Afgesien van die eerste ses poste wat reeds enkele dae gelede gevul is, het Winnie Mandela gisteraand bo-aan die gewildheidsleer geëindig tydens die verkiesing van die ANC se nasionale uitvoerende komitee. Sleutelfigure uit die Mbeki-kamp soos verdedigingsminister Terror Lekota, adjunk-minister van buitelandse sake Azziz Pahad, Veiligheidsminister Charles Nqakula en adjunk-verdedigingsminister George Mluleki het egter nie die lys van 80 kandidate wat die NUK sal uitmaak, gehaal nie.
Dit word gesien as die begin van die suiweringsproses waardeur lede van die Mbeki-faksie stelselmatig uit die party se magsposisies uitgewerk sal word.

Teen dié tyd weet almal dat Jacob Zuma die ANC-leierskapsverkiesing loshande gewen het met 2 329 stemme teenoor Mbeki se 1 505. Die Zuma-faksie het ook skoonskip gemaak sover dit die res van die hoogste posisies in die party betref.