Elf amakhosi in Kwazulu-Natal het onlangs aansoek gedoen by die Nhlapo-kommissie vir tradisionele leierskapgeskille- en eise om konings te word met dieselfde status as koning Goodwill Zwelithini. President Thabo Mbeki het in 2004 vir professor Thandabuntu Nhlapo aangestel om hoofmanne en konings se klagtes aan te hoor.
Die kommissie se uitspraak word eers oor twee jaar verwag. ’n Vergadering van tradisionele leiers het egter verlede week in Ulundi die elf eise verwerp. Die meeste amakhosi is lojaal aan die Zoeloekoning. Tydens verlede week se vergadering het Mangosuthu Buthelezi gesê dit sal “tragies” wees as niks aan hierdie saak gedoen word nie. Hy meen alle tradisionele leiers moet later vandeesmaand die sitting bywoon waar die elf eise aangehoor sal word.
