, Afrikaans has maintained segregation and racial privileges. As an institutionalised language, it has kept alive white supremacist cultural practices and given license to white right-wing groups to think it is legal and legitimate to be racist.

We commend all the students whose protests have brought the question of the language policy sharply into the university agenda such that it could not be postponed any more. We further call on universities of Stellenbosch, Pretoria and UNISA to heed to the call that Afrikaans Must Fall as a step towards transformation of the university.

In addition, all colonial and apartheid statues in our campuses across the country must be removed, including symbols such as names and insignia. Our campuses must be freed from being centres that celebrate colonialists, mass murderers and their associated racist ideas. The insistence to keep Afrikaans as a medium of instruction, along with colonial statues and symbols, is a direct legitimisation of white supremacy and anti-black racism.

Ek beskou my as ‘n Afrikanerdissident of iemand wat in weerwil van die groteske verwarring, propaganda, etniese konflik en politieke geknoei in ‘n land soos dié nog altyd gepoog het om te dink en te handel volgens daardie vae, verskuiwende lyn wat in bogaande paragraaf van Steyn verwoord word: te midde van die verwarring en propaganda moet ons standpunt inneem en handel, en tog moet ons iewers weet dat daar grense bestaan wat nie mens durf oorskry sonder om jou aan afskuwelike verraad skuldig te maak nie.

Nou die dag vertel die uitgeweke digteres Annesu de Vos my dat die Afrikanerterroris, Hein Grosskopf, op ‘n stadium in ‘n ANC-opleidingskamp in Zimbabwe beland het waar een van ZANU PF se instrukteurs met smaak vertel het van die wreedhede wat hy en ander teen blankes gepleeg het. Grosskopf het toe blykbaar besef dat sy verraad hom nou in ‘n situasie laat beland het waaruit geen terugkeer meer moontlik was nie. Weier hy om voortaan mee te doen, sou hy self as verraaier deur sy ANC- en ZANU PF-makkers doodgemaak word. Volhard hy op sy ingeslane weg, bevind hy hom uiteindelik in ‘n wêreld van terreur en sinnelose geweld teen burgerlikes, een van die “vryheidsvegters” vir wie wreedheid self die enigste sin van hul opstand teen alle beskaafde norme is. In sy boek Negrologie, noem die Franse joernalis Stephen Smith van die linkse koerant Le Monde, dit “die vryheid van die wolwe” binne die “paradys van wreedheid”.

‘Tans sien ons egter hoe die brandende buiteband, met die swart rook wat daaruit opstyg, die simbool van Matiedenke – of gebrek daaraan – geword het.’

Hein Grosskopf se verraad het tot ‘n bom in Johannesburg gelei. Anton van Niekerk s’n lei tot die ondergang van Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch. Net soos Grosskopf in sy opleidingskamp wat nie meer oor die wil of die moed beskik het om “nee” te sê vir die drukgang waarin hy hom bevind het nie, volhard Van Niekerk ewe willoos op sy ingeslane verraaierstrajek. Beide Grosskopf en Van Niekerk beskik oor ‘n intense, anomiese dislojaliteit teenoor die Afrikaner as volk en as gemeenskap waaruit hulle na vore gekom het, en waarin hulle, soos die spreekwoord lui, gebore en getoë is.

Dog verraad is verleidelik, vermoed ‘n mens. Suid-Afrika is ‘n sadistiese land. Net ‘n paar dae gelede is ‘n Afrikaanse dogtertjie, Kayla Meyer, en haar hele gesin op Randfontein deur vier nihilistiese “vryheidsvegters” uitgewis. Só word wreedheid en die oorheersing van die wolfmens elke dag in ons land gevier. Swakker en dommer tipes soos Van Niekerk voel aangetrokke tot die krag en mag, die primitiewe heerssug wat ‘n Afrikadiktator-in-wording soos Julius Malema uitstraal. Soos Stephen Smith in sy opmerkings oor “die paradys van wreedheid” insgelyks aandui, speel die tropgevoel ‘n groot rol.

Die trop is Engels, daarom moet hy gevolg word. In sy burokratiese prosa skryf Anton van Niekerk:

Ek self doseer tans ’n module vir ongeveer 115 derdejaarstudente. Uit herhaalde navrae wat ek reeds tot hierdie studente gerig het, blyk dit dat daar nie een onder hulle is wat Afrikaans as onderrigmedium verkies nie (hoewel daar waarskynlik ’n paar is wat opstelle en eksamens in Afrikaans sal doen).

Dr. Kylie Thomas, die Boerehater-Engelse-dosent roep haar trop op om Engels by Stellenbosch te laat oorheers. Noem haar dan ‘n Engelse taalstryder, waarvoor ons as Afrikaanse taalstryders seker respek moet hê. Al doen sy dit om imperiale redes of om haarself in haar beroep te bevoordeel, is daar tog – hoe afskuwelik ons sulke Engelse ook al mag vind – by haar sprake van ‘n wíl. By Van Niekerk is daar geen wil, geen sweem van ‘n keuse te bespeur nie. Hy is die blote agterryer van Kylie Thomas en die Open Stellenbosch-gepeupel wat sy vanuit haar kantoor in die Engelse departement opgetower het, soos die dorpie Combray uit Proust se koppie tee te voorskyn kom as die madeleinekoekie daarin gedoop word.

