Kiëf verbreek skietstilstand

Die lughawe naby Donetsk in die ooste van die Oekraïne wat deur die selfverdedigingsmagte beset is, is Maandagaand deur vuurpyle bestook, het die Oekraïnse weermag bekend gemaak.

Die lughawe is in Mei reeds ernstig beskadig in swaar gevegte. Maandagaand is dit vier keer deur mortiere en vuurpyle getref. Niemand is in die aanvalle beseer nie.

Dis een van talle verbrekings van die wankelrige skietstilstand wat Vrydag tussen die Kiëf-regering en selfverdedigingsmagte ná vyf maande se konflik onderteken is.

Die skietstilstand is in Minsk onderteken voor die NAVO-beraad in Wallis ten einde geloop het, nadat die Russiese president Wladimir Poetin ‘n vredesplan aangekondig het.

Dié vredesplan het die oorlogskoors wat NAVO teen Rusland in die Oekraïne stook gedemp, maar ontleders meen Kiëf sal ongelukkig aanhou om die skietstilstand te breek om die vredesplan te probeer kelder.

Indien die konflik aanhou, is die kanse dat NAVO sal toetree groter, sê hulle.

NAVO brei uit sonder MH17-vlugopnemerdatavrystelling

NAVO is reeds in die Oekraïne. ‘n NAVO-kubersentrum is reeds sedert Maart in Kiëf bedrywig. Die sentrum is in die gebou van die land se Nasionale Veiligheidsraad en Verdediging. Die spul NAVO-burokrate bepaal tewens die nuusagenda in die Oekraïne en die onophoudelike demonisering van alles wat Russies is.

Daardie uitnemende Deense middelmatigheid by name Anders Fogh Rasmussen, is al hoe meer koorsig van oorlogsug. Die sekretaris-generaal het by die pasafgelope NAVO-beraad in Cardiff en Newport in Wallis weer bewys dat hy die mees gedienstige NeoCon-skoothondjie is. Maar “Fogh of War” het dalk iets laat deurskemer met sy ywer.

Terwyl hy weer “die voorafplasing van voorrade, [wapen]toerusting” bepleit het dié naweek vir iets wat klaarblyklik al voor die afskiet van vlug MH17 gereed was, begin algar wonder waarom die vrystelling van die data op die vlugopnemers van die Maleisiese rampvlug dan so kan talm?

Sou dit nie besonder geleë wees om juis dié data te hê voordat NAVO nog verdere aanvalsplanne teen Rusland met ‘n mag van 10 000 soldate uitdink nie? Die “snelreaksiemag”, terloops is ‘n presiese weergawe van die Amerikaanse Imperium se aanvalsdoktrine wat sedert die eeuwending geld.

“Toerusting”, ‘n eufemisme vir wapens, nuwe basisse en hoofkwartiere in gasheerlande asook die vinnige reaksiemag om te reageer op Russiese “aggressie” binne ‘n maksimum van vyf dae is in Wallis ooreengekom sonder dat iemand weet wie vlug MH17 met bykans 300 passasiers afgeskiet het.

Oekraïne is intussen besig om Duitsland se politieke toneel te vergiftig. Berlyn weet dat ‘n politieke oplossing die enigste oplossing is wat vir kiesers links, sentrum en regs aanvaarbaar sal wees. En Berlyn wil natuurlik toesien dat Russiese gas via die Oekraïne weer vloei. Berlyn wil veral nie Amerikaanse missielverdedigingstelsels in Oos-Europa sien nie, ten spyte van die Baltiese state se histeriese aandrang.

NAVO se entoesiastiese verkoopsman Rasmussen het voorheen met die verkragting van Irak gesmous. Kiesers in Duitsland sal nie weer dieselfde produk koop nie. Maar die hondsdol Angelsaksiese aanvalshond gaan nie maklik die aftog blaas nie, selfs by gebrek aan ‘n sondebok vir die dood van onskuldige passasiers.

Daar gaan dus nie meer “magte-rotasie” wees vir NAVO se oostelike front nie.

Volgens wet kan NAVO-basisse nie gedefinieer word as “permanent” nie, want dit druis in teen ‘n NAVO-Rusland-verdrag van 1997. Maar dit sal permanent wees. Dit sal in Szczecin, Pole, naby die Oossee, geleë wees om land, lug en see te “verdedig”.

En daar is nuttige idiote wat van die Atlantiese aandag hou. Estland en Letland is vir alle praktiese doeleindes as “Poetin se volgende doelwitte” teen “Russiese aggressie” aangewys.

