Angela Merkel het die beraad in haar hoedanigheid as voorsitter van die Europese Unie en die G8-groep bygewoon. Die Europese Unie (EU) raak toenemend betrokke in Afrika. Die eerste beraad tussen die EU en Afrika het reeds in 2000 plaasgevind. Tans word daar oor die tiende jaarlikse hulpverleningsfonds aan Afrika onderhandel. Teen 2010 wil die EU ‘n Afrika-taakmag op die been bring wat uit vyf streeksmagte sal bestaan.
Dit wil voorkom of die EU se rol in Afrika besig is om dié van Frankryk te oorskadu. Die Ivoorkus-koerant, Fraternité-Matin, beskryf die pas afgelope beraad as Chirac se “afskeid aan ‘n era.”
Tydens die beraad is ‘n verklaring uitgereik waarin die regering van Guinee gewaarsku is om die huidige onrus in die land met omsigtigheid te hanteer. Wat Darfoer betref, het die kongresgangers misluk in hulle pogings om ‘n oplossing te vind. Omar el-Bachir, president van die Soedan, het naamlik geweier om VN-magte in die streek toe te laat.
Chirac het vriend en vyand verbaas deur in sy laaste toespraak voor die staatshoofde verdaag het uitdruklik na die rol van China op die vasteland te verwys. Hy het China geprys “vir hierdie nuwe band wat tussen Afrika en China gesmee word.”
In April vanjaar stem die Franse vir ‘n nuwe president. Chirac het sy opvolger tydens die Cannes-beraad gewaarsku om nie die belangrikheid van Afrika te onderskat nie. Hy was bekend vir sy persoonlike vriendskappe met sekere Afrikaleiers – ‘n beleid wat nie noodwendig deur sy opvolger voortgesit sal word nie. Die volgende beraad tussen Afrikalande en Frankryk sal in 2009 in Kaïro plaasvind.