Is dit nie ironies dat iemand soos Van Niekerk ‘n dosent in die wysbegeerte is nie? Kan jy nou meer! Hy het nog nie eens daardie gewilde werke van Sartre en Camus wat ons geslag as tieners verslind het en waarin die problematiek van keusevryheid so intens aan bod kom, gelees nie. Of indien hy dit gelees het, het hy dit met sy uiters middelmatige intellek nie begryp nie. Of as hy dit begryp het, beskik hy nie oor die morele moed om dit ter harte te neem nie. Hy is bloot ‘n willose hensopper, ‘n joiner, ‘n agterryer vir ‘n polities korrekte Engelse vrou.

Kierkegaard, die Deense filosoof wat juis in Deens geskryf het – daardie klein ou Skandinawiese taaltjie, wat seker vir tropmense onbenullig moet wees, net so onbenullig soos Afrikaans – behandel iewers die problematiek van “nie te kies nie” as juis óók ‘n keuse. Van Niekerk, die slaprugslungel, die willose, die volger, die na-aper van ‘n middeljarige Engelse dame in jeans en tekkies – ai, die smaakloosheid van Engelse vrouens! – is soos Kierkegaard se bootsman op die rivier wat moet kies maar net die stroom volg, dieselfde stroom wat hom oor die afgrond gaan voer.

Noem my dan ‘n Deen, of ‘n Afrikaner, wat onder Afro-Saksiese heerskappy deesdae ‘n vloekwoord geword het, maar ek kies juis vír Afrikaans. Na my ervaring voel jong Afrikaners deesdae ewe patrioties en lief vir Afrikaans as vorige geslagte. My dogter, wat in ‘n Engelse Johannesburg voor YouTube grootgeword het en dolgraag ‘n tyd lank in Seoel, Suid-Korea wil gaan woon om ‘n “stedelike ervaring” te hê, verbaas my nou die dag toe sy met ‘n Voortrekkerkappie huis toe kom wat sy iewers in ‘n tweedehandse winkel in Pretoria raakgeloop het. Ook het sy opgelees oor die stylvolle kleredrag van die Voortrekkers op Sondae, hul mansmodes, en dergelike meer. Ons kinders word groot in ‘n globale wêreld, maar steeds met ‘n waardering vir ons geskiedenis, asook ‘n sterk hunkering na Afrikanerskap, Afrikaans en ‘n eie identiteit. Hulle vrees bloot die beskuldigende geweld van die marxistiese wolwe wat van die universiteite hul skuilplek gemaak het. Vandaar dus hul versigtigheid om hoegenaamd ‘n voorkeur vir hul taal uit te spreek.

Indien daar vyf dosente aan die Universiteit van Stellenbosch was wat – ‘n mens weet nie hoe om dit te stel nie – oor ‘n paar nanogram testosteroon beskik het, was dit sonder twyfel heel anders. En sou studente nie gehuiwer het om ombeskaamd in Afrikaans klas te loop, eksamens af te lê of proefskrifte te skryf nie.

Helaas, daar heers bloot onderdanigheid aan die nuwe orde, aan Malema se taalbeleid wat die rooihempiebrigade met ‘n brandende buiteband op ons afdwing.

Sekerlik is Anton van Niekerk, soos al die verloopte Broederbond-Afrikaners – nee, die hele FW de Klerk-geslag met hul ellendige verraaiersmanie – ‘n bewonderaar van Winnie Mandela. Mevrou Mandela, soos Die Burger seker sou skryf. Sy het mos gepraat van die land “wat met vuurhoutjies en buitebande bevry moet word”. Tans sien ons egter hoe die brandende buiteband, met die swart rook wat daaruit opstyg, die simbool van Matiedenke – of gebrek daaraan – geword het.

Dit herinner my aan ‘n frase van die ontslape Franse – en ja, ek weet Piet Kopdoek en die res van die universitêre agente meen dat Frankryk ewe onbenullig as Denemarke of selfs die reste van ons Afrikanerdom is – postmodernis, Jean Baudrillard.

In een van sy essays oor die VSA verwys Baudrillard na iemand wat ‘n slang as troeteldier aanhou en die ooreenkoms tussen die baas en die reptiel se breine. Hy gebruik die sinsnede: “die innerlike nag van sy brein”.

Van Niekerk, wat so bedwelm is deur die stink rubberreuk vanuit die EFF-betogers se brandende buitebande, asook die intellektuele erfenis van mevrou Mandela en die hele Afrikaans must fall-beweging… Hoewel om dit ‘n “beweging” te noem, laat dit klink asof ons met iets soos impressionisme of die Duitse Romantiek te make het, wat heeltemal te eurosentries is. Veel eerder dan: Van Niekerk wat so deur die Raka-agtige Afrikaans must fall-instinkte oorweldig word, openbaar deur sy anglomanie bloot die innerlike nag van sy brein.

Hy is net iemand, hetsy Kylie Thomas, hetsy Julius Malema, se troetelslang. Met al die verraderlikheid en lis wat deur die slangmetafoor gesuggereer word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.