Daarbenewens kan Finland en Swede NAVO-ooreenkomste onderteken om gasheerlande te wees. Dit impliseer NAVO-troepe mag Sweedse en Finse grondgebied gebruik in die toekoms vir “bedrywighede”.

Ten minste moet die ontplooiing van buitelandse troepe parlementêre goedkeuring in dié twee lande kry, dus kan die kiesers nog optree teen dié waansin.

NAVO saboteer vredesproses in Oekraïne

NAVO misbruik die Oekraïense krisis as ‘n verskoning om sy militêre teenwoordigheid nader aan Rusland se grense uit te brei en planne vir ‘n nuwe vinnige reaksiemag sal die vredesproses in die ooste van die Oekraïne saboteer, het die Russiese Federasie gesê.

Rusland se voormalige NAVO-gesant, Alexander Grushko, het NAVO intussen ook daarvan beskuldig dat die VSA “probeer om die finansiële las van die handhawing van NAVO op sy bondgenote af te laai”. Sonder ‘n groot inspuiting van fondse en ‘n nuwe doelwit is NAVO gedoem aangesien die alliansie se bemoeienis met die Midde-Ooste ‘n fiasko gebaar het in lande soos Libië.

​​Ten minste 4000 troepe sal in die reaksiemag dien wat deur NAVO goedkeur is.

“Die [uitbreiding]planne deur NAVO word al vir ‘n lang tyd voorberei, en die onlangse gebeure het as ‘n verskoning gedien om dit te laat realiseer,” het die Russiese ministerie van buitelandse sake in ‘n verklaring op hul webwerf gesê, na aanleiding van ‘n besluit by die NAVO-beraad in Wallis.

“Saam met die retoriek by die beraad, en die beplande militêre oefeninge voor die einde van die jaar, sal hierdie spanning verhoog, die ontluikende vredesproses destabiliseer, en ‘n verdere uitbreiding van die konflik in die Oekraïne tot gevolg hê,” het die ministerie se verklaring gelui.

“Die bogenoemde is ook bewys van NAVO se onvoorwaardelike steun vir die ekstremiste en neo-fasciste in Kiëf, insluitend die Regse Sektor se politieke beweging,” het hy beklemtoon.

Tydens die twee-dag-beraad, het die 28 NAVO-lidlande op die skepping van ‘n vinnige reaksie-eenheid van ten minste 4000 besluit. Dié mag sal in minder as 48 uur in Oos-Europa ontplooi kan word.

Die primêre rede vir die inisiatief is glo “Rusland se aggressie teen die Oekraïne”. Die Oekraïene was voorheen deel van Rusland en word beskou as die oorsprong van die Slawiese kultuur.

Grushko het die uitgediende “Koue Oorlog-denke” veroordeel en gesê die geskiedkundige 1997-ooreenkoms waarin Moskou en Brussel amptelik verklaar het dat hulle nie meer “teenstanders” is nie, word hierdeur ondermyn.

In ‘n TV-onderhoud, het Grushko gesê dat NAVO ‘n verhoogde teenwoordigheid van NAVO-skepe in die Oossee en Swart See gelas het wat die vlak van vertroue om potensiële brandpunte op te los, vernietig het.

Grushko het ook die beplande NAVO-Oekraïne-oefening ‘n “provokasie” genoem want “buitelandse troepe sal in ‘n land opdaag wat teen sy eie mense veg”.

Die oorlog wat Kiëf teen Russiessprekende minderhede in die land verklaar het, het Rusland vroeër genoop om humanitêre hulpkonvooie na die oorlogsgeteisterde ooste te stuur.

“NAVO moet geen rol in die Oekraïense konflik speel nie,” het die amptenaar gesê aan die Rossiya-24-netwerk.

Verenigde State van Amerika se president het Vrydag gesê dat die VSA en die Europese Unie voortgaan met sanksies teen Rusland ten spyte van die ondertekening van ‘n skietstilstand-ooreenkoms.

Barack Obama het in Newport, Wallis aan die einde van ‘n NAVO-beraad gesê hy is skepties oor ‘n vredesverdrag wat deur verteenwoordigers van Kiëf, Lugansk en Donetsk slegs ure vroeër in Minsk onderteken is, en het gesê die VSA van voorneme is om voort te gaan met nuwe sanksies.

Die aankondiging van bykomende sanksies teen Rusland deur die Europese Unie is ‘n direkte ondersteuning van Kiëf se “Oorlogsparty” het Rusland se ministerie van buitelandse sake Saterdag gesê.

“Die Europese Unie het getoon dat die owerhede steeds in ‘n politieke fantasie leef, en hulle verskaf byna direkte ondersteuning aan die Oorlogsparty in Kiëf, wat nie tevrede is met die uitkoms van die Minsk-vergadering nie,” het die ministerie gesê.

