Leon Lemmer: Wilhelm Verwoerd, Hennie van Coller en Anton van Niekerk oor Hendrik Verwoerd

Deel op

Sedert sy diensaanvaarding op 1 April het Wim de Villiers, die rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), getoon dat hy vasbeslote is om die universiteit selfs vinniger as sy voorganger, Russel Botman, te verswart en verengels. Binne drie maande kan niemand met reg beweer dat sy aanstelling transformatories ‘n terugwaartse stap was nie. Die teendeel is onteenseglik waar. Dít word nie as ‘n kompliment bedoel nie. Een van De Villiers se weersinwekkendste skuiwe was om van die verwydering van ‘n gedenkplaat ter ere van Hendrik Verwoerd ‘n openbare demonstrasie te maak. Dit was volgens De Villiers se insig en gesindheid nie voldoende dat die betrokke gebou nie meer na Verwoerd genoem word nie. Die uitboender van die borsbeeld van DF Malan is dalk volgende op sy lys. Die US is moontlik reeds naarstiglik besig om ‘n agterkleinkind te probeer opspoor wat oorgehaal kan word om Malan by so ‘n geleentheid te beswadder. Of dalk volstaan die US met eie talent, soos Anton van Niekerk en Amanda Gouws, om die verlangde karaktermoord te pleeg. (Ek hoop maar dat ek hiermee nie nuttige wenke aan De Villiers gee nie.) Dit is ‘n politieke spel wat met oorgawe deur die US-bestuur gespeel word; nie ‘n poging om die US van akademiese verval te red nie.

Wilhelm Verwoerd

In die geval van Hendrik Verwoerd het dit geen oorreding geverg om sy kleinkind, Wilhelm, te oortuig om die nagedagtenis van sy oupa in die openbaar te onteer nie. [Ek verwys voortaan na onderskeidelik (HF) Verwoerd en Wilhelm.] Vir Wilhelm is die uitlewing van sy politieke linksheid ‘n lewenswyse. Op hierdie manier kan hy as ANC-kameraad aandag trek. Op 27 Mei is die Verwoerd-plaket te midde van die toejuiging van veral swartes verwyder. In sy berig verwys Die Burger (28 Mei, p 4) na die “dreunsang” van studente. Lede van die Open Stellenbosch-beweging het “Mayibuye iAfrika” (Bring Afrika terug -bv die oerwoud?) uitgeroep en baniere in die lug gehou. Dit is die soort aktivisme wat De Villiers in woord en daad aanmoedig. Hy is te opportunisties, onkundig en naïef om te besef dat hy met vuur speel. ‘n Geredigeerde weergawe van die toespraak wat Wilhelm by hierdie geleentheid gelewer het, is in Die Burger (2 deser, p 15) gepubliseer. Die Burger sal so ‘n geleentheid, om te demonstreer in watter mate dié koerant sy mantel gedraai het, nie onbenut laat verbygaan nie.

As student in Nederland en Engeland het Wilhelm tot ander oortuigings as sy oupa gekom. Hy haal Albert Luthuli se karakterisering van Verwoerd goedkeurend aan: “The one person remembered as the author of our calamity.” Die sluipmoord op Verwoerd op 6 September 1966 is vir Wilhelm en sy geesgenote nie meer “‘n dag van rou nie, maar ‘n skokkende dag van blydskap en bevryding.” Hiervoor moet Wilhelm darem ‘n dik vel hê. Hy gooi dit egter gerieflikheidshalwe oor die boeg van sy soort christelikheid: “As ek myself steeds ‘n Christen wil noem, ek voorkeur moet gee aan die ervarings van diegene wat hom [Verwoerd] beskou as die verpersoonliking van ‘n vernederende, ontmenslikende politieke stelsel.” Wilhelm kies dus doelbewus kant teen die blankes en veral die Afrikaners deur eensydig net die negatiewe in die apartheidsbeleid in ag te neem. Later erken hy openlik: “Vandag probeer ek opreg voorkeur gee aan die pyn van die Ander.”

