Milan Kundera bly ‘n omstrede figuur in sy land van herkoms. Twee-en-dertig jaar ná sy vertrek uit die eertydse Tsjeggo-Slowakye en agtien jaar ná die val van kommunisme in Praag, is die Tsjeggiese Nasionale Prys vir Letterkunde, 2007, verlede week aan hom toegeken.
"Die volk tree soos ‘n stiefmoeder op. Om Kundera agtien jaar ná die rewolusie (van 1989) te vereer, is, dink ek, ‘n bietjie laat," sê bekende Tsjeggiese akteur Jiri Bartoska. Dit is vir hom ‘n bewys van die "minder goeie karaktertrek van die Tsjegge". Omdat Kundera sy Tsjeggiese burgerskap vir ‘n Franse paspoort verruil het en sy moedertaal versaak het om in Frans te skryf, het die Tsjegge hulle rug op hom gekeer, verduidelik Bartoska.
