"Die aankondiging van Coca Cola het ‘n reusagtige belangstelling wakker gemaak," sê Nelson Gonzalez, hoof van die "Kamer vir Stevia". Die Kamer is opgerig om al die produsente onder die beskerming van die Paraguaanse minister van Industrie en Handel te bring.
Die mark, wat reeds in Suid-Amerika (Brasilië, Argentinië, Ecuador) en in Asië (China, Japan, Korea) ontwikkel is, het die VSA en Europa nog nie bereik nie. Alhoewel stevia as ‘n voedsel- en kosmetiese bestanddeel wettig is, word daar gewag dat wetenskaplikes hul finale mening oor die produk gee.
"Die wêreldwye aanvraag is geweldig. Maar suikerprodusente gaan probeer om die invoer van hierdie rewolusionêre produk, sonder gesondheidsrisiko’s, te verhoed," sê Gonzalez. Die gevare waarna hy verwys, is die onlangse studies wat die chemiese versoeter aspartaam as ‘n karsinogeen aandui.
Die Fakulteit van Geneeskunde aan die Universiteit van Asuncion het ‘n lang lys van die voordele mbv navorsing saamgestel. Stevia is nie net ‘n anti-oksidant nie, maar het ook anti-inflammatoriese en anti-bakteriese eienskappe. Dit is dus uitstekend vir diabete en hipertensie-lyers en verhoed tandbederf.
Binne tien jaar het die klein struikie wat 60cm hoog staan uit die tropiese noord-ooste van Paraguay, van 350 na 1500 hektaar se aanplanting gegroei. Die Paraguaanse owerhede hoop dat hulle binne vyf jaar 18 000 ton se gedroogde blare sal kan lewer. ‘n Kilogram van die stevia-kristal, die poeier wat 12kg se blare lewer, behaal tussen 40 en 100 dollar, afhangend van hoe suiwer die poeier is.
Dié land van 6 miljoen mense is tans besig om die nodige regstappe te neem om die produk internasionaal as inheems aan Paraguay te registreer sodat die landbousektor die voordeel van hul produk kan geniet. Byna die helfte van die bevolking leef in armoede.
Die ironie is dat Paraguay, waar smokkelhandel oorheers, nie die grootste produsent van stevia is nie maar vir die afgelope dertig jaar wel China. In China word 200 000 hektaar van die plant verbou. Paraguaanse produsente is egter nie bekommerd nie.
"Danksy ons klimaat kry ons drie oeste per jaar waar hulle in China net een kry." Maria Teresa Aguilera, hoof van die grootste stevia-bedryf Emporio Guarani, sê dat elke ander maatskappy geskakel het nadat dit bekend geraak het dat Coca Cola belangstel.