Wilhelm het, soos De Villiers, ‘n voorstander geword van die verwydering uit openbare ruimtes van die name van diegene wat “met die pyn van apartheid geassosieer word … Ek was oortuig dat dié verering belediging by verwonding voeg.” Die “grootste vraag” (eintlik twee vrae) wat by hom opkom, onderstreep weer sy eensydigheid: “Hoe hoor ek regtig die hartklop van pyn agter die gebalde vuiste en borrelende woede van hoofsaaklik swart landgenote; hoe kan ek ‘n positiewe rol speel ten opsigte van veral die diepgewortelde ongeneesde emosionele, morele en sielsverwonding uit die verlede?” Wilhelm gaan sonder meer van die veronderstelling uit dat swartes op woede, op ‘n gevoel van veronregting, geregtig is; dat hulle toestand geheel en al die maaksel van blankes is; dat swartes blykbaar nie uit eie inisiatief self moet probeer verbeter nie; dat blankes niks tot stand gebring het waardeur swartes in oortreffende mate bevoordeel word nie. Baie buitelandse besoekers kan nie glo dat die ontwikkeldste land in Afrika grootliks onverdiend in die skoot van ANC-kornuite geval het nie.

Hy bly hamer op pyn en sy opregtheid .”Ek hoop daarom opreg dat die seremoniële beëindiging van die verering van pynlike apartheidsimbole aan die US ‘n broodnodige boodskap van menslike erkentenis sal oordra, dat die verwydering van die Verwoerd-plaket sodoende ‘n klein maar beduidende salwende rol sal vervul binne die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap.”

Wilhelm se neef, Wynand Boshoff, noem hierdie gebeure ‘n “simboliese aanranding” van Verwoerd en ‘n “demonisering”. Boshoff se artikel verskaf uitstekende agtergrondsinligting (Orania-webwerf 10 deser).

Hennie van Coller

ANC-gedienstiges, bv verloopte Afrikaners, wou sekerlik hê dat Wilhelm se uitlatings onkrities geabsorbeer word. Ek het egter die indruk dat Hennie van Coller se moermeter op rooi staan. Dan moet ‘n mens nie met ‘n Boer lol nie. Onlangs het hy ons gesaghebbend ingelig oor hoe hy die toestand aan die Universiteit Vrystaat ervaar (Praag 16 Mei). Daarna het hy op 8 deser in sy rubriek in Volksblad kommentaar op Wilhelm se toespraak gelewer. Van Coller se teks is in Die Burger (11 deser, p 15) hergepubliseer.

Van Coller verwys na “die verguisde” Verwoerd en na Wilhelm se toespraak as “vol van die sentimentele clichés wat ‘n mens by idealistiese wêreldverbeteraars sal aantref.” Die gesindheid wat Wilhelm (en sekerlik oor De Villiers) uitstraal, word soos volg verwoord: “Identifiseer die boosdoeners en eis van hulle om alles wat die teenparty mag ontstel, prys te gee.” Van Coller verkwalik Wilhelm omdat hy “die verwikkelde begrip versoening tot ‘n teenstelling tussen ‘sout’ en ‘soet’ reduseer.” Van Coller heg ‘n ander betekenis aan versoening: “Dit beteken letterlik weer tot vrede en vriendskap bring; die herstel van onderlinge verhoudings. Dit verreken altyd die geskiedenis; strewe na ‘n middeweg; verneder en vernietig nie.” Dit is myns insiens opvallend dat De Villiers, as iemand sonder enige (formele) geesteswetenskaplike agtergrond, skynbaar geen waarde aan die geskiedenis heg nie. Hy gee nie ‘n flenter om as hy die tradisionele US-studente en -personeel ontheem en aanstoot gee nie.

Van Coller gaan voort: “Te oordeel na heersende maatstawwe was Tsjaka ‘n oorlogsugtige tiran, Moshoeshoe ‘n barbaarse kannibaal, Rhodes ‘n wrede imperialis en Verwoerd ‘n kil onderdrukker. In die geskiedenis beoordeel én in diskursiewe formasies kom hulle heeltemal anders uit die verf. Versoening is óók die begrip vir verskillende diskoerse, al onderskryf jy dit nie.”

