Vir seker moet ons etniese konflik in Suid-Afrika vermy. Maar soos ‘n goeie vriend van my onlangs opgemerk het, "Ons wag nou nie meer vir die nag van die lang messe nie; ons is nou ín die nag van die lang messe." Onskuldige mense, selfs vyfjarige dogtertjies soos Danielle Esterhuizen van Randfontein wat vir haar pa op 20 Desember 2006 langs die dam wou gaan kuier terwyl hy visvang, word koelbloedig doodgeskiet. Die agbare minister van grondsake maak gereed om boere se plase te onteien. Meer mense gaan elke dag in Suid-Afrika dood as in die Irak-oorlog, maar die ANC-ministers blameer apartheid daarvoor. Dis nie hulle en hulle volgelinge wat "kill a Boer, kill a farmer" gesing het nie. Ook nie die ANC-beheerde SAUK wat gereeld etniese propaganda, soos veral rondom 16 Junie verlede jaar, uitsaai nie.
Dr. Bertie du Plessis het verlede week in Beeld geskryf dat ons onsself in ‘n "laegraadse burgeroorlog" bevind. Dus word my voorspelling van sewe jaar gelede nou bewaarheid. Ek is nie Siener van Rensburg nie, maar gebruik maar net logika.
Die onmiddellike vraag is: wat maak ons nou? Soos Gideon Meiring vandag by ‘n konferensie oor misdaad in Pretoria gesê het: "Ons wil nie net stabiliseer nie, ons wil normaliseer. Ons wil nie net oorleef nie, ons wil lééf." Die enigste manier om te normaliseer, is om onsself sterk genoeg te maak sodat nóg die moordbendes nóg die minister van grondsake met haar grondonteieningsplanne à la Zimbabwe ons kan bedreig.
Onlangs het Magnus Malan in ‘n onderhoud oor sy boek gesê dat 3 500 van ons troepies destyds in Angola staande gebly het teen 60 000 Kubane, Russe en Oos-Duitsers, in weerwil daarvan dat die Russe die lug beheer het. Dis ‘n verhouding van ongeveer 17:1. Net in die Waterberg en die Soutpansberg is die oormag groter as dit; ironies genoeg is dit die deel van die land waar Afrikaners die meeste beheer oor hul eie plase en dorpe uitoefen, juis omdat hulle nie in terme van getalle dink nie maar in terme van vermoë.
Daarom kan ek nie die volgende deel van jou stelling verstaan nie: "’n Stryd wat ‘ons’ (wie ‘ons’ ook al is) nooit kan wen nie." Jy hensop sommer al van meet af aan! Wat gaan jy doen as daar ‘n aanval op jou huis plaasvind? Gaan jy sê: "Ek kan nie wen nie! Daarom: verkrag maar my vrou, vermoor maar my kind soos Danielle Esterhuizen en vat maar al my goed. Ek gee oor; julle is sterker as ek?"
Hopelik nie. As die planne realiseer wat ons tans hier in Pretoria ontwikkel, gaan jy of jou vrou onmiddellik die knoppie van ‘n geheime RF-kaartjie iewers in jou sak of aan jou lyf kan druk en ‘n sein sal op die netwerk uitgaan en outomaties vyf of ses opgeleide lede van ons Burgerwag in jou omgewing bereik wat tot die tande toe gewapen jou en jou gesin binne minute te hulp gaan snel.
Indien daar dan wel etniese konflik uitbreek soos jy beweer die ANC (maar nie ek nie!) wil hê, sal dieselfde Burgerwag jou moontlik kan beskerm teen hordes pangadraende Xhosas wat daar in die Kaap op jou mag toesak in hul weergawe van Hotel Rwanda. Die Mount Nelson in die Kaap gaan nie plek hê vir 800 000 Afrikaners in die Kaap om daar weg te kruip terwyl die slagting plaasvind nie, dus moet daar ‘n plan B ook wees.
Soos baie ander mense, verkwalik ek vir De Klerk dat daar nooit ‘n plan B was nie. Wat as die ANC nie by die ooreenkoms hou nie en sommer net ons plase en skole begin vat soos hulle nou reeds doen? En later dalk ‘n volledige Mugabe op ons trek? Wat maak ons dan? Maar De Klerk het nie aan daardie moontlikheid gedink nie.
Gegewe die feit dat ek nooit diensplig gedoen het nie, is ek net so ‘n groot pasifis soos jy. Maar gaan lees daardie stuk van my in Aweregs, "Gedagtes oor ‘n tweede volksmoord" wat eintlik die gepubliseerde weergawe van my toespraak verteenwoordig toe ek en die Noord-Transvaalse boere mekaar die eerste keer by die Voortrekkermonument tydens ‘n betoging teen plaasmoorde op 27 Maart 2004 raakgeloop het. Daarin sê ek, en dis gekursiveer: Ons moenie sonder teenstand op die trein na Auschwitz klim nie.
Wat jy ook moet verstaan, is dat ons so te sê geen beheer oor die proses het nie. As die ANC besluit hy wil etniese konflik hê, gaan ons nie sy besluit kan beïnvloed nie. Dit was tog duidelik in Zimbabwe waar die blanke boere agteroor gebuig het om Mugabe tegemoet te kom. Op die ou end het hy sy oorlogsveterane ingestuur en het hulle elke blanke verdryf. Die laaste 400 blanke boere in daardie land is ‘n week of wat gelede met die gevangenis gedreig as hulle nie van hul eiendom af padgee nie.
As ons besonder lieftallige minister van grondsake, Madame Lulu Xingwana, die dag besluit om Mugabe se voorbeeld te volg, gaan die vonk in die kruitvat wees. Want jy weet net so goed soos ek daar is nie nog ‘n land suid van die Kaap waarheen ons kan padgee nie. Al retireer ons almal tot by Kaappunt, iewers sal ons moet gaan staan. En daar waar ons stáán, sal ons, soos Bertie du Plessis dit in Beeld duidelik gemaak het, moet verdedig.
