Die spitsberaad tussen die Franse staatshoof Jacques Chirac en Afrikaleiers het Vrydag in Cannes, Frankryk, ten einde geloop. Waarnemers sien hierdie byeenkoms as die einde van die dekadelange eksklusiewe verhouding tussen Frankryk en sy voormalige kolonies. Vir die eerste keer het die Duitse kanselier, Angela Merkel, die beraad bygewoon.
In sy openingstoespraak het Chirac na Afrika as “die wieg van die mensdom” verwys. Dit is die laaste beraad met Afrika wat hy as Franse staatshoof bygewoon het. Hy het lank uitgebrei oor die konsep van Frankryk se “vennootskap” met die vasteland, maar dit was Angela Merkel wat dit die duidelikste gestel het: “Dít wat ons in Europa reggekry het, moet ook op julle vasteland gebeur,” het sy gesê. Sy het verwys na haar eie jeug in Oos-Duitsland en die “onmoontlikheid” om haar die idee van vryheid, die val van die Berlynse Muur en ‘n Europese Unie bestaande uit 27 lande voor te stel. “Ons wil julle help om hierdie droom vir julle vasteland te verwesenlik. Dit is ons taak,” het sy liries voortgegaan.
