Rushdie geniet die kalklig
Salman Rushdie, deesdae Sir, nadat die Britse monarg hom op Soweto-dag vanjaar tot ridder geslaan het, se literêre agent het aangekondig dat die skrywer ‘n versoek van sy eggenote om ‘n egskeiding aanvaar het. Padma Parvati Lakshmi, oftewel Lady Rushdie, was sy vierde vrou. Haar naam beteken "lotus" in Sanskrit. Rushdie se onlangse ridderskap het vrese van "terrorisme" by kritici ontlok.
Rushdie (60) se agent het gevra dat die media hul privaatheid "in hierdie moeilike tye" respekteer. Padma Lakshmi (36) is aanbieder van ‘n kookrealiteitsprogram by name
Top Chef en ten spyte daarvan dat sy ook voorheen aan die
Melting Pot-reeks deelgeneem het, sê sy dat sy "gril" vir ander kulture se lekkernye. Die eertydse model wat in Indië gebore is, is vegetaries.
Daarbenewens is sy ook ‘n skrywer, al is dit net van een of twee kookboeke. Haar jongste verskyn binnekort en haar uitgewers hoop dat die nuusblootstelling die verkope ten goede sal beïnvloed. Die lang en lenige Lakshmi het in die VSA studeer en woon tans in New York.
Sy is op 17 April 2004 met Rushdie in die stad getroud nadat die twee by ‘n partytjie vir ‘n boekbekendstelling ontmoet het. Die aankondiging dat hulle gaan skei het presies twee weke ná die ridderskap gekom. Sy sal egter nie haar nuwe titel hoef prys te gee nie. Sosiale etiket veronderstel dat sy voortaan Padma, Lady Rushdie, sal heet soos in die geval van geskeide vroue.
Rushdie was in 1999 ook in die nuus nadat hy ‘n oogoperasie moes ondergaan om sy oë oop te hou. Die "dromerige" voorkoms van die skrywer is te danke aan swak ligamente wat veroorsaak dat hy nie sy ooglede kan beweeg nie.
Salman Rushdie het wêreldwye bekendheid in 1989 verwerf nadat ‘n Moslemdoodsvonnis bekend as ‘n fatwa oor hom uitgeroep is. Die grondleggers van die Islamitiese Republiek van Iran beskou sy roman "Satanic Verses" as godslasterlik. Rushdie is ook van Indiese afkoms. Alhoewel hy aanvanklik moes skuil vanweë die fatwa, word die outeur deesdae meer in die openbaar en selfs die kalklig opgemerk.
Protes teen Rushdie se ridderskap was daar wel, maar veral in Pakistan. In verskeie stede is afbeeldings van die Britse koningin, Elisabeth II, en Britse vlae verbrand nadat die vorstin besluit het om Salman Rushdie tot ridder te slaan.
Union Jack in ligte laaie, Lahore
сварочный инвертор устройствоАлександр Фильчаков