Leon Lemmer: Anton van Niekerk oor regse radikale en Bantoe-onderwys

Deel op

Anton van Niekerk het ‘n artikel in die New York Times opgespoor waarin beweer word dat diegene wat aan blanke meerderwaardigheid glo nie (noodwendig) in isolasie optree nie maar soos fundamentalistiese Islamiete internasionaal georganiseer word om “geweld en terrorisme” te saai (Die Burger, 7 deser, p 11). Hy verwys na die geval Dylann Storm Roof in Amerika en Anders Behring Breivik in Noorweë. Gerieflikheidshalwe aanvaar Van Niekerk sonder meer die egtheid van die foto waarop Roof die Rhodesiese en ou Suid-Afrikaanse vlag vertoon. “Die ou Suid-Afrikaanse vlag het ook al opgeduik in sogenaamde White Men Marches wat in die VSA gehou word.” Van Niekerk karakteriseer die eertydse blanke bewind in Rhodesië en Suid-Afrika as minderheidsregimes. Daar is geen sprake dat hy iets goeds oor hulle sal skryf nie.

Dan kom Van Niekerk by plaaslike voorbeelde van regse radikale soos die Afrikaner-Weerstandsbeweging (AWB), Barend Strydom en die Boeremag, asook die “kru rassistiese sentimente wat daagliks en (op die oog af) onbelemmerd in sosiale media en die internetkommentaar-afdelings van regse webwerwe uitgebasuin [!] word.” Dit geld ook die “hoofstroomkoerante” maar dit is veral die regse media wat aan Van Niekerk se siel knaag. Hy gee dan twee “makker voorbeelde” van “diepgesetelde rassisme” wat hy in die kommentaarafdelings van Praag opgespoor het. Wat hy hiermee by implikasie te kenne gee, is dat ekstreem regse radikale op Praag aan die woord is. Hy verwys sekerlik ook graag juis hierna omdat die kommentaar in Afrikaans is, sodat die Afrikaner/Afrikaans-assosiasie met rassisme versterk kan word. Nêrens gee hy te kenne dat rassisme by nie-wittes voorkom nie.

Wat Van Niekerk impliseer is dat blanke vrese (heeltemal) ongegrond en paranoïes is. Hy lys hoeveel mense deur sommige van die genoemde wit rassiste vermoor is, terwyl geen soortgelyke statistiek oor moorde gepleeg deur swartes of Islamiete deur hom verskaf word nie. Laasgenoemde twee groepe sit immers nie soos Afrikaners om braaivleisvure en stook rassisme nie. Die onderskrif van Van Niekerk se artikel lui: “Regse radikalisme is lankal nie meer ‘n verskynsel wat net in private sitkamers en langs braaivleisvure broei en aangestook word nie.” Ek het die indruk dat Van Niekerk sou verkies dat die uiting van alle regse menings verbied word, maar in ons jong demokrasie is hy “genoodsaak om die reg op vryheid van spraak en gewete te erken.”

Om regses sleg te sê, oftewel om oor hulle te “fulmineer” (een van Van Niekerk se gunstelingwoorde), is sy voorkeuronderwerp. Hy kan (politieke) andersdenkendes skynbaar glad nie verdra nie. Dit is verblydend dat hy ‘n (getroue) Praag-leser is, maar sy benadering is verkeerd. Hy is nie oop vir oortuiging nie en soek dus verbete na opmerkings daarmee hy kan verskil. Tog kon hy geen voorbeelde van rassisme in Praag se rubrieke en artikels vind nie (of hy het hulle verswyg). Hy het sy kritiek (noodgedwonge) op leserskommentaar toegespits.

Van Niekerk sal waarskynlik nie bereid wees om boeke soos dié van Lothrop Stoddard (Praag 28 Februarie) en Arthur Kemp (Praag 4 April) te lees nie. Dit is egter ‘n feit dat die situasie van blankes wêreldwyd verswak; dermate dat die “wit stam” (soos hy daarna verwys) se toekoms glad nie rooskleurig lyk nie. Van Niekerk het waarskynlik min simpatie met blankes wat waarde aan hulle kulturele selfbehoud heg. Die gesindheid wat hy teenoor Afrikaners en Afrikaans openbaar, bv aan die Universiteit Stellenbosch, toon dat hy eerder die gelykheid en eendersheid van alle mense begeer. As gelykheid en eendersheid in die praktyk ontbreek, is dit mos maklik om blankes die skuld daarvoor te gee.

Waarom wend Van Niekerk geen poging aan om ander standpunte as sy eie na waarde te skat nie? Waarom onderwerp hy nie sy menings en vooroordele aan grondige kritiek nie? Waarom probeer hy nie buite sy polities korrekte raamwerk dink nie? Waarom word net blankes deur hom verguis? Waarom noop bv die Roof-moorde hom om ‘n artikel te skryf maar nie die wreedste plaasmoord nie? Waarom veroordeel hy keer op keer gebeure tydens die blanke bewind, maar bly siende blind oor afskuwelikhede in die nuwe Suid-Afrika; om van die voorafgaande terrorisme en onbeskaafdheid van bv die ANC nie te praat nie? Rus daar nie ‘n rasioneel-wetenskaplike en morele verpligting op hom as akademikus om wyer waar te neem en met ewewigtige, gesaghebbende uitsprake oor ‘n dag te kom nie?