[Dit is heel moontlik hier waar Max du Preez die onderwerp vir nog een van sy rubrieke gekry het (Die Burger, 13 deser, p 11). Du Preez poog om geleerd te klink deur weg te val met terme soos “komplekse” (pleks van “ingewikkelde” of, soos Van Coller skryf, “verwikkelde”) en “konstruk” (‘n term wat Willie Esterhuyse as ‘n sinoniem gebruik vir dit waarvan hy nie hou nie). Du Preez verwys na die Difaqane of volksmoord onder die swartes in die eerste helfte van die 19de eeu. Hy verwyt Shaka (Van Coller se Tsjaka) en Mzilikazi hiervoor en sleep sommer “die gewelddadige pad van … die wit setlaars en Britse kolonialiste” hierby in. Moshoeshoe word deurgaans deur Du Preez geprys en by implikasie vrygespreek van volksmoord en gewelddadigheid; ook van kannibalisme, wat volgens Du Preez tot “klein groepe” beperk was. Hy loof Moshoeshoe omdat hy “mense uit ander taalgroepe en kulture” in die boesem van die Basotho verwelkom het: “Hulle is toegelaat om hul eie tale en tradisies te behou.” Op kenmerkende manier pas Du Preez dit nie op die hede toe deur die ANC-regering te verwyt omdat hy nie voldoende ruimte aan die Afrikaners vir die uitlewing van hulle geskiedenis, tradisies, kultuur en taal gun nie. Pleks daarvan sluit hy sy rubriek af met sy gebruiklike lof vir Nelson Mandela, wat hy hierdie keer “‘n grootse eerder as ‘n goeie staatsman en leier” noem; iemand wat “vergiffenis en versoening” nagestreef het. Die “gewelddadigheid” wat Du Preez by die blankes bespeur het, is by Mandela blykbaar heeltemal afwesig.]

Van Coller haal weer die onaptytlike situasie aan sy universiteit op: “Die Universiteit van die Vrystaat (UV) onderskryf skynbaar [Wilhelm] Verwoerd se redenasie, want in die laaste tyd het die CR Swart-gedenklesing ‘n stille dood gesterwe. Suutjies is dit begrawe, sonder konsultasie met alle belanghebbendes, omdat swart studente gedreig het om dit te ontwrig as dit gehandhaaf bly. Dreigemente en geweldpleging is suksesvol; só het ons ook aan die Universiteit van Kaapstad gesien. Hoe lank voordat Swart se standbeeld én sy naam, wat aan ‘n gebou gekoppel is, ook verwyder gaan word? ‘n Geringe prys om te betaal vir versoening, hoor ek mense sê. En op die oog af is dit ‘n geldige redenasie. Want was Swart nie lid van die Verwoerd-kabinet en boonop ‘n stoere Afrikaner-nasionalis nie? By implikasie ‘n boosdoener.”

“Maar Swart was nie net ‘n oud-Kovsie nie, maar ook die eerste kanselier van die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, van 1950 tot 1976. Ander kanseliers, soos Winkie Direko (wat kwalik vier jaar in die amp was), se naam is ook aan geboue gegee. Beteken iemand se rol in die UV-geskiedenis dan niks nie? Gaan ook Afrikaners soos Wynand Mouton en Francois Retief die tol betaal?”

Daar is duidelike ooreenkomste tussen die situasie aan die UV en US. Raadpleging word gedoen om die wense van swartes vas te stel en dan daarvolgens te handel omdat geweld andersins ‘n groot moontlikheid is. Blankes se mening word nie ernstig opgeneem nie. Daarom is die CR Swart-gedenklesings stilletjies afgeskaf. Aan albei universiteite word Afrikanersimbole verwyder en met dié van swartes vervang, asof daar eenstemmigheid is dat blankes sleg en swartes goed is. Aan albei universiteite bepaal (potensiële) gewelddadigheid wat gedoen word. Dit geld tewens die hele nuwe Suid-Afrika. Dit is ‘n voortsetting van die suksesvolle voorbeeld wat die ANC tydens die “bevrydingstryd” gestel het.

Anton van Niekerk

Die Burger sal ‘n teks soos dié van Wilhelm sonder teenhanger publiseer omdat dit polities links is. ‘n Teks soos dié van Van Coller sal egter nie sonder teenspraak aangebied word nie omdat dit nie die linkse ideologie van die neo-Burger propageer nie. Vir my is dit baie duidelik dat Die Burger Van Coller se rubriek met voorbedagte rade hergepubliseer het, want op dieselfde bladsy verskyn Anton van Niekerk se kritiek daarop (Die Burger, 11 deser, p 15). Van Niekerk hou van publisiteit, vir homself en vir sy idees, vandaar die alewige fototjie van homself by sy bydraes. Dit is moontlik dat Van Niekerk Van Coller se teks gelees en aan Die Burger voorgestel het dat dit saam met sy kritiek gepubliseer word. Wat ewe moontlik is, is dat die koerant Van Niekerk gevra het om Van Coller se standpunt te kritiseer. Daar is immers geen twyfel aan watter kant Van Niekerk, met sy teologies-dogmatiese DNS, hom skaar nie.

