Zwelithini se koninklike huishoudelike begroting vir 2007/8 beloop R36,4 miljoen, rojaal voorsien deur belastingbetalers. Zwelithini is egter bekend daarvoor dat hy gereeld sy begroting oorskry. Verlede jaar het hy R3,5 miljoen meer as die toegekende bedrag bestee. Dr Vusi Shongwe, hoof van die koninklike huishouding, het vroeër vanjaar die Kwazulu-Natalse finansiële portefeuljekomitee toegespreek en die spandabelrige uitgawes van die Zoeloekoning geblameer op die konflik tussen “moderniteit en tradisie”. Hy het verder daarop gewys dat koningshuise nog altyd met “oordaad” geassosieer is.
In 2006 het koning Goodwill Zwelithini ses Mercedes-Benz E200 Kompressors vir sy ses vroue aangeskaf, vir die bakatel van R2,3 miljoen. Die Toyota Corollas waarmee hulle ses chauffeurs hulle vroeër vervoer het, het kwansuis nie by hulle status gepas nie. Sy eie S-klas Mercedes kos R1,8 miljoen. Elke band van die spoggerige voertuig kos R28 000 om te vervang.
Die koninklike huishouding is lief vir reis en weelderige akkommodasie. In een maand verlede jaar het sy entourage (wat soms uit 145 persone bestaan) amper R600 000 op reis en verblyf spandeer.
In die lig hiervan behoort dit seker nie verbasend te wees dat die leiers van die amaHlubi, amaNgwane, Mngomezulu, amaThonga, Nhlangwini, abaNguni, amaZizi en ander groepe ook koninklike apsirasies koester nie…
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.