Sapa herhaal naakte Amerikaanse propaganda

Sapa het Vrydag naakte Amerikaanse en NAVO-propaganda herhaal waarin “berig” word dat “strawwe maatreëls” teen “Russiese aggressie” teen die Oekraïne ná die NAVO-beraad in Wallis sal volg.

Amerika en die Europese Unie gaan na verwagting nuwe gekoördineerde sanksies teen Rusland aankondig. Dit gaan beperkings insluit op van die land se belangrikste energiemaatskappye, sowel as reisbeperkings.

Die sanksies word teen die Russiese president en sy raadgewers en vertrouelinge gemik. Die VSA is tans druk besig met ‘n koverte destabiliseringspoging teen Rusland en Oos-Europa.

Paul Craig Roberts, een van Praag se bydraers en ‘n voormalige ekonomiese raadgewer van Ronald Reagan, sê hy het van hoë amptenare in die Amerikaanse administrasie verneem dat Europese politici deur Washington met geld omgekoop word om ‘n Amerikaanse agenda te dryf wat teen die belange van hul lande en kiesers indruis.

Ben Rhodes, adjunk-nasionale raadgewer vir die Withuis, het Rusland gewaarsku dat die Amerikaanse aanslag vorentoe net feller sal word.

Die sekretaris-generaal van NAVO, Anders Fogh Rasmussen, het op sy beurt gewaarsku dat Rusland “die grootste bedreiging vir Europa inhou sedert die Koue Oorlog”, ten spyte daarvan dat die VSA vir die militêre opbou in Europa verantwoordelik is.

NAVO, ‘n verlengstuk van die VSA, hoop om ‘n oorlog op die vasteland teen Rusland te ontketen.

Franse kanselleer lewering van Mistral aan Rusland

Die Russiese Federasie het nie-amptelike kennisgewing van Frankryk ontvang dat die lewering aan Rusland van die eerste helikopterdraer, die Mistral-ooreenkoms opgeskort is, het Oleg Bochkarjof, ‘n adjunk-voorsitter van die regering se kommissie vir verdedigingvervaardiging aan ITAR-Tass gesê.

Die kantoor van die Franse president Francois Hollande het Moskou se onlangse optrede in die Oekraïne as rede vir die stap aangevoer.

Frankryk was onder kwaai druk van van die VSA en ander NAVO-lande om die verkoop van twee Mistralskepe aan Rusland te staak. Frankryk neem tans deel aan NAVO-samesprekinge in Wallis om ‘n snelreaksiemag teen Rusland te ontplooi.

Vroeër in die dag het die Elysees-paleis gesê ‘n besluit teen die lewering van die eerste Mistral is geneem. Dit sou in Oktober afgelewer word.

‘n Kontrak met ‘n spesifieke bekende Franse maatskappy bestaan ​​en dit is onderteken deur ‘n Russiese staatsagentskap,” het Bochkaryjof gesê.

“Dit sal regsgevolge inhou slegs as die Franse vennote ‘n amptelike dokument vir ons stuur waarin hulle sê dat hulle weier om die tegnologie aan ons te lewer.”

Hy het beklemtoon dat Rusland tot dusver die bepalings van die kontrak streng tot op die letter nagekom het.

“Ons standpunt is goed bekend – ons wil nie deure toeklap nie, ons maak hulle toe, maar bly oop vir samewerking,” het Bochkarjof gesê.

Hy het aangedui dat Russiese kenners reeds by die helikopterdraers aanvaardingsinspeksie van verskeie stadiums van die werk onderneem het.

“Hulle het net twee dae gelede teruggekeer huistoe,” het Bochkarjof gesê. “Dit is nog te vroeg om te praat oor hofsake omdat ons voortgaan om te werk in die formaat van hierdie ooreenkoms.

Frankryk het die aflewering van die eerste van twee oorlogskepe aan Rusland opgeskort ondanks die vooruitsig van ‘n skietstaking in die Oekraïene.

Rusland se adjunkminister van verdediging het Frankryk se besluit as onaangenaam bestempel en sê dit plaas druk op samewerking tussen Rusland en sy Franse vennote. Hy sê dit is egter nie rampspoedig vir sy opgraderingsplan nie.

Oekraïense junta verder teruggedryf

Soldate van die Oekraïense junta het teruggeval van die Lugansk-lughawe en ‘n nabygeleë dorp in die ooste van die land nadat hulle onder swaar vuur gekom het, het die sekuriteitswoordvoerder in Kiëf Maandag gesê.