Sowel Van Coller as Van Niekerk is hoogleraars, maar Van Niekerk staan sedert onlangs bekend as een van die US se uitgelese (“distinguished”) professore (US-webwerf 11.06.2014). Dit moet ‘n mens egter nie verhoed om kritiek op sy deurlugtige idees te lewer nie. Selfs Van Niekerk kan, met watter betiteling hy hom ook al laat welgeval, nie beter wees as wat hy is nie.

[Ton Vosloo het geen naskoolse formele kwalifikasie nie. Die akademiese jaar wat hy aan die Universiteit Harvard as ‘n Nieman-beurshouer deurgebring het, lei nie tot ‘n formele kwalifikasie nie. Desnieteenstaande is hy onlangs as ‘n ereprofessor in joernalistiek aan die US aangestel. Toe is daar beweer: “Kandidate vir ‘n ereprofessoraat word beoordeel op dieselfde kriteria wat geld wanneer professore aangestel word” (Die Burger, 25 April, p 3). Die implikasie is dat die US deesdae matriek as voldoende formele kwalifikasie vir ‘n professoraat beskou. Geen wonder dat Van Niekerk, wat ‘n doktorsgraad het, nou die gewigtiger titel van uitgelese professor het nie. Wanneer ek lees dat Vosloo dit of dat gedoen het, dan laat dit my onwillekeurig dink aan ‘n mossie wat saam met die arende wil vlieg.]

Hierdie rondte oortref Van Niekerk homself met onbekookte mislikheid. Hy beskryf Wilhelm se toespraak as “‘n ontroerende, verootmoedigende teks wat terselfdertyd grondige nadenke stimuleer. Dit verg ‘n waardiger openbare reaksie as die oppervlakkige en opportunistiese prul waarvan Hennie van Coller se reaksie … spreek.” Let op die onwaardige manier waarop Van Niekerk begin, die radikale manier waarop hy kant kies en die onwetenskaplike, emosie-gelaaide taal wat hy gebruik. Dit laat ‘n mens vermoed dat hy nie substansiële argumente in sy arsenaal het nie. Let op Van Niekerk se sarkastiese, lighartige trant: “Vir Van Coller is dinge darem alte eenvoudig. ‘Kom ons sê gou vir die swartes in Suid-Afrika – al 44 miljoen van hulle (meer as 80% van die bevolking) – jammer oor apartheid.’ Dis mos darem die minste wat ons kan doen. (Noudat ek daaraan dink: Ons het dit mos al gedoen!) As hulle redelike mense is, sal (moet?) hulle ons mos vergewe.” Die probleem is dat daar niks in Van Coller se teks is wat hierdie verbeeldingsvlug van Van Niekerk regverdig nie. Dit is Van Niekerk wat as ANC-gedienstige organisme behep is met verskoningvra en die getalsoorwig van die swartes.

Van Niekerk borduur voort in hierdie mislike, spottende rat: “Sommer so sito-sito. Ons het mos jammer gesê. Waaroor bly die lot so opgewerk? Hulle moet mos respekte hê. Veral teenoor die eerbiedwaardige CR Swart, wat immers kanselier van die UOVS was. Of gaan hulle dalk ook sy standbeeld afbreek? Waar gaan die wêreld dan heen?” Van Niekerk is een van daardie stommerike wat aan swartes die onregverdigbare luuksheid gun om van geslag tot geslag en tot in die oneindige die verwyt te koester dat die slegte blankes hulle met slawerny, kolonialisme, rassediskriminasie, imperialisme, ens, permanent benadeel, oftewel bedonder, het. Verskoningvra tot sewe maal sewe toe kan die skade nooit uitwis nie. Daarom skaar hierdie uitgelese professor hom ongekwalifieerd aan die kant van die swartes en teen die blankes, homself uitgesonderd. Van Niekerk sal nie erken dat daar verdienste in CR Swart of enige ander nie-verloopte Afrikaner is nie. Dit is tans ‘n voordelige standpunt om te huldig, gevolglik sal Van Niekerk in die openbaar nooit daarvan afwyk nie. Hy sal nie beswaar opper as ‘n Afrikaner se naam of standbeeld verwyder of Afrikaans vertrap word nie.

