Chinese skrikkerig vir Suid-Afrika

Chinese maatskappye staan tou om in Afrika te belê. Hulle is op soek na grondstowwe om die Chinese ekonomie, wat met sowat 9% per jaar groei, aan die gang te hou. Belangstelling in Suid-Afrika is egter nie so groot nie, hoofsaaklik weens die hoë misdaadsyfer en die gesukkel met visums. Meer as 800 Chinese regeringsmaatskappye is tans in Afrika bedrywig, maar slegs ’n fraksie van hierdie firmas is in Suid-Afrika aanwesig. Van die $11,7 miljard wat teen die einde van verlede jaar deur China in Afrika belê is, is slegs $200 miljoen in Suid-Afrika belê.

Volgens Yabin Zhou, direkteur-generaal van Wes-Asië en Afrika in China se handelsministerie, is die Chinese bekommerd oor misdaad in Suid-Afrika. Verskeie Chinese is naamlik al in die land vermoor. Hierdie nuus het telkens prominente aandag in die Chinese pers geniet. “Hulle is nie bereid om hulle lewens te waag om in Suid-Afrika te belê nie,” meen Zhou. Ten spyte van die vrese oor geweldsmisdaad, bemark China tog Suid-Afrika as ’n toerismebestemming vir sy burgers.

Verlede week het die prentjie ten opsigte van Chinese belegging dramaties verander toe die Nywerheids-en Handelsbank van China aangekondig het dat hulle beplan om ’n 20% aandeel in Standardbank te koop. Dit sal neerkom op die grootste enkel buitelandse aankoop deur ’n Chinese maatskappy.

In die res van Afrika word Chinese beleggers gekortwiek deur swak kommunikasie en logistieke probleme, maar dit demp skynbaar nie die Chinese se entoesiasme nie. China het in 1978 begin om sy ekonomie te herstruktureer. Spesiale ekonomiese sones is geskep om buitelandse maatskappye te trek. Hierdie model word nou in Afrika gebruik, met soortgelyke sones wat deur die Chinese in Zambië, Mauritius en Nigerië geskep is.

In sy antwoord op kritiek dat China bloot in Afrika betrokke is om grondstowwe te bekom, het Zhou gesê dat die Chinese die afgelope 50 jaar al by 900 opheffingsprojekte op die vasteland betrokke was. Dit sluit die bou van gesondheidsfasiliteite, stadions en skole in. Hy het verder beklemtoon dat die regering dit nie goedkeur as sekere Chinese firmas nie die plaaslike Afrika-wetgewing respekteer nie. “Sommige mense bestempel Chinese belegging in Afrika as ’n nuwe soort kolonialisme. Dit is egter oppervlakkig en dui op ’n gebrek aan insig.” Dit is wel waar dat Chinese firmas dikwels huiwerig is om plaaslike burgers aan te stel, het hy bygevoeg. Hulle beskik nie altyd oor die nodige vaardighede nie, kom nie getrou werk toe nie en dan is daar ook taalprobleme.

Zhou het verder daarop gewys dat China self nog ’n ontwikkelende land is, met 130 miljoen mense wat in armoede leef. Beijing, met sy 14 miljoen mense en Shanghai, met sowat 18 miljoen inwoners, is weliswaar welvarende stede, maar op die platteland leef miljoene mense in armoede. Die land se bruto binnelandse produk per capita was laas jaar maar $1 200. Suid-Afrika se BBP word in vergelyking hiermee op $13 300 per kop gereken.

Alhoewel Suid-Afrika dalk nie die Chinese se voorkeur geniet as dit by vaste beleggings kom nie, is Suid-Afrika China se grootste handelsvennoot in Afrika. Suid-Afrika het verlede jaar goedere ter waarde van R46,7 miljard uit China ingevoer en sowat R14 miljard se goedere na daardie land uitgevoer.скейт детский купить в харьковеФільчаков прокурор