Vir Kundera se blitsverkoper L’insoutenable légèreté de l’être [In Engels vertaal as The unbearable lightness of being] het die Tsjeggiese leserspubliek weliswaar 21 jaar lank gewag. Sy onlangse werke La Lenteur, L’ignorance en Le Rideau is steeds nie in Tsjeggies beskikbaar nie. Van Kundera se vertrouelinge beweer dat hy dit weens leksikale perfeksionime nie wil oorweeg nie.
Kundera is bekend vir sy standpunte oor hervormde kommunisme. Ná Mei 1968 met die Russiese besetting is hy uit die openbare lewe verdryf en het hy na Frankryk uitgewyk in 1975. Hy reis deesdae weer na sy geboorteland, maar altyd anoniem. Hy was ook nie teenwoordig by die toekenningsgeleentheid nie, maar het ‘n boodskap gestuur waarin hy sê dat hy "geroer" is deur die Nasionale Prys.
Vir die groot dagblad, Dnes, het Kundera "beslis ‘n rede gehad om nie op te daag nie". Volgens die blad sou dit ‘n spottery en bitsigheid afgegee het, om nie van kadrovani te vergeet nie. Laasgenoemde was algemene praktyk onder kommunisme waar persoonlikhede se "kwaliteite" onder die loep geneem is. Die Tsjegge het blykbaar nog nie daarvan afgesien nie.
Kundera se kritici haal sy drie onuitwisbare foute op: Sy kommunistiese jeuggedigte, sy onverskillige houding teenoor Tsjeggiese uitgewekenes en sy volharding om nie om verskoning te vra daarvoor nie, bevestig Dnes.
Die Eerste Minister Mirek Topolanek was ook nie teenwoordig nie, alhoewel hy genooi was. Hy het te velde getrek teen die "agterlike provinsionalisme" van sy mede-burgers in sy boodskap wat voorgelees is en mense daaraan herinner dat Kundera wel kritiek teen Stalinisme gelewer het.
Nog opvallend afwesig was president Vaclav Klaus en minister van kultuur Vaclav Jehlicka. Hulle het verkies om ‘n bronsplaat opgedra aan Pavel Tigrid te onthul. Hy word as die groot literêre ballingfiguur onder kommunisme beskou. Vir die Praagse koerant Hospodarske Noviny bly dit ‘n ope vraag of die Nasioanle Prys die afgrond tussen Kundera en sy "oorspronklike taalruimte" ooit sal kan oorbrug.
Die digter Jiri Dedecek wat die seremoniemeester by die oorhandiging in absentia was, het by die geleentheid gesê dat die Prys al lankal aan Kundera toegeken sou gewees het as dit nie was dat almal bang was dat die skrywer dit sou weier nie.