“Teenoor Van Coller staan [Wilhelm] Verwoerd wat, ten spyte van sy afkoms en agtergrond, die moeite gedoen het om hom – oor baie jare – te vergewis van wat apartheid werklik was – ‘die hartverskeurende lewensverhale van mede-Suid-Afrikaners … historiese en voortdurende [wit] bevoorregting …” Hier is ons terug by emosie-belaaide taal. Maar is daar nie ook “hartverskeurende lewensverhale van mede-Suid-Afrikaners” weens die ANC en PAC se tereurveldtogte nie? Die “bevrydingstryd” is egter verby. Aan die vergrype wat aan albei kante plaasgevind het, kan nie verander word nie. Maar die “hartverskeurende” plaas- en ander moorde gaan steeds voort en dit is feitlik uitsluitlik ‘n geval van swartes wat blankes uitmoor. Hieraan kan en moet iets gedoen word, want dit vind in die hede plaas. Het enige swarte al die blankes hiervoor en vir baie ander vergrype om verskoning gevra? Waarom word verskoningvra as verpligting net aan een deel van die spektrum van die reënboognasie opgedring? Het die ANC al verskoning gevra vir die gemors waartoe Eskom bestuur is? ens.

Na sy eerbiedige omgaan met Wilhelm se teks, verander Van Niekerk weer na sy lighartige, spottende rat: “Vir Van Coller se inligting: Apartheid was nie ‘n paar opstoppers wat sterkeres die swakkeres op die rugbyveld toegedien het, en wanneer die eindfluitjie blaas, skud ons almal gemoedelik blad, is al die moerigheid vergete en drink ons weer rustig saam ‘n bier nie. Apartheid was die sistematiese ontneming van mense se onderwysgeleenthede (tot op die punt waar miljoene vandag steeds ly aan onagterhaalbare agterstande), die onteiening van mense se wettige eiendom (veral op ‘n dorp soos Stellenbosch), die vernederende breuke in families omdat sommige as ‘wit’ geklassifiseer is en ander as ‘bruin’ (dikwels met ‘n ‘potloodtoets’ om haartekstuur te bepaal), die verbod op keuses van waar ‘n mens mag woon of swem of selfs in ‘n hysbak ry, en so, ad nauseam.” Dan weer hierdie speelse mislikheid: “Maar nee wat – geen probleem vir Van Coller nie. Wat apartheid ook al was, dit regverdig nie so ‘n ‘hoë prys vir versoening’ nie. ‘Kom ons vergewe en vergeet, kêrels. Die lewe is mos darem nie so ernstig nie, of hoe?'”

Van Niekerk pleit dus weer dat swartes se griewe en haat moet bly voortbestaan omdat dit volgens hom (tot in die oneindige) geregverdig kan word. Daar is seker nie veel mense wat waardering vir Van Niekerk se soort humorsin het nie. Ook kry ek nêrens in Van Coller se teks in Die Burger die frase “hoë prys vir versoening” wat Van Niekerk (oneerlik) as ‘n aanhaling aanbied nie. Die voortgesette gekerm deur bruines oor die opruiming van die krotbuurt en misdaadnes Distrik Ses beskou ek as oodrewe. As dit die ergste is waaroor hulle kan kla, het hulle eintlik min om oor te kla. Van Niekerk kom met die storie dat onteiening ingevolge die Wet op Groepsgebiede “veral op ‘n dorp soos Stellenbosch” voorgekom het; heel moontlik omdat Wim de Villiers weens sy linkse gesindheid dit nodig gevind het om op 29 April as rektor daarna in sy intreerede te verwys. In die geval van Distrik Ses was dit nie eens primêr ‘n geval van onteiening nie, omdat die oorgrote meerderheid inwoners huurders of plakkers was.

