Die minister van onderwys, Naledi Pandor, het gister gesê dat sy die gebruik van Afrikaans en ander inheemse tale as onderrigmedium in skole ondersteun. Sy was besig om te reageer op ‘n verklaring van die Demokratiese Alliansie dat “sy besig was om ‘n ideologiese veldtog teen Afrikaans te voer”.
Naledi Pandor
Die DA-verklaring het gevolg in reaksie op ‘n uitspraak van die Pretoriase Hooggeregshof wat Ermelo-hoërskool beveel het om 113 graadagtleerlinge in te neem wat in Engels onderrig wil word. Hiermee is die voorheen Afrikaanstalige skool in ‘n parallelmediumskool verander.
Die party het Pandor Woensdag daarvan beskuldig dat sy die skool- en regstelsel uitbuit. Désirée van der Walt, die DA se segsvrou oor opvoeding, het gesê dat die hofoorwinning vir die minister dreig om die opvoedingstelsel in chaos te dompel en dat die lewe vir sommige sukkelende skole nóg moeiliker gaan word.
Maar, sê Pandor, dit sal nie gebeur nie. “Die waarheid is dat dié nie ‘n taalkwessie is nie, maar suiwer een van toegang tot opvoeding. Meer as 100 leerders is toegang tot ‘n skool geweier wat te min inskrywings ontvang het."
"Waar ‘n skool te min inskrywings het, moet ons toelaat dat plekke deur kinders ingeneem word wat onderrig wil word in die medium van hul keuse.”
Pandor is ook Dinsdag deur die hof toestemming verleen om tussenbeide te tree in ‘n hersieningsaansoek deur die skool teen die hoof van die Oos-Transvaalse onderwysdepartement (tans Mpumalanga) se besluit om die skool se beheerraad met ‘n komitee te vervang wat deur die departement aangestel is.
Die Vryheidsfront Plus het teruggekap na die minister deur te sê dat “dit duidelik is dat die minister die beheer van elke enkele skool in Suid-Afrika wil oorneem”.
"Die VF Plus gee duidelik nie om vir alle kinders indien hulle 113 leerlinge toegang tot die skool wil ontsê nie," het Pandor geantwoord.
"Die regering is onder ‘n verpligting om ruimte in skole vir leerders te verskaf. Hoërskool Ermelo is half vol en taal kan nie gebruik word om kinders toegang tot onderwys te ontsê nie," het Pandor voortgegaan.
“Die waarheid is dat daar oor die afgelope vyf jaar ‘n neiging onder meer en meer Afrikaners is om te verkies dat hul kinders in Engels onderrig word.”
купить школьные брюки для мальчика синиетопкарго отзывы