“Oekraïnse soldate het ‘n bevel ontvang en georganiseerd teruggeval van die Lugansk-lughawe en die dorp Georgijiefka,” het Andrij Lysenko gesê.

Berigte dui daarop dat Kiëf se magte in chaos verkeer nadat hulle lugaanvalle op Russiesprekende burgers in die ooste nie vrugte afgewerp het nie.

Kiëf probeer hul nederlae herhaaldelik toeskryf aan ‘n “Russiese inval”, maar die verklarings is grootliks fantasievlugte van die owerhede want daar is geen teken van die Russiese Federasie se teenwoordigheid in die land nie.

“Te oordeel aan die presiesheid van die aanvalle is dit waarskynlik die Russiese gewapende magte wat op die soldate gevuur het,” het Kiëf in die jongste van dié soort verklarings gesê.

Die lughawe en Georgijiefka is ‘n paar kilometer suid van die selfverdedigings magte se vesting in Lugansk geleë.

Intussen het Moskou hul skok te kenne gegee dat die Oekraïne se minister van verdediging, Valery Geletej beweer dat Rusland ‘n “kernaanval” op sy buurman beplan.

Rusland het gewaarsku dat sulke onverantwoordelike retoriek die burgerlike konflik in die Oekraïne net verdiep.

“Dit is moeilik om te glo dat sulke uitlatings kan kom van ‘n minister van verdediging van ‘n beskaafde staat. Andersins, is dit net nie duidelik hoe tien duisende Oekraïense gesinne só ‘n amptenaar met die lewens van hul kinders, broers en mans, gemobiliseer in die Oekraïense weermag om ‘n oorlog te voer teen hul eie mense, kan vertrou nie.”

Betogers in Kiëf het Maandag geëis dat die Oekraïense president en minister van verdediging moet bedank.

Vroeër Maandag, het die Russiese minister van buitelandse sake Sergei Lawrof beklemtoon dat daar “geen militêre ingryping deur Rusland in die konflik in die Oekraïne” sal wees nie.

Sjokeladekoning van Kiëf pleit vir vrede

Oekraïne se sjokeladekoning, die oligarg pres. Petro Poroshenko, het ná laatnag onderhandelinge met Rusland se president, Vladimir Poetin, onderneem om hard te werk ten einde ’n dringende skietstilstandooreenkoms te reël.

Die selfverdedigingsgroepe in Oos-Oekraïene het die weermag van die junta in Kiëf swaar verliese laat ly, wat die president genoop het om te onderhandel.

Dié verrassende wending kom nadat Westerse mediabronne probeer voorgee het dat die selfverdedigingsgroepe beslissend verslaan en teruggedryf is deur Kiëf.

Poroshenko, wat die bynaam “Pol Pot Shenko” gekry het nadat hy oorlog verklaar het op Russies-sprekende burgers van sy eie land, hoop om ’n einde te maak aan die separatiste konflik in die ooste van die voormalige Sowjet-republiek.

Die eerste gesprek tussen die twee leiers sedert Junie is deur Poetin as positief bestempel, maar hy het bygevoeg dat dit nie Rusland se plek was om betrokke te raak by die besonderhede van die ooreenkoms tussen die regering in Kiëf en die twee konflikgeteisterde gebiede in die ooste van die land nie.

Weste blind vir Nazi’s in Oekraïene

nazikievDie Weste hou hulself blind vir neo-Nazi’s wat in Kiëf betoog om by die EU aan te sluit.

Die Oekraïense betogers bots met die polisie in die hoofstad na duisende mense aan ‘n anti-regeringsbetoging oor die naweek deelgeneem het, omdat hulle nie deel wil wees van die Russiese federasie nie.

Die mees aggressiewe groep betogers, wat bekend staan ​​as ultra-nasionaliste, het die polisie met brandbomme en klippe bestook.

Die president van die Oekraïne, Wiktor Yanukowitsj, het ‘n verklaring uitgereik waarin hy die geweld tussen die polisie en teen-regeringsbetogers veroordeel.

Hy sê dit hou ‘n bedreiging vir die hele land in.

Hy het ‘n oproep om vreedsame gesprek gedoen, nadat ‘n vooraanstaande opposisie-figuur, die wêreldberoemde bokser, Witali Klitsjkow alle Oekraïners aangespoor het om by die betoging aan te sluit.

Klitsjkow sê hulle moet veg vir die toekoms van hul land.

Die toneel naby die parlement is steeds gespanne, met skermutselinge tussen die onlustepolisie en betogers.

Skokgranate en rubberkoeëls is vroeër afgevuur, om tussen 200 en 400 vasberade betogers te verwilder.