Apartheid was nie “die sistematiese ontneming van [swart] mense se onderwysgeleenthede” soos Van Niekerk valslik beweer nie. Die teenoorgestelde is waar. Uitgelese Van Niekerk kan gerus Hermann Giliomee se uiteensetting van Bantoe-onderwys in die Verwoerd-era lees (Die laaste Afrikanerleiers, Kaapstad: Tafelberg, 2012, p 66-74) – al is Giliomee ‘n Afrikaanssprekende, blanke man. Verwoerd was die minister vir naturelle-sake van 1950 af en staatshoof van 1958 tot 1966. ‘n Ingeligte of eerlike Van Niekerk sou ‘n ander onderwerp as swart onderwys vir sy hoof- of eerste beswaar teen apartheid gekies het. Selfs in swart geledere word daar deesdae beweer dat die destydse Bantoe-onderwys beter was as wat die deursnee onderwys vir swartes in die nuwe Suid-Afrika is.

Giliomee skryf dat die algemene indruk was “dat daar ‘n besliste verbetering in die voorsiening van massa-onderwys en die algemene standaard van geletterdheid was” (p 70). Verwoerd en Werner Eiselen te benadering was “nie rassisties in die sin dat hulle in rasseminderwaardigheid geglo het nie” (p 71). “Die plekke in skole vir swart leerlinge het van 800 000 in 1954 na 1,8 miljoen in 1963 gespring en daarna selfs nog vinniger uitgebrei … Die mikpunt in die Eiselen-verslag [wat tot die Wet op Bantoe-onderwys van 1953 gelei het] van ‘n verdubbeling binne tien jaar van leerlinge in sekondêre onderwys is in 1959 bereik toe die getal van 20 000 tot 43 496 gestyg het” (p 71). “Totale besteding aan swart onderwys het van 1952 tot 1957 met 14% in reële terme gestyg, met 2% in die volgende vyf jaar en met byna 50% van 1962 tot 1967” (p 73). JL Sadie het in 2004 oor die hele tydperk van Nasionale Party-regering gesê: “Die getal swart kinders op skool het teen ‘n gemiddelde koers van 5,5% per jaar gegroei [dus baie meer as die bevolkingsaanwas], wat die bywoningsyfer van 24,5% tot 84,5% laat styg het” (p 73). Die punt is: Is dit “die sistematiese ontneming van [swart] mense se onderwysgeleenthede”? Lieg Van Niekerk doelbewus, of is hy bloot oningelig? Dan is daar ook nog die talle nuwe universiteite wat in die apartheidsera teen groot koste spesifiek vir swart studente opgerig en bedryf is.

Van Niekerk stel die punt “dat ‘n groot klomp mense in hierdie land dr Verwoerd slaafs nagevolg het ten opsigte van die beleidsrigtings wat hy (laat) ontwikkel het. Verwoerd, so was die oortuiging van vele in ‘n klimaat van ekonomiese voorspoed, maar oorweldigende intellektuele luiheid, het mos klaar vir ons gedink.” Is Van Niekerk tans nie self ‘n toonbeeld van “oorweldigende intellektuele luiheid” nie? Waarom het hy nie die elementêre insig dat die grondwetlike grondslag waarop die nuwe Suid-Afrika funksioneer dwaas, rampspoedig en oneties (bv weens blatante rassediskriminasie teen blankes) is nie? Waarom kan hy nie insien dat die US op die pad van akademiese agteruitgang is nie? – om van die vernietiging van Afrikaans as onderrigtaal nie te praat nie. Pleks daarvan sluit Van Niekerk sy tirade af deur komplimente aan Wilhelm en De Villiers uit te deel. Wilhelm het glo met sy optrede “buitengewone waardigheid verleen aan ‘n riskante geleentheid wat die nuwe rektor met vergelykbare moedigheid gereël het.” Van Niekerk kan onmoontlik in die waan verkeer dat sy reaksie op Van Coller se skrywe (buitengewoon) waardig was.

In die gedrukte uitgawe van Die Burger het die volgende teksboodskapreaksie van Hardy verskyn: “Wilhelm moet seker wonder of Zuma hom nog as deel van die ‘ander’ beskou nadat hy gepleit het” (13 deser, p 11). ‘n Brief van Trebbals van Melkbosstrand is in dieselfde koerant (p 10) gepubliseer. Trebbals stel drie vrae aan die “baie slim” professor Van Niekerk: (1) “Met hoeveel of watter soort skuldgevoel moet ek hom [Trebbals se kleinseun] belaai”? (2) “Waar eindig die skuldlas van die kolonialiste, setlaars, slawehandelaars, wit entrepreneurs?” (3) “Waar begin die voorheen benadeeldes se verantwoordelikheid om hul eie lot te verbeter?” Trebbals skryf dat hy redelik wyd in Afrika gereis het, waar hy “dikwels ‘n versukkeldheid waargeneem [het] waar apartheid of kolonialisme nie voorheen was nie … Ek bemerk so ‘n bietjie bitsigheid by die slim prof; miskien sy ongeduld met ons wat eenvoudiger van gedagtes is. Hoe durf ons as Afrikaners die traliewerk van die skuldgevangenis nou al skud, of verstaan ek verkeerd?”