Ek het onlangs oor Van Niekerk se kritiek op Hennie van Coller geskryf en beweer dat hy homself met “onbekookte mislikheid” oortref het (Praag 20 Junie). Van Niekerk het onder meer beweer dat apartheid die “sistematiese ontneming van [swart] mense se onderwysgeleenthede” was, terwyl dit in werklikheid die sistematiese uitbreiding daarvan was. Om die punt te bewys, het ek inligting uit ‘n boek van Hermann Giliomee aangehaal. Daarna het Giliomee self Van Niekerk se leuens verder aan die kaak gestel (Praag 27 Junie). Maar Giliomee het erken dat die per kapita-besteding vir swart onderwys minder as vir wit onderwys was.

Van Niekerk reageer deur te skryf oor wat Giliomee reeds erken het, naamlik die “diskrepansie aan owerheidsbesteding vir die verskillende rassegroepe” (Die Burger, 2 deser, p 14). Dit is volgens Van Niekerk “totaal onverdedigbaar”, terwyl in werklikheid geredeneer kan word dat baie (seker die meeste) van die geld wat aan swart onderwys bestee is uit die sakke van blanke belastingbetalers gekom het. Soos gebruiklik ontvang die blankes stank vir dank daarvoor; ook van Van Niekerk. Anders as sy beweerde “sistematiese ontneming van [swart] mense se onderwysgeleenthede”, erken Van Niekerk nou: “Giliomee is reg as hy aantoon dat onderwysgeleenthede vir swartes in die loop van die sewentiger- en tagtigerjare tegnies [eerder: werklik] vermeerder het.” Weer doen Van Niekerk die waarheid geweld aan, want Giliomee het aangetoon dat hierdie vermeerdering/verbetering tot die vyftigerjare teruggedateer kan word.

Dan kom Van Niekerk met ‘n nuwe aanval op Bantoe-onderwys: “Die probleem met onderwys aan swart mense was egter allermins bloot ‘n kwantitatiewe probleem. Dit was, veral, ‘n kwalitatiewe, en, by name, ‘n legimiteitsprobleem. ‘Bantoe-onderwys’ was vir die oorgrote meerderheid swartes niks anders nie as ‘gutter education’. Omdat dit deurentyd gesegregeerde onderwys was, was die beskouing – reg of verkeerd – altyd [?] dat dit minderwaardige onderwys was.” As swartes dit as minderwaardig beskou het, volg dit nie noodwendig dat hulle reg gehad het nie. Rasse-segregasie as sodanig impliseer ook nie noodwendig minderwaardigheid nie. Hoe meer homogeen ‘n groep skoliere is wat betref ras, etnisiteit, geslag, kultuur, taal, ouderdom, nie-gestremdheid, ens, des te beter kan die resultate wees. Die punt is dat Van Niekerk naarstiglik probeer om die doelpale te verskuif.

Giliomee het hom geantwoord (Die Burger, 7 deser, p 11). Hy wys daarop dat Van Niekerk versuim om Bantoe-onderwys met die voorafgaande onderwysbedeling te vergelyk. Bantoe-onderwys kan onmoontlik op “sistematiese ontneming” neerkom. Daarmee verdedig Giliomee nie sonder meer apartheid nie. “Ek het aangevoer Bantoe-onderwys is ‘n geval van gedeeltelike hervorming pleks van ‘n vernietigende intervensie.” Van Niekerk wil skuld aan ander uitdeel, maar veronderstel dat hy self geen skuld dra nie. “Daar is ander maniere om met die geskiedenis om te gaan as selfbeskuldiging of die beskuldiging van ander.” Hopelik sal Van Niekerk hierdie saak nou met rus laat. Hy sal hom in elk geval nie verwerdig om so politiek inkorrek te wees om te reageer op wat op Praag gepubliseer word nie.

Van Pienkes du Plessis van Somerset-Wes kan ‘n mens altyd op ‘n intelligente reaksie reken. Hy skryf: “Giliomee probeer slegs aantoon dat Hendrik Verwoerd se regering betekenisvolle verbeterings aangebring het aan die jammerlike skoolstelsel wat die kerke en andere destyds aan die gang probeer hou het … Verwoerd se swart-onderwys-stelsel … was ongetwyfeld ligjare beter as die [byna] niks wat voorheen bestaan het.”

Daarmee het ons nog nie eens gekom by ‘n vergelyking van (die gehalte van) onderwys in die ou en nuwe Suid-Afrika nie; ‘n onderwerp wat Van Niekerk soos die pes sal vermy, omdat hy dan ‘n nog groter pak slae sal kry.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.