Van Niekerk het Trebbals net in een opsig geantwoord, te wete oor blankes se beweerde skuldlas (Die Burger, 16 deser, p 10), al reageer Van Niekerk “nie normaalweg op skuilnaam-skrywers nie”; asof dit veroorsaak dat Trebbals se opmerkings minder gewig dra. Dan kom Van Niekerk met die bekende maar hoogs gemene skuif om Suid-Afrikaanse blankes se skuldlas met dié van die Duitsers na die Tweede Wêreldoorlog te vergelyk terwyl enigeen wat iets van die geskiedenis verstaan, weet dat die apartheidsera en die Nazi-bewind glad nie in dieselfde liga is nie. Van Niekerk beweer genadiglik dat blankes wat na apartheid gebore is se skuldlas nie (noodwendig) “onophefbaar” is nie. Maar veel wil die oorverligte Van Niekerk nie toegee nie. Die teoloog in Van Niekerk hou klaarblyklik baie van die idee van kollektiewe erfsonde/erfskuld vir veral Afrikaners. Sy en Trebbals se geslag én nageslag is glo uitermate deur apartheid bevoordeel.

“Hoewel ons nie deur skuld oorweldig en ontmagtig hoef te word nie, moet ons – almal wat wit is – verantwoordelikheid vir apartheid aanvaar. Dit beteken om te erken dat ons (steeds) bevoordeel is en om onsself daarom onomwonde [! – seker ook onvoorwaardelik] beskikbaar te verklaar om diegene wat deur ons verontmenslik is, se nageslag te help om die agterstande te verklein.” Volgens Van Niekerk se insig word blankes dus steeds bevoordeel. By hom is daar blykbaar geen bewustheid van die benadeling wat deesdae teen blankes gepleeg word nie; bv daagliks op die US-kampus. Is mense werklik tydens apartheid “deur ons verontmenslik,” dus getransformeer tot iets anders as mense? Ek het sterk beswaar as Van Niekerk op sy oordrewe manier my by sy “ons” insluit. Is die agterstande van swartes uitsluitlik aan die boosheid van apartheid (en dus blankes) te wyte of is dit ‘n verskynsel wat oor eeue heen dwarsoor die wêreld aangetref is? Of weet hierdie uitgelese professor dat swartes oral (onherstelbaar deur blankes) benadeel is?

Piet le Roux van Welgelegen het op Van Niekerk se verweer gereageer (Die Burger, 18 deser, p 14). Le Roux verskaf prositiewe voorbeelde uit die Afrikaner-geskiedenis wat Van Niekerk kan gebruik om sy kleinseun in te lig sodat hy nie net gevoer word met die negatiewe Afrikaner-persepsies waaraan Van Niekerk so graag voorkeur gee nie, bv: “Vertel hoe die Afrikaner homself daarna [na die Anglo-Boere-oorlog] opgehef en bemagtig het deur innoverend te dink en hard te werk, sonder regstellende aksie … Dan vra jy hom of hy dink dat sy voorsate regtig só dom sou gewees het om teen ‘n oormag van getalle die beleid van apartheid, wat die Engelse ingestel het, om medemenslike redes af te skaf.” Die punt is: Van Niekerk is onredbaar. Geen rasionele of ander argumente sal hom uit sy oorverligte dogmatiese groef lig nie.

Ek het nie respek vir Van Niekerk nie; nie omdat hy ‘n ander standpunt huldig nie, maar weens die manier waarop hy met andersdenkendes handel. Hy kom nie met rasionele, wetenskaplik gefundeerde argumente in sobere, onemosionele taal nie. Is dit wat hom “uitgelese” maak? Dit lyk asof hy uit die verkeerde boeke gelees het. Hier en daar het ek van sy eie medisyne vir hom ingegee, maar hopelik het ek nie in dieselfde mate as hy oorboord gegaan nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.